TYDSKRIFTE KOM EN GAAN: ‘BRANDWAG’, ‘FYN GOUD’, ‘STER’, ‘VROUEKEUR’, ‘SCOPE’ …

Hier kyk ons na van die Afrikaanse tydskrifte wat deur die jare vir ‘n tyd lank ‘n gewillige mark gevind het, maar later, soms eers na dekade, hul deure moes sluit. Daaronder tel Die Brandwag en Die Boerevrou en meer onlangse slagoffers soos Vrouekeur en Rooi Rose. (Laasgenoemde het egter herleef. Sien aparte artikel.)

Die Brandwag het deur die jare in ten minste drie gedaantes en gepubliseer deur verskillende eienaars verskyn. So was die eerste uitgawe op Uniedag (31 Mei 1910) onder redakteurskap van dr. W.M.R. Malherbe en Gustaf Preller. Teen 1922 staak publikasie en tree Die Huisgenoot selfs sterker na vore as gesinsblad met ‘n sterk opvoedkundige inslag.

In die jare 1929-1933 verskyn Die Nuwe Brandwag, maar dit was ‘n literêre blad. Later, in 1937, verskyn Die Brandwag weer – eers as bylae tot Die Vaderland en spoedig as vrystaande tydskrif onder Otto Schwellnus. Hy word opgevolg deur later bekende joernaliste soos A.M. van Schoor en Dirk Richard. Richard beweer dat die blad onder sy redakteurskap die grootste Afrikaanse tydskrif in die land was.

Soos alle ander Afrikaanse tydskrifte is die simboliese eeufees-ossewagtrek van 1938 by herhaling met artikels oor die Voortrekkers gevier.

Nog ‘n uitgawe uit 1938 en ‘n uitgawe met volkleurbuiteblad uit 1964.

Links: In die 1970’s het Die Brandwag onder Johan Fourie weer herleef, maar ondanks ‘n sterk populistiese inslag, nie lank bestaan nie. Hy het ook Pronk begin. (Kyk aparte artikel in die afdeling By Nabaat.)

Ook ander titels het Huisgenoot en Die Brandwag in die destydse middelmootmark aangevat: Naweek (1940-1950), Die Ruiter (1947-1948) en Fleur (1946-1948). (Brandwag is later by Fleur ingelyf. Fleur het voortgeleef as bylae tot Dagbreek en is later by Rooi Rose ingelyf.)

Fleur was in die 1960’s ‘n gratis tydskrifbylae tot Dagbreek. Die voorblad kontastreer sterk met die een uit 1947 en weerspieël die toenemend populistiese aard van die koerant in sy stryd teen Die Beeld.

Huisgenoot met sy “kuise en ingehoue styl” (aldus Johan Spies) het in die na-oorlogse jare ook uit ‘n meer uitdagende front opposisie gekry: populistiese blaaie soos Hy en Sy, Die Beste, Romantiek en Fantasie het kortliks op die toneel verskyn, maar veral Fyn Goud, wat as “’n orkaan van sensasie” nogal in Huisgenoot geadverteer is, het van 1952-1961 die smaak van lesers na die vlakker kant getrek. Dit het Huisgenoot genoop om aanpassings te maak en die “gewone lesers” meer in ag te neem wat eerder ontspanningsleesstof as “opbouende” leesstof verlang het. (Kyk ook inskrywings oor Huisgenoot en Insig.)

Die Boerevrou en Die Huisvrou

Die eerste Afrikaanse vrouetydskrif, Die Boervrou, verskyn van Maart 1919 tot Desember 1931 onder redakteurskap van Mabel Malherbe. M.E.R. (Miems Rothmann) was in die vroeë 1920’s ‘n redaksielid voordat sy na Die Burger as vroueredaktrise gegaan het. Die blad het ‘n sterk opvoedkundige, kulturele en letterkundige inslag gehad. Die uitgawe met hierdie buiteblad het in Mei 1926 verskyn.

Die Huisvrou maak in 1922 sy verskyning en bly vir meer as vyftig jaar op die mark, merkwaardig gegee die feit dat dit nie aan een van die bestaande Afrikaanse persgroepe behoort het nie en Naspers (nou Media24) se Sarie (Marais) reeds in 1949 tot stand gekom het. Minnie Donavan (née De Smidt) word beskou as die eerste redakteur. Later, in die jare 1943 tot 1954, dien Audrey Blignault as redakteur. Hierdie voorblad dateer uit 1968.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is huisvrou2-768x1024.jpg

Naweekpos

Naweekpos is in 1954 deur ds. Norval Geldenhuys gestig met Jan Scarnell as eerste redakteur. Ds. Geldenhuys was publikasiehoof van die NG Kerk-Uitgewers. Die blad het ‘n sterk Christelike inslag gehad en het Berta Smit en Audrey Blignault in ‘n stadium onder sy redaksielede getel. In 1970 smelt Naweekpos met Die Voorligter (nou genoem Lig) saam.

Fyn Goud, Ster, Keur en Vrouekeur

Die tydskrifte Keur asook Fyn Goud is in die 1950’s deur Blaar Coetzee begin. Hy het ervaring as joernalis by Die Suiderstem opgedoen en was ook aktief in die politiek. Volgens ‘n Wikipedia-inskrywing het hy Hint Hyman, latere grootbaas van Republikeinse Pers, gevra om Keur oor te neem. Later het die Hymans ook Fyn Goud by Coetzee gekoop. “Die gekombineerde tydskrif, Keur en Fyn Goud, het egter nie goed gevaar nie omdat dit te ‘gewaagd’ vir sy destydse lesers was. Later is die naam verander na Ster, maar Keur, wat ’n tyd lank deel was van Ster, het in 1967 weer ’n selfstandige titel geword wat as Vrouekeur voortgeleef het.

