SKARES JUIG BY KOERANTE OOR NP SE WEN IN 1948

Deur Johannes Froneman

Die algemene verkiesing van 75 jaar gelede — op 26 Mei 1948 — het ‘n skokuitslag opgelewer. Die regering van genl. Jan Smuts om tot ‘n val en Smuts self is in die kiesafdeling Standerton verslaan. Die Nasionale Party (destyds HNP genoem) van dr. D.F. Malan kom met die ondersteuning van Klasie Havenga se Afrikanerparty aan die bewind.

Maar verkiesingsnag het in die Kaap met ‘n “ neerdrukkende” motreëntjie begin, soos Dirk de Villiers, nagredakteur by Die Burger, dit later gestel het. ‘n Handjie vol mense het gesien hoe sterk Smuts-oorwinnings in stedelike kiesafdelings aangeteken word.

Heelwat later die nag het die plattelandse uitslae begin inkom. “Dit was die begin van die wonderwerk van agt-en-veertig,” skryf De Villiers. In Transvaal, waar Hans Strijdom eens alleen die NP verteenwoordig het, het die NP sterk gegroei, veral op die platteland maar ook in Pretoria en aan die Rand.

‘n Juigende skare buite Die Burger se kantore in Keeromstraat, Kaapstad. Die foto kom uit Die Burger se argief en is in Bun Booyens en Aldi Schoeman se boek Die Burger 100 geplaas. Dit word word met dank en erkenning gebruik.

Die wagtende Nasionaliste het in die Kaap, Johannesburg en Bloemfontein by koerantkantore begin aangroei. Met groeiende verbasing en veel vreugde, sien hulle hoe die een positiewe uitslag na die ander op ‘n groot bord begin verskyn.

In Die Burger se kantore was daar “konsternasie”. Schalk Pienaar, later Die Beeld en Beeld se hoofredakteur, het uitgeroep: “Ek sê julle, ons kom aan die bewind.” Maar dit was nie seker nie. Wat moes die oggendkoerante skryf, want hulle moet pers toe?

In Johannesburg het ondersteuners in die stasiebinneplein vergader, waar Die Transvaler se redaksie hulle op hoogte gehou het van die jongste uitslae — dwarsdeur die dae en aande van 26 en 27 Mei, skryf die redaksielid Piet Meiring. Hy beskryf dit later as “die grootste ommeswaai in ons politieke geskiedenis”.

By Die Volksblad is die uitslae ook op ‘n groot doek gegooi en het mense die verloop van die verkiesing gevier deur op die sypaadjie te sing en dans. Toe die uitslag seker was, is Die Stem plegtig gesing.

Die skares het saam die oorwinning kom beleef — soos dekades later wanneer mense saamdrom om groot sportgebeure op televisieskerms in die buitelug te kyk. Foto’s getuig van die skares se entoesiasme.

Tuis het mense op radio’s soos dié die uitslae met groot spanning ingewag. Een van hulle was die eienaar van hierdie toestel, Daniël Crafford van die Klein-Karoo.

Die uitslag het Afrikanernasionalisme aan die bewind geplaas van ‘n “wit Suid-Afrika”. Malan is per trein Pretoria toe om die premierskap te aanvaar en is van stasie tot stasie deur juigende skares ingewag.

Jan Smuts het self in Standerton verloor en moes bedank toe sy party minder setels as die HNP en Afrikanerparty gekry het.

Vir Malan en Havenga se ondersteuners was die 1948-oorwinning die antwoord op gebede. Net tien jaar vantevore het hulle tydens die simboliese ossewatrek beleef hoe Afrikaners hande vat — net om weer deur die Tweede Wêreldoorlog in verskillende kampe gejaag te word.

Nou is die geskiedenis weer effe verrassend op sy kop gekeer. Die verkiesings daarna het telkens groter meerderhede opgelewer, totdat die geskiedenis ‘n totaal ander koers ingeslaan het ná pres. F.W. de Klerk se breek met apartheid in 1990 en die eerste demokratiese verkiesing in 1994, waaraan alle burgers kon deelneem. 

Vir die Afrikaner en Afrikaans het die 1948-verkiesing veel positief ingehou.  Maar dikwels ook ten koste van ander. Apartheidswette sou nou met mening aanvaar word en net 13 jaar later, in 1961, word Suid-Afrika ‘n republiek onder leiding van dr. H.F. Verwoerd. 1948 het bereiking van hierdie Afrikanerideaal moontlik gemaak.

Intussen het televisie en die internet in al sy gedaantes die aanhoor van verkiesingsuitslae ‘n ander ervaring gemaak. Koerante dra egter op papier steeds daartoe by om die uitslae (en die gevolge daarvan) te verewig.

Want niks vertel ‘n historiese oomblik beter nie as ‘n koerant met groot letters en foto’s nie. 

Bronne:

Dirk C. de Villiers, Die wonderwerk van agt-en-veertig ( Keeromstraat 30, saamgestel deur J.P. Scannell, 1965)

Piet Meiring, Die Transvaler 50 jaar (Voortrekkerpers, 1987)

Leo Barnard en Jan-Ad Stemmet, ‘n Lewe van syeie — Die biografie van Volksblad (Tafelberg, 2004).

Geplaas op 30 Mei 2023