Albé Grobbelaar vertel

Die storie van die pous, priester en pret by ‘n perdebaan

Die ouduitsaaier Albé Grobbelaar dink terug aan sy vyftien minute van ‘roem’ drie dekades gelede, toe die pous Lesotho besoek het.    

Die nuus vroeg in 1988 dat Pous Johannes Paulus II op pad was Lesotho toe, het ‘n reuse-geskarrel landswyd en ook in die gange van die SAUK in Bloemfontein tot gevolg gehad.  Ons almal wat in die nuuskantoor gewerk het, het besef dis ‘n groot storie, maar niemand was seker hoe groot nie.  

Maande voor die tyd al is ons televisiespan weekliks Oos-Vrystaat toe om oor die voorbereidings verslag te doen.  Almal was in rep en roer.  Die weermag was betrokke, die lugmag, die polisie, verkeersdepartemente, gesondheidsdienste, brandweerdienste, nooddienste, almal wou reg wees vir die Groot Geleentheid. 

Elke burgemeester en iedere stadsklerk het gehoop om op die kassie te kom, en naastenby elkeen wás ook op die kassie.  Aand na aand het ek getrou die land ingelig oor die verwikkelinge.

Tydens die pous se besoek in September daardie jaar, sou hy ‘n Katolieke priester, Vader Joseph Gérard, wat in die 19de eeu in Basoetoland sendingwerk gedoen het, tot heilige verklaar.  Die hoogtepunt van die pontifikale besoek sou ‘n opelugkerkdiens wees, wat op die ou perdewedrenbaan buite Maseru gehou sou word.  ‘n Pragtige (pouslike) konstruksie is ten duurste opgerig vir hierdie eenmalige okkasie.

Wilde bespiegelinge oor hoeveel mense van “orals oor die wêreld” sou opruk vir hierdie gedenkwaardige gebeurtenis, was gou in omloop.  Raaiskote het gewissel van 2 miljoen tot soveel soos 5 miljoen besoekers.  By die SAUK het ek en regisseur Russell Belter min moeite gehad om ons base te oortuig dat ons ‘n helikopter sou nodig hê om ons werk te doen.  Dink net aan al die verkeersknope as daardie miljoene motors begin opdaag, het ons verduidelik. 

Lang storie kort:  Toe die week van die pous se besoek aanbreek, toe vlieg ons kruis en dwars saam met ons persoonlike ”chopper-pilot” oor die ganse Oos-Vrystaat met sy pragtige sandsteenberge.  Fouriesburg, Clarens, Ficksburg, Clocolan, Ladybrand. Ons het selfs, net vir die wis en onwis, ‘n draai by Golden Gate gaan maak.  En nêrens, maar nêrens, sien ons enige teken van ekstra karre of swaar verkeer nie.

Op die dag van die pous se aankoms steek ‘n skamele 21 motors per uur die grenspos by Maseru oor, veel minder as op ‘n doodgewone werksdag.  Van die menigtes wat by die kerkdiens verwag is, daag uiteindelik slegs sowat 10 000 siele op.  En die talle stalletjies langs die pad, wat enigiets van hotdogs tot sonbrille wil verkwansel,  verloor alles. 

Ek sal nooit die moedelose gesig van die man, wat met ‘n bakkievrag vol mieliemeel en ‘n tuisgemaakte,  dubbelverdieping-poetoepapmasjien daar aangekom het, vergeet nie.

Maar ten spyte van die min mense, is daar oorgenoeg drama.  Eerstens kan die pous, om die een of ander rede, nie op die lughawe by Maseru land nie, en moet sy vliegtuig Johannesburg toe uitwyk.  Eensklaps is dit ‘n internasionale insident en ‘n diplomatieke deurmekaarspul, met altwee die Botha’s, Pik en PW, (wat gehoop het hulle kon die pous ignoreer), midde in die drama.  En Riaan Cruywagen (hy’t tóg bietjie jonger gelyk destyds) hou die volk ingelig.

En so gebeur dit toe dat die Opperhoof van die Rooms Katolieke Kerk, een van die magtigste mense ter wêreld, met ‘n motor van Johannesburg af Maseru toe moet ry.  (Daar was baie stories oor die konsternasie op Kroonstad toe die Pous moes gaan piepie …)  En kort na sononder op D-dag wieg die biskoplike BMW oor die Caledonrivier-brug tot binne in die Bergkoninkryk. 

Maar dis net die helfte van die storie.  Die grootste drama lê voor.  Midde in die aanloop tot die Pous se besoek, besluit ‘n paar “afvalliges” in Maseru dat dit hulle kans is om wêreldnuus te haal.  En hulle kaap ‘n bus met ‘n klomp nonne daarin.  Dit word ‘n ontvoerings- en losprysdrama so reg uit die pen van ‘n bekroonde Hollywood-draaiboekskrywer, met geheime onderhandelings, geweerskote in die nag, en Spes Magte wat in die donker toeslaan en terroriste doodskiet. 

