‘SCOPE’ WAS ‘N POPULISTIESE GELDMAKER, PROTES TEEN ESTABLISHMENT EN KLIP IN DIE SKOEN

Toe Huisgenoot nog ‘n ordentlike, middelklas-weergawe was van ‘n bepaalde siening van “Christelike” Suid-Afrika, getooi in oranje, blanje blou, was Scope besig om taboes uit te daag en die apartheidregering se sensuurwette te toets. Publikasies soos die World, Weekly Mail, Mail & Guardian en Vrye Weekblad het ook die owerheid uitgedaag, maar dan het dit oor politieke sensuur gegaan.

Natuurlik was die sensuur wat op Scope (met sy meisies) toegepas is, ingebed in dieselfde ideologiese raamwerk: ‘n omvattende reaksie op die “totale aanslag” wat, aldus PW Botha se raadgewers, deur die ateïstiese kommuniste teen die Christendom aan die suidpunt van Afrika gevoer is. Die legitieme strewes van veral die swart bevolking is nog in dié tyd onder ‘n veelvolkige kombers weggesteek.

Dat daar ‘n militêre stryd was en dat die ou Unie van Sosialistiese Sowjet-Republieke (USSR) en sy meelopers aktief die ANC en ander bevrydingsbewegings gesteun het, is ‘n gegewe. Bomme wat in Wimpy-eetplekke ontplof het, was ‘n werklikheid. Die Kerkstraatbom het lewens verwoes. Diensplig het lewens verwring.

Scope het deur die jare verander van ‘n tydskrif oor aktualiteit na ‘n mengsel van “prikkelfoto’s” (soos dit genoem is), bietjie aktualiteit en stories oor seks.

Die verwronge ideologiese reaksie op die aanslag teen die apartheidstaat het noodwendig ook die media betrek. Die SAUK is toenemend ingesleep as propagandavoertuig, Afrikaanse koerante het nuwe oogklappe gekry en mediaregulasies het kritiese media verhinder om volledig te berig oor die werklikhede van die land.  Joernaliste is selfs volgens noodtoestandregulasies verplig om weg te vlug van enige onrussituasie…

Gelyklopend hiermee het Huisgenoot ‘n populistiese blad met ‘n fokus op glanspersoonlikhede geword en is Scope telkens sonder veel sukses verbied.  Ja, daar was foto’s in Scope wat vandag (veral vanuit feministiese oogpunt) as onaanvaarbaar beskou sal word. Maar dit was nie destyds die punt van kritiek nie. Daar was inderdaad uitdagende stories oor seks wat die sensors ontstel het, asook die meisies met hul sterretjies op strategiese plekke. Hulle het gedoen wat ander publikasies ook gedoen het — net meer blatant.

Dit het van Scope ‘n hoogs winsgewende tydskrif gemaak, maar Scope was meer as dit. Dit was ook ‘n protes teen die heersende establishment — ‘n klassieke voorbeeld van twee motiewe wat hand aan hand kan loop: ideologie en geld, met geld altyd dominant. Eintlik het geld seker die ideologie geword.

In praktyk het die tydskrif (soos Huisgenoot) aan lesers afleiding gegee. Dit was opium vir die volk. Daarom was Scope vir jong troepe, laasjaar nog op matriekbanke, ‘n welkome weeklikse geskenk. As jy dan moes sterf vir volk en vaderland, kon jy dit ten minste saam met ‘n mooi meisie doen — al was dit net in jou drome.

Scope het verskeie kere op die oorlog in Rhodesië (nou Zimbabwe) gefokus — ‘n tema wat sy lesers waarskynlik na aan die hart gelê het. Suid-Afrikaanse polisie is in ‘n stadium daar ontplooi en die grensoorlog in Suidwes-Afrika (nou Namibië) was ‘n realiteit vir talle dienspligtiges en lede van die permanente mag.

Tuis is Afrikaners gesus deur ‘n kombinasie van Prinses Diana in Huisgenoot, die ontmande SAUK (waar vroom nuuslesers geen spier verrek het terwyl hulle halwe waarhede opgedis het nie), en pro-NP-koerante, wat al hul aandag gegee het aan die die aanslag van die Konserwatiewe Party en AWB-stormtroepe. Redakteurs was net te ingebed in Naspers se groepdenke om buite die tradisionele raamwerk te kan dink. 

Intussen het Rapport, gegewe sy DNS (Landstem, Dagbreek en Die Beeld), Sondae ‘n kombinasie van politieke verkenningswerk en agterbladfoto’s en –stories opgedis om die massas die prikkel en, o so stadig, voor te berei vir verandering.

Scope het as ‘n Life-agtige blad begin met groot foto’s oor aktuele sake, jare voordat televisie in 1976 gekom het. Dramatiese kleurfoto’s oor ‘n baba in die baarmoeder het byvoorbeeld geskok en gelok.

Toe kom die 1980’s, toenemende geweld en al hoe groter paranoïa oor wat die volk bedreig. 

Scope-foto’s soos hierdie het vrees by lesers ingeboesem. Was dit Suid-Afrika se voorland onder ‘n swart regering? Scope was dalk progressief oor morele sake, maar polities eintlik heel konserwatief.

In sy bloeijare is Scope meermale op ‘n Vrydag in die Staatskoerant verbied. Die nuus is ook op nasionale radionuus (en die riemtelegram) bekend gemaak, wat telkens tot ‘n ligte stormloop gelei het. Teen die tyd dat die verspreider by die winkels gekom het om dit te verwyder, was die blad uitverkoop. Beter publisiteit kon die redaksie nie op hoop nie. Die blad se sirkulasie het glo by tye 250 000 gehaal.

