‘DE ZUID-AFRIKAAN’, ‘ONS LAND’, ‘DIE SUIDERSTEM’ EN ‘WEEKBLAD’

Ons Land het in 1930 op sy honderdste verjaarsdag sy deure gesluit. Die blad se geskiedenis kan teruggevoer word na die stigting van De Zuid-Afrikaan in 1830. Later, in 1894, smelt die twee blaaie saam en staan tot aan die einde bekend as De Zuid-Afrikaan verenigd met Ons Land. Die blad het die Suid-Afrikaanse Party (later Verenigde Party) van genl. Jan Smuts ondersteun en was dus ‘n regstreekse Kaapse konkurrent van Die Burger. Maar ook Die Suiderstem en Weekblad het hulle aan die kant van Smuts en die Verenigde Party geskaar. Nie alle koerante was pro-Nasionaal nie.

Die laaste uitgawe van Ons Land het in 1932 verskyn. Links onder: die laaste hoofartikel (redaksionele kommentaar) en reg onder: ‘n Afdruk van De Zuid-Afrikaan se eerste hoofartikel.

Die Suiderstem het in 1936 die daaglikse stem van die regeringsgesindes in die Kaap geword met Die Burger die opposisiekoerant. Die eerste redakteur was dr. Christiaan Scheepers met dr. Abraham Jonker sy opvolger. Die skrywers Frans (F.A.) Venter en Freda Linde was redaksielede terwyl die digter Uys Krige vir die letterkundeblaaie verantwoordelik was. Die Suiderstem was ‘n wesenlik ander stem as Die Burger en het vir meer as ‘n dekade diversiteit in Afrikaanse koerantgeledere bevorder.

Die Suiderstem sluit in 1950 nadat die Verenigde Party die verkiesing in 1948 teen die Nasionale Party verloor het en hul finansies opgedroog het. In ‘n sin het die sluiting van Die Suiderstem die deur vir Die Landstem oopgemaak. Dié nie-Nasionale weekblad het ‘n nuwe tipe (populistiese) joernalistiek op die toneel gebring, maar politiek vermy.

Daarenteen het Weekblad in 1957 verskyn met die uitdruklike doel om die Verenigde Party (toe die amptelike opposisie in die Parlement) te bevorder. Die eerste uitgawe van die blad verskyn hieronder.  Die redakteur was Jan Botha en van sy joernaliste was Pierre du Toit (hoofsub) Tos Wentzel (politieke beriggewer) en Nico Marais (voorheen van Die Burger), aldus Ton Vosloo. Dit is deur die Cape Times gedruk, met sir De Villiers Graaff, destyds leier van die VP, en die mynmagnaat en Volksraadslid Harry Oppenheimer as waarskynlike finansiële ondrsteuners.

Maar wat van Die Weekblad? Dié blad het in 1948 verskyn. Geen inligting is oor dié blad beskikbaar nie.

Geplaas op 8 Mei 2023. Opgedateer 8 September 2025.