Tydskrifverhale is al meer as ‘n eeu ‘n belangrike element in Afrikaanse tydskrifte. Dit geld ook die enigste oorlewende gesinstydskrif, Huisgenoot. Tog soek jy verniet na verwysings na verhale in die pragtige gedenkuitgawes wat met die blad se negentigste en honderdste verjaarsdae gepubliseer is. Wel is aparte versamelbundels gepubliseer.
Vervolgverhale en kortverhale was in ‘n stadium ‘n groot trekpleister. Dit was veral voordat televisie in 1976 sy verskyning in Suid-Afrika gemaak het en sepies soos Egoli, Sewende Laan en Binnelanders die behoefte aan melodrama asook aksie- en liefdesverhale grootliks gevul het. Maar daar was steeds plek vir radioverhale en voorlesings uit boeke.
Daarbenewens het ligte leesstof, ook in die vorm van hygromans, in die jongste jare Afrikaanssprekendes opnuut in eie taal laat lees. Opvallend genoeg het kortverhale (twee bladsye, illustrasie ingesluit) nie heeltemal uit Huisgenoot verdwyn nie. Want mense hou van stories.
Teen hierdie agtergrond is die oudjoernalis Johannes de Villiers se opmerkings ter sake:
“Iets waarvan gans te min Afrikaanse mense weet, is die wonderlike tradisie van pulpfiksie wat in die 1940’s en 1950’s in Die Huisgenoot, Die Brandwag en ander tydskrifte verskyn het. Baie mense dink met heimweë terug aan fotoboekies, maar weet nie van die ewe vermaaklike kortverhale wat (soms ook met lieflike illustrasies) in meer bekende tydskrifte verskyn het nie.
“Die verhale was alles oorspronklike Afrikaanse werke wat oor verbode liefde, aggressiewe ruimtewesens of meisies wat in die bos verdwaal, gegaan het. Party was futuristies of het gegaan oor spioene wat teen gevaarlike kommunistiese spioene baklei (“Die Rooi Dag kom Nader” is een van my gunstelinge). “
De Villiers verwys ook na die illustrasies, wat prominent lesers se aandag getrek het. Hier is ‘n aantal voorbeelde van hoe hierdie tydskrifverhale aangebied is. Dit sluit in ‘n Agatha Christie-vertaling, ‘n ruimtedrama, stories teen die agtergrond van die koue oorlog en die grensoorlog, asook spanningsverhale, gesinsdramas en talle liefdesverhale. (Oor strokiesprente en fotoverhale skryf ons afsonderlik.)
In 1941 verskyn een van Agatha Christie se beroemde verhale as vervolgverhaal in Die Huisgenoot.
Die verhale is later meestal deur plaaslike skrywers, soos hierdie een deur die gewilde M. Strydom. (Die Huisgenoot, 26 Mei 1961. Kunstenaar onbekend.)
Die 1960’s is gekenmerk deur spioenasieflieks. F.A. Venter skryf in hierdie tyd onder die skuilnaam Louwrens de Kock ‘n vervolgverhaal vir Die Huisgenoot oor ‘n soort Boere- James Bond, Rocco Naudé.
In 1966, toe Die Huisgenoot vyftig jaar oud geword het, verskyn hierdie kortverhaal van die latere Hertzogpryswenner Hennie Aucamp. Daarmee het hy die tweede prys in ‘n verhalewedstryd gewen.
Hierdie verhaal uit die Anglo-Boere-oorlog is in 1968 deur Die Huisgenoot gepubliseer.
Die volgende jaar (1969) kondig Die Huisgenoot se konkurrent, Ster, ‘n nuwe (verwerkte) vervolgverhaal deur ‘n Duitse skrywer só aan:
In dieselfde uitgawe van Ster verskyn ‘n aflewering van ‘n vervolgverhaal deur Basil Stols. Hy het gereeld vir Ster geskryf. Paul C. Venter, wat later die skrywer van verskeie hoogs suksesvolle TV-reeks was (soos Konings) het ook gereeld vir Ster verhale geskryf.
Nog een van die verhale in Ster, sterk oor twee bladsye aangebied met ‘n treffende illustrasie.
In 1970 was verhale nog baie gewild in Die Huisgenoot met F. (Francois) Lategan se meegaande illustrasies ‘n belangrike komponent. Hier is twee.
Jan Rabie se ruimtevervolghaal, Die hemelblom, verskyn in 1971.
Nadat hy as mediese pionier beroemd geword het, het prof. Chris Barnard (soms in samewerking met ‘n ervare skrywer) ‘n fiksieskrywer geword. Hier is ‘n aflewering in Huisgenoot van 16 September 1977. Die illustrasie is gedoen deur Fred Mouton, Die Burger se gewilde spotprenttekenaar.
In ‘n poging om Huisgenoot nie téén televisie te posisioneer nie, maar aansluiting by die nuwe medium te vind, het die redakteur, Tobie Boshoff, vir die bruin skrywer Adam Small genooi om ‘n vervolgverhaal in dieselfde trant as die gewilde TV-reeks How green was my valley te skryf. Niel Hammann het Boshoff opgevolg en die TV- en glansgedagte tot sy uiterste ontgin. Daarin het verhale ‘n mindere rol gespeel.
Teen 1992 was die “nuwe” Huisgenoot onder Hammann goed gevestig met sy aanbod van sensasie, glans en leesbare stories. Tog is verhale gepubliseer, soos hierdie een deur die toe nog onbekende Deon Meyer.
Verhale bly deel van Huisgenoot. Hierdie verhaal het in Julie 2021 verskyn, maar dan op twee bladsye in plaas van die vroeëre gebruik om (langer) verhale oor verskeie bladsye te laat loop.