Deur Albé Grobbelaar
Op Donderdag, 13 November 1980, het ek die voorreg gehad om aan huis by Jan Rabie en sy vrou, die skilder Marjorie Wallace, op Onrusrivier te gaan kuier. Ek was ’n onervare, jong omroeper by die Afrikaanse Radiodiens in Seepunt, Kaapstad. Ek het opdrag gekry om vir die program Skrywers en boeke ’n onderhoud met Jan te gaan voer ter herdenking van sy 60ste verjaarsdag die volgende dag.
My herinneringe aan daardie besonderse dag meer as veertig jaar gelede het met die jare vervaag. Ek het my al meermale verwens dat ek nie destyds ’n paar notas gemaak het ná my besoek aan hierdie twee onvergeetlike mense nie. Totdat ek die afgelope week op ’n klomp stokou koerantknipsels en tydskrifartikels in ’n stukkende kartondoos in ’n buitekamer afkom. (Ek het daardie jare, voor die koms van die internet en Google, ’n reuseversameling van sulke knipsels opgebou om my te help met navorsing vir radioprogramme wat ek aangebied het.) En hier, tussen die vergeelde artikels, waarvan baie al oor die jare deur muise verrinneweer is, kom ek op ’n handgeskrewe dokument af. (Kyk hooffoto bo.)
Ek herken dadelik my handskrif. Toe ek dit optel en begin lees, besef ek wat dit is. Ek het destyds wél aantekeninge gemaak ná my besoek aan Jan Rabie. Ek het net heeltemal daarvan vergeet. Vir veertig jaar, deur minstens agt verhuisings en werk in drie stede, het hierdie aantekeninge (onbepland en onbeskermd) behoue gebly. En hiermee hang ek dit graag aan die groot klok. Die vergete notas van ’n onervare, jong joernalis oor sy besoek aan een van die grondleggers en baanbrekers van die Sestigers, Jan Rabie. (En ja, ek was daardie tyd nie lief vir honde nie!)
Die skryfsel hieronder is verbatim, presies soos ek dit destyds met die hand neergeskryf het. Dis ’n “foto” van daardie dag, geneem 41 jaar gelede. Die bewerige hand van die onsekere omroeper wat ek was. Ek het niks aan die notas verander nie, ook nie aan woorde wat vandag nie meer gebruik moet word nie. (Wie het iewers geskryf: “To rewrite after years is a form of forgery”?) Hier kom dit.
Jan en Jorie (Jan Rabie en Marjorie Wallace) op Vermont, by Onrusrivier. (13 November 1980, vir sy sestigste verjaarsdag op 14/11/80.)
Aankoms, SAUK Volksie, verkeerde huis, rondawelhuis langs hulle, Marjorie kom uit, loop met krukke. “Ja, Jan het mos aan die slaap geraak agter die stuur in Sir Lowrey’s Pas nou die dag, toe loop ons van die pad af.” Sy lyk ouer as wat ek gedink het sy sou, maar helder-helder-hemel-oë. ’n Ligblou, denimrige baadjie, streep-T-hemp, loop effens mank. Jan kom aan met Die Burger van die kafee af. “Ons is ’n bietjie laat, was gou by iemand se verjaardag.” Arieb, reuse-rifrug, loop my byna onderstebo, byt-byt aan my arm. Staan seker so hoog soos my naeltjie.
Jan lyk nie sestig nie, hy’s bruingebrand, lang hare agtertoe, sonder grys tussen-in, alhoewel die baard ’n bietjie grys wys. Kerneels Breytenbach v.d. Burger bel, en ek en Marjorie gaan gesels by die stoeptafel op die agterstoep, agter die florerende Bougainvilla. Sy gaan maak koffie, in ’n pottery-melkbeker, met ’n groot koffiebeker by, en bruinsuiker.
Ek stap by Jan se studeerkamer in, wat op die agterstoep uitmond. Werksplek, leefplek, met boeke drie v.d. vier mure tot teen die plafon. Nou met die terugdink: Daar’t nie ’n tikmasjien gestaan nie. Handgeskrewe notas op die outydse desk, en ’n klomp boeke lê rond. Ek loer rond in die boekrakke, Leipoldt se Versamelde Verse, dr. Terblanche se Storm en Drang, The Soweto Riots op die enkelbed in die hoek, Solzhenitsyn se The Gulag Archipelago, Opperman, Uys Krige (Jan wys my later ’n Russiese vertaling van een v. Uys se boeke).
