THE CAPE TIMES — An informal history
Gerald Shaw
David Philip, Kaapstad
1999
THE CAPE OF STORMS — A personal history of the crisis in South Africa
Tony Heard
Ravan Press, Johannesburg
1990
PAPER TIGER — Iqbal Survé and the downfall of Independent Newspapers
Alide Dasnois & Chris Whitfield
Tafelberg, Kaapstad
2019
Die Cape Times het in 1876 tot stand gekom en was vir meer as ‘n eeu een van die Moederstad se bakens. In die jongste jare het dit onder die eienaarskap van Iqbal Survé weggekwyn, maar dit vernietig nie die blad se beduidende rol oor ‘n lang tydperk nie. Hierdie drie boeke belig die geskiedenis van dié koerant en sy redakteurs op drie wyses:
Gerald Shaw dek die tydperk van 1876 tot laat in die 1990’s; Tony Heard skryf oor sy redakteurskap van die Cape Times, wat jare van sterk opposisie teen die apartheidsbewind insluit; en Alide Dasnois en Chris Whitfield vertel hoe die blad, nou deel van Independent Newspapers, koers verloor het.
Shaw se boek is ‘n meesterstuk. Dit gee insig in die stryd om eienaarskap, redakteurs se meningsverskille en hoe die blad ‘n meningsvormer van formaat was. As skerp kritikus van die apartheidsregering, was dit ‘n klip in die skoen van veral John Vorster en PW Botha.
Shaw deel ook verskeie anekdotes oor spesifieke stories, terwyl foto’s en afdrukke (soos die een hieronder) die stewige teks aanvul.

In geheel ‘n hoogs leesbare oorsig van ‘n eens belangrike koerant en die mense wat die koerant oor ‘n tydperk van byna 150 jaar uitgegee het.
The Cape of Storms
Tony Heard se boek is, soos die subtitel aandui, ‘n persoonlike geskiedenis. Dit vertel hoe hy in 1955 in die Cape Times se nuusredaksie begin het en uiteindelik redakteur geword het. In dié posisie was hy ‘n onverbiddelike opponent van die NP-regering.
Die hoogtepunt van sy redakteurskap was sekerlik sy onderhoud met Oliver Tambo, leier van die toe nog verbanne ANC, wat op 4 November 1985 in detail op bladsy 9 gerapporteer is. Dit was daarom onwettig om Tambo aan te haal. Hy skryf só oor die geheimhouding wat met die publikasie van die onderhoud gepaard gegaan het onder meer as volg:

En verder:

Uiteindelik is die Cape Times met R300 beboet, maar Heard is nie self aangekla nie. Tog was die einde van sy redakteurskap in sig. (Hieroor skryf Shaw insiggewend.)
Oor sy nuwe loopbaan as kommunikasie-adviseur vir die ANC-regering, skryf hy in ‘n latere boek. En in ‘n hoofstuk in ‘n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange (Red.: Lizette Rabe) skryf Heard vriendelik oor die verhouding tussen die Cape Times en Die Burger — ondanks hul skerp politieke verskille in die apartheidsera.
Paper tiger
Dasnois en Whitfield se relaas vertel hoe Survé beheer oor Independent Newspapers gekry het, wat toe al sowel die Cape Argus as die Cape Times besit het. Die Cape Times was reeds ‘n skadu van sy ou self, wat bevestig dat Survé nie alleen verantwoordelik gehou kan word vir die agteruitgang van die blad nie.
Maar die boek gee ‘n bal-vir-bal-insig in hoe Survé die hart uit die koerant geruk het en dit in ‘n voertuig vir sy eie politieke en finansiële ambisies omskep het — alles danksy die onverklaarbaar ruim ondersteuning van die Openbare Beleggingskorporasie, wat staatsamptenare se geld bestuur. Hierdie kort uittreksel gee lesers ‘n idee hoe Survé die redaksionele inhoud probeer manipuleer:

Die Cape Times verskyn by die plasing van hierdie artikel steeds, maar sy sirkulasie het tot sowat 10 000 gedaal. Die toekoms van alle koerante, maar in die besonder dié van die Independent-koerante, lyk duister.
Naskrif: Nog ‘n redakteur van die Cape Times het dié boek oor sy lewe gepubliseer:

Geplaas 5 Maart 2022