VOORBLAAIE VOOR EN NA ‘BEELD’ SE KOMS 50 JAAR GELEDE

Koerantvoorblaaie bly die plek waar historiese momente vasgelê word. Daarom deel Beeld vanjaar (2024) in sy 50ste bestaansjaar tereg allerlei opspraakwekkende voorblaaie sedert 1974. Ons wys hier ‘n paar van die voorblaaie waarmee Beeld nuus in volkleur gebring het, gevolg deur enkele voorblaaie wat voor Beeld se koms die aandag in ander koerante getrek het. Die verskil is nogal dramaties.

Om tien nuusgebeure te kies uit byna vyf dekades se koerante is bra moeilik. Jy gaan natuurlik sommige moet uitlaat. En nie alle groot koerantvoorblaaie is beskikbaar nie. Mot, roes, water en mense se agterlosigheid eis sy tol. Maar wat wel beskikbaar is, vertel ‘n storie soos min.

Koerante het vir ‘n groot deel van die 20e eeu die groot nuus op die voorblaaie aangekondig het. Maar ook nie altyd nie. Koerante het tot goed in die nuwe eeu net advertensies op die voorblad gehad.

Radio het wel ná die stigting van die SAUK in 1936 en die daarstelling van ‘n eie nuusdiens in 1950 sy rol gespeel om die werklik groot gebeure onmiddellik aan luisteraars te bring, maar mense wou dit op papier sien.

Sedert 1976 het televisienuus ons voorkamers binnegekom en met  dramatiese beeldmateriaal ons vasgenael gehou. Maar wat sê die koerant? Watter foto’s is op die voorblad? En hoe lyk die fotoblaaie waarna ons rustig kan kyk? Selfs uitknip en bêre. Die digitale media het nie hierdie ritueel vervang nie.

Toe Beeld in 1974 op die toneel verskyn, was koerante in volkleur nog glad nie die normale nie. Dié wat in die voorafgaande jare verskyn het, was bra vaal. Tog het die ou loodprosesse dramaties voorblaaie opgelewer.

Teen hierdie agtergrond deel ek ‘n paar grotes, in chronologiese volgorde. Die gebeure lê vêr in die verlede en word seker nie meer in skoolgeskiedenisboeke genoem nie. Maar sommige lesers sal hulle met die eerste oogopslag herken. Dat sal vele herinneringe laat laat opwel. Hierdie koerante het die weg gebaan vir latere koerante, soos Beeld om met nuwe tegnologie en professionaliteit die nuus aan lesers te bring.

In 1930 verskyn die laaste uitgawe van Ons Land, waarby De Zuid-Afrikaan ingelyf was. Dit was  ‘n koerant met diep wortels in die 19e eeu. Groot nuus is nog in die eerste dekades van die eeu op die voorblad geplaas nie. Hierdie voorblad trek dus vandag die aandag omdat dit destyds nie aandag met nuus getrek het nie.

Hier is nou ‘n tiental gebeure wat die koerante se voorblaaie gehaal het:

1938. Die Transvaler berig oor die emosionele Voortrekker-eeufees wat by Monumentkoppie sy hoogtepunt bereik het. Die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument het op 16 Desember 1938 plaasgevind.

1945. Die Amerikaanse atoombom val op Hirosjima in Japan en rig ondenkbare verwoesting aan. Die eerste berigte het nie betekenis van die bom gesnap nie. Dit het effektief die Tweede Wêreldoorlog beëindig en die tydvak van Koue Oorlog ingelui.

1947. Die eerste Afrikaanse Sondagkoerant, Dagbreek, verskyn op die  toneel. Of was Die Weekblad eerste? Op die voorblad verskyn Dagbreek se naam prominent en onderaan in klein druk: Waarby ingelyf is Die Weekblad. Dit was (vermoedelik) die gevolg van twee maatskappye wat gelyktydig die mark wou betree en toe noodgedwonge saamgewerk het.

1948. Die Herenigde Nasionale Party wen die algemene verkiesing met die hulp van die Afrikanerparty. So kom dr. D.F. Malan aan die bewind en word ‘n beleid van rasseskeiding toenemend toegepas. Dit baan ook die weg vir republiekwording.

1949. Die Voortrekkermonument in Pretoria word ingewy. Honderde duisende mense het saamgetrek by dié simbool van Afrikanernasionalisme.

1960. Die dood van ‘n aantal mense in swart townships het plaaslik en oorsee tot groot reaksie gelei en die apartheidregering van dr. H.F. Verwoerd onder groot druk geplaas. Dit is voorafgegaan deur die moord op polisiemanne in Durban (links). Bo: 1961. Die Republiek van Suid-Afrika kom tot stand. Dit is in 1960 voorafgegaan deur ‘n referendum onder wit kiesers en Suid-Afrika se uittrede uit die Britse Statebond.


  

1966. Waarskynlik Suid-Afrika se skokkendste nuusgebeurtenis ooit. Die moord op die eerste minister in die Volksraad was ondenkbaar. Die nuus het die land met ‘n slag getref en ook internasionaal aandag getrek.

Links onder: 1969. Die eerste mense land op die maan. Die nuus het mense wêreldwyd aangegryp en voor televisiestelle vasgenael gehou — behalwe in Suid-Afrika, waar dié medium eers in 1976 bekend gestel is. Die bladsye is spesiaal in kleur laat druk, iets wat hoogs uitsonderlik was.

Regs onder: 1970: Die eerste uitgawe van Rapport.

In die 1970’s het koerante die een na die ander moderne rolperse gekry wat volkleurdrukwerk die normale gemaak het. Beeld se koms in 1974 het Perskor aangepor om ook een vir Die Transvaler aan te skaf. Dié koerant was die eerste wat in volkleur begin druk het en die nuwe era ingelui het. Die Transvaler het egter die stryd teen Beeld verloor en het in 1993 finaal gesluit.