Links teen die ooste muur, voor die lessenaar, spoor ek Jan se eie boeke op. Daar is meer as wat ek besef het. Alles lyk gebruik en gelees, én deurmekaar. Jan se boeke, Die Hemelblom, Ark, Politika (of iets). Die Bolandia reeks, Mens Alleen. Drie eksemplare van Seeboek v.d. Sonderkossers, Swart Ster oor die Karoo, verskeie vertalings, Twee Strandlopers, “Een-en-twintig”. Verder regs, die muur wat net boeke is, al wat boek is oor al wat onderwerp is. Hoe min lees ek tog nie.
Bevolkingsensus 1970, waaruit hy later vir my wys hoeveel Kleurlinge verengels het. Hy praat heelwat oor die Kleurling. “Ons sal die Afrikaners, almal wat Afrikaans praat, moet saamsnoer, ons sal die Kleurling as deel van ons moet aanvaar.”
“Is dit nie reeds te laat nie?” vra ek. Hy meen daar’s nog tyd, hy’s ook nie te bekommerd oor die Kleurling wat so Engels praat nie, “dis maar ’n lagie snobs bo-langs”.
Wat van die in die groot winkels, wat jou in Engels bedien. “Dis oor jy hulle nie as meneer of mevrou aanspreek nie,” kap Jan. “Ek maak ’n punt daarvan as ek in die Kaap kom om stil te hou en vir Kleurlinge te vra: Meneer, kan u vir my sê hoe om by die of dat uit te kom.”
Ek sien ’n emmer met ’n duikpak, snorkels en duikbrille lê. ’n Tjoep met ’n net aan daar langsaan. Lekker plankvloer. Ou mat. Kaarte op die bed, v. Vermont. “Ek is burgemeester van Vermont,” sê Jan later, “nou wil ek hierdie kaarte aanmekaarsit vir die mense om te kan sien.”
Marjorie bring die koffie en kom sit. Arieb is lastig. “Dis die Hottentotnaam vir hond’” sê Jan later. “Ons het darem baie van die Hottentotte gesteel. Bliksem.” Later toe ons afstap see toe en hy my aan die kaaigoed laat ruik: “Van Riebeeck sou doodgegaan het as hy nie na ’n paar maande gaan kyk het wat die Hottentotte eet nie. Waar’t jy nou gesien ’n mens plant ’n tuin in April in die Kaap.”
Ek vra vir Marjorie uit oor Uys, wat nie so naby woon soos ek gedink het nie. Hy’s op die ander punt van Onrus. Nader aan Hermanus. “Dit gaan baie goed met Uys. Van hy 70 geword het, het hy aanvaar hy’s nou ’n ou man, en nou geniet hy al die aandag, en hy kry homself nie meer so jammer nie.” Op ‘n stadium, na sy ongeluk in Pretoria toe hy raakgery is, het dit blykbaar baie sleg gegaan. Marjorie sê Uys het in sy TV-stel vertroosting gevind. Hy sit glo elke minuut van uitsending vasgenael voor die skermpie, en geniet van die kinderprogramme, reg deur elke advertensie, tot by die laataandoordenking.
“Hy’t op ’n kol tot vier keer per dag gebel,” vertel sy. Blykbaar geheueverlies gehad na die ongeluk, en wou kort-kort by haar weet of hy iemand op hierdie of daardie plek ken, en uitgevra oor sy ou girl-friends. “Nou bel hy maar so een keer per dag.”
Later vertel Jan hoe Uys destyds vir ’n naweek kom kuier het toe hulle in Parys was, en uiteindelik ses maande gebly het. Hy word kwaad toe Marjorie sê, “nee, dit was drie maande”. Maar dis nie ’n kwaad-bly-situasie nie. Sy gee in elk geval ook nie toe nie.
