SCOPE — VOORLOPER IN STRYD TEEN BEHOUDENDHEID

Die tydskrif Scope het ‘n besondere plek in ons tydskrifgeskiedenis. Dit ontstaan in die 1960’s as algemene tydskrif en toon soms tipiese kenmerke van die Amerikaanse Life. Groot foto’s en soms sensasionele foto’s maak geleidelik plek vir meisies in bikinis. Artikels oor die stryd in Rhodesië (nou Zimbabwe) en tragiese gebeure in Afrika sorg vir meer substantiewe leesstof.

Maar die klem op karig geklede meisies en artikels oor seks is uiteindelik die blad se kenmerk. Dit bring die blad telkens in botsing met die sensors, wat talle uitgawes verbied. Ironies genoeg is die tydskrif besit deur Republikeinse Pers, wat ‘n filiaal van Perskor was — ‘n Afrikaanse mediamaatskappy waarin konserwatiewe ministers in ‘n stadium gedien het.

Ná 1990 stort sensuur in duie en word eens verbode tydskrifte soos Playboy en Penthouse plaaslik gepubliseer. Scope raak al meer gewaagd en publiseer uiteindelik blatant naakte foto’s. Die mededinging is egter straf en die blad probeer ‘n ernstige, stylvolle aanslag — met geen sukses nie. Scope sluit uiteindelik in 2006.

In ‘n era voor TV het foto’s tydskrifte verkoop.

‘n Wenkombinasie: Hitler en bikinimeisies.

Die klem verskuif.

Scope het bekend (en gewild) geword vanweë die dubbelblad-foto’s, soos hier op die buiteblad aangekondig. Onder is ‘n voorbeeld van die tipe foto wat daar aangetref kon word.