VOORTREKKERS SE EEUFEES IS IN 1938 MET MENING GEDEK

In 1938 is ‘n simboliese ossewatrek ter herdenking aan die Voortrekkers se trek na die noorde gehou. Waens het uit verskillende plekke in die land na Pretoria gereis waar die hoeksteen van die Voortrekkermonument op 16 Desember gelê is.

Die Voortrekkers is ook deur kultuurfeeste langs die pad gedenk en die media (radio, koerante en tydskrifte) het enorme dekking daaraan gegee.

Die radio was nog ‘n relatief nuwe medium met die SAUK wat eers in 1936 gestig is en die aparte Afrikaanse diens wat eers in 1937 begin uitsaai het. Die daaglikse dekking van die trek het egter duisende laat radiostelle aanskaf en die medium ‘n groot stoot vorentoe gegee.

Regstreekse uitsendings van boeremusiek was gewild terwyl die omroeper Anton de Waal ‘n huishoudelike naam geword het.

Die vraag kan gevra word of die media die entoesiasme vir die trek aangewakker het en of die media bloot aangevoel het dat dit iets was wat hul lesers en luisteraars geroer het. Dit was waarskynlik iets van albei.

Feit is dat die ossewaens oral in die land deur groot skares ingewag is — selfs in die Engelse Durban. Na aanleiding van die trek is talle strate landwyd hernoem tot Voortrekkerweg. (Sommige het later Nelson Mandelaweg geword.)

Omdat die Tweede Wêreldoorlog so kort na die opwinding van die 1938-trek gevolg het, het die emosionele opwelling van Afrikanertrots nie dadelik in verkiesingsuitslae gereflekteer nie. Maar sommige meen die (Herenigde) Nasionale Party se oorwinning in 1948 se algemene verkiesing sou kwalik moontlik gewees het sonder die Voortrekkereeufees — en die media se dekking daarvan. — Johannes Froneman

Hier is enkele voorbeelde van die tydskrifte en koerante uit 1938:

Hierdie uitgawe van Die Huisgenoot was waarskynlik die topppunt: ‘n dik spesiale uitgawe propvol artikels oor alle fasette van die Voortrekkers se denke en lewe.

Ander voorbeelde is dié van Die Brandwag.

Mans het voor die voet baarde gekweek, met wedstryde vir die “beste” baard.

Advertensies het by die feestema aangesluit.

Koerante soos Die Transvaler en Die Burger (met Schalk Pienaar as verslaggewer op trek) het daagliks dekking aan die eeufees gegee.

‘n Treffer uit 1938 was Hendrik Susan se Die ossewa. Luister daarna op YouTube: https://www.youtube.com/watch?v=KKo7bMJLlvY