Met dit alles aan die gebeur, jaag ek en ‘n ander kollega, Tommy Smith, in die donker verby Maseru na die wedrenbaan toe, waar die pous die volgende dag die kerkdiens moet hou.  SAUK-televisie wil regstreeks na my toe oorskakel tydens die aand se hoofnuusbulletin, en die kameras is opgestel langs die pous se preekstoel.  

Daar aangekom, moet ons vinnig regmaak.  Dis koud, maar ek is sopnat gesweet.  Ek raak paniekerig.  Dis die eerste keer ooit dat ek regstreeks, lewend, “LIVE”, op nasionale TV gaan verskyn.  Daar’s nie tyd vir gesig poeier of rustig raak nie. 

Iemand druk ‘n oorfoontjie in my een oor in, stop ‘n mikrofoon in my hand, die “spotlights” word aangeskakel en op ‘n los televisieskerm op die grond voor my, sien ek Mariëtta Kruger, die ankeraanbieder in Johannesburg, se gesig verskyn.  

“Albé, kan jy my hoor?” vra sy in my oorfoon.  Ek mompel instemmend, en iemand skree dat daar nog drie minute oor is.

Die volgende oomblik tik kollega Tommy Smith op my skouer.  “Hier,” sê hy.  “Vat ‘n sluk, dit sal jou beter laat voel.”  En hy druk ‘n bottel skoon, onverdunde Klippies in my hand. 

Ek is nie ‘n drinker nie, maar krag uit die bottel is beter as geen krag nie.  En ek slaan ‘n paar groot slukke weg, min wetende dat nie net die hele kontrolekamer en televisiespan in Johannesburg nie, maar ook elke poskantooramptenaar by elke poskantoortoring tussen Maseru en die Goudstad, wat die “lyne” moes “oopmaak” vir die uitsending, my gesuipery kan sien.  

En ‘n minuut later skakel Mariëtta Kruger oor na my toe buite Maseru en vertel ek breedsprakig die volk van die pous se aankoms.   

Toe ek eers opgewarm is, loop dinge vlot, so vlot dat Johannesburg laat weet hulle wil sommer aan die einde van die program weer ‘n keer vir ‘n paar minute oorskakel na my toe om die jongste nuus oor die buskaping te kry.  

Met die finale oorskakeling (ek sou eers later besef dat die brandewyn toe al deeglik sy ding gedoen het), toe loop ek oor van die selfvertroue.  Ek wil net uitsaai.  Net jammer dis nie in Engels nie, ek kan in enige taal “broadcast”.  

Mariëtta vra haar eerste vraag, ek hoor dit duidelik oor die klein oorfoontjie.  

“Albé,” vra sy, “is daar enige waarheid daarin dat iemand die bus gekoop het?”

My gladdebek voortvarendheid syfer weg soos water in woestynsand.  My brein werk oortyd.  Ek stotter effens, wil-wil hakkel, maar druk deur. 

“Askies, Mariëtta, ek kon nie mooi hoor nie,” speel ek vir tyd, terwyl ek lomp op nasionale televisie vroetel met die blêddie oorfoon.  “Herhaal asseblief jou vraag.” 

En deur die newels hoor ek die vraag weer, helder en duidelik.  “Ons verstaan iemand het die bus gekoop,” registreer dit in my brein.  “Steek daar enige waarheid daarin?”  Van “kaap” hoor ek niks nie. Net “koop”.

Ek dink ‘n lang oomblik na, en toe antwoord ek: “Nee, ek weet daar niks van nie.”

Van die res van die aand kan ek nie veel onthou nie.  

Die volgende oggend sien ons die pous van naderby toe hy onaangekondig die vrouens wat uit die bus gered is (ja, dieselfde bus wat niemand wou koop nie) in die hospitaal besoek.  Vriendelike omie, Johannes Paulus die Tweede.  

Toe ons daardie middag laat ons laaste videobande na Ladybrand se uitsaaitoring toe vat sodat dit per lyn na die SAUK in Johannesburg toe gestuur kan word, is die poskantoor se tegniese man oudergewoonte daar om oop te sluit.  Ek hou nie van die kêrel nie, want hy was elke aand die vorige week aangeklam as hy ons opnames moes versend.  En ‘n gedrinkery staan my mos nie aan nie.

Hy kyk na my, en hy lag sy irriterende laggie.  Ek ruik weer sy drankasem.  

“Jy kan jou dop vat, nè,” grinnik hy spottend.  “En jy kap hom sommer so skoon uit die bottel uit.  Ek mix maar myne!”