WIE IS DIE ‘VERLORE’ WVK-REBELLE VAN NASPERS?

‘n Verklaring deur ‘n groep joernaliste van Naspers aan die Waarheid-en-Versoeningskommissie het in 1997 groot opskudding veroorsaak omdat die maatskappy, by monde van sy voorsitter, Ton Vosloo, nie gemeen het dat deelname aan die WVK enige nut het nie. Die groep van sowat 140 (wat die hart van Afrikaanse drukmediajoernaliste verteenwoordig het) het dus openlik teen Vosloo-hulle se standpunt gerebelleer. Die vraag wie hulle almal was, is nog onopgelos.        

Deur Tobie Wiese, een van die ondertekenaars

Niks is toevallig nie. Pas het dr. Desmond Tutu 90 geword toe ek afkom op ‘n toespraak wat hy in Mei 1998 as voorsitter van die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) gelewer het.

Laat ek dadelik erken: dis nie ter wille van ‘n teologiese insig of iets dergeliks bewaar nie, maar om dié opmerking: “It is wonderful to acknowledge the courage and integrity of the nearly 150 Afrikaner journalists who made an amazing submission to the TRC despite the opposition from their bosses.”

Die aartsbiskop van Kaapstad kon ook, om meer spesifiek te wees, na ons verwys het as “Naspers-joernaliste”. Nie net oor die kompliment het ek die toespraak bewaar nie ─ daardie “150” het my toe al laat wonder.   

Om die geheue te verfris: Die WVK het teen die einde van 1995 tot stand gekom as ‘n nasionale projek om in die reine te probeer kom met die land se apartheidsverlede. Die doel was eerstens om menseregte-vergrype bloot te lê, families van slagoffers die geleentheid te gee om eerstehands te verneem wat van hul geliefdes geword het en oortreders ‘n platform te bied om verskoning te vra of hulself te verduidelik. Deur dié vertel van stories en die oorweging van amnestie aan oortreders, was dit die kommissie se oogmerk om versoening te bevorder.

Die klimaat vir “bieg” was nie gunstig by die voorheen sterk NP-gesinde Die Burger nie.

Die WVK het talle instansies ─ van politieke partye en sakelui tot kerke en die nuusmedia ─ genooi om voorleggings te doen oor hul politieke en maatskaplike rol tussen 1960 en 1994. Onder diegene wat die uitnodiging aanvaar, opgedaag en voorleggings gedoen het, was belangrike Afrikaanse instellings soos die NG Kerk en die Afrikaanse Handelsinstituut.     

Binne Naspers het verskillende stemme opgeklink. Beeld, byvoorbeeld, het in ‘n hoofartikel gesê dat hy reeds by verskeie geleenthede mense, instansies en kerke aangeraai het om voor die WVK te verskyn. “Ons kan onmoontlik onsself van so ‘n proses probeer uitsluit.” By veral Die Burger en Rapport wat die WVK as ’n heksejag teen Afrikaners bestempel en Tutu as ‘n wraakgierige ANC-lakei met boosaardige ogies uitgebeeld het, het daar ‘n heel ander (en onsmaaklike) wind gewaai.

Die onvermybare vraag in redaksiekantore — van Doornfontein in Johannesburg tot aan die Heerengracht in Kaapstad — was: “Wat gaan Naspers vir die Waarheidskommissie sê?” Die direksie het dié besluit aan die voorsitter, Ton Vosloo, oorgelaat wat die WVK in ‘n briefwisseling meegedeel het dat Naspers hom nie skuldig ag aan enige menseregteskendings nie ─ en dus eintlik niks vir die kommissie te sê het nie. Die boek Oor grense heen, wat handel oor Naspers se geskiedenis van 1948 tot 1990, is nietemin aan die WVK gestuur.

Dit was wat ons betref nie naastenby goed genoeg nie, want afgesien van die sein “Los ons uit!” wat dit gestuur het, het dié boek weinig te doen gehad met die vrae wat die WVK gestel het.

In die personeelblad Naspersnuus het ’n naamlose briefskrywer gevra: “As ons binne die Pers glo dat apartheid in wese ‘n stelsel van menseregteskending was, en gegee die feit dat ons publikasies oor dekades heen dié stelsel getrou onderskryf, ondersteun en verdedig het, hoe kan ons dan ook glo dat die Pers nie aandadig was aan die skending van menseregte nie?” 

