SALIE DE SWARDT: DIE GENTLEMAN-MEDIAMAN VAN MEDIA24

Salie de Swardt het oor vyf dekades in die mediabedryf bekend geword vir sy doodgewone ordentlikheid, hardwerkendheid, gebrek aan humeur en goeie oordeel. Johannes Froneman het per e-pos ‘n aantal vrae aan hom gestel waarop hy hier volledig antwoord.

By jou aftrede in 2005 (as uitvoerende hoof van Media24) is ‘n gedenkbylae deur Die Burger gepubliseer waarin almal wat iets is in Media24 was jou groot lof besing het. Dit het jou vermoedelik effe verleë gelaat.

Ja, my kollegas was baie vriendelik om al die mooi goed van my te skryf. Ek vermoed Koos Bekker het agter al die afskeidsfunksies gesit, want geen koste is gespaar nie – eregaste soos Sandra Prinsloo en Laurika Rauch, my dogter wat uit Londen vir die Johannesburgse funksie gevlieg is, ens.  Daardie tyd het Media24 nog baie goed geld gemaak en dit was seker bekostigbaar.

Ek wil graag meer verstaan oor wat jou gemaak het wat jy geword het. Vertel ons iets oor die huis waarin jy grootgeword het, jou skooljare en hoe jy by Die Burger beland het.

My pa wou gaan boer en toe hy nie grond kon bekostig  nie, het hy die naaste aan boerdery, bosbou, gekies. Ná matriek is hy na die destydse Saasveld Bosboukollege, wat naby aan sy ouers se plaas op Kraaibosch, George, was. Ná vier jaar naskoolse opleiding het hy in die destydse Transkei beland, my ma daar ontmoet en ek is mettertyd op Kokstad gebore.

Toe ek eendag vir mnr. Nelson Mandela vertel het dat ek Xhosa kon praat voordat ek Engels leer praat het, kon ek sien dit laat hom nadink oor die Afrikanertjie.

Staatsamptenare soos my pa is destyds baie verplaas, so ons het in die Suid-Kaap, Oos-Kaap en weer Suid-Kaap beland. Ek het die geluk getref dat ek die grootste deel van my hoërskool-loopbaan tot matriek in die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp was. ‘n Uitstekende skool wat my goeie waardes geleer het. Ek was sportief (met erekleure vir rugby en tennis) en sport is ‘n goeie leerskool om jou nederig en ordentlik te hou.

Reeds van Graad 8 (St 6) was ek in skoolkoshuise, toe in die Leërgimnasium op Voortrekkerhoogte en toe op Stellenbosch. Ook daar in koshuise, in die leër met kamermaats uit elke vlak van die samelewing, en vanselfsprekend op universiteit, word ‘n mens op verskillende maniere geslyp en as ’t ware op jou eie gedwing om ‘n waardestelsel te ontwikkel.

As jongmens wat in ‘n sterk Christelike tradisie grootgemaak is, het ek ‘n besonderse belangstelling in die geskrifte van die Bybelse Salomo ontwikkel (dalk ook omdat my eerste naam Salomon is). Wat ek van selfbeheersing, hardwerkendheid, goeie oordeel en lojaliteit geleer het, is in my vormingsjare sterk deur Spreuke ens. beïnvloed. Maar ook deur my ouers wat goeie, hardwerkende, eerlike en lojale mense was en uitmuntende onderwysers.

Toe dit tyd word om universiteit toe te gaan, was daar by my weinig twyfel oor wat ek moes gaan studeer. Ek was mal oor geskiedenis, het alles verslind wat ek daaroor kon kry en is steeds versot daarop. Ek eindig toe met ‘n honneurs in geskiedenis op Stellenbosch, maar het vroegerig al besef daardie BA-Honneurs gaan nie baie loopbaan-geleenthede bring nie.

Die bekende oom Bun Booyens, self ‘n historikus, was ons koshuisvader in Eendrag, Stellenbosch. “Oom Bun, wat gaan ek met hierdie graadjie kan doen?” het ek hom by twee geleenthede gevra. Dan verwys hy na goed soos die diplomatieke diens, onderwys en akademie, maar eendag sê hy toe: Wat van die joernalistiek? “Kyk na J.J.J. Scholtz (toe assistent-redakteur van Die Burger wat ook in tydskrifte oor o.m. die geskiedenis geskryf het) en waar is hy nie nou nie?” (bedoelende kyk wat het hy alles bereik).

Dit het my aan die dink gesit, want iemand wat van geskiedenis hou, is gewoonlik ook baie geïnteresseerd in die politiek. Dit gebeur toe so dat daar ‘n politieke vergadering op George is wat Schalk Pienaar as joernalis vir Die Burger sou dek. My pa, ‘n stoere Nasionalis op George en bekend aan P.W. Botha, nader op my aandrang vir Schalk Pienaar oor ‘n joppie vir my by Die Burger.

Ek het Schalk Pienaar in Keeromstraat 30 gaan spreek, hy het my na mnr. J.J.J. Scholtz verwys en hulle het my aangestel.

Vanselfsprekend het ek nie verwag om dadelik senior verslaggewing te doen nie, ek had buitendien geen joernalistieke opleiding nie, maar dit was my strewe om uiteindelik politieke verslaggewing te doen. My inwyding by Die Burger was nietemin dramaties genoeg want die dag dat ek voorlopig by die koerant ingeval het, 4 Desember 1967, was die Kaapse nuus internasionaal: die eerste menslike hartoorplanting deur dr. Chris Barnard is die vorige dag in die Groote Schuur-hospitaal gedoen.

Ek kon darem met klein opvolgstorietjies oor die hartoorplanting help, maar het eers werklik my loopbaan in Februarie 1968 begin omdat ek eers my honneurs-eksamen moes gaan afhandel. 

Daar by Die Burger het jy lus gekry vir sakejoernalistiek en op advies van David Meads buitemuurs ‘n B.Econ geloop…

Ek is ná ‘n jaar se algemene verslaggewing (en ‘n draai in die Tygerbergse kantoor) nagkantoor toe vir die destydse standaard-proses: eers vertaler, dan subredakteur en as jy goed genoeg is, hoofsubredakteur. Joernaliste besef die ondervinding is noodsaaklik vir die verhoging van taalkundigheid, nuusbeoordeling en die leer van bladuitleg, maar ek wou graag Parlement toe. Moontlik was ek nie goed genoeg nie, moontlik het hulle my in die nagkantoor nodig gehad, maar ‘n beurt  in die Parlement het ek nie gekry nie.

