TENDENSE IN DIE DIGITALE MEDIA

Deur Susan Lombaard

Uitvoerende hoof van Maroela Media

Die Covid-pandemie het ʼn beduidende impak op Suid-Afrikaanse én Afrikaanse media gehad, net soos op enige ander industrie. In gedruktemediasyfers is dit duidelik dat die pandemie die afname in sirkulasiesyfers van beide koerante en tydskrifte laat versnel het. Van kwartaal 4 in 2020 na kwartaal 4 in 2021 was daar ʼn daling van 11,9% in sirkulasiesyfers van die grootste Afrikaanse koerante (dag- en weekblaie), met ʼn verdere 13%-daling in sirkulasie van kwartaal 4 in 2021 na kwartaal 4 in 2022.

Dié duidelike afwaartse trajek was aanvanklik tydens die pandemie minder sigbaar in tydskrifte, maar het in die afgelope jaar dieselfde tendens begin toon: laasgenoemde waarskynlik weens besluite wat tydens die pandemie geneem is oor aspekte soos tydskrifte se besigheidsmodel, frekwensie en rakprys, wat aanvanklik ten doel gehad het om tydskrifte se leeftyd te verleng, maar wat – soos verwag kon word – moontlik die skrif aan die muur vir baie publikasies was (as na ABC-syfers gekyk word). Slegs enkele tydskrifte het hul gedrukte aanbod betyds en suksesvol vervang met ʼn digitale aanbod.

In digitale media is ʼn interessante neiging tydens die Covid-pandemie waargeneem. Net voor uitbreking van die pandemie was daar in Februarie 2020 ʼn skielike, drastiese val in lesersyfers op digitale platforms: In Januarie 2020 was die totale aantal unieke lesers op die grootste Suid-Afrikaanse nuuswebwerwe gesamentlik sowat 50,3 miljoen (Platforms ingesluit: businesslive.co.za, citizen.co.za, dailymaverick.co.za, dailysun.co.za, enca.com, ewn.co.za, iol.co.za, maroelamedia.co.za, netwerk24.com, news24.com, sowetanlive.co.za, thesouthafrican.com en timeslive.co.za. Syfers: Narratiive.) 

Hierdie was min of meer in lyn met die gemiddelde aantal unieke maandelikse digitale lesers in die voorafgaande maande), maar in Februarie 2020 val dit na net ongeveer 47,7 miljoen – sowat 3,6 miljoen Suid-Afrikaners wat skielik skynbaar die nuus vermy met die pandemie wat internasionaal reeds verwoesting saai en ʼn wolk van onsekerheid oor SA gooi. Dié syfer skiet egter die volgende twee maande die hoogte in toe Covid-19 Suid-Afrika tref: In Maart lees sowat 71 miljoen Suid-Afrikaners hul nuus digitaal, en in April ongeveer 74,5 miljoen. Digitale lesers bereik ʼn hoogtepunt van alle tye in Januarie 2021, met 74,85 miljoen Suid-Afrikaanse digitale nuuslesers.

Vir die volgende ses maande wissel digitale lesersyfers drasties van maand tot maand soos die golwe van die pandemie en nuus rondom inperkings kom en gaan, totdat dit in die tydperk September 2021 tot Julie 2022 rondom gemiddeld 56,8 miljoen maandelikse unieke lesers begin stabiliseer. Dis dus redelik veilig om aan te neem dat die aantal Suid-Afrikaners wat tydens die Covid-pandemie hul nuus digitaal begin lees het, sowat 6,5 miljoen is. (IOL, een van die Suid-Afrikaanse digitale nuusplatforms met die meeste lesers, word sedert November 2021 nie meer deur Narratiive gemeet nie. Om steeds IOL se unieke lesers in die groter prentjie in berekening te bring, is daar vir November 2021 tot Julie 2022 gewerk met IOL se gemiddelde aantal unieke lesers vir die tydperk November 2020 tot Oktober 2021, naamlik 8 208 500 unieke lesers per maand.) 

In Afrikaanse media kan dieselfde tendens tydens die pandemie waargeneem word, maar met ʼn baie kleiner toename (in getalle en persentasiegewys) in digitale lesers na afloop van die pandemie: In Januarie 2020 het 4,97 miljoen mense Afrikaanse digitale media gelees, met 5,3 miljoen unieke lesers teen Julie 2022 – ʼn toename van ʼn raps meer as 300 000 lesers (ook beduidend meer as die daling in lesersgetalle van gedrukte publikasies oor dieselfde tydperk).

Die gevolgtrekking: Dis verblydend dat dit uit hierdie syfers duidelik is dat dit nie net voormalige lesers van koerante is wat gedurende die afgelope drie jaar oorgeskuif het na digitale platforms vir hul nuusgebruik nie, maar dat digitale nuusplatforms ʼn paar miljoen nuwe lesers ryker geword het – dít ten spyte van die sterk persepsie wat steeds bestaan dat Suid-Afrikaners hul nuus in koerantformaat verkies. 

In die lig van hierdie syfers is dit belangrik dat digitale mediaplatforms gereed en gerat is vir die vereistes wat uniek is tot digitale media. Die meeste van hierdie uitdagings toon geen verwantskap met die uitdagings van gedrukte media nie, en as gevolg van die leerkurwe wat dit impliseer in ʼn omgewing wat elke dag verander, moet dit met die grootste omsigtigheid en erns hanteer word, sonder dat beweeglikheid en aanpasbaarheid in die digitalemedia-omgewing ingeboet word.

Hierdie artikel is gegrond op ‘n voordrag wat Susan op 13 April 2023 op ‘n joernalistiek-simposium in Centurion gelewer het. Dit is gereël deur Akademia.

Geplaas op 19 April 2023