Hennie van Deventer is ‘n prolifieke skrywer van boeke waarin hy veral sy eie ervaringe as koerantman opteken. Hier stel ons ‘n (her)bekend plus sy jongste (en moontlik laaste) boek, Wag-‘n-bietjie. Saam verteenwoordig dit ‘n wesenlike bydrae tot ons koerantgeskiedenis, soos onder verduidelik.
SCOOPS EN SKANDES
Hennie van Deventer
Tafelberg, Kaapstad
1993
Hierdie vroeë boekie is ‘n prettige bundel vol staaltjies oor joernaliste se trefferstories, maar ook skades en skandes. In die proses kom die leser ook iets agter van hoe die koerantwêreld werk — of nie.
Van Deventer ploeg soms met ander se kalwers, maar hy gee paslike erkenning. Die wins is dat hierdie stories nou opgeteken is en nie maar onderling oorvertel word nie.
FLATERS EN KRATERS
Hennie van Deventer
Tafelberg, Kaapstad
1996
‘n Opvolg op Scoops en skandes. Op omslag val die fotograaf Jean du Plessis in Tuynhuys se visdam. Een afdeling is kort stories, eintlik brokkies. Die tweede is langer stories, soos oor koerantbriewe en klein advertensies.

KRONIEK VAN ‘N KOERANTMAN
Hennie van Deventer
Tarlehoet BK, Welgelegen
1998
Anders as die vorige boek, handel hierdie een oor die skrywer se ervaring van die moeilike 1980’s met sy noodtoestande en bittere politieke meningsverskille.
Die skrywer verduidelik en verdedig sy werk as redakteur van ‘n koerant, Die Volksblad, wat die regering se apartheidsbeleid ondersteun het, maar ten gunste van hervorming was. Dit het die blad (en die redakteur) in botsing met regse elemente gebring.
Die leser mag die boek selfregverdigend ervaar, maar dit verteenwoordig ‘n perspektief waarvan ook kennis geneem moet word.
IN KAMERA
Hennie van Deventer
Protea Boekhuis, Pretoria
2003
As jy net één boek van Hennie van Deventer moet lees, is hierdie die een. Dit is outobiografies, mooi versorg, bevat treffende foto’s en gee insig in ‘n koerantman wat altyd net sy beste gegee het.
Die boek bevat ‘n paar treffende foto’s, soos hierdie een waar Hennie en die direkteur van onderwys in die Vrystaat, Willem Odendaal, buite Die Volksblad se kantore staan by die bekendmaking van die matriekuitslae — ‘n groot gebeurtenis wat sterk deur die koerant gedek is.

LAATOES — KYKWEER VAN ‘N KANNIEDOOD-KOERANTMAN
Hennie van Deventer
Naledi, www. Naledi.online
2017
Dié bundel bevat ‘n hele aantal geleentheidstukke, onder meer by die dood van kollegas, die viering van mylpale, besoeke en so meer. Nie almal het betrekking op die mediawêreld nie, maar verskeie wel. Sommige stukke is ook in die volgende boek opgeneem.
KOERANTKAMERADE
Hennie van Deventer
Naledi, Gansbaai
2021
Te midde van die Covid-pandemie verskyn hierdie bundel van “informele grafskrifte” oor 52 mense met wie die skrywer in sy loopbaan skouers geskuur het. Moenie biografiese sketse verwag nie, eerder Van Deventer se ervarings of indrukke van dié kollegas.
In sommige gevalle is dit al wat oor hierdie mense opgeteken is — in ander gevalle vul dit bestaande herinneringe aan. Die stukkie oor dr. Gerrit Velthuysen val in eerste kategorie. ‘n Baie lekker storie met verskillende dimensies.
Daar is ook insiggewende waarnemings in die stukkie oor Albert Crafford. So word verwys na Conrad Sedigo (die eerste bruin joernalis by Naspers) asook die rubriek Van alle kante se skrywers en die eens gewilde en winsgewende bylae Die Byvoegsel (By):

Oor adv. David de Villiers, lank besturende direkteur van Nasionale Pers en, volgens Van Deventer, nooit heeltemal tuis in die pro-NP-omgewing nie, skryf hy:

WAG-‘N-BIETJIE
Hennie van Deventer
Naledia, Gansbaai
2025
Hierdie is waarskynlik Hennie van Deventer se swanesang — nog ‘n bundel lekker stories uit ‘n vol lewe van koerantmaak, van reis, van waarneem.
‘n Hele aantal van die stukke gaan natuurlik oor koerante en die mense wat daarby betrokke is en was. Maar daar is ook ‘n bondel ander anekdotes wat eweneens plesier verskaf.
