Deur Johannes Froneman
Dr. H.F. Verwoerd is moontlik die mees gehate én geliefde politieke figuur in Suid-Afrika se geskiedenis. Hy word as die vader van apartheid beskou, of ten minste van die post-1948-gedaante van statutêre rasseskeiding. Vir sommige mense was hy ’n visioenêre profeet wat Suid-Afrika se ‘rasseprobleem’ finaal sou oplos en daarmee wit mense se posisie veilig stel; vir ander persone was hy ’n demoon wat miljoene swart mense se lewens versuur het, hulle menswaardigheid afgetakel het en hulle van hulle regte gestroop het.
Met sy skielike dood in 1966 is uit alle oorde eer aan hom betoon as staatsman van besondere statuur. Afrikaanse en plaaslike Engelse koerante was verenig (of ten minste respekvol) in hul hulde aan Verwoerd.
Van sommige van die Afrikaanse koerante wat Verwoerd sterk ondersteun het, kon lofredes verwag word. Binne ure na sy dood verskyn spesiale middagkoerante met die skoknuus van Verwoerd se sluipmoord. Kommentaar en berigte oor Verwoerd se lewe en werk het veral die volgende dag begin verskyn.
Die Transvaler, wat in 1937 deur Verwoerd begin is, beskryf hom in ’n hoofartikel as ’n man van “buitengewone formaat” met ’n “skitterende intellek” (Die Transvaler 7 September 1966). In dieselfde uitgawe word hy onder opskrifte soos die volgende gehuldig: SA se grootste seun gehuldig, Man van durf en daad en Sakelui buig hoofde vir ekonomiese held.
Ander Afrikaanse koerante het dieselfde sentimente gereflekteer. Die Vaderland skryf: Treffende huldeblyke deur skole gebring (Die Vaderland 9 September 1966) en ’n hoofartikel wat sê: “… uit die smart wat in almal se harte skrein, begin nou die dankbaarheid vir sy groot lewe opdein.” Daarmee beweeg die blad reeds verby die onmiddellike hartseer. Die Volksblad (7 September 1966) het op die dag ná Verwoerd se dood hom soos volg in ‘n hoofartikel gehuldig en vorentoe gekyk: “Die Suid-Afrikaanse volk het ’n sekere beleidsrigting gekies en dit is veel meer as ’n politieke formule. Dit is ’n lewenswyse en ’n omvattende filosofie. In dr. Verwoerd het hy ’n besonder bekwame eksponent daarvan gehad.”
Die Sondag ná sy begrafnis verwys Dagbreek en Sondagnuus (11 September 1966) na die feit dat Verwoerd die gewese voorsitter van Dagbreektrust en van die direksie van die Afrikaanse Pers (1962) was. Dit het hom nóú aan die blad verbind. Hoewel daar soms verskille tussen die koerant en Verwoerd was, was daar wedersydse respek. “Hy was ’n hoflike mens, ’n minsame leier wat nie gedryf het nie, maar oorreed en oortuig het, wat nooit te belangrik was om genaakbaar te wees nie”, lui die berig. Die blad beweeg ook verby die persoonlike en onmiddellike, en verwys by implikasie na die morele dimensie van die ontplooiende rassebeleid: “Met Verwoerd se uitbouing van die tradisionele segregasiebeleid tot een van afsonderlike onafhanklikheid vir alle rasse, het hy ’n politieke filosofie daargestel wat voor die wêreld geregverdig kon word.”
Die Beeld se politieke beriggewer skryf Sondag 11 September 1966 gloeiend onder die opskrif Verwoerd: Die held wat nie gehuiwer het nie. Die subopskrif was: Sy verhaal sal deur die eeue bly lewe. Daarnaas verskyn ’n artikel deur dr. Dennis Worrall onder die opskrif He was the complete Afrikaner waarin hy stel: “We salute the memory of a splendid man, an exemplary husband and father, a great Afrikaner, and a fine South African.” (Worrall was een van Die Beeld se Engelse rubriekskrywers.)
Koerante soos die Rand Daily Mail en The Star het nie net uitvoerig oor een van die grootste nuusgebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis berig nie, maar ook sagter artikels geplaas waarin die mens Hendrik Verwoerd positief belig is (vgl. The Star 10 September 1966).
In hierdie omstandighede was voorbladbanieropskrifte soos A nation mourns dr. Verwoerd (Rand Daily Mail 7 September 1966), of The nation pays its homage (The Star 10 September 1966) nie buitengewoon nie. Die hele land was verslae en respek is betoon aan die dominante politieke figuur wat op ’n skokkende wyse aan sy einde gekom het. Tog is die Rand Daily Mail gekritiseer deur van sy lesers en redaksielede wat gemeen het dat die dik swart rande wat op die voorblad gebruik is onvanpas was vir ’n koerant wat Verwoerd so sterk teengestaan het (Pogrund 2000:245).