In veral Beeld se redaksiekantoor is intens gedebatteer oor die vraag om-te-getuig-of-nie; nie net in koffiekangesprekke nie maar ook in briewe in die elektroniese “Kennis-legger” wat vir almal toeganklik was (‘n naam wat aan Kennis van die aand herinner). Dit was die broeikas vir wat later op die “WVK-rebellie” uitgeloop het. Aan die voorpunt was die adjunkredakteurs Tim du Plessis en Arrie Rossouw met my (toe artikelredakteur by Insig) op puntdiens in die Kaap.   

Om ‘n lang storie kort te maak: Ná ‘n gesprek tussen Du Plessis en Vosloo, met redakteur Johan de Wet as tussenganger, is ooreengekom dat redaksielede “as individue” verklarings by die WVK kan indien. Hierop het ons ‘n bondige verklaring van minder as 300 woorde opgestel wat deur redaksielede in hul persoonlike hoedanigheid onderteken kon word. Daarin is onder meer gesê: “Hoewel ek nie persoonlik of regstreeks betrokke was by die growwe skending van mensregte nie, ag ek myself moreel mede-verantwoordelik vir wat onder apartheid gebeur het omdat ons ‘n stelsel in stand help hou het waarbinne sulke vergrype kon plaasvind …”

Die Burger se siening van die WVK (soos uitgebeeld deur sy spotprenttekenaar, Fred Mouton.)

Enkele dae voor die sperdatum van einde September 1997 vir voorleggings deur die media, het ons die dokument vir ‘n paar kollegas gestuur. Dit was geen behoorlik georganiseerde of gereklameerde veldtog nie, want ons was nie daarop uit om Naspers te embarrasseer nie. Die dryfveer was om vir die WVK, en wie ook al wou hoor, te sê: “Ons dink en voel anders. Ons wil deel wees van dié belangrike poging tot versoening.”  

Ons het geweet dat dít ‘n minderheidstandpunt was. Bygesê, die meeste redaksielede het waarskynlik ons sentiment gedeel, maar omdat so ‘n opstootjie binne Naspers ongekend en omstrede was, het baie gemeen dis ‘n riskante loopbaanskuif. As net 50 mense die verklaring onderteken, was dit die moeite en spanning werd, het ons vir mekaar gesê. Toe laat 127 (die paar voorbokke ingesluit) weet hulle het geteken. Dié getal is die volgende dag deur die Waarheidskommissie in ‘n waarderende verklaring bevestig.

Terug by aartsbiskop Tutu en die 150: Hoe het hy aan dié getal gekom? Juis omdat die aksie nie vooraf van die dakke verkondig is nie, het talle simpaktiekgesindes eers later daarvan verneem maar tog hul verklarings by die WVK ingedien. Dit het die aantal waarvan ons weet op 140 te staan gebring. (Sien die name hiernaas.)

Uiteraard weet net die WVK hoeveel verklarings hom bereik het. In sy finale verslag meld die kommissie dat hy “some 150 affidavits from individual Afrikaans-speaking journalists” ontvang het.

Nou is daar nog dié vraag: Wie is die vermiste stuk of tien?

Is jy dalk een van hulle? Of weet jy van iemand wat geteken het wie se naam ontbreek? Laat van jou hoor! Opdat ons dié hoofstuk kan afsluit. Skryf aan tobiewiese@mweb.co.za.

Bronne

“The TRC and Reconciliation”, toespraak deur dr Desmond Tutu voor die Kaapstadse Persklub, 4 Mei 1998

Naspersnuus:  uitgawes van Augustus en September 1997

Berigte in Beeld, Die Burger en Rapport; 1 September 1995 tot 31 Desember 1998

Tim du Plessis en Ton Vosloo in ‘n Konstante Revolusie: Naspers, Media24 en oorgange (Tafelberg, 2015), saamgestel deur Lizette Rabe 

Oor grense (Jonathan Ball Uitgewers, 2018) deur Ton Vosloo  

Kroniek van die Waarheidskommissie (Carpe Diem Boeke, 1999) deur dr. Piet Meiring

Truth and Reconciliation Commission, Final Report Vol 4 (pp. 165-198)

WVK Final Report Vol 4 ook MEDIA.pdf

                                     ***

Hulle is op die lys

En wie nog? Die skrywer soek ‘n stuk of tien name wat klaarblyklik ontbreek (as byna 150 die verklaring onderteken het). Hier is die mense wat sover bekend die verklaring onderteken het wat ‘n belangrike maar omstrede baken in die geskiedenis van Naspers geword het.  

