TAGTIG JAAR VAN AFRIKAANSE RADIO

Johannes Froneman het in 2017 hierdie stuk vir Beeld geskryf by die viering van tagtig jaar van Afrikaanse radio by die SAUK.

Die Burger het die koms van ’n eie Afrikaanse radiodiens op 26 Oktober 1937 onder die volgende opskrifte aangekondig: Baken op Afrikaanse opwaartse pad, Eie radio-sender gister in gebruik geneem en Historiese geleentheid onder intense spanning.

Sedertdien het die radiostasie – onder name soos die Afrikaanse Diens, Afrikaans Stereo, Radio Sonder Grense en nou RSG – die wêreld van Afrikaanssprekendes sterk beïnvloed en help skep. Daarin het sy omroepers natuurlik ’n sleutelrol gespeel. Dis hulle wat oor agt dekades die hart en siel van die Afrikaanse diens van die SAUK was.

Die bestuurders het in ’n vroeëre fase alte graag gedink hulle is die belangrikste (omdat hulle beheer gehad het), maar radiopersoonlikhede het met hul talent, kennis en entoesiasme radio gemaak – dikwels ten spyte van ideologiese en ander beperkende faktore.

Selfs voor 1937 was daar stukkies en brokkies Afrikaanse radio met Klaas Steytler en Pieter de Waal as voorlopers. De Waal se dekking van die simboliese ossewatrek in 1938 het hom beroemd gemaak en die Afrikaanse diens van die SAUK gevestig. Jan Schutte het weer Die Du Plooys van Soetmelksvlei na luisteraars gebring lank voordat ons van televisiesepies geweet het. Later, in die 1960’s, het A.M. van Schoor die volk weekliks in ’n kenmerkende styl (en bry) oor buitelandse sake toegespreek.

Gerhard Viviers het in die spore van Awie Labuschagne en Dana Niehaus na vore getree as die oë en ore van sportliefhebbers en het selfs aan ons verskeie wêreldbokskampioene “besorg” (behalwe dat party toe eintlik verloor het!). Heinrich Marnitz en Jan Snyman het eweneens hul kant gebring, veral voordat TV die primêre bron van sport geword het, en bekende stemme in ons huise geword.

Edwill van Aarde het weer vasvraprogramme gevestig en die program Afrikaanse treffers deel van radio gemaak toe mense gedink het die Groot mars van Aïda is al waarna mense wou luister. (Poskaartinskrywings is sorgvuldig met die hand op hopies geplaas. Aïda het aanhou wen weens die reëls van die spel. Ek dink Edwill het dit uiteindelik verander en dit Afrikaanse treffers gemaak.)

Die stasiehoof Morkel van Tonder het mense soos W.A. (Bill) de Klerk om die mikrofoon gekry en laat deel in kennis en insigte wat van buitengewone belesenheid getuig het. (Dieselfde “oom Bill” was vroeër self omroeper by die Afrikaanse diens in die Kaap.) Diepgang in ’n aangename aanbiedingstyl was altyd te vinde by die immergewilde dominee-joernalis Izak de Villiers. En dan was daar reekse soos Land van my vaders deur daardie meester van melancholie, Dolf van Niekerk.

Naas sport was humor koning. Programme soos Stadig oor die klippe was altyd gewild, maar niemand was beter met humor as Leon Schuster nie. Sy Vrypostige mikrofoon was ’n treffer en die aanloop tot sy string rolprentsuksesse. (Dat hy soms moes nuus lees, is ’n ander storie.)

Van nuuslesers gepraat: Niemand kon dit met soveel erns soos Daniël Kirstein doen nie, hoewel ’n mens sy kurkdroë humor in gedagte moet hou. (Het hy geglo wat hy so oortuigend gelees het?) Want het hy dan nie by geleentheid (as ’n vingerwysing na die snobs) die Briels met soveel erns in ’n musiekprogram aangekondig nie?

