JEAN OOSTHUIZEN SE JOERNALISTIEKE PAD VIA PERSKOR, DIE SAUK EN KERKBODE TOT VRYDENKENDE VRYSKUT

Die joernalis Jean Oosthuizen beantwoord Johannes Froneman se vrae oor sy lang loopbaan in die druk- en uitsaaimedia.

Jean, jy het aan die ou Technikon Pretoria (nou die Tswane Universiteit van Tegnologie) joernalistiek geswot… ‘n Loopbaan in die joernalistiek was dus kwalik per ongeluk. Vertel iets daaroor en waar jy begin het.

Ek het van jongs af daarvan gehou om te skryf en van ʼn baie vroeë ouderdom ʼn belangstelling gehad in die joernalistiek. Op skool het ek sulke klein koerantjies vir myself gemaak met allerhande nuusbrokkies wat ek self geskryf het. Toe Technikon Pretoria in 1977 begin met ʼn Nasionale Diploma in Joernalistiek was dit vir my ʼn natuurlike en maklike keuse om na my diensplig in 1978 daarvoor in te skryf. Ek was deel van die tweede groep joernalistiekstudente wat daar opgelei is. Vandag, 44 jaar later, is daar honderde in die mediabedryf wat by daardie instelling voorberei is.

Dit was ʼn driejaarkursus waarvan ongeveer die helfte praktiese opleiding by ʼn koerant behels het. Die eerste deel van my praktiese opleiding het ek by ʼn plaaslike koerant in Roodepoort gedoen, naamlik die Roodepoort Revue. Daar moes ek alles leer doen van hofverslaggewing tot die verkoop van advertensies vir die koerant en selfs van huis tot huis intekenare probeer werf.

Ek was ook redakteur van die technikon se studentekoerant, Die Student. Ons redaksie het dit omskep in ʼn werklik goeie studentekoerant met ʼn eie stem, al het daar destyds slegs enkele joernalistiekstudente in die redaksie gedien.

Jy het later gevorder tot parlementêre verslaggewer

My eerste voltydse aanstelling was by Pretoria se middagblad Hoofstad met PG du Plessis as my eerste redakteur. Dit was ʼn groot voorreg om onder sy redakteurskap te werk. Ek vertel meer oor hom en ons werkverhouding in ʼn huldeblyk wat ek ná sy dood vir Rapport Weekliks geskryf het. (Dit is te lees by K’rant, ʼn webwerf vir oud-werknemers van Perskor.)

Na ʼn paar maande in die redaksie is ek aangestel as munisipale verslaggewer en daarna provinsiale verslaggewer. In 1982 word ek deel van al Perskor se Afrikaanse koerante se politieke redaksie om vanuit die parlement verslag te doen. Dit het Die Transvaler, Vaderland, Hoofstad en Oggendblad ingesluit.

In Februarie 1983 het Die Transvaler (waarby Hoofstad ingelyf is) as middagblad na Pretoria geskuif en Oggendblad het van die toneel verdwyn.

Dit was opwindende jare van storm en drang in die land se wit politiek van destyds. Ses maande van die jaar het ek in Kaapstad gewerk om vanuit die parlementêre persgalery verslag te doen en ses maande in Pretoria wanneer die parlement in reses was. In die politieke redaksie het ek die voorreg gehad om ook nou saam met Vaderland se redakteur, Harald Pakendorf, te werk, wat nog altyd vir my een van die beste redakteurs was onder wie se leiding ek gewerk het.

Vertel ons iets oor die groot stories van daardie tyd.

My eerste jaar in die parlement was in 1982. Dit was die jaar toe die Nasionale Party geskeur het. Andries Treurnicht en 23 parlementslede het toe die Konserwatiewe Party in Pretoria se Skilpadsaal gestig.

Jean saam met PW Botha as politieke verslaggewer. Hy het Botha op verskeie oorsese besoeke vergesel.