Adams, Shireen; Adema, Sybrandus; Alfonso, Theresa. 

Badenhorst, Helena; Beyer, Judy; Bezuidenhout, Nick; Boezak, Echbert;  Botha, Alida (Buckle); Botha, Leon; Bothma, Peet; Botma, Gabriël; Booyens, Hannelie; Brynard, Karin; Burger, Amelia. 

Caldecott, Reg; Church, Rachel; Claassen, George; Coetzee, Amanda; Coetzee, Carol; Coetzee, Sandra; Conradie, Renée; Cornelissen, Andries.  

De Beer, Barry; De Beer, Erika; De Lange, Liezel; De Meyer, Johan; De Waal, Egbert; De Waal, Elmari; Diedericks, Erla-Mari; Du Plessis, Tim; Du Preez, Lieze.

Els, Jeanne; Engelbrecht, Theunis; Erasmus, Elfra; Eybers, Johan. 

Fillies, Avril; Foster, Karen; Fourie, Carien; Fourie, Retha. 

Geertsema, Margaretha; Gibson, Erika; Gouws, André; Gouws, Andries; Greyling, Ferdi; Grobler, Magrieta.  

Hardie, Michelle; Hefer, Stefanie; Heyns, Fanie; Hill, Markus; Hoffman, Colin; Hudson, Mari. 

Jackson, Neels; Jordaan, Dirk; Joubert, Herman; Joubert, Jan-Jan.  

Karriem, Kay; Karshagen, Ingrid; Kemp, Franz; Kempen, Willem; Kolbe, JL; Koopman, Andrew; Kotzé, Adri; Kotzé, Christiaan; Kruger, Peet; Kühne, Inge.  

Lamprecht, Barry; Lamprecht, Deon; Landman, Ruda; Laubscher, Louise; Ley, Marga; Liebenberg, Dries; Loots, Sonja; Lötter, Francois; Loubser, Henriëtte; Louw, Celeste; Louw, Elretha. 

Marais, Michelle; May, Julie; Mischke, Anne-Marie; Muller, Haidee; Müller, Waldo. 

Nel, JP. 

Opperman, Ilse; Opperman, Marie.  

Petersen, Linda; Pieters, Michelle; Pople, Laetitia; Potgieter, De Wet; Pretorius, Cornia; Pretorius, Willem; Prinsloo, Arlene; Prinsloo, Thinus. 

Roggeband, Ilza; Rossouw, Arrie; Rossouw, Ronelle. 

Schaum-Sebring, Ina; Slabber, Coenie; Snyman, Dana; Stofberg, Andriette; Streek, Diana; Swanepoel, Thalyta; Swart, Magda; Swartz, Mary-Ann.  

Tempelhoff, Elise; Theron, Ian.

Uys, Thys.  

Van Bosch, Cobus; Van Breda, Dewald; Van Breda, Michélle; Van den Berg, Leon; Van der Linde, Ina; Van der Merwe, Elna; Van der Merwe, Mike; Van der Stad, Marjolein; Van der Walt, Sarel; Van der Westhuizen, Christi; Van der Westhuizen, Gert; Van Niekerk, Leoné; Van Rensburg, Gallie; Van Rooyen, Annelize; Van Rooyen, David; Van Staden, Leonora; Van Tonder, Johann; Van Wyk, Anna-Marie; Van Wyk, Johan (JJ); Van Wyk, Marguerite; Van Zyl, Natasja; Viljoen, Julia; Visagie, Jacques; Visser, Amanda. 

Waldner, Mariechen; Wasserman, Helena (Schutte); Wasserman, Herman; Weideman, Esmaré; Wessels, Roux; Whitfield, Nikki; Wiese, Tobie; Withers, Ethne; Wolvaardt, Elmien; Wrottesley, Roz. 

Yssel, Eugene.  

Insig se voorblad met ‘n foto van biskop Desmond Tutu.

                                       ***

                                  

Die volledige berig oor die WVK-rebellie én Ton Vosloo se aanvanklike reaksie, soos dit in Die Burger verskyn het.

                    

Ton Vosloo het in 2015 en 2018 in ‘n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange (saamgestel deur Lizette Rabe) en Oor grense sy standpunt verduidelik en aangepas. Kyk uit vir ‘n volledige artikel oor Vosloo wat eersdaags op hierdie webblad sal verskyn.

Geplaas: Oktober 2021