Dis toe dat ek begin wonder of ek en die joernalistiek vir mekaar beskore is. Ek het ingeskryf vir ‘n korrespondensiekursus om ‘n maatskappysekretaris te word, maar die leerstof was van so ‘n swak gehalte dat ek die spul gelos het.

In 1969 het ‘n gees van optimisme in SA geheers. ‘n Klompie jare van uitstekende ekonomiese groei was agter die rug, aandeelpryse het  ten hemele gestyg en mense wat voorheen skaars kennis van ekonomiese sake geneem het, het  in die sakewêreld begin belangstel. Ek ook.

Dis toe dat ek vir David Meades in die gang raakloop en hom begin uitvra na werk in die sakeredaksie. Hy was in die span van Piet Botma, sakeredakteur, en Piet het met sy skrywery oor aandele ‘n soort van celebrity geword, wat verder my belangstelling geprikkel het. Moet ‘n mens ‘n handelsgraad hê om daar in te kom, wou ek weet. Dis nie nodig nie, antwoord David, maar dit sal goed wees as jy een kan kry.

Daar was plek in die sakeredaksie en dit was nogal opwindend om onder Piet Botma te werk. Hy was ‘n erg pro-aktiewe mens en het geleenthede vir bv. bylaes tot Die Burger gesien. Ons het goed begin soos “In en om die huis” en ‘n jaarlikse bylae oor Namibië, wat dekades lank gereeld in Die Burger verskyn het.

In 1971 het ek besluit om B.Econ op Stellenbosch te gaan loop, maar my werkure by die koerant het nie met die aandklasse op Bellville geklop nie. Prof. Sampie Terreblanche, dekaan van die handelsfakulteit, het gedink dit is moontlik om die kursus te doen as ek soggens voor werk op Stellenbosch klas loop en saans ná werk dit verder voer by die buitemuurse handelsfakulteit in Bellville – sekerlik veeleisend, maar moontlik.

Einde 1973 het ek die graad gekry, maar was kapot. Nie net het ek deeltyds studeer deur tussen Stellenbosch, Kaapstad en Bellville te reis nie, maar elke Saterdag by Die Beeld (die Sondagkoerant) gewerk en elke tweede Sondag by Die Burger – dus dertien uit veertien dae. Boonop is my oudste dogter in 1971 gebore en my seun in 1972, en het ek een van die eerste huise in Stellenberg, Bellville, gebou.

Siel en liggaam was uitgeput…

Jou tydjie by Tegniek op Stellenbosch was kort, maar tog nie sonder betekenis nie…

 Dit was op daardie tydstip dat David Meades, toe redakteur van Tegniek op Stellenbosch, my vra of ek nie sou belangstel in sy pos nie. Hy wou terug koerante toe. Die pos by Tegniek het ‘n mooi kantoor op die Braak op Stellenbosch, ‘n maatskappymotor,  blootstelling aan die opwindende Rembrandt-groep, meer geld en groot onafhanklikheid as werknemer ingesluit.

Die versoeking was te groot. Ek aanvaar die pos, begin Januarie 1974 daar en kry dit sowaar reg om in Mostertsdrif, Stellenbosch, nou een van die gewildste woonbuurte in die land, ‘n erf in twee te verdeel en die grootste stuk vir myself te hou.

Piet Botma kom kuier en vertel meer van die opwindende planne vir Beeld, Naspers se  nuwe dagblad wat in September 1974 in Johannesburg die lig sou sien. Ek moet kom help, sê hy. Nooit gesien nie, sê ek, ek is dan in die paradys…

Soos die maande aanstap, begin ek verlang na die opwinding van ‘n dagblad, my wonderlike nuwe lewe ten spyt en al is die bouplanne vir my nuwe huis op Stellenbosch al voltooi.

Maar daar is nog ‘n groter aandrywing: die destydse gehalte of gebrek daaraan van die Afrikaanse koerante in Johannesburg. Met Beeld op koms, het Perskor, die noordelike koerantgroep, later heelwat verbeteringe aan veral Die Transvaler aangebring, maar voor dit het ek my geskaam vir die gehalte van die dagblaaie elke keer as ek in die noorde gekom het.

Ná ses maande by Tegniek, besluit ek: Johannesburg hier kom ons. My ma op George sê: My kind is dit nou nodig? My skoonouers, buite Stellenbosch, wonder ook, maar my dapper vrou pak saam met my die nuwe avontuur aan.  En dit nogal met ‘n vermindering van salaris en ‘n trektoelae van Naspers so klein dat my meubels byna nie op ‘n versukkelde vervoerwa daar aangekom het nie.

Die sjarmante dr. AntonRupert gee my ‘n pragtige sigaretaansteker toe ek vertrek en die bietjie blootstelling aan hom, asook sy mooi woorde oor my kort, maar produktiewe termyn by Tegniek, bly my steeds by.

Toe volg jou eerste Beeld-jare. Jy word metterwyl sakeredakteur. Dit was die dae van groot sake-advertensies en heelwat blaaie…

Ek begin by Beeld met die welluidende titel van assistent-sakeredakteur, oftewel Piet Botma se assistent, maar in ‘n sakeredaksie groter en met meer ervaring as wat nog in Afrikaans die lig gesien het.

Beeld word van 16 September 1974 ‘n ongelooflike ervaring van kameraadskap oor redaksie-afdelings heen en ‘n esprit de corps wat vandag nog bestaan. Toe ‘n Boeing in Windhoek val, is ek, van die sakeredaksie of nie, vroegoggend op die lughawe om die drama daar waar te neem van familielede en vriende wat op die passasiers uit Windhoek wag…

Ek loer van laag af in die redaksie-hiërargie met nuuskierigheid vir ‘n Schalk Pienaar, Johannes Grosskopf, Ton Vosloo, Bob van Walsem, Ebbe Dommisse, Hennie van Deventer, Martie Meiring. Ons werk ons besimpel, maar die gees is wonderlik.

By die sakeredaksie gaan dit flink en in 1976 volg ek Piet Botma as sakeredakteur op. Destyds was advertensies soos finansiële resultaat-aankondigings van maatskappye aan die orde van die dag. Ons het baie ruimte op die sakeblaaie en ek spits my op die geld- en kapitaalmarkte toe en bou die wonderlikste kontakte (en vriende) in die sakewêreld op. Ek scoop die hele Johannesburgse sakekorps met die nuus oor die bankrotskap van Rand-Bank.