Vandag lees die kontinuïteitsomroeper in die ateljee meestal die nuus. Die formele styl van vroeër is lank vergete. Só ook die gebruik om met aandpak en strikdas uit te saai. Dit was in die 1950’s nog die gebruik toe uitsendings meestal regstreeks gedoen is!

By drama-uitsendings (eers regstreeks, later opgeneem) het reuse soos Anna Neethling-Pohl die septer geswaai. Later was Roelf Jacobs en Cor Nortjé leidende figure. Leon van Nierop volg in hul voetspore en word, soos Nortjé, skrywer van die een ná die ander populêre radioverhaal. Vandag het ernstige radio-dramas steeds hul plek, maar die middagvervolgverhale se dialoog is soms in alledaagse sleng en met temas wat soms ouderdombeperkings noodsaak.

Van die omroepers se stories is ook maar rof. Die joernalis Ben van Rensburg vertel hoe Daniël Kirstein ’n grootbaas se ballon geprik het toe dié uit die hoogte vir hom gevra het wat hy in sy vrye tyd doen. “Ek suip,” het Kirstein, die mees belese van al die omroepers, geantwoord.

Paul Eillers het tot sy skade uitgevind dat ’n paar drankies nie lekker met jou tong werk nie. Hy drink by geleentheid ’n ietsie of drie voor hy alleen die aandskof pak. Toe dit by die nuus kom, haak hy vas by die woord individualiteit. Dit kom uit as “individududualiteit”. Hy probeer weer. En weer. Vriend en kollega Nic Swanepoel luister iewers in sy motor hoe Paul struikel. Hy klim uit en bid: “Los tog net die woord en gaat aan!”

Maar, vertel Paul, Gerhard Viviers het altyd gesê “drank verdra nie onreg nie”. Hy wat Paul is wou tot elke prys “individualiteit” sê! Hanlie Retief vertel verder: “Die volgende oggend is Paul op die rooi tapyt. En wat doen Eil? Hy onthou die Wet van Omroepers (dat jy altyd alles ontken).” Daarom antwoord hy onbeskaamd: “Ek was moeg, meneer.”

Taal, korrekte taal, is altyd sentraal by radio en daarom was daar in die geil jare selfs ’n voltydse taaladviseur. Alewyn Lee het lank hierdie pos vervul en later het Anton Prinsloo dit saam met ander uitsaaipligte behartig. Intussen het die vreemde, oorgeartikuleerde uitsprake (vir vandag se oor) geleidelik sagter geword.

Vandag hoor jy wel verskillende aksente, maar die stasiebestuurder, Magdaleen Kruger, probeer orde handhaaf sonder om te pedanties te wees. Omroepers is steeds glanspersoonlikhede in die kleine, maar daar was ’n tyd toe hulle regtig belangrik was. Of so het hulle geglo. Voor 1976 was daar geen TV nie en sepiesterre op Sarie se voorblad was ongekend. Omroepers was sosiaal hoog op die leer (maar nie op die voorblaaie nie).

Omdat politieke beheer nougeset in dr. Piet Meyer en Riaan Eksteen se tyd toegepas is, het omroepers met ander standpunte dit vir hulself gehou en liewers laag gelê. Totdat Fanus Rautenbach, die een van wie niemand dit sou verwag het nie, op ’n dag besluit het genoeg is genoeg.

Hy vertel hoe hy die jaarlikse “oopdeur-vergadering” van die direkteur-generaal van die SAUK bygewoon het. Die DG, Riaan Eksteen, gee sy “gebruiklike oopdeur-spiets” waarin hy elke keer beklemtoon dat dit almal vry staan om vrae te vra. Fanus vertel:

Hennie Maas vra: “Meneer, die mense vra ons: ‘Is die SAUK ’n staatsinstelling of is die SAUK nie ’n staatsinstelling nie?’ Meneer antwoord: “Die SAUK is onafhanklik. Nee, die SAUK is nie ’n staatsinstelling nie! Volgende vraag?”