Jan kom terug. “Kerneels sê hy ken jou.” Ek swel so bietjie omdat Jan vertel het ek is hier. Nie gedink die besoek beteken enigiets nie, vir hóm nie. Hy blaai deur sy Burger, lees vir ons ’n beriggie oor Lorca se “Die Huis van Bernarda Alba”, wat Uys vertaal het. Later vertel hy hoe hy Uys gehelp het met vertalings in Parys. “My Frans was beter as syne, sien. Hy skuld my nog 160 uur, wat ek meer aan sy werk spandeer het as hy aan myne. Die dik ou blikskottel!”
My koffie raak klaar, en Jan sê ons moet eers ’n bietjie rondstap. Hy spog met sy twee olyfbome, wat vol olywe sit. Vertel, waarvan ek min volg, hoe olywe op mekaar geënt en oorgeplant word. Ons stap ook agtertuin toe, waar die ander boom staan. Arieb – Jan gee dit Hottentotvervoegings van Hond, Arieb en Aries of iets, is die vroulik.
Groentetuin, hoop seebamboesblare, kompos, drie erwe altesaam, hou seebamboes nat vir week, laat lekker vrot. Ons stap af see toe, hy haal knipmes uit, sny blare, ’n hele hoop, wat ek moet help opsleep huis toe. Arieb vreet-vreet aan my hand. Dis ’n dekselse groot hond. My pak besmeer.
Ek hoor later, toe ek die bediende ontmoet, wat een keer per week kom werk, by Marjorie dat sy (Marjorie) niks in die huis stryk nie. “Die goed werk sommer so op die droog-drip stelsel.” Jan dra ’n bruin ferweelbroek, en ’n warm wintershemp, met ’n ou trui-hemp onder dit.
Hy wys my die voorstoep, beskut teen die reën uit die noordweste, en goed weggesteek, ook vir suidoos. Arieb se bed staan langs die beddens. “Ons slaap nooit binne nie.” Op ’n derde bed lê seker tien katte, meeste is kleintjies. “Watka”, die hoofkat, is nie na een of ander naam in die eksistensialisme vernoem nie, soos Kafka, wat ek eers gedink het. Dis eintlik “Witkat”, wat in Marjorie se Skotse mond net effens snaaks klink.
Sy vertel hoe sy Afr. geleer het, en hoe sy gedink het “Opperman” is ’n vloekwoord. Sy en Jan is in Parys of êrens, en Uys kuier, en Jan en Uys sit en werk bo. Dan luister sy van onder af, waar sy staan en skilder, na al die tjie-tjie-tjie-snaakse klanke v.d. twee se gesprek, en kort-kort hoor sy “Opperman”. Die volgende dag, toe sy haar hand teen ’n pot brand, skree sy “Opperman”, ’n vreeslik vloekwoord. Jan lag net. “Dis in die tyd toe Opperman so klomp pryse en goed gekry het.”
Ons gaan kyk na Marjorie se dakkamer-ateljee. Heerlik, tipies deurmekaar doeke en kwaste orals, twee skilderye van prof. Fransie Malherbe se begrafnis, waarvan ek vreeslik hou. Haar ander werk staan my nie aan nie. Mooi uitsig see se kant toe uit die solderkamer.
Ons gaan af, Jan bring witwyn studeerkamer toe, gelukkig Arieb buite, en ons begin met die onderhoud. Tussendeur sluk ons aan die yskoud wyn. Jan gesels maklik, stel dings so dat ’n mens dit kan uitsaai. Ek haal Jan Spies aan wat geskryf het (oor Jan): “Is dit nie ’n verspilling van kragte aan te veel fronte nie? Romans, kortverhale, vertalings, gedigte, ruimtefiksie?
“Dis seker W.E.G. Louw!” word hy kwaad toe ons voor die tyd die vrae deurgaan. Nee, Spies, sê ek. “Ja, maar hy praat Louw na. Wat weet ’n digter nou, wat heeldag in sy nou ou wêreldjie met sy gediggies by sy tafel sit.” Jan beduie hoe klein die wêreldjie van so iemand is. Toe die bandmasjien loop, toe antwoord hy die vraag versigtiger.
Op sy Bolandia-reeks is hy die trotste. Ook op die politieke opstelle, en ’n vertaling uit moderne Grieks. “Een van my boeke is in Russies vertaal.” Ek vra of hulle hom darem genader het om die vertalingsregte te kry. (“Mens-Alleen” was dit titel, dink ek.) “Nee, nooit. Jy kry nie ’n sent daarvoor nie.” Later sê hy: “Die Russe hou ons dop. Hulle gryp iets wat hulle glo hulle kan gebruik.”