‘n Filiaal, Rand-Aksepbank, se banklisensie kom in die mark en niemand anders as die jong Johann Rupert koop dit. My Rembrandt-assosiasie, bewondering vir dr. Rupert en bewus van die skeptisisme in Johannesburg oor die jong Rupert se vermoëns,  spoor my aan om die eerste onderhoud met hom ná sy terugkeer na jare in New York in die Carlton Hotel, Johannesburg, te voer.

My persoonlike terugvoer aan my kollegas by Beeld was: die jongman word onderskat.  Ek was reg.

Talle groot stories breek, soos die bankrotskap van die eiendomsreus Glen Anil, ek kry nog scoops van my bankvriende oor Trust Bank se probleme en talle ander verwante nuusgebeure. Selfs dr. Andreas Wassenaar, voorsitter van Sanlam, raak ‘n geheime informant sodat ek met gesag oor die omwentelinge in die bankwese skryf.

Gevolglik slaag ek daarin om in 1977 die eerste joernalis van ‘n Afrikaanse publikasie te word wat die hoofprys wen as Sanlam se Finansiële Verslaggewer van die Jaar — teen sterk mededinging in van uitstekende joernaliste in die Engelstalige pers.

‘n Sleuteloomblik was toe jy redakteur van die Finansies & Tegniek word. Jy kon jou nou volledig uitleef…

Verskoon as ek bietjie agtergrond verskaf oor belangrike wendinge wat die verloop by Finansies & Tegniek beïnvloed het.

In 1978 kry Ton Vosloo te midde van die heftige koerantstryd in die Noorde die blink idee om sy hoofredaksie te vergroot en te versterk met die aanstel van sg. hoofredaksielede, destyds so ‘n vlakkie onder assistent-redakteurs (wat daar toe ook was).

Ton vat my weg by die sakeredaksie en as hoofredaksielid help ek met die uitgee van die koerant, kommentaar skryf, spotprente uitdink, verslaggewing, soos onderhoude met voorste politici, ens.

Salie de Swardt het Finansies & Tegniek na sy hand gevorm en was lank ‘n reuse-sukses.

Ek kry ook die verantwoordelikheid vir die redaksie se personeelwerk, soos aanstellings, selfs ontslag, salariskwessies, merietebepalings, soms bevorderings, en slaag daarin om die bestuur te oortuig dat redaksielede net elke derde Sondag hoef te werk en boonop daarvoor vergoeding moet kry. Dit word algemene praktyk by Naspers.

Adv. Lang David de Viliers, besturende direkteur van Naspers, kom kuier af en toe in Johannesburg en neem my, seker met die medewete van my redakteur, Ton Vosloo, ‘n paar keer vir middagetes. Ons kom baie goed oor die weg.

Tot my groot geluk kry ek die gesogte Nieman Fellowship om in 1982-1983 aan die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusettes, te gaan studeer. Dis ‘n wonderlike geleentheid om kursusse te loop in enigiets wat jy begeer. Jy kry boonop toegang tot die Massachusettes Institute of Technology (MIT), waar ek ‘n kursus in “moderne kommunikasie-tegnologie” (nou verouder) loop. Aan Harvard loop ek elke semester ‘n kursus by die beroemde Harvard-sakeskool en elders op die kampus lekker ander goed soos moderne Amerikaanse geskiedenis.

My en my gesin van “a pro-apartheid newspaper in Johannesburg”, soos ek op TV voorgestel is, kry maar swaar onder sulke politieke melaatsheid, maar ons keer verryk terug na SA.

Nie lank tuis nie of adv. De Villiers deel my mee dat hy ‘n “Afrikaanse Financial Mail” wil begin omdat die Afrikaanse ondernemings wat Tegniek gefinansier en bestuur het, besluit het dit is tyd om die blad te verkoop.

Uit bostaande beskrywing van my ervaring en opleiding blyk dit seker dat ek toegerus was vir die geleentheid en het dit terdeë geniet. Om die resep vir ‘n nuwe tydskrif as ’t ware van niks af nie te skryf, was ‘n besonderse voorreg. Ek het publikasies van oor die hele wêreld bekyk, notas gemaak, nagedink en gestoei met idees.

Op aanbeveling van Ton Vosloo, wat intussen as besturende direkteur van die Nasionale Pers aangewys is, noem ons die nuwe blad Finansies & Tegniek, want dr. Rupert het te kenne gegee hy sal dit waardeer as die naam Tegniek behou kan word.

Later jare, toe dit sleg gegaan het met F&T se opvolger, Finweek, het ek besef die resep wat ek vir die weekblad (die eerste ses maande ná September 1984 was dit ‘n maandblad) uitgedink het, het hopeloos verlore gegaan. Heel voor in F&T was die “hoofartikel”, naamloos geskryf, maar dit was die standpunt van die blad, nie van een of ander liggewig-redakteur wat vir uitvoerende hoofde van groot ondernemings wil preek nie.

Daarna het die onderskeie afdelings gevolg, met nuus heel voor. Hoekom nuus? Want frekwensie is deurslaggewend, dit was ‘n weekblad en moes by die aktualiteit van die week wees, en nie te veel ontledings bevat wat enige tyd van die maand of selfs jaar kon verskyn nie. (Tot vandag is ek verbaas hoe dikwels mediamense nie die noue verband tussen frekwensie en inhoud verstaan nie).

Dan was daar die onderskeie afdelings soos algemene besigheid (kleinhandel, nywerhede, regskwessies, mynwese),  ekonomiese en bankkwessies,  die menslike faktor met “Gesig agter die syfers”, eiendomme, maatskappynuus en finansiële ontledings, die finansies van landbou, persoonlike finansies (toe nogal ‘n nuwigheid, wat my skoonpa my aangespoor het om te doen) en uiteindelik humor in die rubriek “Duwweltjie”.

En natuurlik altyd ‘n voorbladstorie wat besonder deeglik nagevors is, gewoonlik baie ver voor in die tydskrif geplaas is en gepaard moes gaan met ‘n uitstekende illustrasie en bewoording op die voorblad. Ook die voorblad moes so aktueel as moontlik wees.

