HANG DIE REDAKTEUR — MAAR GOD IS ‘LIEFTE’
Tobie van den Bergh
Selfpublikasie, Middelburg
2009
Hier is ‘n potpourri van stories deur ‘n redakteur wat deur die meule is en met ‘n glimlag anderkant uitgekom het. Dit is geen outobiografie nie en het eerder die gevoel van ‘n plakboek — in die sin dat die skrywer deur dekades se stories geblaai het en van hulle hier in herinnering roep.
Daarom is dit heel persoonlik, maar dit draai beslis nie net om die outeur nie; trouens, hy kon maar meer oor homself vertel het.

Die kort, baie roerende stories laat jou soms in trane. Dit is rou stories oor gewone mense. Die mense wat ‘n ouskoolkoerant, die Middelburg Observer, se blaaie gehaal het. En deur gewone mense gelees en gewaardeer is.
Ander kere lag jy dat die trane loop, want dis soms regtig snaaks. Soos die storie oor die bang beseerde rugbyspeler wat ‘n inspuiting moes kry. Toe buk die president van die ou Suidoos-unie en kry sélf ‘n inspuiting — om te wys dis nie te seer nie.
Of die brokkie oor die Konserwatiewe Party se rugbydag iewers in die 1980’s. Transvaal word toe op die telbord bloot as TL aangedui. (Daar was dalk nie ‘n V beskikbaar nie.) Een toeskouer merk toe op: “ TL staan seker vir tuisland”.
Die eg menslike en politiek wissel mekaar af. Tobie van den Bergh was nie gewild onder sekere regses nie en moes maar lig loop. Sy menslikheid skemer egter steeds deur. En dit is die hart van gemeenskapsjoernalistiek op sy beste.
So vertel Tobie die storie van Gerrie Marx, wat ondanks uitdagings voluit geleef het. As deel van die Reik-na-‘n-droom-veldtog kry hy die geleentheid om ‘n dag op ‘n duikboot deur te bring. By sy terugkeer vra Tobie hom om ‘n vrolike “thumbs up” vir die kamera te gee.
Dan antwoord Gerrie skaam: “Maar oom Tobie, ek hét nie duime nie!”
Voeg Tobie in ‘n naskrif by: Weens ‘n chromosoomdefek het Gerrie net vier vingers aan elke hand gehad, maar Skrif was sy beste vak op laerskool.
As redakteur binne die Perskorgroep kry hy een dag die opdrag: Gaan help, daar’s probleme by Imvo Zabantsundu op King William’s Town, die koerant wat John Tengo Jabavu in die 19e eeu gestig het en wat, vreemd genoeg, toe reeds lank in wit besit was.

By Imvu kry hy ANC-plakkate teen die mure en ‘n wêreld wat hy nie ken nie. Hy besef hy moet meer leer oor hierdie wêreld, wat pas vir wit mense begin oopgaan het. Daarom besoek hy wyle Steve Biko se ma in haar beskeie huisie … en so het “die oerwoud van vooroordele in ‘n paradys verander van kennis en meelewing”.
Soos enige goeie koerantman, is Tobie meermale gekonfronteer deur etiese vrae rakende privaatheid. Die foto hieronder het hy geneem toe hy pas in die joernalistiek begin het: — van ‘n ma wat haar kindjie vir oulaas wou soen voordat die kis finaal toegemaak word.

Onsensitief? vra Tobie retories na al die jare. Was dit nie oneties om daardie private oomblik binne te dring nie?
Maar dan sy antwoord: ‘n Week nadat die foto en hoofberig op die koerant se voorblad verskyn het, daag die ouerpaar by die koerant op. Kan hulle ‘n afdruk van die foto vir hul album kry, asseblief?
In dieselfde trant het Tobie hierdie foto geplaas van ‘n seuntjie wat doodgery is en deur ‘n polisieman weggedra word. Tobie se twee kollegas moes die foto gaan neem, maar is oorval deur emosie en kon dit net nie doen nie. Die redakteur moes maar self uitspring en die foto neem.

Oor ‘n ander saak skryf Tobie: Hoe gemaak as jy as joernalis ingetrek word by organisasies waaroor jy eintlik net ‘n berig moes skryf? So gebeur dit dat ‘n kollega sommer die organiseerder van die jaarlikse muurbalkampioenskap geword het.
Tobie woon by geleentheid ‘n vergadering van Aksie Morele Standaarde by. Ampshalwe. Hy word gevra om voor te gaan in gebed. Klaarblyklik met die nodige eerbied, want hy is daarna sonder seremonie gevra om sekretaris te word. “En op agttien word jy ‘n sedebewaker, of jy wil of nie.”
Die foto hieronder het Tobie geneem toe dit rof geraak het op die rugbyveld. Middelburg en omgewing is nie vir sissies nie. Dis gewone mense wat hier woon en hulle reageer soms bietjie rof.

Die sluitstuk van die boek is egter die storie oor ‘n boemelaar wat yskoud een oggend op Middelburg sterf. ‘n Bybel word by hom gevind met die woorde “God is liefte” voorin geskryf. So met ‘n t.
Tobie begin navraag doen, bel en soek. Hy spoor uiteindelik die oorledene se broer, ‘n polisiekaptein, op. Ja, Freddie Mileham was sy broer. En so word gereël dat die boemelaar met ‘n naam begrawe word, heel deftig en met ‘n behoorlike diens. Tobie, kollegas en vriende dra die kis.

Later kry Freddie selfs ‘n grafsteen. Maar die grafsteenmaker skop vas: Liefde het ‘n d. So staan dit dan “verkeerd” op die grafsteen: “God is liefde”.
Waardigheid herstel, in die dood. Danksy ‘n redakteur met baie empatie en liefde vir sy mense.
— Johannes Froneman