SCHALK PIENAAR — BINNEKRING-VEGTER VIR OPER GEMEENSKAP

 

Schalk Pienaar was een van die bekendste Afrikaanse joernaliste en het as hoofredakteur van Oosterlig, Die Beeld en Beeld gedien. Hy het die voorloperrol gespeel in Naspers se deurbraak in die noorde en was ʼn politieke en joernalistieke vernuwer en daarom kontroversieel. Maar hy was menslik en charismaties en het jonger redaksielede geïnspireer.

Met Die Beeld en Beeld het hy aan ʼn nuwe geslag Afrikaanse koerantlesers ʼn meer kritiese benadering voorgehou waarmee hulle kon identifiseer. Uiteindelik kan hy as een van Afrikaans se grootste redakteurs beskou word. In 2007 is die Orde van Ikhamanga (silwer) postuum aan hom toegeken, ʼn ietwat verrassende toekenning aan iemand wat sy lewe lank ʼn Afrikanernasionalis gebly het.

Maar Tony Heard, self oudredakteur en ANC-regeringsadviseur, skryf in Beeld Pienaar was ʼn “invloedryke bouer van openbare mening wat die weg gebaan het vir … ʼn onderhandelde demokrasie in Suid-Afrika in 1994”.

Pienaar is op Merweville gebore. Sy pa, ʼn predikant, sterf vroeg, waarna die gesin Stellenbosch toe trek. Daar beland hy in dieselfde klas as Piet Cillié, die begin van ʼn lang vriendskap en later professionele verbintenis.

Pienaar sluit, soos Cillié, by Die Burger aan en dek die simboliese ossewatrek van 1938 vir sy koerant. Na ʼn jaar op Stellenbosch om geskiedeniskursusse te loop, keer hy terug na Die Burger. In 1946 word Pienaar op dertigjarige leeftyd redakteur van Die Oosterlig in Port Elizabeth. Hy word egter na enkele maande na Die Burger teruggeroep en (saam met Piet Cillié) as assistent-redakteur aangestel.

Hy en Cillie het, volgens sy biograaf, Alex Mouton, al hoe meer aanklank gevind by N.P. van Wyk Louw se gedagtes van lojale verset, liberale nasionalisme en die oop gesprek. Dit verklaar waarom Pienaar tot met sy dood die NP ondersteun het al was hy erg krities op bepaalde aspekte van die party se beleid.

Blinde gehoorsaamheid het Pienaar nie geduld nie. Toe hy in 1965 stigterredakteur van Die Beeld word (kyk eerste uitgawe bo), het hy oorlog verklaar teen die konserwatiewes in die NP wat vernuwing geopponeer het. Daarmee het hy die gramskap van die NP in Transvaal op die hals gehaal.

Die bittere stryd teen Dagbreek en Sondagnuus (later Dagbreek en Landstem) het Pienaar genoop om ʼn sensasionele en gewaagde joernalistiek te bedryf, tot onsteltenis van sommige, insluitende Phil Weber, Hubert Coetzee en Piet Cillié.

Regs: Die voorblad van Alex Mouton se biografie oor Pienaar.

Pienaar se vriend en digter het Pienaar se werk by Die Beeld as volg opgesom: “Hy het die tegniek van Dagbreek én die Sunday Times, én ook hul tekortkominge vasgestel. Hy het geweet hy moet met blitsvinnige, eie, landswye verspreiding die Slag van die Hiperbool lewer: die grootste, die gewaagdste, die kragtigste, die tartendste … net duskant algehele verbod deur hof, staat, kerk, Akademie, ʼn durwende tipografiese aanbod, groter opskrifte, rojale gebruik van kleurwerk, baie foto’s, die fantasiewêreld van miljoene aangryp met so na-as-naak-nooiens, so na-as-raak die waarheid, gespierde jonge en konkelklonge. In elke huis, plek, kloof, kerk, kantoor… moes ʼn oog, ʼn oor, ʼn kamera, ʼn bandmasjien wees wat ʼn geheime wêreld hier vóór en óm jou elke Sabbat onverwags in Die Beeld openbaar. En in ʼn taal pront, skerp, gemoedelik, selfs vrypostig … “

Desondanks sy sukses met Die Beeld, het finansiële (en politieke) realiteite die direksie noodgedwonge tog laat besluit om in te stem tot ʼn samesmelting met Dagbreek en Landstem (om Rapport te vorm). Dit was meer as ʼn bitter pil vir Pienaar. Hy was verpletter.