Toe P.W.Botha sy nou berugte Rubicon-toespraak op 15 Agustus 1985 in Durban hou, was ek daar saam met die politieke span van Naspers. Die afwagting in die markte in Johannesburg oor wat gesê sou word oor die toekoms van die land, was tasbaar. Ná die teleurstellende toespraak voorspel ek teenoor my kollegas dat die rand die volgende dag soos ‘n klip sal val – wat ook gebeur het. In die maande daarna volg die skuldstilstand toe SA nie sy skuld kon betaal nie en politiek en ekonomie raak verweef soos selde tevore.

In 1986, te midde van die skuldstilstand, beland ek in Washington by die jaarvergadering van die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank per ongeluk in ‘n vertroulike briefing deur dr. Chris Stals, DG van Finansies, vir vooraanstaande SA bankiers.  “Mnr. De Swardt, jy kan bly sit, maar hierdie is vertroulike inligting,” is al wat hy sê. Een van die grootste komplimente in my lewe dat hierdie man, later president van die Resewebank, my so vertrou het.

Ons had uitstekende mense by F&T soos Gert Marais, my latere opvolger, Curt von Keyserlingk, wat ek van die Financial Mail weggerokkel het en wie se skryfwerk vertaal moes word, Tielman de Villiers, laaste redakteur van die ou Tegniek, Deon Basson, ongeëwenaard in sy sukses as Finansiële Verslaggewer van die Jaar, Esmaré Weideman, latere Huisgenoot-redakteur en daarna hoof van Media24, en vele ander.

Binne ‘n jaar was die blad winsgewend onder die bestuursleiding van Gideon Engelbrecht, latere mede- besturende direkteur van Nasmedia. Lank daarna was ek betrokke by die skepping van vele nuwe publikasies, maar ek weet nie van een wat binne ‘n jaar winsgewend was nie.

Die oorname van Volkshandel, die Afrikaanse Handelsinstituut se lyfblad, het gehelp, maar moet ek sê, die intellektuele en ervaringsverwysingsraamwerk waarbinne F&T uitgegee is, het ‘n groot verskil gemaak. Dit was in die kol met die lesersmark van Afrikaners in leidende hoedanighede in die staatskorporasies, die staatsdiens, Reserwebank, groot maatskappye en die professies – skielik het ons ook gevind welvarende professionele mense soos medici het ‘n sakeblad gehad wat hulle kon verstaan.

Daar het selde ‘n F&T verskyn waarvan ek nie elke woord goedgekeur het nie. Dit was bitter harde werk, maar bevredigend.

Belangrik was ons kommentaar in hoofartikels, ekonomies, finansieel en polities. Dit het in die sale van mag in Pretoria aandag getrek.  Hierdie ding van afsonderlike ontwikkeling het dalk ‘n politieke toekoms wat ons nie verstaan nie, maar ekonomies gaan dit nie werk nie, was dikwels die tema van ons kommentaar.

Soms het ons gekyk hoe ver ons kan gaan. Esmaré Weideman het teen die wet in met die verbode ANC ‘n onderhoud oor hul ekonomiese beleid gevoer, wat ander mediamense verras het. The Star het selfs daaroor berig. 

Toe ‘n heraldikus in die presidensie ons wou opkommandeer omdat ons per ongeluk ‘n foto van die nasionale vlag verkeerd om geplaas het, is hy in sy maai gestuur.

P.W. Botha het laat weet my pa sal nie hou van wat ek publiseer nie.

Toe ek deelgeneem het aan ‘n sakeberaad by sy tuiste in Pretoria, het hy die gaste in ‘n lang ry een vir een gegroet met oud-kollega Jack Viviers, sy mediaman, aan sy sy. Hy het my ook gegroet, maar toe hy so ‘n end verby is, kliek die naam Salie de Swardt. Hy het omgedraai, op my afgestap, sy vinger onder my neus geswaai en gesê ek moet ophou om die “nonsens” te skryf wat ek skryf.

Ons politieke kommentaar het ook binne Naspers aandag getrek, nie altyd gunstig nie, maar het dalk ‘n rol gespeel in die antwoord op jou volgende vraag.

As ek reg het, het jy toe aangeskuif en redakteur van Beeld geword, rondom 1990. Jy was ‘n sakejoernalis, maar met ‘n lewendige belangstelling in die politiek. Die twee is tog nou verweef. Maar hier is jy nou redakteur en jy was nooit parlementêre verslaggewer nie … is ek reg dat dit ‘n eerste was?

Ek het in Januarie 1989 begin as redakteur van Beeld. Willem Wepener, my voorganger, sou tot die einde van die jaar as hoofredakteur aanbly.

Die aanstelling is nie sonder slag of stoot aanvaar nie. Ander redaksielede het gedink die aanstelling kom hulle toe. Curt von Keyserlingk het gedink ons handhaaf so ‘n hoë standaard by F&T dat my aanstelling by Beeld ‘n comedownsou wees!

Ek en Wepener het op sy inisiatief ooreengekom dat ek die koerant sou bedryf, maar dat hy net inspraak sou hê in sensitiewe politieke standpuntinnames. Hy was bekend as die Ysterman wat nie bog geduld het nie, maar ons het daardie jaar nooit meningsverskille gehad nie.

De Swardt (tweede van regs) en vorige redakteurs van Beeld: Johannes Grosskopf, Ton Vosloo, Willem Wepener en Willie Kuhn.

Ons was juis in Januarie 1989 in sy kantoor in gesprek oor hoe ons dinge sal hanteer, toe Tim du Plessis uit die Parlement bel met die nuus dat P.W. Botha ‘n “ligte beroerte” gehad het. Dit was die begin van ‘n politieke jaar soos min met P.W. uiteindelik uit die kussings en F.W. de Klerk die nuwe staatspresident.  Ek en twee ander koerantredakteurs verskyn op nasionale TV saam met die nuwe president en stel vrae aan hom.

Ek verstaan jou vrae oor parlementêre verslaggewing ter voorbereiding van ‘n redakteurskap van ‘n koerant. Dit is belangrik en nuttig vir koerantredakteurs, maar m.i. nie so belangrik soosdie tradisie binne Naspers dit in ‘n stadium wou hê nie. En die storie van ‘n eerste is heeltemal verkeerd as jy aan D.F Malan dink!

Die meer moderne Naspers was afkerig teenoor redakteurs sonder joernalistieke ondervinding, ‘n siening wat ek steun, maar het later redakteurs sonder parlementêre ervaring aangestel, bv. Wimpie de Klerk en Izak de Villiers. Johan de Wet het reguit gesê hy is geen politieke dier nie al was hy redakteur van Volksblad en Beeld. Waldimar Pelser, redakteur van Rapport en TV-kommentator, het na my wete nie uit die Parlement verslag gedoen nie.