Ek was daar toe die driekamerparlement tot stand gekom het, by PW Botha se Rubicon-toespraak in Durban, toe FW de Klerk sy 2 Februarie toespraak in 1990 in die parlement hou, by die Kodesa-samesprekings in Kempton Park en ook toe Nelson Mandela formeel deur die parlement aangewys is as staatspresident in 1994… Oor elkeen en vele ander nuuswaardige gebeure in daardie tyd waaroor ek berig het sou mens ʼn storie op sy eie kon vertel.

Ek het ook die geleentheid gehad om saam met PW Botha verskeie Europese lande te besoek, vier Suid-Amerikaanse lande saam met FW de Klerk, verskeie lande in Afrika saam met Pik Botha en PW. En ek was saam toe Nelson Mandela op sy eerste amptelike buitelandse besoek as president na Zimbabwe gegaan het. 

Wanneer is jy toe SAUK toe? Hoe het jy die verskil tussen drukmedia en uitsaaimedia ervaar?

Teen 1990 was dit vir my duidelik Perskor se dagblaaie gaan dit nie veel langer maak nie. Hulle het die persstryd teen Nasionale Pers finaal verloor in die nadraai van die sirkulasieskandaal. Hulle moes die oggendmark prysgee as deel van ʼn skikking met Naspers. Middagkoerante se son het eintlik al met die koms van TV begin sak. Ek het bedank en is in 1991 by die SAUK aangestel as politieke korrespondent. Daar het ek voortgegaan om vanuit die persgalery verslag te doen oor die politiek van die dag. In 1995 het ek permanent Kaapstad toe verhuis en deel geword van die SAUK se nuusredaksie in die Seepunt-kantoor.

Jean (regs net agter Madiba) saam met SAUK-kollegas en pres. Nelson Mandela.

Die druk- en uitsaaimedia het elkeen hulle eie uitdagings. My grootste aanpassing by die SAUK was om gewoond te raak aan die onmiddellikheid van die medium. Anders as by die gedrukte media met twee of dalk drie saktye per dag het die uitsaaimedia my geleer elke minuut van die dag is spertyd. Vandag is dit natuurlik anders by die gedrukte of elektroniese media. Daar bestaan nou net soos in die uitsaaimedia geen spesifieke spertye nie. Elke berig het sy eie spertyd en word so gou as moontlik elektronies gepubliseer.

Wanneer is jy na Kerkbode toe? Vertel meer oor jou werk daar.

Nadat ek met die draai van die eeu by die SAUK bedank het, het ek eers vir ʼn rukkie my eie besigheid in die kitskosbedryf in die Strand gehad. Dit was ʼn fout wat my finansieel baie duur te staan gekom het. As mens ink in jou are het, is daar min beroepe wat die plek van joernalistiek kan inneem en dieselfde bevrediging bied. In 2004 het ek ʼn pos aanvaar as nuusredakteur by Kerkbode onder die redakteurskap van Frits Gaum.

Aanvanklik het ek gedink ek gaan oor ligter sake as die politiek berig, maar het gou agtergekom die kerk en politiek is in baie opsigte dieselfde. Albei het dieselfde intriges en mag speel in beide instellings ʼn baie groot rol met ewe veel ambisies onder baie van die predikante as onder politici. 

Toe kom die botsing oor die Woordfees-debat. Kan jy dit kortliks uit jou perspektief opsom?

Dit was in 2013 en op vele vlakke ʼn baie slegte ervaring. Ek skryf breedvoerig daaroor in my boek Die opkoms en ondergang van die NG Kerk, wat in 2018  deur Penguin Random House uitgegee is.

Dit is moeilik om dit in ʼn paar sinne op te som en uit die aard van die saak doen ek dit vanuit my eie perspektief en soos wat ek dit ervaar het. Ek wou ʼn reeks van twee of drie gesprekke vir Kerkbode by die Woordfees reël — in samewerking met my redakteur, Adri-Louise van Renen. Dit is gedoen met die goedkeuring van Bybel Media se uitvoerende bestuurder, Pieter Fourie, onder wie se gesag Kerkbode uitgegee is. Hy het later ontken dat dit met sy goedkeuring was, maar daar was ʼn lang papierspoor om te bewys dit was wel die geval.

