Dr. Piet Meyer was voorsitter van die SAUK-raad, van 1959 tot 1981. Meyer was ʼn hoogs invloedryke mediarolspeler in ʼn tydvak waarin die SAUK ʼn volledige (wetlike) monopolie op die bedryf van radio- en TV-stasies gehad het. Só gesien was hy waarskynlik die invloedrykste mediamens van sy tyd.
In die 1960’s het talle koerantonthullings oor die Broederbond verskyn. Later, teen die einde van sy dienstyd as voorsitter, loop dit uit op dié twee boeke deur koerantmanne van die Sunday Times.

Veral The Super-Afrikaners deur Ivor Wilken en Hans Strijdom het groot opslae gemaak weens die lys van Broeders agterin.

Opvallend is Meyer die persoon wat die meeste kere in die indeks van Serfontein se boek voorkom.

Die SAUK het onder Meyer die apartheidsbeleid op alle senders gepropageer en alternatiewe menings onderdruk. Die dienste is streng volgens die apartheidsideologie ingerig met oorwegend wit Afrikanermans in beheer van die radiostasies en nuusdienste wat die hele bevolking moes bedien.
Dit het van die SAUK ‘n instrument van die Nasionale Party gemaak — meer nog, van die Afrikaner-Broederbond, wat agter die skerms oor beleid gekoukus het en volgens alle aanduidings ‘n belangrike invloed op regeringsbeleid gehad het. Meyer was vir ‘n beduidende tyd ook voorsitter van die Broederbond en het Broeders in feitlik elke belangrike posisie aangestel. Daarvan getuig sy eie boek. (Kyk ook Wynand Harmse se SAUK 1936-1995.)
Meyer vertel in sy boek Nog nie ver genoeg nie hoe hy ‘n kabinetsbesluit met ‘n enkele gesprek omgekeer het.

Meyer het in die Oos-Vrystaat grootgeword en aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat gestudeer. Na ʼn kort tydjie as verslaggewer by Die Volksblad, vertrek hy na Nederland vir verdere studie. Hy verwerf ‘n doktorsgraad in sielkunde. By sy terugkeer in 1936 word hy hulpsekretaris van die Afrikaner-Broederbond en hoofsekretaris van die FAK.
Hy was sterk simpatiek teenoor die Ossewa-Brandwag (OB), wat hom die gramskap van NP-gesindes op die hals gehaal het. Daarom is hy gedwing om ná sewe jaar by die FAK en AB te bedank.
Hy stig ʼn mediamaatskappy, Publicité, en raak verder betrokke by die OB, onder meer deur ʼn OB-personderneming met die naam Persbeleggings-korporasie op die been te help bring (“Perskor”, maar nie te verwar met die latere Perskor waarvan Marius Jooste die stigter was nie).
Op voorstel van Jooste word Meyer se maatskappye en ander belange (soos Jooste se Fleur) in 1946 byeengebring onder die sambreel van die Onafhanklike Pers Bpk., wat toe die Sondagblad Dagbreek van stapel laat loop. Hier word Meyer politieke korrespondent, tot in 1951, toe hy na Stellenbosch is om skakelhoof van Anton Rupert se groeiende Rembrandt-groep te word (Meyer en Rupert was ou vriende en was saam aktief in die Afrikaans-Nasionale Studentebond [ANS].)
Meyer was tydens sy Rembrandt-periode weer aktief betrokke by die Afrikaner-Broederbond en is metterwyl tot die uitvoerende komitee verkies. Sy aanstelling as voorsitter van die SAUK-raad (waarvan hy nie lid was nie), moet in die lig hiervan gesien word; ook omdat dr. Albert Hertzog, ʼn ou vriend en geesgenoot van Meyer, minister van pos- en telekommunikasiewese was en verantwoordelik vir die SAUK.
Meyer was ‘n hoogs energieke voorsitter, eintlik ‘n uitvoerende voorsitter van die SAUK-raad. In sy jare is FM-radiouitsendings landwyd ingestel en het hy ‘n televisiediens suksesvol by die kabinet aanbeveel en deurgevoer. Hy het met regeringshulp radiodienste in die inheemse tale vir swart luisteraars geskep en daardeur aktief die apartheidsideaal bevorder. Hy het selfs gemeen die TV-diens (met aparte kanale vir swart kykers) die apartheidsbeleid sou bevorder.
Meyer het nie publisiteit gesoek nie. Hierdie effe dowwe foto van homself as voorsitter is die een wat hy self in sy herinneringsboek laat plaas het.

Meyer het die nuwe gebouekompleks in Aucklandpark, Johannesburg, geïnisieer. Hier is hy by ‘n skaalmodel van die geboue.

Sy aanstelling én heraanstelling het hewige kritiek in die Engelstalige pers ontlok, waaraan Meyer hom tipies nie gesteur het nie. In sy herinneringe meld hy dit wel as volg:


Tydens die regse rebellie van die Hertzoggroep teen premier John Vorster se beleidsrigtings is gepoog om Meyer by die HNP te betrek, onder meer deur groot publisiteit in die HNP-blad Ster aan twee van sy (ou) toesprake te gee. Meyer het egter enduit lojaal aan die NP gebly.
Van Meyer kan gesê word hy het ‘n wesenlike (positiewe) impak op die ontwikkeling van die SAUK gehad. Sy bestuur, ook van die geldsake, was effektief en die SAUK het met minimale hulp van die regering gefunksioneer. Maar sy ideologiese rol was, by nabaat, baie problematies en het die voorbeeld aan latere rolspelers gestel om die SAUK vir seksionele belange te misbruik.
Kyk ook inskrywing in BOEKE oor Meyer se Nog nie ver genoeg nie.
Geplaas: Oktober 2021