Ook in die Engelse koerantgroepe is redakteurs sonder parlementêre ervaring aangestel, soos Richard Steyn, ‘n voormalige prokureur wat eers redakteur van die Natal Witness en toe van The Star in Johannesburg was.

Dalk het iemand êrens al begin dink aan ‘n bestuursloopbaan vir my, iets waarop Gideon Engelbrecht, wat weer terug by Nasmedia was, by geleentheid gesinspeel het. Dit was vermoedelik hy wat daarin ‘n rol gespeel het dat ek my eerste direkteurskap in die groep by Vaalweekblad, ons heel suksesvolle koerantgroepie in die Vaaldriehoek, gekry het.

Daarna is ek aangestel as ‘n direkteur van Rapport-Uitgewers, wat toe nog gesamentlik deur Naspers en Perskor besit is. Dit was nogal ‘n pikante situasie dat die redakteur van ‘n soort van mededingende publikasie in die groep (Beeld) inspraak het by Rapport se direksie en bestuur.

Ek vermoed Izak de Villiers, redakteur van Rapport, het in beginsel nie daarvan gehou nie en ek sou ook nie, maar dit het nooit aanleiding tot probleme gegee nie.

Vertel meer oor jou tyd as redakteur by Beeld.

 Die redakteurskap van Beeld vir vier jaar van 1989 tot 1992 was dalk nie lank nie, maar gelaai! Ek het reeds verwys na die gebeurtenisvolle 1989. Op 2 Februarie 1990 het F.W. de Klerk die ontbanning van die ANC, die vrylating van Nelson Mandela en vele kwessies aangekondig wat SA vir altyd verander het.

Dit was waarskynlik die grootste nuus in die bestaan van ons land. Een van die wonderlikste herinneringe wat ek het, is dat Beeld in sy hoofartikels in Januarie 1990 die meeste van hierdie ingrypende maatreëls bepleit het (behalwe die ontbanning van die SA Kommunistiese Party, maar selfs die afskaffing van die doodstraf).

Tog was 2 Februarie 1990 se aankondigings in vele opsigte ‘n verrassing, asof ‘n mens nie kon glo dat so ‘n omwenteling werklik sou kom nie.  Dit was ook die voorloper vir die groot nuus oor die vrylating van Mandela, die Kodesa-onderhandelinge het gevolg en die nuus is dikwels oorheers deur dekking van verskriklike faksiegevegte in swart geledere met o.m. tonele van brandende mense wat hardloop en baie ander wat te grusaam vir publikasie was. Die politieke spanning soos ná die Boipatong-slagting en die Chris Hani-moord was byna ondraaglik en die verregses het tot al die spanning bygedra.

In daardie tyd het my gesin dreigoproepe by ons huis ontvang, wagte het ons snags bewaak en veiligheidsvelle is oor ons huis se vensters geplak om bomme te keer. Twee terreurbomme het een Sondagnag om Beeld se kantore ontplof terwyl ek op kantoor was en hoofsub Willem Pretorius se motor is vernietig. “Ons sal ons nie laat intimideer nie,” het ek namens die koerant gesê.

Daar was gesprekke en ontmoetings met mnr.  Nelson Mandela per telefoon, by etes en saam met ander lede van Naspers . Vanselfsprekend ook gesprekke met mnr. F. W. de Klerk, TV-onderhoude soos met mnr. De Klerk, en debattering binne ons eie geledere as hoofredaksie oor standpuntinnames namens die koerant oor kwessies soos groepregte terwyl die Kodesa-onderhandelinge aan die gang was. Oor dit alles sou hoofstukke geskryf kon word, maar daaroor kan jy ‘n ander dag vrae stuur…

En toe word jy wel ‘n bestuurder.

Die oorgang na tydskrifuitgewer in 1993 was nie maklik nie. Destyds was dit aan bestuurskant  ‘n wêreld waarin advertensiebemarking, vir my relatief vreemd, ‘n groot rol gespeel het. Dit was nietemin ‘n groot eer om daarvan die uitvoerende hoof te word omdat Nasionale Tydskrifte die grootste geldmaker van die destydse Nasionale Pers was.

My grootste uitdaging was ‘n vraag aan myself: hoe op aarde gaan ek tot hierdie kolos waarde toevoeg? Die talle gevallestudies wat ek op Harvard deurgewerk het, het tog gehelp. Ek het na afdelings met onbenutte potensiaal gesoek, gekyk na nuwe geleenthede wat dalk deur nuwe tegnologie kon ontstaan en na nuwe vertakkinge in verwante besighede. Ook na die bestuurstelsel en of dit nog optimaal werk.

Die gebruik was dat as iemand nuut in so ‘n pos by Naspers aangestel word, hy/sy op ‘n oorsese reis moes gaan en daar gaan leer, idees en perspektief kry. Nee, het ek besluit, ek gaan eers uitvind waarop ek antwoorde soek voor ek oorsee gaan vrae vra.

In 1994 het ek oorsese tydskrifuitgewers van New York tot Londen, Berlyn en Swede nageloop en belangrike vrae gevra soos: Moet ‘n advertensie-afdeling vir alle tydskrifte advertensies werf of moet elkeen vir homself stoei? Moet elke tydskrif of verwante tyskrifte ‘n uitgewer hê of moet daar so min as moontlik uitgewers wees? Kan ‘n mens geld maak uit klein tydskrifte? Hoekom het so min oorsese uitgewershuise hul eie drukkerye? Hoe hanteer jy die verhouding tussen redakteurs en uitgewers? Hoeveel bemarking moet tydskrifverspreiders doen of is hulle bloot karweiers?

Die insigte wat ek gekry het, was goud werd en het vir jare lank my denke beïnvloed.

Huisgenoot en You was onder die uitmuntende redakteurskap van Niel Hammann die absolute sterre in die portefeulje. Daarenteen was Drum en True Love verwaarloos, met een wankelende (manlike) redakteur vir albei, hoewel hul na my mening groot potensiaal gehad het en in heel verskillende markte bedrywig was.

Ons het met veral Andries vanWyk, redakteur van You, se hulp begin om Drum by die wenspan te betrek. Dit het gemengde gevolge gehad en die resultate het baie afgehang van hoe goed die redakteur was. Daar was tye toe dit werklik gelyk het asof Drum ‘n derde groot sukses in hierdie soort weekbladmark kon word, maar ook dit het uiteindelik misluk met die groot digitale tsoenami wat die gedrukte media getref het.