In my voorwoord tot die boek, skryf ek die volgende:
Toe Hennie van Deventer in 1998 uittree as hoof van Naspers se koerante, was die rak met lekkerleesboeke oor die Afrikaanse joernalistiek nog maar yl. Dit het Hennie dramaties help verander. Die storie, waartoe hy so ’n wesenlike bydrae sou lewer, loop min of meer so:
Reeds in 1946 het die pionierjoernalis Johannes Steinmeyer met sy Spykers met koppe (Nasionale Pers) en J.M.H. (Marcus) Viljoen in 1953 met ’n Joernalis vertel (Nasionale Boekhandel) iets oor die vroeë joernalistiek vertel. Later sou Dirk Richard met sy Moedswillig die uwe meer oor pers-persoonlikhede van die noorde vertel (Perskor, 1985).
Enkele institusionele geskiedenisse het deur die jare verskyn. LJ Erasmus se ’n Volk staan op uit sy as: Verhaal van Die Afrikaanse Pers (1962) Beperk (circa 1970), C.F.J. Muller se monumentale Sonop in die Suide (Nasionale Boekhandel, 1990), Oor grense heen – Op pad na ’n nasionale pers 1948-1990, onder redaksie van WD Beukes (Nasionale Boekhandel, 1990), André Olivier se oorsig oor Die Kerkbode se eerste 150 jaar, Bode op spoor van die Woord (Lux Verbi, 1998) en Max du Preez se effe baldadige Oranje Blanje Blues – ’n Nostalgiese trip oor Vrye Weekblad (Zebra Press, 2005) sou volg.
Ook Lizette Rabe se ongepubliseerde boek oor Naspers se honderd jaar verdien hier vermelding – juis omdat die maatskappy se voorsitter klaarblyklik te skaam was om die maatskappy se Afrikanernasionalistiese wortels aan die wêreld te erken (hoewel dit kwalik ’n geheim was). Wel het ’n Konstante Revolusie – Naspers, Media24 en Oorgange as troosprys (maar nie sonder meriete nie) onder Rabe se redakteurskap verskyn (Tafelberg, 2015).
In dieselfde asem kan die vroeëre Keeromstraat 30 genoem word (Nasionale Boekhandel, 1965). Van die stukke in hierdie bundel vertellings het weer neerslag gevind in 1915-2015 Die Burger – Sy mense en hul stories (Jonathan Ball, 2015). Die Burger se susterkoerant, Volksblad, het ook sy eeufees in 2004 met ’n gedenkboek gevier: ’n Lewe van sy eie (met Leo Barnard en Jan-Ad Stemmet as skrywers en uitgegee deur Tafelberg).
Boeke oor die politieke loopbane van enkele figure gee flitse oor hul redakteurskappe: dr. HF Verwoerd van Die Transvaler, soos weergegee deur GD Scholtz in sy tweedelige Dr. Hendrik Frensch Verwoerd 1901-1966 (in 1974 uitgegee deur Perskor) en dr. DF Malan van Die Burger in Lindie Koorts se DF Malan en die opkoms van Afrikanernasionalisme (Tafelberg, 2014).
Maar die meer persoonlike vertellings het min gebly. Wel het Piet Meiring se baie leesbare boek oor voorbladstories, Vyftig jaar op die voorblad, (Perskor, 1979), verskyn en so ook sy Die Transvaler 50 jaar (Voortrekkerpers, 1987), sy outo-biografiese Dis my storie dié (PMP Uitgewers, s.a.) asook Inside information (Howard Timmins, 1973). Meiring was die één skrywer wat voor Hennie van Deventer die joernalistiek en sy mense regtig laat lewe het.
Meiring het ook ’n boekie oor sy pa, ’n eertydse Kerkbode-redakteur, die lig laat sien (Ds. PGJ Meiring – Die lig op sy pad, PMP Uitgewers, s.a.). Dit is gevolg deur JC Steyn se Penvegter – Piet Cillié van Die Burger (Tafelberg, 2002), FA (Alex) Mouton se boek Voorloper – Die lewe van Schalk Pienaar (Tafelberg, 2002) en sy werk oor FS Malan, destydse redakteur van Ons Land, Prophet without honour, (Protea, 2011).
Outobiografiese boeke is deur enkele koerantmense geskryf. Daaronder tel Schalk Pienaar se Getuie van groot tye (Tafelberg, 1979), Dirk Richard se Tussen bid en droom (Constantia, 1986), Max du Preez se Dwars (Zebra Press, 2009), Chris Louw se Boetman – en die swanesang van die verligtes (Human & Rousseau, 2009), Lizette Rabe se Rykie – ’n Lewe van woorde (Tafelberg, 2011), Harald Pakendorf se Stroomop – Herinneringe van ’n koerantman in die apartheidsera (Penguin, 2018) en Ton Vosloo se Oor grense – ’n Lewe in die media in ’n tyd van verandering (Jonathan Ball, 2018). Hennie van Deventer se In Kamera (Protea, 2003) moet ook by hierdie groep gevoeg word. Almal bevat belangrike feite, perspektiewe en anekdotes.
So ook Beeld 50, onder redaksie van Erika de Beer (Jonathan Ball, 2024). Dit bevat talle lieflike stories oor Beeld-joernaliste se soeke na groot stories – en hoe om dit hard te slaan.