Fanus Rautenbach staan op. Hy is spierwit van spanning en angs en woede … Dit is skielik doodstil. Die ander weet nie wat aan die gang is nie. Fanus steur hom nie aan die vergaderings nie. Hy en Leon Schuster sit maar net altyd daar en wens dat die beker by hulle moet verbygaan. Leon sal die velletjies, die froesies, van sy maermerrie afvryf en Fanus sal versies maak, maar op ’n vergadering praat hulle nooit nie. (”Hoekom praat julle twee nooit op ’n vergadering nie?” het Nic Swanepoel eenkeer vir hulle gevra. Fanus het geantwoord: “Hulle betaal te min!”)

En nou wag almal in spanning. Dit sal heel waarskynlik die laaste keer wees dat hy sal praat. Maar praat gaan hy praat, want Fanus is de moer in. En wat sê hy?

Hy sê so koel soos Staal Komkommer: “Meneer, as die SAUK nie ’n staatsinstelling is nie, wil ek net vra: U het nooit by die SAUK gewerk nie, u was nooit ’n omroeper of ’n nuusleser of ’n SAUK-man nie … as die SAUK nie ’n staatsinstelling is nie, hoe het u dan hierdie werk gekry?”

Die DG word wasbleek en spring op en af van woede: “Jy moenie vir mý daardie vraag vra nie! VRA DIT VIR DIE VOORSITTER! Vra dit vir die raad van die SAUK wat my aangestel het!”

Maar Fanus is nog nie klaar met hom nie. Sy volgende vraag lui so: “Adverteer hulle so ’n pos?” Geen antwoord nie.

“U het netnoumaartjies gesê ons kan nou enige vrae vra. Nog ene: Doen mense aansoek om so ’n pos?” Geen antwoord nie.

Maar Fanus gaan voort: “Nee, u was nooit ’n omroeper nie. Die naaste wat u ooit aan die media gekom het, was toe u u seuntjie gehelp het om bedags Die Transvaler af te lewer . . .”

“Is daar nog iemand wat die mes in my rug wil steek en draai?” vra die DG bitter.

Fanus kry ’n briefie van kollega Frik Pieterse wat lui: “Mooiskoot, ou Faantjie! Nou het jy hom darem gesê!”

Maar, skryf Fanus, niemand staan op en ondersteun hom nie. Buite, ná die vergadering, wens almal hom wel geluk. So was dit, so is dit seker steeds.

Van Fanus gepraat. Hy was ’n reus. ’n Mens sou hom seker die Frik du Preez van Afrikaanse radio kan noem.

Sy Flink uit die vere, ’n oggendprogram met musiek en kwinkslae voordat aktualiteit die tydgleuf oorgeneem het, is legendaries. En sy radioverhale was treffers, sy insig in mense fyn en sy deernis groot. 

Sê ’n inbeller op ’n dag ewe ernstig: “Elke donker wolk het ’n silwer randjie.” Fanus reageer ewe vroom “En het jy dit self uitgedink?” Effe verbouereerd antwoord die inbeller: “Ja!”

Gelukkig het Fanus oor sy omroepersloopbaan geskryf. So ook Dolf van Niekerk, Gerhard Viviers, Anton Prinsloo, Robert Young en Riaan Cruywagen. Min het egter uitgestyg bo skadelose anekdotes.

Daarom wag Afrikaanse radio se groot storie nog om vertel te word. Gegee die ontwikkelinge ná 1990, sal dié storie ook oor meer as die SAUK moet gaan.

Bronne:

J.C. Steyn vertel in sy boek Trouwe Afrikaners van die stryd om ’n eie Afrikaanse radiostasie (Tafelberg, 1987).

Fanus Rautenbach skryf (saam met Pieter Coetzer) in Fanus onthou en Sebastian lieg indie mou oor sy tyd by die SAUK. Uitgegee deur Lapa.Die artikel het oorspronklik op 21 Oktober 2017 in Beeld en op Netwerk24 verskyn.

Lees ook Gert van der Westhuizen se artikel Nuwe uitdagings vir radio ná 80 jaarby https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/nuwe-uitdagings-vir-radio-na-80-jaar-20171026. Dit is net toeganklik vir intekenare op Netwerk24.