Ek het ‘n Michelle Magwood, ‘n oud-kollega by Fairlady en latere uitstekende literêre kritikus,  gevra om drie maande by True Love te gaan werk, die blad reg te ruk en ‘n swart redaktrise te vind. Sy het gereeld verslag gedoen en op ‘n dag die uitstekende nuus gebring: sy het die regte redakteur gevind. Dit was Khanyi Dhlomo-Mkize, TV-nuusleser,  bloedjonk, maar briljant.

Die aanstelling het my die argwaan van party kollegas by Naspers op die hals gehaal omdat sy so jonk en onervare was. Maar die nuwe True Love was ‘n reuse-sukses.

‘n Volgende stap was die verkryging van belange in nis-tydskrifte. Nasionale Tydskrifte was met sy drukkerye en verspreiding ingestel op massa-tydskrifte, maar daar was ‘n nuwe wending op die horison: die opkoms van litografiese drukperse wat kleiner oplae winsgewend kon druk. Die diepdrukperse van Nasionale Tydskrifte het duur kopersilinders gebruik wat met diamantgravering uitgelê is en finansieel die beste vir groot drukoplae gewerk het.

Aan die voorpunt van die benutting van hierdie tegnologie was ons mededinger in die Paarl, Paarl Media, bedryf deur die broers Lambert en Nicol Retief, ook eienaars van die Paarl Post. Ná die stigting van Media24 was ons op die punt om ons eerste groot litografiese pers te koop vir installering in ons pragtige nuwe groot tydskrifte-fabriek in Montague Gardens, Kaapstad, toe Hein Brand, finansiële hoof van Media24, ‘n gesprek met die Retiefs begin het.

Dit was die begin van ‘n groot verandering toe eers ons tydskriftedrukkerye, later ons boekdrukkerye en uiteindelik ons koerantdrukkerye onder die vaandel van Paarl Media beland het. Vandag het Media24 net ‘n klein minderheidsbelang in Novus, soos die Paarl Media van ouds nou heet.

My soektog na nistydskrifte het my by Touchline Media, ‘n uitgewer van sporttydskrifte, gebring. Ons het ‘n belang van 50% in die maatskappy gekoop en feitlik dadelik na Amerika afgesit om die regte te verkry om Men’s Health in SA uit te gee. Later het ons 100% in die onderneming verkry.  Daarna het Your Baby en verwante publikasies in daardie stalletjie gevolg – ook eers net 50% en later 100%.

Ek het met die uitgewer Emap in Londen gaan onderhandel en die SA regte op die manstydskrif FHM van hulle verkry. Hoe kon ek ‘n mededinger vir die reeds suksesvolle Men’s Health skep? wou mense by my weet. Die antwoord het van die vraer afgehang, maar die werklike doel was om die tydskrifmark vir mans in SA te oorheers. 

Kontrakuitgewery het my geïnteresseer en saam met Irna van Zyl, John Psillos en Naomi Herselman het ons New Media begin. Dis minder romanties, maar een van my motiveringe vir ‘n afdeling wat op kontrak vir ander mense, byvoorbeeld groot maatskappye, publikasies sou uitgee, was om ons duur nuwe tydskriftedrukkery te voer.

Later het ons ook eie titels uitgedink soos Weg! en Go! en van ons gevestigde publikasies het kleiner subtitels begin uitgee.

‘n Interessante wending ten tyde van my tydperk by Tydskrifte was die verkryging van die tydskrif Finance Week. Ek het vir lank die blad in ons stal probeer kry deur dit te koop, maar die bestuur het vasgeskop of mal pryse gevra. Om druk op hulle te plaas, het ons besluit om F&T te vertaal en dit as F&T Weekly uit te gee.

Dit het nie besonder goed gewerk nie en ek en Gert Marais, toe uitgewer van F&T, het met die berugte Brett Kebble, toe ‘n voorste mynbouman wat hom later laat skiet het, in gesprek getree. Hy en sy familie was die hoofaandeelhouers in Finance Week.

Onvergeetlike gesprekke het gevolg met hierdie gesette man in sy oordrewe luuksueuse mynbaas-kantoor en minagtende houding. Hy het met ongewone transaksie-voorstelle gekom, soos dat ons ‘n waarde op elke intekenaar van Finance Week moes plaas en daarvolgens die prys vir die tydskrif bepaal, al het die onderneming op ‘n verlies geloop.

Uiteindelik het ons deur bemiddeling van ‘n aandelemakelaar wat hy geken het, ‘n transaksie gedoen, maar tot op die laaste moes ons lig loop vir hierdie kalant. Ons was gereed om die kontrak te teken toe ons agterkom hy het die entiteit met wie ons onderhandel verander sodat die geld wat ons sou betaal nie aangewend sou word om Finance Week se skuld vir drukwerk te betaal nie.

As ek reg onthou, het ons met Finance Week (Pty) Ltd onderhandel en toe ons moes teken, was dit Finance Week Holdings (Pty) Ltd. Ons het ons nie laat uitvang nie…

F&T het mettertyd Finweek in twee tale geword. Nou is net die Engelse gedrukte weergawe oor.

Namate Nasionale Tydskrifte gegroei het, het ek besef ons bestuursamestelling het tekortkominge. Toe ek daar gekom het, was die uitvoerende hoof effektief die uitgewer van al die tydskrifte wat betref advertensiewerwing, sirkulasie, aanstellings, en vir my belangrik, die skepping van nuwe publikasies vanuit die bestaande kundigheidsgebiede.

Peter Meinert, ‘n geoktrooieerde rekenmeester,  was die dryfkrag agter ons nuwe groot tydskrifte-fabriek in Milnerton, maar sy hande was los na die ooreenkoms vir die gedeeltelike verkoop van die tydskriftedrukkery aan die Retiefs. Ek het hom gevra om wêreldwyd, maar vanuit SA, vir my ‘n studie te doen van hoe die grootste tydskrifte-ondernemings in Amerika en Europa hul sake bedryf.

Die bevindinge was soos verwag: die meeste werk met uitgewers vir ‘n tydskrif of vir groepe verwante tydskrifte. Ons het die hele Nasionale Tydskrifte onder uitgewers vir byvoorbeeld weekblaaie, sakeblaaie, vroueblaaie, sportblaaie, ingedeel. Dit is hoe ek Patricia Scholtemeyer as uitgewer by die vroueblaaie by ons groep betrek het. Later het sy my as hoof van Nasionale Tydskrifte opgevolg (en uiteindelik hoof van M-Net geword).