Ek kan sien hy sien uit na môre se funksie wat Human & Rousseau vir hom in die Kaap gereël het. Hy vertel van die sekretaresse wat gesê het: “Mnr. Rabie, dis die lekkerste partytjie wat ek nòg gereël het!” Jan sê: “En ek vra hoekom? Toe sê sy: ‘Omdat almal wat ons uitgenooi het, dadelik ja gesê het’.” Jan geniet dit.
Hy dink terug aan sy studentedae, toe die groot bulle daar rondgetrap, en rugby gespeel en politiek gepraat het “En ek (het) maar valerig eenkant gesit en gediggies skryf. Maar dit was lekker dae in Wilgenhof.”
Hoe lyk ’n dag in die lewe van Jan Rabie?
“Loop baie, werk buite, pas my oë op.”
Ons eet spinasie, en ’n eierige-soufflé-pizza-terterige dis, wat goed smaak en vol maak. Daarna sy seewier-poeding, “wierselei-poeding” met room. Dis lekker, al proe ek die eerste happie versigtig. Jan spring twee, drie keer op om Arieb te verwilder, wat met een van sy sokkies daar aankom. “Jou Hel, Bliksem, Wetter! Loop lê nou,” skel-lag hy vir die hond, wat baie lief is vir hom.
Ek vra oor godsdiens, en hy en Marjorie stry eers oor wat godsdiens is. “Ek sal nie kerk toe gaan solank ons die bruinman daar uit hou nie. Hulle is mos ook Afrikaners, magtag!” Maar hy gló. “Hoe kan ons god beskryf as die heelal so groot is. Ons kan nie oor hom praat nie.”
Marjorie vertel van die veiligheidsman wat hulle dopgehou het, en toe kamma Jan se tikmasjien wou toets. Sy’t dadelik deur hom gesien, maar Jan kom toe blykbaar eers niks agter nie. Die kêrel slaap toe ook nog die nag daar. Sy vertel hoe ’n koeël eendag net-net by haar verbygetrek het, en Jan sê dis nie oor haar nie, dis oor die meer-liberale meer-linkse vrou wat by haar was.
Ek vra uit oor die kos. Jan gee my sy seewierresepte. Op die stoep lê ’n doos vol wierselei en droog word. Rooi wyn by midddagete. Toe Turkse koffie, wat hy Griekse koffie noem. “Die Turke het die Grieke verdryf, sien.” Middagete weer op die agterstoep gewees, by die rowwe tafel.
“André Brink het dit swaar,” sê Marjorie toe ons oor die veiligheidspolisie praat.
In die gang hang ’n skets van Jan deur Gregoire Boonzaier. Hy en Cecil Higgs bly altwee op Onrus, “langs mekaar, kan mekaar nie lekker vat nie, die een het ’n hond, die ander ’n kat.” Dan is daar Uys, wat blykbaar eerste daar was, en Jan en Marjorie, en Koos Human “wat met Van Wyk Louw se dogter getroud is” en Simon Rappoport. Oor die ander mense op Onrus, sê Jan: “Die snobs wil altyd voor op die see koop, waar alles roes, en die vensters altyd aangeslaan is.”
Marjorie vertel van Breyten se ma se begrafnis. Sy vertel Breyten se broer, Jan, “wat hard is”, het so gehuil by die begrafnis. Ek noem iets van Breyten wat nie self daar kon wees nie, en sy en Jan stry bietjie. Jan sê hulle kon nie uitsonderings maak nie.
Voor ek ry, sê Marjorie: “Jan, jy moet vanaand vuur maak in die kaggel. Ek wil hare was vir môreaand se ding.” Toe ek uiteindelik wil ry en begin om dankie te sê, sê Jan ek moenie ’n toespraak maak nie, ek moet weer kom en my vrou saambring.
(Ek vermoed die opname van die onderhoud wat ek daardie dag met Jan Rabie gevoer het, sou destyds in die SAUK se klankargief opgeneem gewees het. Dalk is dit nog daar. Ek sal baie graag na vier dekades weer daarna wil luister.)
Geplaas: Oktober 2021