Die doel van die gesprekke was om vanuit verskillende hoeke oor aktuele godsdienskwessies te gesels waaroor mense vrae het. Byvoorbeeld of die Moslems, Jode en Christene dieselfde God aanbid en of die hemel en die hel fisiese plekke iewers is waarheen mens na die dood gaan en of mens dit dalk anders moet verstaan.

Toe Kerkbode se direksie besef Abel Pienaar is een van die genooide gaste het hulle koue voete gekry en hulle borgskap aan die Woordfeesgesprekke onttrek. Pienaar was ʼn voormalige NG dominee en ʼn doring in die vlees vir heelwat konserwatiewe lidmate omdat sy teologie te liberaal was na hulle sin. Wanneer ek hom in Kerkbode aangehaal het, was daar altyd klagtes vanuit konserwatiewe gemeentes en dreigemente dat hulle Kerkbode sal boikot as die koerant hom aanhaal.

Kerkbode se onttrekking aan die Woordfees in 2013 het in ʼn yslike storm ontaard wat daartoe gelei het dat my en die kerk se weë op ʼn omstrede wyse geskei het, waaroor daar maande lank in die media geskryf is.

Hanlie Retief het op 9 Maart 2013 ʼn volledige onderhoud met my daaroor vir Rapport gevoer. (Kyk hooffoto heel bo.) Die NG Kerk het Rapport onder meer op grond van hierdie artikel en ander berigte oor die saak by die persombudsman aangekla. Na ʼn appèlsaak onder voorsitterskap van ʼn regter het Rapport die saak gewen en die kerk se klagtes is huidjie en muidjie uitgegooi. 

Nadat jy weg is by die Kerkbode het jy ‘n skerp kritikus van die kerk geword, veral die NG Kerk.

Ek is van nature krities. Ek glo dit is deel van ʼn joernalis se werk om krities te wees. Nee, ek is lankal nie meer kwaad vir die kerk nie, maar steeds ontnugter met wat ek daar gesien en beleef het. Miskien selfs meer as ooit.

Ek het tot die besef gekom die NG Kerk het nie net vir ons gelieg oor apartheid nie, maar oor baie ander dinge ook. Ek het aan my eie bas ervaar hoe hulle gejok het oor die Woordfees. Ek het gesien hoe hulle jok wanneer hulle sê gay lidmate is welkom, maar steeds weier om hulle as gelyke en volwaardige lidmate te aanvaar. In die hof het hulle byvoorbeeld aangevoer gays moet liewer hulle eie kerk stig indien hulle nie daarvan hou wanneer die kerk teen hulle diskrimineer nie, maar vir die wêreld het hulle gesê gays is welkom sonder enige diskriminasie. Dit is natuurlik vandag steeds nie die waarheid nie.

So het die NG Kerk ook reeds in die middel 80’s afskeid geneem van apartheid, maar kon tot vandag nog nie daarin slaag om weer een kerk te word met diegene wat hulle uit die kerk gedryf het om afsonderlike kerke te stig nie.

Uiteindelik het ek ook tot die oortuiging gekom dat hulle teologies besig is om vir hulle lidmate te lieg en dat dit eintlik meer daaroor gaan om die instansie in stand te hou as enige iets anders.

Ek wil nooit weer deel wees van die kerk of sy strukture nie. Baie van my vriende is steeds lidmate van die kerk of is dominees in die NG Kerk. My persoonlike ervaring met die kerk doen geen afbreuk aan my verhouding met mense in die kerk vir wie ek respek het nie. Ek is selfs by geleentheid deur NG gemeente Stellenbosch-Wes genooi om deel te wees van ʼn reeks “preke” waar gewone mense (wat nie teoloë is nie) geleentheid gebied is om van die kansel af te preek.  

Daar is baie ander lidmate en dominees in die NG Kerk wat ewe krities is oor die kerk. 