As oud-joernalis het ek daarop aangedring dat Peter ook die verhouding redakteur/uitgewer behoorlik ondersoek. Hoe die gesag verdeel word, is versigtig bepaal.

Die nuwe bestuursbenadering het gewerk: toe ek by Tydskrifte gekom het, het ons twaalf titels gehad, die meeste dekades oud. Met my aanstelling by Media24 in 2000 het ons meer as dertig tydskrifte en belange in tydskrifte gehad. Later het nog gevolg.

Jy en Ton Vosloo het vroeër by Beeld saam gewerk. Nou was julle in ander hoedanighede karperde …

My en Ton se verhouding was uitstekend. Ons het mekaar goed geken en hy het my aangemoedig en gehelp, soos met die verkryging van die belang in Touchline Media en die bou van die reusagtige tydskrifdrukkery van R110 miljoen in 1994. Soos hy tereg geskryf het, was hy betrokke by die meeste belangrike bevorderings in my loopbaan.

Een van die komplimente wat jou toegevoeg word, is dat jy ‘n oog het vir talent. Wil jy ‘n paar mense noem wat jy aangestel het en uitgestyg het?

Hierdie is ‘n baie gevaarlike vraag. Ek gaan vir seker name onregverdiglik uitlaat omdat baie van hierdie aanstellings al so ongeveer veertig jaar gelede gedoen is. Verskeie het redakteurs geword, minstens twee van koerante, maar ek sal meer navorsing wil doen voor ek jou antwoord.

Miskien moet ek wel een uitsonder: Esmaré Weideman. Ek het haar haar eerste joernalistieke pos by F&T gegee. Sy is weg by ons groep en toe sy wou terugkeer, moes ek arms behoorlik draai om haar aangestel te kry. Sy het later redakteur van Huisgenoot en You geword en uiteindelik uitvoerende hoof van Media24 .

Ek is al daarvan beskuldig dat ek teen vroue gediskrimineer het. Dit is waar dat ek mense, mans en vroue, soms nie wou bevorder nie en wat dan veronreg gevoel het. Maar aanstellings soos Esmaré Weideman, Patricia Scholtemeyer, Lizette Rabe as eerste vroulike redakteur van Sarie en Khanyi Dhlomo-Mkhize as eerste vroulike redakteur van True Love, bewys hopelik dat geslag nie aan my ‘n verskil gemaak het as die verdienstelikheid van die persoon reg was nie.

Alle mense glo hulle is goeie beoordelaars van ander mense, maar dit is ongelukkig nie altyd die geval nie. Soms is in ons groep veral redakteurs aangestel wat ek nooit in daardie poste sou geplaas het nie. Ek was ongelukkig reg oor hulle…

Jy was uiteindelik uitvoerende hoof van Media24 (‘n naam wat, as ek dit reg het) jy uitgedink het. Vertel wat het die werk presies behels.

Media24 was die nuwe naam wat ek by die eerste hoofbestuursvergadering van die nuwe entiteit voorgestel het en aanvaar is. Eintlik was dit net ‘n herbenaming van sy voorganger Nasmedia, wat uit koerante en tydskrifte en verwante besighede soos drukkers en verspreiders bestaan het. Dit het boeke toe uitgesluit, maar boekdrukkerye ingesluit.

Soos David Meades een keer tereg geskryf het, was Media24, veral nadat die boekuitgewery ook onder sy vaandel gekom het, eintlik maar die ou Nasionale Pers voordat die belang in M-Net verkry is.

Die hoofde van die onderskeie afdelings van Nasmedia soos koerante, tydskrifte, boeke, menslike hulpbronne en inligtingstegnologie, het voor die koms van Media24 regstreeks aan Koos Bekker, uitvoerende hoof van die destydse Nasionale Pers, verslag gedoen.

Dit het min sin gemaak terwyl Koos Bekker aan die hoof gestaan het van ‘n groeiende internasionale groep. Die belangrike verskil met die koms van Media24 was dat die afdelingshoofde voortaan aan die uitvoerende hoof van Media24 verslag sou doen. Hy/sy sou aan Koos Bekker rapporteer.

‘n Belangrike verskil as Media24 met die ou Nasionale Pers vergelyk word, was die nuwe digitale platforms wat binne Media24 geskep was en deur nog meer opgevolg is. News24, Women24, Property24, Health24, was van die eerstes en word deesdae versterk deur Netwerk24.

My taak was die bestuur en uitbou van Media24 se belange. Ek was voorsitter van Paarl Media, wat sterk gegroei en belangrike kapitaalinvesterings gedoen het. Jan Malherbe was ‘n bedrywige hoof van koerante wat titels soos Soccer Laduma en die poniekoerante Daily Sun, Sunday Sun en die Son toegevoeg het.

Van die publikasies wat in Salie de Swardt se tyd aan die hoof van Media24 gestig is.

Later is ‘n 50% -belang in die Natal Witness in Pietermaritzburg verkry en ek was ‘n tyd lank in daardie direksie. Daar het ons ‘n nuwe drukkery vir die koerant gebou.

Later het ek ook gedien in die direksie van Democratic Media Holdings in Windhoek, die onderneming wat die politikus en boer Dirk Mudge gestig het toe die Republikein gestig is.

By die tydskrifte het Patricia Scholtemeyer en haar kollegas nuwe titels soos Weg! en Go! en Kuier na vore gebring. Ons twee het in die direksie van Cosmopolitan saam met die Raphaely-familie gedien en ek was voorsitter van daardie maatskappy.

Die chronologie van al hierdie bedrywighede raak ietwat verwarrend om in besonderhede te beskryf, maar in Kenia is belange in ‘n koerant verkry, Nigerië is verskeie kere besoek toe ons daar ‘n sokkertydskrif probeer vestig het en verskeie pogings is saam met die tydskrif- en koeranthoofde aangepak om in China publikasies te vestig. Ons het hard probeer, China verskeie kere besoek en Chinese afvaardigings in SA ontvang, maar van ons pogings daar het min oorgebly.

Weekliks is aan Koos Bekker verslag gedoen en maandeliks aan die direksie, op sigself ‘n groot taak. Een keer per week het ek met elke afdelingshoof ‘n een-op-een gesprek gehad waar ons  nuwe inisiatiewe, probleme en wendinge in hul afdelings bespreek het. Daarvan het ek notas gehou en die volgende week opgevolg.

