WIETS BEUKES MAAK SY RUG STYF TEEN VORSTER EN PW

Wiets Beukes het Piet Cillié in 1977 as redakteur van Die Burger opgevolg en in daardie posisie gedien tot met sy amptelike aftrede in 1990. Voor sy aanstelling by Die Burger was hy assistentredakteur van Die Volksblad en ook van Die Burger.

Sy lang loopbaan in die joernalistiek het reeds in 1949 by Die Volksblad begin.

Ná sy uittrede as redakteur, was hy betrokke by die skryf van Naspers se geskiedenis. Onder sy hand het Oor grense heen en Boekewêreld verskyn.

Naspers se hoogste eerbewys vir individuele prestasie, die Phil Weberprys, is aan hom toegeken asook die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Markus Viljoen-medalje, uit erkenning vir sy werk in die Afrikaanse joernalistiek.

Beukes het dus ‘n voortreflike loopbaan gehad, maar was nie dikwels in die kollig nie. Was hy ‘n stille instandhouer van die band tussen pers en party? ‘n Buitestander mag dalk so glo — met ‘n mate van reg.

Maar in 2015, lank na sy aftrede, skryf hy oor ‘n oproep wat hy van dr. Kosie Gericke, destydse kerkleier, visekanselier by die Universiteit van Stellenbosch én lojale vriend van eerste minister John Vorster, ontvang het. Gericke was ontsteld oor ‘n hoofartikel in Die Burger wat kritiek uitgespreek het op dr. Connie Mulder se houding jeens die Inligtingskandaal.

Hoe kan Die Burger ‘n geliefde seun van die land so te na kom? het Gericke glo gevra. Maar Mulder het die volgende dag as minister bedank en is later uit die party. Hoewel stadig ut die blokke om die storie te jaag, het Naspers se koerante op die ou ent reg geoordeel.

Beukes vertel voorts hoe John Vorster, wat intussen as premier bedank het en staatspresident geword het, hom laat kom het vir ‘n gesprek — nie vir koekies en tee nie, voeg Beukes skalks by.

Toe kom Vorster by die punt: “Ek word gejag en nou wonder ek watter hulp ek van Die Burger kan verwag?” Waarop Beukes geantwoord het dat Die Burger nie die misbruik van staatsgeld kan goedpraat nie.

“En wat van ons ooreenkoms dat ons bymekaar sal staan? Waar is die kameraderie wat al die jare gegeld het?” vra Vorster. Hy het waarskynlik die talle sogenaamde scoops wat hy aan Alf Ries gegee het in die oog gehad. Of die troue ondersteuning wat Die Burger in verkiesingstye aan die Nasionale Party gegee het.

Maar Beukes hou vol: Daar is geen meriete in hierdie saak nie — daar is oneerbaar opgetree. ‘n Bitter Vorster het toe Die Burger daarvan beskuldig dat hy die dolk in hom gesteek en gedraai het.

En so is Beukes daar weg. Vorster het spoedig ook as staatspresident bedank en sy laaste jare as verbitterde man deurgebring. Hy wou sy gewese kollegas nie eens by sy begrafnis hê nie.

Die deur het vir PW Botha oopgegaan om eerste minister en later uitvoerende president te word. Ook tussen Botha en Die Burger was daar vir lank ‘n noue band.

Die koerant en Botha se verhouding sou egter ook mettertyd versuur. Beukes vertel dat Botha “lang, aggressiewe telefoonoproepe” na hom gemaak het en later alle kontak verbreek het — totdat Botha hom op ‘n dag in die parlement opmerk en na die koffiekamer nooi.

Daar vra PW: “Vandag wil ek weet, met watse spel is jy besig?” PW se vrou het juis die oggend weer gevra: “Wat is met Die Burger aan die gang?”

Beukes het enige “spel” ontken, waarop Botha woedend geword het. Hy het, aldus Beukes, op hom geskreeu dat hy beterwetig is.

“Wil jy Suid-Afrika se eerste minister wees?” het Botha gevra en sy kantoorsleutel dramaties op die tafel neergesit. “Hier’s jou kans. Vat daardie sleutel!”

Toe Beukes opmerk dat dit tog belaglik is, was Botha éérs kwaad. “Sê jy ek is belaglik?” het hy gevra.

Die koffie het onaangeraak gebly en Beukes is terug kantoor toe. Botha het die twee vorige redakteurs van die koerant, Phil Weber en Piet Cillié, gebel en geëis dat hulle van Beukes ontslae raak. Wat hulle natuurlik nie gedoen het nie.

Maar Botha se parlementêre span het hom uiteindelik so onwelkom laat voel dat hy bedank het en FW de Klerk president geword het. Daarin het Die Burger, met Beukes as redakteur, tog ‘n rol gespeel.

Johannes Froneman

Dank aan Hennie van Deventer vir die verskaf van die hooffoto. Daarop verskyn Wiets Beukes regs, David de Villiers middel en Willem Wepener links. De Villiers was besturende direkteur van Naspers en Wepener redakteur van Rapport en van Beeld.

Lees Beukes se volledige relaas by https://www.netwerk24.com/Netwerk24/Vorster-en-Botha-Laaste-indrukke-20150217