Piet Cillié oor Schalk Pienaar

By sy dood het Schalk Pienaar se ou vriend Piet Cillié so oor hom geskryf:

Reeds in 1938, as ons hoofverslaggewer by die Ossewatrek en die Voortrekkereeufees, het hy met sy waarneming en skryfstyl nasionale aandag getrek; maar dit was in die jare vyftig, as daaglikse parlementêre kommentator, dat hy volledig gegroei het tot koerantman onder die koerantmanne: gerespekteer deur vriend en teenstander, en deur albei gelees soos drie dekades vroeër Langenhoven self, aan wie se invloed Schalk Pienaar se vonkelende styl veel te danke had.

Min het geweet dat daardie stukke, gewoonlik met verstommende snelheid geskrywe, maar ‘n deel was van sy take as assistent-redakteur. Sy nuussin en sy bestuursvermoë het in die redaksie deurgewerk soos sy politieke insig by die publiek daar buite.

Toe die Nasionale Pers in 1965 sy grootste avontuur sedert die ontstaan van Die Burger aangepak het met die stigting van die Sondagblad Die Beeld,  was Pienaar die vanselfsprekende keuse vir die hoofredakteurskap.

Veral Transvaal is getref deur ‘n fris nuwe wind, wat weldra stormsterkte bereik het deur die nuweling se leidende, en vir eers byna allenige kruistog in die Noorde teen die weerbarstige Nasionaliste wat naderhand die HNP sou word.

Terselfdertyd het Pienaar se koerant ‘n potensiaal van Afrikaanse koerantlesers in Transvaal blootgelê wat alle versigtige en soms selfs pessimistiese projeksies van vroeër omvergewerp het. Dit het die taaiste koerantstryd in die geskiedenis van die Afrikaanse perswese gekos, en geëindig in die amalgamasie van die mededingers in die Sondagblad Rapport.

Hoewel Pienaar se gesondheid ‘n knou weghad, is hy in 1974 nogmaals gekies tot aanvoerder van ‘n veel taaier onderneming: die stigting van ‘n nuwe Transvaalse dagblad, Beeld, wat die landwye dienskring van Nasionale Perskoerante gesluit het. Hy kon nog die moeilike vestiging lei, maar moes toe die bevel oordra aan jonger kragte wat onder sy hand gevorm was.

Vir die laaste keer was hy terug by Die Burger, steeds die skerpsinnige waarnemer van ‘n politieke toneel wat hy so effektief help verander het, en bitter ongeduldig soos enige jong idealis wanneer die pas van hervorming traag was.

Schalk Pienaar sal onthou word vir groot dade vir Die Burger, die Nasionale Pers, die Afrikaanse en heel die Suid-Afrikaanse perswese, en vir die Afrikaanse woord en styl. Sy waagmoed, sy avontuurlus, sy afkeur van uitgediende denk- en handelswyses in die openbare lewe, sy blymoedigheid en sin vir humor in die stryd, was oor ‘n lang skeppingstyd ‘n voortdurende vlam van bevestiging.

Uit : Tydgenote deur P.J. Cillié, uitgegee deur Tafelberg. Die stuk het eers as hoofartikel in Die Burger van 13 Oktober 1978 verskyn.