Berigte soos die volgende kan ook beskou word as die betoning van respekvolle simpatie by die dood van ’n belangrike leier, indien nie instemming met sy beleidsrigtings nie:
• Bantoeblad salueer ’n staatsman (Die Transvaler 7 September 1966): Hierdie berig verwys na die koerant World wat geskryf het hulle “bloed is geroer” deur Verwoerd en hoofman Leabua Jonathan van Lesotho se onlangse ontmoeting. Daardie hoop sal nie deur Verwoerd se dood uitgewis word nie.
• Duisende Bantoes het ook hulde gebring (Dagbreek en Sondagnuus 11 September) : “Duisende stedelike Bantoes, asook Bantoes wat spesiaal vir die geleentheid na die stad gekom het, het gister die Staatsbegrafnis van die Eerste Minister in Pretoria bygewoon.”
• Natalse Kleurlinge se telegramme (Dagbreek en Sondagnuus 11 September 1966): “Ons dank God vir hom. Die fenomenale groei en bloei van ons volk is aan hom deur genade te danke.”
• Non-White VIPs were there (Sunday Times 11 September 1966): Die berig noem dat ’n hele aantal swart, bruin en Indiërhooggeplaasdes by die begrafnis was, waar hulle in ’n aparte blok gesit het.
Die Rand Daily Mail (7 September 1966) wat hoogs krities oor Verwoerd se beleidsrigtings was, skryf ’n dag na sy dood in ’n prominente voorbladkommentaarartikel: “Friends and foes alike acknowledge his exceptional powers of leadership, his unusual intellect, his prodigious energy, his steadfastness of purpose, his political acumen and his utter dedication to the vision of South Africa that he held before him.”
Dit was nie nou die tyd om politieke argumente teen sy visie te opper nie. Tog, daar was ook geen dwingende rede vir ’n opposisiekoerant om hierdie visie aan te prys nie. Daarom val die Sunday Times se redaksionele kommentaar op 11 September 1966 op. Die blad het onder meer geskryf:”The concept of Bantu homelands is one of the great legacies Dr. Verwoerd has left his country; and the tragedy for South Africa is that he was not spared to finish the job … “ Die blad verwys ook na sy “astonishing capacity for friendliness”.
In ten minste twee plaaslike berigte is vreugde oor die moord gereflekteer. Die Volksblad (7 September 1966) berig onder die opskrif Swartman juig oor moord oor ’n insetsel op die BBC-nuus waarin ’n persoon sê dit was die gelukkigste dag van sy lewe. Die berig fokus op kritiek wat teen die BBC uitgespreek is omdat hulle dit gebeeldsend het.
B.M. Schoeman verwys in sy boek Die sluipmoord op dr. Verwoerd (1975:139, 140) na ’n berig in Dagbreek en Sondagnuus (11 September 1966) wat vertel hoe ’n “gelag en gejuig” in die Zambiese parlement losgebars het toe die dood van Verwoerd daar bekend gemaak is.
Slot
Die persdekking van Verwoerd se dood kan nie sonder meer as ’n akkurate prentjie beskou word van wat almal in die land oor hom en sy beleidsrigtings gedink, gevoel en beleef het nie. Dit verteenwoordig wel ’n hoogtepunt in die enorme respek en selfs liefde wat ’n deel van die bevolking (nie net wit mense nie) teenoor Verwoerd gevoel het.
Die persdekking van Verwoerd se dood kan in die lig van die volgende verklaar word: Afrikaanse koerante het (meestal) Verwoerd se beleidsrigtings en hom as leier ondersteun; Engelstalige koerante het hom (meestal) geopponeer. Met sy dood het die emosie van die oomblik en die afkeer van geweld selfs by opposisiekoerante aanleiding gegee tot ‘n sagter hantering van sy begrafnis en nalatenskap.
Toe die mislukking van die apartheidsbeleid mettertyd al duideliker geword het, het die oordeel oor Verwoerd skerper geword, selfs by daardie koerante wat vroeër sy beleid ondersteun het.
Verwysings
Dagbreek en Sondagnuus, 11 September, 1966.
Die Beeld, 11 September, 1966.
Die Transvaler, 7 September, 1966.
Die Vaderland, 9 September, 1966.
Die Volksblad, 7 September, 1966.
Pogrund, B. 2000. War of words. New York: Seven Stories Press.
Rand Daily Mail, 7 September, 1966, bl. 1.
Schoeman, B. M. 1975. Die sluipmoord op dr. Verwoerd. Pretoria: Strydpers.
Worrall, D. 1966. He was the complete Afrikaner. Beeld, 11 September.Hierdie stuk is gegrond op ‘n deel van die artikel Op soek na ‘n gebalanseerde beeld van dr. H.F. Verwoerd (Koers, 78(2):39-48).
Kyk ook die voorblaaie oor Verwoerd se dood in die afdeling Groot nuus.