In ʼn onlangse opiniestuk wat Frits Gaum se vrou Henda vir Kerkbode geskryf het, bevestig sy my oortuiging dat die NG Kerk se strukture nie vertrou kan word nie. Sy skryf sy kom uit ’n geslag van predikante. Haar pa was ’n predikant, haar suster se man was ’n predikant, hulle seun is ’n predikant, haar eie man is ’n predikant en haar seun is ook ’n predikant. Sy voeg by:

“My ondervinding en belewing van predikante kom dus van my doekdae af. Ook met die ‘hiërargie’ van predikante is ek goed vertroud. My pa was lid van die moderatuur van die destydse Natalse NG Kerk. My ma was een van die stigters van die ‘Bond van Dienaresse’ wat later die Vrouediens geword het. My man was agt jaar lank skriba van die Algemene Sinode en ook moderator van die Wes-Kaapse sinode. Ek self het in kerkrade gedien en was ’n afgevaardigde na sinodes. 

“Ek ken die kerk dus deur en deur in al sy vorme en formate en strukture,” skryf Henda voordat sy tot die volgende gevolgtrekking kom: “Ongelukkig, na ’n leeftyd in die kerk, het ek die kerklike strukture afgeskryf. Hulle is meestal aan die retireer en is huiwerig om moedig die regte ding te doen.”

Nes sy het ek die kerk se strukture afgeskryf. Ek het net verder gegaan as sy. Ek het georganiseerde godsdiens as sodanig afgeskryf. Soos baie ander mense wat kerklos geword het, stel ek steeds belang in mense se teologiese denke en waarom hulle op ʼn bepaalde manier glo of nie glo nie. Mens hoef nie deel te wees van die kerk om deel te wees van die gesprek nie. Net so hoef mens nie deel te wees van die ANC om deel te wees van die politieke gesprek oor hulle beleid nie.

Jou reeds genoemde boek het die titel ‘Die opkoms en ondergang van die NG Kerk’. Jy dink nie dit is ‘n effens oordrewe titel nie?

Ek is al dikwels uitgevra oor die titel van my boek. Ek glo die NG Kerk behoort saam met Nasionale Party en die Broederbond tot die verlede. Ek dink nie dit is oordrewe om van die NG Kerk se ondergang te praat nie. Ondergang is ʼn stelselmatige proses wat met agteruitgang gepaardgaan. Dit gebeur nie oornag nie. Niemand kan die agteruitgang van die NG Kerk sedert veral die 90’s ontken nie. 

Die eens magtige kerk wat aktief help skryf het aan die apartheidswette en swart en bruin mense se menswaardigheid met dieselfde ywer ontken het as wat hulle vroue en homoseksuele mense se menswaardigheid ontken het, sal in die geskiedenis niks meer as ʼn voetnota wees nie – maar ongelukkig nie ʼn baie goeie voetnota nie. 

Ten spyte van die goeie werk wat daar in baie gemeentes op maatskaplike gebied deur die NG Kerk gedoen is, en steeds gedoen word, is die NG Kerk vandag ʼn huis wat ook in homself verdeeld is. Markus het al gesê as ‘n huis teen homself verdeeld is, kan daardie huis nie bly staan nie. 

Jy is vandag ‘n vryskutjoernalis wat onder meer ‘n godsdiensgespreksprogram by geleentheid op RSG aanbied: Uit ‘n ander hoek. Vertel meer daaroor.

Sedert my en Kerkbode se paaie geskei het, is ek voltyds ʼn vryskutjoernalis. Ek skryf vir verskillende publikasies en forums wanneer ek die geleentheid kry. Die program vir RSG was die voorstel van die vorige stasiebestuurder, Magdaleen Kruger. Daar is reeds vyf reekse van die program uitgesaai waarin ek vanuit ʼn ander hoek oor godsdiens en geloof met mense gesels wat nie noodwendig gelowig is nie of wat hulle nie meer tuis voel in die hoofstroomgodsdiens nie. Ek sien uit na ʼn volgende reeks, want ek dink dit is ʼn onderwerp waaroor daar nog baie vanuit verskillende ander hoeke gesels kan word. Kerklidmate en gelowiges het nie ʼn alleenreg om oor godsdiens en geloof te gesels nie. Daar is ook ander geloofstories wat gehoor moet word en waaroor mense graag gesels. 

Geplaas Oktober 2021.