Die eerste Transvaler verskyn op 1 Oktober 1937 onder redakteurskap van dr. H.F. (Hendrik) Verwoerd, latere eerste minister van die Republiek. Soos hierdie eerste voorblad rapporteer, was daar groot geesdrif onder Afrikanernasionaliste in die noorde vir die nuwe koerant.
In dié tyd was die “smelterregering” van genl. J.B.M. Hertzog en genl. Jan Smuts stewig in die saal met ondersteuning van onder meer Die Vaderland.
Die Transvaler het sterk vir die Afrikanersaak in Johannesburg, Pretoria en elders opgekom en ‘n republiek vir Suid-Afrika gepropageer. Sy politieke invloed het gegroei nadat die Nasionale Party in 1948 die bewind oorgeneem het.
Die eerste Transvaler het in 1937 verskyn en het só gelyk:
Die Transvaler het die Nasionale Party van dr. D.F. Malan en adv. J.G. Strijdom ondersteun en is hartlik deur Nasionaalgesindes verwelkom. Die eerste hoofredakteur van Die Transvaler, dr. Hendrik Verwoerd. Die foto het in die eerste uitgawe van die blad verskyn.
Verwoerd het nie gehuiwer om sterk standpunte in te neem nie. Hierdie artikel oor Jode het nie gehelp om die blad aanvaarbaar te maak vir sakelui nie. Maar Verwoerd was ‘n ideoloog en nie soseer ‘n koerantman nie. Daarvan getuig ook sy besluit om die besoek van die Britse koningsgesin in 1947 te ignoreer.
Die blad was ten eerste ‘n politieke blad en het ‘n rol gespeel in die opkoms van die Nasionale Party in die destydse Transvaal. So berig die blad oor die groot saamtrek in 1938 op die terrein waar die Voortrekkermonument gebou sou word.
Onder: Die Transvaler was ‘n kampvegter vir Afrikanerwerkers.
Die 1948-oorwinning van die Nasionale Party was vir die blad die vervulling van ‘n belangrike ideaal.
Die dood van sy eerste redakteur was vir Die Transvaler ‘n besonder bitter dag.
Die eerste maanlanding is met volle besef van die oomblik deur Die Transvaler gedek.
Die druk waaronder die blad verkeer het, kan dalk afgelei word uit die tipografiese veranderinge wat telkens toegepas is. Nie al die veranderinge was suksesvol nie.
Intussen het Die Transvaler sy bestaan met verskeie bylae en ‘n boek gevier.
In 1971 is Voortrekkerpers, die eienaar van Die Transvaler, deur Marius Jooste se nuwe maatskappy, Perskor, ingesluk. Daardeur is die Afrikaanse koerante in die noorde van die land almal onder Perskor se vaandel beland.
In 1974 publiseer Naspers vir die eerste keer ‘n dagblad in die noorde van die land. Beeld het in regstreekse mededinging met Die Transvaler (en die drie ander Perskor-dagblaaie: Oggendblad, Die Vaderland en Hoofstad) getree. Na ‘n moordende sirkulasiestryd kom aan die lig dat Perskor se koerantsirkulasiesyfers kunsmatig verhoog is. Dit blyk dat Beeld eintlik veel beter as Die Transvaler gevaar het as wat die syfers in daardie stadium aangedui het.
Maande na die skoknuus oor die gekul met sirkulasiesyfers, bedank die redakteur van Die Transvaler, dr. Willem de Klerk. Hy is vroeër juis ingebring om leiding te neem in Die Transvaler se stryd teen Beeld en het wel ‘n bepaalde status aan die blad gegee. Maar dit was nie genoeg om Beeld terug te hou nie. De Klerk het later Rapport se redakteur geword.
Perskor moes ‘n skikking met Naspers bereik en ontruim noodgedwonge die Afrikaanse oggendmark noord van die Vaalrivier. Die Transvaler het daarna as middagkoerant in Pretoria verskyn.
Die Transvaler, nou sonder die “Die”, het meer as sy kwota redakteurs gehad, veral in die latere jare. Die politieke verskuiwings van die 1980’s en 1990’s het die blad ook genoop om telkens opnuut rekenskap te gee van waar hy staan.
Nog ‘n teoloog kry (naas dr. Willem de Klerk) die redakteurskap van die blad: dr. Gerrit Veldhuizen.
In 1993 sluit die blad met hierdie voorblad waarop die dood van dr. Andries Treurnicht aangekondig word.
Met die sluiting van die Transvaler kom Perskor onmiddellik met ‘n Pretoriase weekblad, Noord-Transvaler Metro, op die mark. Die blad se naam verander later na Metro Weekblad en sluit in 1997. Van die Transvaler se ou redaksielede het by Metro ingeval, maar die blad was ‘n gemeenskapskoerant en geen ware opvolger van die Transvaler nie.
Ondanks goeie joernalistieke inisiatiewe het Metro nie die mas opgekom nie.
Lees meer…
Wikipedia se artikel oor Die Transvaler gee ‘n goeie oorsig van die koerant se geskiedenis.
Piet Meiring se Vyftig jaar op die voorblad (Perskor, 1979) en Dis my storie dié (PMP, datum onbekend).
Moedswillig die uwe deur Dirk Richard (Perskor, 1985).
Muller, W.A. 1973. Dr. H.F. Verwoerd se joernalistieke bydrae tot die republikeinse idee. Ongepubliseerde MA-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Pretoria.
Die hoofstuk Sirkulasiestryd deur J.J.J. Scholtz in Oor grense heen (redakteur: W.D. Beukes, Nasionale Boekhandel, 1992).
Lees meer oor die stryd tussen Transvaler en Beeld in Tussen bid en droom deur Dirk Richard (Constantia, 1986), die hoofstuk Beeld deur J.J.J. Scholtz, Tim du Plessis en A.S. de Beer in Oor grense heen (redakteur: W.D. Beukes, Nasionale Boekhandel, 1992) asook
Chris Louw se Boetman en die swanesang van die verligtes (Human & Rousseau, 2001).
Johannes Froneman en Elvira Woods skryf in die artikel Die voortsetting van Die Transvaler as die Noord-Transvaler Metro, sy ondergang en die einde van Perskor op Litnet: https://www.litnet.co.za/die-voortsetting-van-die-transvaler-as-die-noord-transvaler-metro-sy-ondergang-en-die-einde-van-perskor/