Fyn Goud se verhale het veel melodrama belowe.

Ster was, soos vorige manifestasies van Die Brandwag, ‘n konkurrent vir (Die) Huisgenoot. Die blad het behoort aan Republikeinse Pers, wat in die besit was van Boet en Hint Hyman en op die rug van die sukses van fotoboekies soos Mark Condor en Ruiter in swart, ‘n sterk tydskriftemaatskappy in Durban opgebou het. Ster het egter swaar teen Huisgenoot geleef (wat self in daardie jare gesukkel het) en is laat 1969/vroeg 1970 verkoop aan ‘n maatskappy wat nou verbonde was aan die Herstigte Nasionale Party (HNP). Vroeër is heersende sentimente van die meeste Afrikaners in ag geneem om lesers te lok.

Die tydskrifbylae Ster Aktueel met artikels waarin  Afrikanernasionaliste soos adv. Hans Strijdom (ontslape eerste minister) en dr. Albert Hertzog (leier van die HNP) aangeprys is. Die HNP het nie goed gevaar in die 1970-verkiesing nie en die blad het nie lank voortbestaan nie.Hier is ‘n uitgawe waarin dr. Piet Meyer, lank voorsitter van die SAUK en medewerker van Hertzog, na vore gestoot is. Meyer het egter nie die HNP in die openbaar ondersteun nie.

Rooi Rose

Rooi Rose is in 1942 gestig en word in 2020 met hierdie uitgawe gesluit. Die blad herleef egter in 2021. (Kyk aparte artikel.)

Rooi Rose se stalmaat Vrouekeur (voorheen as Keur bekend) het ook in 2020 gesneuwel (en later weer herleef as onafhanklike tydskrif). Ná 2020 het net enkele tydskrifte van Republikeinse Pers se eens florerende publikasies oorgebly. RP is vroeër deur Perskor oorgeneem, wat in die 1990’s boedel oorgegee het. So kom die tydskrifte in Caxton se besit, wat, soos Media24, nie langer verliesmakende publikasies kon dra nie.

Die fotoboekie Kyk was een van die ankers in Republikeinse Pers se fotoboekieryk. Dit is ook gebruik om Keur in te adverteer.

Perskor het die kontrak van die SAUK gekry om die blad Radio en TV Dagboek te publiseer. Dit het volle programskedules bevat. Huisgenoot het eweneens die programme gepubliseer op grond van die beskikbare inligting. Dit het tot ‘n geding gelei omdat die SAUK gemeen het hy het kopiereg op die programskedules. Uiteindelik het Huisgenoot se standpunt geseëvier en het Radio en TV Dagboek ook nie lank staande gebly nie. (Meer inligting oor hierdie tydskrif en die botsing met Huisgenoot word ingewag.)

Personality en Scope

‘n Groot aantal Engelse tydskrifte het ook deur die jare gesluit, onder meer Personality, Style, Femina en Scope. Laasgenoemde was bekend vir sy (vir die tyd) gewaagde foto’s van bikinimeisies. Dit het in die 1990’s opposisie gekry van voorheen verbode tydskrifte soos Playboy en Penthouse, en sluit. Scope was ook ‘n publikasie van Republikeinse Pers en later Perskor. (Kyk ook aparte artikel oor Scope.)

To the point

Die destydse Department van Inligting het onder leiding van die sekretaris, Eschel Rhoodie, en die minister, Connie Mulder, ‘n groot aantal geheime projekte begin om Suid-Afrika se beeld te verbeter. Een daarvan was die tydskrif To the point, wat plaaslik uitgegee is as ‘n tipe Time, dus ‘n nuustydskrif.

Hierdie en ander projekte is in 1978 en 1979 finaal deur kommissies van ondersoek aan die kaak gestel — nadat koerante soos die Rand Daily Mail, Sunday Express en The Star reeds stuk vir stuk van die geheime projekte begin oopkrap het.

Lees meer:

Lees meer oor Die Boervrou in My beskeie deel deur M.E.R. (Tafelberg, 1972), J.C. Steyn se biografie Die 100 jaar van M.E.R. (Tafelberg, 2004) en die Afrikaanse Wikipedia.

J.J. Spies se Tydskrifte in ‘n ander wêreld (in die boek Oor grense heen, onder redakteurskap van W.D. Beukes, uitgegee deur Nasionale Boekhandel, 1992). Kyk ook die inskrywing oor Huisgenoot.

C.T. Bossert se MA-verhandeling,  Die kultuur-historiese betekenis van Die Brandwag (1910-1922).  (Pretoria: Universiteit van Pretoria.)

Lees meer oor P.J. Meyer in sy boek Nog nie ver genoeg nie (Perskor, 1984).

C. Boshoff bespreek in 2009 ‘n aspek van vrouetydskifte se inhoud onder die titel Die aanbieding van politiek as nuusonderwerp in Sarie, Rooi Rose en Fair Lady (1994-2005) (MA, Noordwes-Universiteit, 2009).

Rooi Rose se hantering van nuwe uitdagings word bespreek in Clive Vanderwagen se M-skripsie, The effect of new media on print magazine journalism in South Africa: an examination of the case study of Rooi Rose magazine’s strategy to encourage user engagement online (Wits-Universiteit, 2014).

Die geskiedenis van Scope word saamgevat in J.D. Froneman se artikel The rise and demise of Scope magazine: a media-historical perspective. Ecquid Novi, 32(1):49-65.

Kyk ook die artikel oor die Inligtingskandaal in die afdeling Groot Nuus.