Maar hy het weer ʼn kans gekry: Na ʼn paar jaar terug in die Kaap, is hy gevra om as hoofredakteur Beeld as dagblad in 1974 in die noorde te begin.

Sy gesondheid het hom egter nie toegelaat om lank in die stoel te bly nie en hy is in 1975 terug Kaap toe. Hy is drie jaar later oorlede, te vroeg om Beeld se oorwinning in 1980 te beleef toe Perskor se knoeiery met sirkulasiesyfers aan die lig gekom het.

By sy dood skryf Joel Mervis, destydse redakteur van die Sunday Times: “Schalk Pienaar… will be remembered as the man who pulled off the most spectacular newspaper coup in the history of the South African Press.”

Pienaar se sukses by Die Beeld was ‘n besondere hoogtepunt in die Afrikaanse koerantgeskiedenis, veral omdat die reikwydte daarvan veel verder as sirkulasiesyfers en wins gestrek het. — Johannes Froneman

Só is by nabaat oor Die Beeld (en Pienaar) geskryf:

Huldeblyk deur Piet Cillié

Piet Cillié skryf by Schalk Pienaar se dood as volg:

Reeds in 1938, as ons hoofverslaggewer by die Ossewatrek en die Voortrekkereeufees, het hy met sy waarneming en skryfstyl nasionale aandag getrek; maar dit was in die jare vyftig, as daaglikse parlementêre kommentator, dat hy volledig gegroei het tot koerantman onder die koerantmanne: gerespekteer deur vriend en teenstander, en deur albei gelees soos drie dekades vroeër Langenhoven self, aan wie se invloed Schalk Pienaar se vonkelende styl veel te danke had.

Min het geweet dat daardie stukke, gewoonlik met verstommende snelheid geskrywe, maar ‘n deel was van sy take as assistent-redakteur. Sy nuussin en sy bestuursvermoë het in die redaksie deurgewerk soos sy politieke insig by die publiek daar buite.

Toe die Nasionale Pers in 1965 sy grootste avontuur sedert die ontstaan van Die Burger aangepak het met die stigting van die Sondagblad Die Beeld,  was Pienaar die vanselfsprekende keuse vir die hoofredakteurskap.

Veral Transvaal is getref deur ‘n fris nuwe wind, wat weldra stormsterkte bereik het deur die nuweling se leidende, en vir eers byna allenige kruistog in die Noorde teen die weerbarstige Nasionaliste wat naderhand die HNP sou word.

Terselfdertyd het Pienaar se koerant ‘n potensiaal van Afrikaanse koerantlesers in Transvaal blootgelê wat alle versigtige en soms selfs pessimistiese projeksies van vroeër omvergewerp het. Dit het die taaiste koerantstryd in die geskiedenis van die Afrikaanse perswese gekos, en geëindig in die amalgamasie van die mededingers in die Sondagblad Rapport.

Hoewel Pienaar se gesondheid ‘n knou weghad, is hy in 1974 nogmaals gekies tot aanvoerder van ‘n veel taaier onderneming: die stigting van ‘n nuwe Transvaalse dagblad, Beeld, wat die landwye dienskring van Nasionale Perskoerante gesluit het. Hy kon nog die moeilike vestiging lei, maar moes toe die bevel oordra aan jonger kragte wat onder sy hand gevorm was.

Vir die laaste keer was hy terug by Die Burger, steeds die skerpsinnige waarnemer van ‘n politieke toneel wat hy so effektief help verander het, en bitter ongeduldig soos enige jong idealis wanneer die pas van hervorming traag was.

Schalk Pienaar sal onthou word vir groot dade vir Die Burger, die Nasionale Pers, die Afrikaanse en heel die Suid-Afrikaanse perswese, en vir die Afrikaanse woord en styl. Sy waagmoed, sy avontuurlus, sy afkeur van uitgediende denk- en handelswyses in die openbare lewe, sy blymoedigheid en sin vir humor in die stryd, was oor ‘n lang skeppingstyd ‘n voortdurende vlam van bevestiging.

Uit : Tydgenote deur P.J. Cillié, uitgegee deur Tafelberg. Die stuk het eers as hoofartikel in Die Burger van 13 Oktober 1978 verskyn.

Kyk ook inskrywings oor Die Beeld en Beeld in afdeling Koerante.