Tydskrifte met ‘n sterk fokus op politiek het deur die jare onafhanklike stemme laat hoor en het so tot die voortgaande gesprek bygedra. Maar hulle was telkens nispublikasies wat gesukkel het om kommersieel te oorleef.
Pro Veritate verskyn van 1962 tot 1977 (aanvanklik in Afrikaans) as blad van die Christelike Instituut en lewer skerp kritiek op die apartheidsbeleid. Die eerste redakteur was dr. Beyers Naudé, wat later ingeperk is. Die tydskrif is ook in die ban gedoen weens sy veronderstelde ondersteuning van die bevrydingsbewegings.
Dr. Naudé is jare later só deur Vrye Weekblad vereer.
Veg
Die tydskrif Veg het laat in die 1960’s die verregse aanslag op John Vorster se regering gelei. UIteindelik het hierdie verset uitgeloop op die stigting van die Herstigte Nasionale Party (HNP). Veg se redakteur was Barry Botha, maar hy het geen verdere betekenisvolle rol in die regse politiek gespeel nie.
The South African Observer
S.E.D. Brown se verregse publikasie het soms groot ontevredenheid op NP-kongresse veroorsaak. Die HNP-gesindes het die blad se inhoud gesteun.
Die Afrikaner
Die Afrikaner is die mondstuk van die HNP en bestaan steeds. (Kyk inskrywing oor Die Afrikaner.) Die blad het later in tydskrifformaat verskyn.
Die Patriot
Die Patriot was die Konserwatiewe Party se mondstuk en het sy posisie jeens die 1983-grondwet duidelik gemaak.
Die Buiger
‘n Satiriese blad wat op Stellenbosch vermoedelik deur ondersteuners van die Progressiewe (Federale) Party uitgegee is. Die blad het die draak gesteek met Die Burger se oordrewe pro-NP-beriggewing. Die tipografie van die blad het Die Burger van die tyd nageaap.
Vrye Weekblad
Hoewel Vrye Weekblad eers in koerantformaat verskyn het, was dit later ‘n tydskrif.
Die Suid-Afrikaan
Prof. Hermann Giliomee het met die ondersteuning van prof. André du Toit Die Suid-Afrikaan, ‘n onafhanklike intellektuele kwartaalblad, in 1984 gestig. Die blad het tot in 1993 bestaan en was ‘n forum van voorposdenke en insigte in onder meer swart denke toe ander blaaie daarvan weggeskram het — vir wetlike en ander redes.
Die Suid-Afrikaan was sonder enige verbintenisse met politieke partye, maar het uit die staanspoor gesê: “Ons kies kant vir ‘n oop samelewing, gelykberegtiging en ‘n vreedsame skikking in Suid-Afrika.” Verder wou die blad gesprek oor ‘n wye spektrum bevorder.
Vier van Die Suid-Afrikaan se voorblaaie.
Giliomee skryf in sy outobiografie, Hermann Giliomee: historikus. ‘n Outobiografie, hy het in dié tyd (toe hy weg is by die Universiteit van Stellenbosch en by die Universiteit van Kaapstad ‘n pos aanvaar het), ‘n behoefte aangevoel om sy insigte spesifiek ook in sy moedertaal te verwoord. Dié kon hy by Die Suid-Afrikaandoen.
Redaksionele hulp het deur die jare van Chris Louw, Welma Odendaal, Riaan de Villiers en Antjie Krog gekom.
Giliomee het “ook vir die geld gesorg”. Dit het gekom van verskeie bekende sakelui, wat besorg was oor die politieke toestand in die land. Hul maatskappye het volbladadvertensies uitgeneem.
Maar op die ou end was dit nie genoeg nie. Samesprekinge is met Ton Vosloo van Naspers gehou oor ‘n moontlike samesmelting met Insig, maar Giliomee se kollegas by DSA was nie ten gunste daarvan nie en die blad het gesluit — soos ander politieke blaaie (insluitende Vrye Weekblad en Frontline) wat ‘n oop gemeenskap vry van apartheid bevorder het.
Verkiesingsblad
Die Demokratiese Party het “koerante” soos hierdie in die 1989-verkiesing versprei.