‘DIE KLEINSPAN’, ‘DIE JONGSPAN’, ‘BOLLIE’ EN ‘PATRYS’

Die Kleinspan, Die Jongspan, Bollie en Patrys is deel van ons mediageskiedenis — tydskrifte gemik op jonger lesers en wat veel plesier en insig gebring het. Veral Patrys was ingebed in ‘n Afrikaner-nasionalistiese denkraamwerk en het jongmense daarin gesosialiseer. Uiteindelik het nie een van die blaaie oorleef nie. Ander media, soos televisie, digitale media op die selfoon en aanlyn-speletjies het hul tol geëis.

Die Kleinspan en Die Jongspan

Die Kleinspan verskyn reeds in 1925 as los bylae in Die Huisgenoot en dien die jonges vir elf jaar op dié wyse. Die Jongspan maak in 1936 sy opwagting (met Die Kleinspan nou as ‘n onderafdeling).

Die Jongspan het, aldus J.J. Spies, die amptelike blad van die Voortrekkerbeweging geword. Die eerste redakteur was Abraham J. Jonker. Volgens Spies het die redaksie steeds geworstel met die vraag hoeveel van die inhoud bloot vermaaklik moet wees en hoeveel opvoedkundig.

Die blad het aanvanklik ‘n “plattelandse gerigtheid” (Spies) gehad (met sketse en vertellings oor diere en jagstories), maar ná die Tweede Wêreldoorlog het die realiteit van verstedeliking ‘n ander benadering gevra.

Spies meen een van die “blywendste verdienstes” van die blad was dat skrywers soos W.A. de Klerk, Mikro en W.O. Kühne daarin kon publiseer en kinderboeke uit vervolgverhale voortgespruit het.

Selfs N.P. van Wyk Louw het lank ‘n nuusrubriek in die blad behartig.

In 1969 verskyn Die Jongspan vir oulaas en word dit vervang deur Vonk.

Vonk, Bollie en Tina

Vonk wou modern en veelsydig wees, skryf Spies, met die klem op aktualiteit (en nie verhale nie). Anders as sy voorgangers, is Vonk in volkleur gedruk. Later is meer verhale geplaas (ook tekenverhale).

Twee tydskrifte is in samewerking met Nederlandse ondernemings geloods: Tina en Bollie.

Tina was ‘n poging om met inset van alle kragte en sonder terugkyk die finale sprong te maak van die konserwatiewe ou plattelandse Afrikanerjeug na die naoorlogse verstedelikte Afrikanerjeug,” bevind Spies.

Tina verloor egter die stryd teen stygende koste (en beperkte inkomste) en sluit in 1976. Bollie het dieselfde pad geloop, ondanks sy kleurvolle strokies, maar het in Huisgenoot voortgeleef.

Al hierdie publikasies was produkte van Nasionale Pers (later Naspers).

Patrys

Die jeugtydskrif Patrys het van 1952 tot iewers in die 1970’s ‘n besondere plek in die harte van jongmense gehad. Hier is ‘n aantal voorbeelde van voorblaaie, artikels, stories en rubrieke wat die tydskrif gekenmerk het. Dit gee nogal insig in die leefwêreld en -denke van destyds, of dan van die skoolgaande jeug se belangstellings.

Verhale was ‘n belangrike komponent van die maandblad.

Ruimteverhale het klaarblyklik die kinders in die 1950’s en 1960’s erg geboei.

Nadat Voortrekkerpers (uitgewer van Die Transvaler) die eienaar van die blad geword het, het die aanbieding konserwatiewer geword.

Verhaaltemas het ook op die voorblaaie neerslag gevind. Die voorbeeld heel links is uit die 1950’s en in kleiner formaat.

Naas sport en ruimteverhale was diere (en soms monsters) stapelvoedsel.

‘n Jong André P. Brink skryf in 1955 vir Patrys (kyk onder) en Leon Rosseau ontwikkel die Fritz Deelman-karakter.

In die 1960’s was fotoboekies baie gewild met karakters soos Mark Condor. Patrys het die tendens gevolg met sy eie fotoverhale.

Onder: Strokiesprente was deurgaans deel van die pakket.

Lesers se drome is soms met foto’s van swierige motors aangewakker.

Die redaksie het mettertyd sy mark onder meisies ontgin. Daar is ook onderskeid getref tussen laerskool- en hoërskoolkinders met uitgawes wat op hulle toegespits was.

Die stig van bendes is aangemoedig en die kunstenaar F.G. Roberts het gereeld wapens vir die bendes geteken.

Patriotiese jong burgers is in die Patrys-speurklub aangemoedig om met die polisie saam te werk. ‘n Rubriek het lesers se belangstelling lewendig gehou.

Die Voortrekkers het in elke uitgawe ‘n paar bladsye gekry om van hul aktiwiteite te vertel.

Allerlei stokperdjies is deur middel van rubrieke aangemoedig.

Seuns is ook geïnspireer om aandag aan hul liggame te gee en sportsoorte soos judo te beoefen.

Bron: J.J. Spies se hoofstuk “Die wêreld van die kind” in Oor grens heen — Op pad na ‘n nasionale pers 1948-1990 (onder redaksie van W.D. Beukes en in 1992 uitgegee deur Nasionale Boekhandel).