Ben Schoeman was leier van die Nasionale Party in Transvaal (vandag Gauteng, Limpopo en dele van Noordwes). Hy was ook ‘n belangrike figuur in die Afrikaanse perslandskap in die Noorde. Sy opmerkings oor die pers is daarom betekenisvol.
MY LEWE IN DIE POLITIEK
Ben Schoeman
Perskor, 1978
Hierdie boek deur oudminister Ben Schoeman gee ‘n oorsig van sy lewe as politikus in die jare 1948 tot in die 1970’s. Belangrik is sy rol in verskillende noordelike persmaatskappye.
Schoeman was voorsitter van Die Afrikaanse Pers (1962) Bpk, Dagbreek-Trust en later Perskor, wat die noordelike Afrikaanse koerante en Dagbreek uitgegee het. Hy was dus ‘n sleutelfiguur.
So vertel hy meer oor die opstand deur regsgesindes in die laat 1960’s, vroeg 1970’s en hoe hy dr. Andries Treurnicht, toe redakteur van Hoofstad, na sy kantoor opgekommandeer en aangespreek het.

Schoeman skryf hy het nooit gehuiwer om koerante in sy groep te kritiseer nie, maar dié het hy privaat gedoen. Uiteindelik skryf hy te weinig oor sy rol in die pers, wat teleurstellend is.
Maar hier is nog een van die interessante brokkies, slegs verstaanbaar binne die konteks van die politieke woelinge binne die NP in die laat 1960’s:

Die uiteinde was dat dr. Albert Hertzog en enkele ander NP-LV’s uitgeskuif is en dat hulle hul eie party, die Herstigte Nasionale Party (HNP), gevorm het. Op die vlak van die koerante het Die Beeld en Dagbreek saamgesmelt om Rapport te vorm. Maar die stryd tussen Naspers en Perskor sou voortduur.