Die moedwillige redakteurs het die sensors verskillende wyses getreiter. So het een uitgawe ‘n opvallende aankondiging op sy omslag gehad: As jy nie mooi meisies wil sien nie, as jy te sensitief is, as jy aanstoot gaan neem, moenie koop nie, moenie kyk nie. Of woorde tot dien effek. (Die meisies was binne.)

Hou in gedagte dat Scope eers aan Republikeinse Pers behoort het, wat in die 1980’s deur die Afrikaanse Perskor oorgeneem is. (Dit het die pikante situasie veroorsaak dat die destydse sensuurminister ook direkteur was van die moedermaatskappy wat Scope besit het.)

Vir diegene wat die volk van seksuele verderf probeer bewaar het, was Scope ‘n maklike teiken, maar sekularisasie was aan die toeneem en troepe (en soveel ander lesers) het geen erg gehad aan sedepreke en hoogheilige kapelane wat verstrengel was in ‘n bedenklike teologiese militarisme nie. Die skyn van onskuld het in elkgeval met elke geweerskoot verminder. Dienspligtiges is gedwing om kerk toe te gaan en is aangespreek oor hul swak kollektebydrae. Maar jy kon hulle nie stop om te lees en dink wat hulle wou nie. 

Scope het sonder twyfel in die 1960’s, 1970’s en 1980’s die pas aangegee, maar selfs voor Huisgenoot se veelgeprese transformasie aan die einde van die 1970’s, het tydskrifte soos Ster, Die Brandwag en Pronk populistiese joernalistiek gepleeg. Hulle het egter nie Naspers se geld agter hulle gehad nie en was boonop in ‘n stryd om eienaarskap gewikkel.

Toe die Nasionale Party onder leiding van FW de Klerk uiteindelik die lig sien en met apartheid breek, het die sluise oopgegaan en verbode tydskrifte soos Playboy en Penthouse het ingekom, spoedig ook met plaaslike weergawes. Scope het gereageer deur ou inhibisies oorboord te gooi. Modelle het nou poedelnakend vanuit Scope se blaaie na lesers gekyk. Daar was, by wyse van spreke, te kus en te keur.

Maar die destydse redakteur, Dave Mulaney, was nie regtig oortuig dit was die weg om te volg nie. Hy is “gedwing” om die eksplisiete foto’s te gebruik in ‘n verlore stryd teen tydskrifte wat sagte pornografie gepubliseer het.

Scope se sirkulasie het drasties geval, want sommige lesers het aanstoot geneem en ander het Hustler en ander tydskrifte se meer eksplisiete styl verkies. Daar het later ook ‘n Afrikaans seksblad, Loslyf, verskyn wat baie uitdagend en eksplisiet was. Die antwoord op al die uitdagings was om van Scope ‘n “ordentlike” blad sonder meisies te maak. Dit was ‘n mislukking en dit het die blad se sluiting in 1996 net bespoedig.

Waarom Scope ondergegaan het? Soos met alle publikasies wat sluit, is daar verskillende redes, maar uiteindelik is geld die beslissende een. Die opposisie het hul lesers gesteel. ‘n Minder bekende rede is dat ‘n boikot deur Christengroepe suksesvol was en die tydskrif van talle winkelrakke verdwyn het.

Boonop het die nuwe politieke bedeling die einde van Perskor beteken. Die maatskappy se fut was uit en Perskor se oorblywende koerante en tydskrifte is spoedig deur Caxton oorgeneem.

Waarom Caxton nie Scope laat herleef het nie, is ‘n geldige vraag, maar die koms van die internet het uiteindelik wêreldwyd die meeste bekende girlie-tydskrifte vernietig. Kortom, daar was nie meer geld te maak uit dié tipe papierpublikasie nie en Caxton het nooit voorgegee om enigiets meer as ‘n kommersiële drukker te wees nie. Dit was dus, by nabetragting, ‘n finansieel goeie besluit.

So het Scope dan gesneuwel toe sy hedonistiese uitkyk op seks en die lewe, en sy vrypostige plasing van naakfoto’s juis deur die nuwe grondwet beskerm is. Dit moet as een van ons mediageskiedenis se grootste ironieë aangeteken word.

Die resep van seks en sensasie is wel sagter deur Huisgenoot aangebied, maar stalmaats soos Daily Sun, Son en Sondag het met mening op die resep voortgeborduur, hoewel die Daily Sun nog altyd foto’s van halfkaal vroue vermy het. Son het later deels van koers verander en staanplek gekry as gemeenskapskoerant. Sondag en die noordelike Son het gesluit. Selfs Rapport se agterblad het gesneuwel.

Seks en sensasie het net nie meer op papier gewerk soos van ouds nie. Scope en sy geesgenote het gewyk voor die internet, waar geen grense geld nie.

Lees ook: The rise and demise of Scope magazine — a media-historical perspective deur Johannes Froneman. Die artikel het in 2011 in Ecquid Novi: African Journalism Studies (32:1) verskyn.

Chris Baron se grafskrif oor een van Scope se bekendste redakteurs, Jack Sheppard Smith is te lees by https://www.timeslive.co.za/sunday-times/opinion-and-analysis/2019-02-24-jack-shepherd-smith-pioneer-editor-of-lusty-scope/

Heel bo: Een van die artikels wat oor Scope verskyn het en op die internet te lees is.

Meer oor Die Brandwag (in sy laaste gedaante) is by https://mediamense.com/ster-die-herstigte-brandwag-pronk-en-die-hnp/ of kliek net na die inskrywing in die afdeling waar jy nou is.