In 1980 was eerste minister PW Botha nog ‘n gewilde figuur, as die Sunday Tribune se peiling onder wit mense geglo kon word. In die dekade daarna het die politiek drasties verander — veranderinge wat Johan Pretorius van naby beleef het. Intussen het hy besef die NP-regering was op ‘n pad na nêrens. Hier beskryf Johan, ‘n gewese hoofredakteur van nuus by die SAUK, kortliks sy politieke ommeswaai. Hy vertel ook van ‘n besonder ontstuimige SAUK-raadsitting.
Ek het in ‘n Nasionale Party-huis grootgeword. Nie fanaties nie, maar my ouers was oortuig apartheid was die oplossing vir die land se bevolkingsprobleme. Tot in die vroeë sewentigerjare, toe die HNP begin groei en die AWB op die toneel verskyn het.
Ek het stadig maar seker oortuig begin raak verandering moes kom, wat het ek nie presies geweet nie. Dr. Van Zyl Slabbert se nuwelingstoespraak in die Volksraad het ‘n blywende indruk op my gemaak, ook sy beredenerings in debatte. Het nie met al sy menings saamgestem nie, maar het besef apartheid was nie die antwoord nie.
Die grensoorlog en die sogenaamde kommunistiese bedreiging was ‘n sterk faktor in my denke asook die besef dat die land se veiligheid nie in gevaar gestel kon word nie. Wat my laat besef het apartheid is dood, was die besoeke aan die nege tuislande saam met eerste minister PW Botha in 1979. Hy moes dit ook toe besef het, vandaar sy eie inisiatiewe vir verandering.
Met die skeuring in die NP het ek al hoe meer ‘links’ in my persoonlike politieke denke beweeg, en gehelp om die SAUK se redaksionele beleid ten gunste van vinnige en daadwerklike grondwetlike verandering te maak. In die 1987-verkiesing het ek nie vir die NP gestem nie — uit protes teen die regering se onvermoë om betekenisvolle stappe te doen om apartheid uit te faseer.
Weens my politieke kontakte het ek geweet daar was talle NP-politici wat dieselfde gevoel het, maar wat, soos ek, “gevangenes van die stelsel” was. Die onafhanklikheid van Namibië en die aftrede van president Botha was vir my blye nuus, ook die vrylating van Mandela en die ontbanning van die ANC, wat ek heelhartig gesteun het.
Vandag besef ek apartheid was dalk goed bedoel, maar allerhande booshede is in die naam daarvan gepleeg. Dit was verkeerd. Oor en uit. Die gemors waarin die land hom nou bevind is weens ander redes, onder meer swak onderhandeling, die onvermoë van die ANC om te regeer en endemiese korrupsie.
Dwarsdeur my joernalistieke loopbaan was ek nooit ‘n lid van enige politieke party nie, ook nie van die Broederbond of enige ander organisasie nie. Ek het ‘n sterk afkeer van die Broederbond gehad, hoewel ek geweet het goeie werk is ook deur die organisasie gedoen, veral om verandering teweeg te bring.
Myns insiens het die negatiewe egter baie swaarder as die positiewe geweeg. Daarbenewens was ek daarvan oortuig dat joernaliste nie lede van geheime organisasies en politieke partye kan wees én hul geloofwaardigheid behou nie.
Johan saam met dr. Beyers Naudé, ‘n belangrike stem teen apartheid toe dit nie in Afrikanerkringe gangbaar was nie. Naudé is ook vir jare lank deur die regering van destyds ingeperk, wat beteken het hy mag nie in die media aangehaal geword het nie.

Reguit praat by ‘n SAUK-raadsvergadering
Johan Pretorius vertel hoe hy hom en sy kollegas op ‘n raadsvergadering teen klagtes verdedig het.
Op ‘n dag, dit was iewers vroeg in 1994, is Christo Kritzinger, André le Roux en ekself na ‘n raadsvergadering ontbied om oor ons dekking te kom verslag doen. Die raadslede was erg omgekrap.
Ons het na hul klagtes gesit en luister, basies dat die SAUK weens ons nuusdekking die ANC bevoordeel deur te veel aandag aan hulle te gee. Daar is te veel ANC-gesigte op TV, was die hoofaanklag.
Die raadslede het geen idee gehad van wat ons verantwoordelikhede as die openbare uitsaaier in daardie moeilike onderhandelingsjare was en die ongelooflike stres wat daarmee gepaard gegaan het nie.
Hoe meer hulle ons gekritiseer het, hoe meer het die emosie in my opgewel, en om dit reguit te stel, hoe meer de m**r in het ek geraak. Veral weens die totale onbegrip van die omgewing waarin ons ons werk moes doen.
Ek het besluit hier gaan ek nie stilbly nie, al kos dit my my werk. Toe die raad se vloedgolf kritiek verby was, het ek losgetrek “with all guns blazing”. Die twee hoofpunte van my antwoord was dat hulle as raadslede geen idee het van ons werksomgewing nie en dat hulle hulle ore uitleen aan elke (soms belangrike en invloedryke) Jan Rap en sy maat.
Moenie met ons raas nie, het ek gesê, gaan baklei met die NP, hul eie party, wat die ANC ontban en Nelson Mandela vrygelaat het. Ons doen bloot verslag oor die gevolge hiervan. Ons weerspieël bloot die werklikhede, en dis tyd dat hulle dit besef.
Sowel die voorsitter, prof. Christo Viljoen, as die ander raadslede, soos Mimi Coertse, het doodstil gesit en luister, en ná my toespraak was daar ‘n rukkie stilte. Ek het ‘n verandering van ingesteldheid waargeneem, ons is bedank vir die inset (ek kan nie meer presies die woorde onthou nie), en ons het die vergadering verlaat.
Die bestuurshoof Wynand Harmse het my later bedank en meegedeel dit was ‘n baie geslaagde sessie. Van die raadslede, onder wie professor Viljoen, het my briewe gestuur waarin hulle my bedank het vir die inset, en verskoning gevra het omdat hulle nie bewus was van die omstandighede nie. Dit het my ontsettend beter laat voel, want ná die vergadering het my twee kollegas gesê hulle het my nog nooit so opgewerk en kwaad gesien nie. Geen SAUK-werknemer het waarskynlik ooit so met die raad gepraat nie.
Heel bo: Die voorbladberig uit 1980 het berig oor ‘n peiling net onder wit mense.
Lees volledige onderhoud met Pretorius in die afdeling VERBATIM.
Lees ook insetsel oor Wynand Harmse se boek by BOEKE.
Geplaas Februarie 2022.