In 2023 het my Ter wille van oorlewing, ideologie en geld by Akademia verskyn en bied perspektiewe op aspekte van die Afrikaanse joernalistiek.
Naas bogenoemde moet die artikels genoem word wat in akademiese tydskrifte verskyn het. Op enkele webblaaie verskyn ook navorsing en eerstepersoonvertellings wat aspekte van die geskiedenis van die Afrikaanse joernalistiek belig.
In geheel dus nie te versmaai nie.
Met hierdie boek – Hennie van Deventer se tiende wat grootliks oor die koerantwêreld gaan – lyk die rak al heelwat voller as ’n paar dekades gelede. Daartoe het Hennie ’n onmisbare, kenmerkende bydrae gelewer.
Sy lys van mediaboeke lyk soos volg:
Scoops en skandes (Tafelberg, 1993)
Flaters en kraters (Tafelberg, 1996)
Kroniek van ’n koerantman (Tarlehoet, 1998)
In kamera (Protea Boekhuis, 2003)
Laatoes – kykweer van ’n kanniedood-koerantman (Naledi, 2017)
Koerant (De Novo, 2021)
Koerantkamerade (Naledi, 2021)
Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord (Naledi, 2023)
Water wat verby is (De Novo, 2024)
Hennie se boeke-bydrae het met twee versamelings (meestal) humoristiese anekdotes begin: Scoops en skandes en Flaters en kraters. Eersgenoemde het nogal ’n paar stories met buitelandse herkoms bevat, maar sy koerantstories het later ’n eksklusief plaaslike inslag gekry.
HvD, ofte wel “die uwe”, was “teenwoordig” by omtrent elke gebeurtenis van belang oor ’n tydperk van dertig jaar — al was dit net omdat hy op daardie presiese dag in die hoofsub se stoel gesit het (dr. HF Verwoerd se dood), ’n terloopse foto geneem het van ’n gesin wat later brutaal uitgewis is, of bloot daar was waar geskiedenis gemaak is. Daarvan sou hy vertel.
Maar eers het die alte ernstige, polemiese Kroniek van ’n koerantman gevolg waarin hy vertel hoe hy as redakteur van Die Volksblad ’n stryd teen regses in sy verspreidingsgebied gevoer het. Soos sy kollega Alf Ries in ’n voorwoord herinner: Die boek is gegrond op Hennie van Deventer se persoonlike voorlegging voor die Waarheid-en-versoeningskommissie, wat vriendelike én onvriendelike kommentaar ontlok het. Hennie het nie op die draad gesit nie.
Daarna het In Kamera gevolg, ’n volwaardige outobiografie wat mooi deur Protea uitgegee is. Die tafel was nou gedek vir meer as media-boeke. Tog het in Byl in my bos (Griffel Media, 2009) en Lewensgroot en groter (Tarlehoet, 2012) ook kort stukkies bevat oor koerantmense soos Willem Wepener, Freek Swart, Jack Viviers, Ronnie King, Johan van Wyk en Ben van Rensburg. In sommige gevalle is dit omtrent al wat oor die betrokke koerantmanne in druk verskyn het.
Dan is daar ook nog hier en daar anekdotes uit die koerantwêreld. Dus ook boeke wat ’n bydrae lewer tot ons mediageskiedenis en wat nie by die tiental getel is nie.
Van 2017 het egter ’n handvol boeke verskyn waarin Hennie die sluise oopmaak. Die titels vertel hul eie storie – dié van ’n outeur wat niks onopgeteken wil laat wat iets vertel uit die era van koerante nie: Laatoes – kykweer van ’n kanniedood-koerantman, Koerant, Koerantkamerade, Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord en Water wat verby is.
Die Corona-pandemie het die einde van koerante verhaas; vir Hennie van Deventer was dit ’n onverdunde tragedie. Daar moes vir oulaas vertel word. Hennie het natuurlik ook sy oog op sy eie ouderdommeter gehad.
Hennie het sy aftreejare dus nie net gebruik om saam met sy vrou, Tokkie, die oseane te bevaar of by die Wildtuin die natuur te geniet nie. (Daaroor het hy as kompulsiewe joernalis ook geskryf.) Meer as 20 boeke het al uit sy rekenaar gevloei. En dan praat ons nie eens van die talle koerantbriewe en ander geskrifte op allerlei platforms nie.
Gelukkig het van daardie joernalistieke uitsette in van sy boeke – ook dié een – ’n papiertuiste gekry.
In hierdie boek, Wag-’n-bietjie, speel die koerant (nogmaals) ’n vername rol. Dit is dalk Hennie se laaste bydrae tot die geskiedenis van Afrikaanse koerante en die joernaliste wat op allerlei wyses bygedra het tot die soeke na ’n sinvolle saambestaan. Maar met Hennie weet ’n mens nooit!
Vir die oomblik is dit wel gepas om te sê: Dankie, Hennie. Welgedaan!
— Johannes Froneman