Jaarliks is ‘n sakeplan opgestel wat gewoonlik honderde bladsye beslaan het.

Die jaarlikse sakeplanne was so omvattend dat ek dikwels spottenderwys gesê het elke jaar se projek is gelyk aan ‘n meestersgraad wat betref  agtergrond, ontleding, internasionale vergelyking, gevolgtrekking en voorstelle vir aksie.

Ek het nie op charisma as ‘n leier staat gemaak nie, maar wel op my voorbeeld. Soggens sewenuur was ek in Kaapstad op kantoor al het ek op my plasie naby Stellenbosch gewoon en ek is baie selde voor sewenuur saans huis toe. My kollegas het dit geweet en my dikwels vroegoggend of laat middag/saans sonder afspraak besoek. My kantoordeur was vir almal oop en uit hul geskrifte oor my, lei ek af hulle het dit geweet en dikwels benut.

Asof ek nie genoeg te doen gehad het nie, het ek ook kans gesien om in die direksies van die Aardklop-kunstefees en die ATKV te dien – kultureel verrykende ervarings. 

Die terugsak van koerante en tydskrifte was in ‘n sin onvermydelik. Hoe het jy dit ervaar?

Wat met ons publikasies gebeur het, was vir my verskriklik en veroorsaak steeds groot pyn in my gemoed. Redakteurs en senior redaksielede, tradisioneel die uitverkorenes van Naspers (Piet Cillié het van redakteur van Die Burger tot voorsitter van Naspers gewip) wat van hul gesag en selfs waardigheid gestroop is met die skepping van Netwerk24 as primêre nuusinsamelaar,  goeie, lojale mense wat hul werk verloor en  die verlies van joernalistieke en sake-kundigheid, is aaklig.

In ‘n sin was dit onvermydelik, maar heftige debatte is in Media24 se direksie gevoer oor die hantering van die omwenteling.

Oor een ding was ek baie dankbaar en dit is dat die grootste pyn hoofsaaklik gebeur het ná my uittrede as uitvoerende hoof in 2005.

Baie dae wonder ek hoe dit kon gebeur dat ‘n winsgewende maatskappy met ‘n omset van R7 000 miljoen (R7 miljard) per jaar so kon krimp? Maar dit is die lewe, niks is seker nie, veral as nuwe tegnologie jou bedryf betree.

Na jou aftrede het jy direkteur van Media24 gebly… Ander belange wat jou besig hou?

 Ek het tot 2019 in Media24 se direksie gebly. ‘n Feit wat min mense besef en ek self nog nooit aan die groot klok gehang het nie, is dat ek 51 jaar aktief in die mediawêreld was. Sluit ‘n mens die sewe maande by Tegniek uit, was ek byna 51 jaar in diens van Naspers – van 1968 tot 1974 en toe weer van 1974 tot 2019.

In my eie gemoed verskoon ek die sewe maande by Tegniek omdat Tegniek toe uiteindelik deel van Naspers en op ‘n besonders wyse deel van my loopbaan geword het. Ek maak dus aanspraak op ‘n loopbaan van 51 jaar by Naspers.

Ná my aftrede in 2005 in ‘n uitvoerende hoedanigheid het ek vir twee jaar  eers drie en toe twee dae per week kantoor toe gegaan. Ek was bloot ‘n klankbord vir my opvolger, Hein Brand, en veral vir redakteurs wat my gereeld kom besoek het.

Ek was tot 2019 ‘n aktiewe nie-uitvoerende direkteur van Media24 en onder meer voorsitter van die ouditkomitee en van die risikokomitee, asook lid van die uitvoerende komitee van die direksie. Reeds in 2018 het ek Koos Bekker meegedeel dat ek wou uittree. Hy het my arm gedraai en my nog ‘n jaar gehou gekry. Met my beplande uittrede in 2019 was daar weer groot druk om te bly, maar daardie keer was my besluit finaal.

Ek is al ‘n stuk of vyftien jaar voorsitter van Die Burger-Kersfonds en sy opvolger, Die Burger Kinderfonds.

Ek speel tennis en was die afgelope dertien jaar voorsitter van die Rekreasie-tennisklub in Somerset-Wes, die grootste tennisklub in SA, maar het pas besluit genoeg is genoeg.

Op my plasie Akkerdraai naby Stellenbosch maak ek en ‘n professionele wynmaker al jare lank wyn. My vrou Lisa bedryf ‘n proteasaad-besigheid. Ons het ‘n groot tuin en die plasie het my oneindige plesier verskaf, maar het tyd geverg.

Die (assistent-)wynmaker Salie de Swardt.

Soms as ek sien hoe ywerig van my oud-kollegas skryf, besef ek ek moes meer gedoen het wat dit betref. Maar tussen die plaas, oorsese reise, nog ‘n kleinhoewe op erfgrond naby George, tennis, 4×4-ritte kruis en dwars deur o.m. die Namib en elders, was die tyd nie daar nie.

Ons het pas ‘n huis in ‘n aftree-oord in Somerset-Wes voltooi. Ek is nie juis ‘n ou wat stilsit nie en dalk slaan ek my hand voortaan minder aan die ploeg en meer aan die pen. Mits dit nie te laat is nie.

Vir baie het jy ‘n bykans volmaakte loopbaan gehad. Maar jy het sekerlik oordeelsfoute begaan. Wil jy een of twee met ons deel?   

My loopbaan was alles behalwe volmaak en boonop in hedendaagse terme nie politiek-korrek nie. Anders sou ek dalk ook al ‘n eredoktorsgraad vir my poginkies gekry het!

Wat oordeelsfoute betref: ek is skaam om dit te erken, maar in Beeld se hoofartikel-kommentaar die Saterdag na 2 Februarie 1990 het ek geskryf die Nasionale Party het so volledig die beleid van die amptelike opposisie, die Demokratiese Party,  oorgeneem dat die DP waarskynlik sal verdwyn. Die teenoorgestelde het gebeur: Die NP het verdwyn en die DP het in die vorm van die DA oorleef en is nou die amptelike opposisie van die ANC.

Ek sal verder moet dink oor nog foute …

Ná Salie se skielike dood in 2022 het Lizette Rabie ‘n artikel oor hom geskryf wat gelees kan word by: https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/salie-de-swardt-ongelooflike-verlies-vir-die-groep-en-vir-die-joernalistiek-20221006