Deur Johannes Froneman
By die dood van emeritus aartsbiskop Desmond Tutu was daar ‘n stortvloed van lofbetuigings soos laas met die dood van Nelson Mandela. Allerlei pragtige stories — veral oor sy gebruik van Afrikaans — het na vore gekom. Willem Pretorius se mooi artikel oor die “dominee” se wellewendheid staan uit (kyk Volksblad 29 Desember 2021).
My ervaringe met Tutu was nooit persoonlik nie, en het nie met taal of die Waarheid-en-versoeningskommissie te make gehad nie. Dit het wel ‘n sterk joernalistieke kleur gehad. Daarom vertel ek hier iets daarvan.
In 1984 was ek in diens van die SAUK en verantwoordelik vir kerklike aktualiteit op Afrikaanse radio. Tutu was in daardie tyd sekretaris-generaal van die SA Raad van Kerke en is as ‘n belangrike vyand van die staat (en dus ook die SAUK) geïdentifiseer.
Maar dit was ‘n nie-amptelike klassifikasie. Toe ek ‘n onderhoud met dr. Piet Meiring gevoer het waarin hy gepleit het dat die NG Kerk vorentoe met die SA Raad van Kerke sal moet praat (dus ook met Tutu), is dit buite orde gereël. Dit mog nie uitgesaai word nie.
Die Burger en aartsbikop Tutu was nie altyd op dieselfde golflengte nie, maar by sy dood het die koerant hierdie pragtige voorblad gehad.

Later het dit duidelik geword dat dit teen SAUK-beleid was om aan die “buiteparlementêre opposisie” enige spreekbeurt te gee. (Lees Wynand Harmse se herinneringe hieroor in sy boek SAUK 1936-1995.) Ek was nie ingelig oor hierdie nie-amptelike swartlys nie; Tutu was persona non grata. Ek het toe maar my baadjie gevat en geloop.
‘n Paar jaar later was ek betrokke by die meningsblad Christian Forum (wat onder 30 000 Christene van alle rasse en denominasies versprei is). Die gedagte was om versoening te probeer bevorder deur mense uit verskillende Christelike groeperinge in aanraking met ander se gedagtes en ervarings te bring.
In 1988 het P.W. Botha, toe president, en aartsbiskop Desmond Tutu in ‘n hewige persoonlike briewetwis betrokke geraak nadat die president nie ‘n brief van 25 kerklui persoonlik wou ontvang nie en Tutu dit toe aan die president gepos het.
Hoe die volledige korrespondensie by my as redakteur uitgekom het, kan ek nie onthou nie, maar die inhoud het nêrens na my wete prominent in die pers aandag gekry nie en ek het gemeen dit is belangrik om daarvan kennis te neem. Ek wou dit volledig publiseer.
Normaalweg is Christian Forum se inhoud nie vooraf goedgekeur nie. Maar in dié geval het ek dit met die uitgewer bespreek en het ons wyer gekonsulteer. Die voorsitter van ons direksie het beswaar gemaak en ‘n direksievergadering is dringend byeen geroep. My argument dat ons geen versoening gaan hê as ons nie openlik oor verskille praat nie, is deur die meerderheid aanvaar. Christian Forum se bestaansreg is daardeur bevestig. Die beswaarde direkteur het egter sy hoed (en die kapitaal wat hy aan ons geleen het) gevat en geloop.
Die briewewisseling is onverkort in die Winter 1988-uitgawe geplaas en het sommige lesers dalk vir die eerste keer uitvoerig blootgestel aan die kerklui (en Tutu) se argumente. (Die president s’n was tog goed bekend en is gereeld op die SAUK se senders uitgesaai en in koerante gepubliseer.) Die kern van die pleidooi was dat die noodtoestand opgehef moet word, die verbod op organisasies soos die ANC opgehef word en dat onderhandelinge moet begin met die oog op ‘n nuwe politieke bedeling.
Botha het heftig hierop gereageer en gevra waar Tutu staan met betrekking tot die ANC/SAKP se plan om ‘n ateïsties-Marxistiese diktatuur tot stand te bring. Die nuwe sekretaris-generaal van die SA Raad van Kerke, eerw. Frank Chikane, het hierop gereageer, waarna Botha ook die SARK gepak het. Die opponerende standpunte van die Botha-regering en die SARK (wat albei ‘n groot aantal Christene verteenwoordig het), het hier duidelik na vore gekom.
Hierop volg Tutu se lang antwoord aan Botha, waarin hy onder meer sê hy ondersteun die ANC se doelwitte, maar nie sy metodes nie; hy verwerp apartheid asook ateïstiese Marxisme. Hy is ‘n Christen- godsdienstige leier en staan in die hoofstroom van die Christelike tradisie. Daarmee is die korrespondensie afgesluit.
‘n Ruk daarna maak ‘n direksielid in ‘n brief ‘n skerp aanval op John Allen, Tutu se woordvoerder, se mening dat die aartsbiskop en die pous se standpunte oor politieke geweld en sanksies klop. Dr. Lawrence McCrystal, ‘n bekende in evangeliese en regeringskringe, het aangevoer dit lyk of Tutu tog politieke geweld goedpraat.
Ondanks die kans wat ons aan Allen gegee het om direk onder die brief sy saak te stel, het die publikasie van McCrystal se brief ons amper in die moeilikheid laat beland. Tutu het ferm geëis dat die bewerings teruggetrek word. Hy was erg beswaard en dit as lasterlik beskou.
Vir ‘n blad wat begrip en versoening wou bevorder, was dit nogal ‘n netelige situasie. Maar daar was geen alternatief nie; ons het per brief om verskoning gevra en het ook ‘n apologie geplaas. Daarin het ons bevestig dat ons Tutu as ‘n belangrike Christenkerkleier beskou wat eerlik na vrede streef. Ook het ons genoem dat Tutu alle geweld verwerp en dié boodskap aan alle partye predik.
Dit alles klink vandag dalk bra vreemd, maar onthou die konteks: Die 1980’s se noodtoestande, geweld in die townships, inperking sonder verhoor en geen vooruitsig dat die regering apartheid gaan afsweer nie.
Dit was in dié tyd dat Tutu ‘n stem aan die onderdruktes gegee het. Hy het as profeet sy rug reguit gemaak — ook teen die gevreesde PW Botha. Afrikaanse koerante en die SAUK het bankvas teen Tutu en sy boodskap gestaan — of dan die boodskap soos hulle dit waargeneem het.
Die ANC/SAKP-alliansie se revolusionêre propaganda het nou nie juis sake vergemaklik nie. Ook nie die verskriklike halsnoermoorde op “meelopers” nie — dus swart mense wat as verraaiers beskou is omdat hulle met die staat sou saamgewerk het. Dit het skietgoed gegee aan diegene wat alles in terme van ‘n stryd tussen die bose kommuniste en die evangelie gesien het (met die NP-regering as verteenwoordiger van die Christendom). Onthou ook dat die kommunistiese USSR toe nog bestaan het; die Berlynse Muur het nog nie geval nie.
Maar die wiel het gedraai. Later, heelwat later, het Tutu die ANC-regering gelooi oor sy korrupsie. Nou was Tutu almal se aartsbiskop. Wel, nie álmal s’n nie, maar wel dié van ‘n buitengewoon breë groep mense.
Soos met Nelson Mandela bevraagteken ‘n nuwe geslag jong swart mense reeds Tutu se WVK-pogings. Tutu se versoeningsrol sal dalk in die toekoms selfs na groter waarde geskat word.