Tuis  |  Groot Nuus   |   Koerante   |   Koerante (Engels)  |   Tydskrifte   |   Truspieël   |   Verbatim   |   Boeke
Dieper delf   |   Menings

VAN DIE KURATOR

Hierdie digitale mediamuseum groei elke week, bietjie vir bietjie. Daar is reeds meer as 200 artikels of inskrywings te lees en honderde voorblaaie en ander foto’s is te sien.

Natuurlik is daar allerlei leemtes. Die omvang van die Suid-Afrikaanse mediageskiedenis — of dan net die Afrikaanse deel daarvan — is te groot vir een platform om, sonder enige finansiële ondersteuning, by alles uit te kom.

Ons doen egter wat ons kan en glo dat die webblad reeds ‘n wesenlike deel van ons mediageskiedenis dek en verwysings en skakels na meer inligting verskaf.

Mediamense.com is nie ‘n geslote platform wat net aan sommige ‘n verhoog bied nie. Enige bydrae wat waarde kan toevoeg, sal met plesier oorweeg word.

Ek moedig ook lesers aan om hul kommentaar op artikels/inskrywings op die Facebookblad Mediamense Bylae te plaas.

Johannes Froneman
Kurator
joh.froneman@gmail.com

Wat is die doel van ’n digitale mediamuseum soos hierdie? Twee jaar nadat Mediamense in sy .com-gewaad herleef het, is dit nie ’n onbillike vraag nie. Waarom sal ons en medewerkers weekliks ure bestee om steeds nuwe materiaal gereed te kry en te plaas? Waarom sal ons lesers (ook op en via die Facebookblad Mediamense Bylae) tyd aan ons inhoud bestee?

’n Maklike antwoord is dat dit vir ons lekker is om na ou koerante en tydskrifte te kyk. Of om die herinneringe van mediamense te lees. Dit roep byna vergete gebeure in herinnering – soms positief, maar ook negatief. Dit herinner ons aan mediavorme en mediamense wat iewers in die verlede deel was van ons medialandskap – dus van ons leefwêrelde. Dit is soos om deur ’n fotoalbum te blaai.

So word ons aan vorige werklikhede verbind. Eintlik herverbind, want jou voorgeslagte bly jou voorgeslagte al dink jy nie gereeld aan hulle nie. So ook met die mediawêrelde wat ons huidige een voorafgegaan het.

Deur hierdie historiese realiteite tot tema te maak, ken ons daaraan ’n belangrike plek toe. Dit herinner en verbind, maar is uiteindelik ook ’n potensiële bron van groter begrip – van gister én vandag, want mediageskiedenis gee perspektief. Ons moet net die moeite doen om daarna te soek.

’n Belangrike doel van Mediamense.com is dus die skep van begrip oor die verlede. En nou praat ek nie net van wat dekades gelede gedoen is nie, maar selfs heel onlangs. So is gister se nuusaanbieding reeds deel van ons mediageskiedenis. Die medialandskap het selfs net die afgelope twee jaar taamlike veranderinge ondergaan; dit is ’n voortgaande proses wat soms paradigmaverskuiwings behels.

Die basiese elemente bly egter dieselfde: groot veranderinge in die tegnologie, politiek, ekonomie en lewenswaardes is telkens aanwesig. Die uitdaging vir ’n digitale museum soos Mediamense.com is om iets verteenwoordigend van hierdie veranderinge te vertoon.

So word veranderende bladuitleg en drukwerk waargeneem by koerante en tydskrifte. Dit weerspieël die groter moontlikhede wat redaksies gekry het.

Die nuustemas vertel nie net iets van die geskiedenis nie (wat uiteraard saam met geskiedenisboeke en -artikels gelees moet word), maar ook van die magte en kragte wat agter die skerms aanleiding gegee het tot die ondergang van sommige publikasies en die daarstelling van nuwes.

Die kom en gaan van publikasies dui op die bepalende rol wat ekonomiese oorwegings speel. So was dit in die verlede, so is dit vandag.

Die inhoud van koerante en tydskrifte dui op die veranderende moraal van redaksies en lesers. Hier kan hoogstens flitse daarvan gegee word; die ernstige student moet dieper gaan delf. In die toekoms wil ons wel akademiese navorsing belig, maar Mediamense.com bly slegs ’n museum; dit is geen biblioteek of argief nie.

Onderliggend aan al die voorafgaande is die uitgangspunt dat die joernalistiek in al sy vorme ’n belangrike, noodsaaklike kultuuraktiwiteit is. Kultuur in die sin van skep, bewaar, bewerk, versorg en lééf. Dit is die aktiwiteit wat by uitstek tersaaklike inligting en menings in ’n bepaalde vorm verpak en tydig deurgee – sodat gebruikers daardeur verryk word.

Dit spreek vanself dat die tersaaklikheid van inligting, die identifisering van wat “nuus” is, en die begrip tydigheid nie in beton gegiet is nie. Dit word voortdurend herdefinieer – soos in voorbeelde op hierdie webblad gesien kan word.

Waarom dan ’n digitale mediamuseum? Om te kyk hoe en wat mediamense gedoen het. Om ons te help begryp hoe joernaliste deur die dekades hul taak verstaan het, al het hulle selde hoorbaar daaroor nagedink. En om die vanselfsprekendheid van enige mediabenadering te bevraagteken.

Uiteindelik sê ons met Mediamense.com dat nie alle voorafgaande mediaprodukte ewe betekenisvol was nie, nie alle mediamense ewe belangrike bydraes gelewer het nie, maar dat elkeen erkenning verdien wat eerlik – in die lig tot sy of haar beskikking – lesers, luisteraars en kykers met inhoud gedien het.

 

Groete

 

Johannes Froneman
Kurator
083-2635075
joh.froneman@gmail.com
Januarie 2022

Mediamense.com en sy boetie, die Faceboekblad Mediamense Bylae, is nou mooi aan die gang. Dankie vir almal wat dit lees en dit nuttig of net plesierig vind. Mediamense Bylae het reeds 550 vriende, wat gereeld opdaterings oor mediasake kry en skakels na tersaaklike stukke op die webblad.

Julle sal sien ons het die voorkoms taamlik drasties aangepas en lettertipes kleiner gemaak. Dit is in reaksie op gebruikers wat daarop gewys het dat die meeste mense deesdae na webblaaie op slimfone kyk en sommige lettertipes te groot gevind het.

Boonop het ons besef Mediamense.com en Mediamense Bylae fokus eintlik terselfdertyd op die oue én die nuwe. Dus is die voorkoms moderner gemaak om dit te weerspieël.

Terwyl bestaande afdelings op ‘n gereelde basis nuwe aanwinste kry, hoop ons om in die volgende maand of twee die afdeling oor boeke te lanseer. Dit sal inligting en kort uittreksels uit boeke deur en oor mediamense bevat.

Groete

 

Johannes Froneman
Kurator
083-2635075
joh.froneman@gmail.com

Goeiedag!

Welkom by mediamense.com, ‘n digitale mediamuseum wat fokus op joernaliste, koerante, tydskrifte en (metterwyl) ook op die uitsaaiwese. Hierdeur wil ons aan Afrikaanse mediamense en hul produkte ‘n uitstalruimte gee sodat ons hul enorme bydrae nie sal vergeet nie – veral in hierdie tyd van vervlietende digitale media.

Mediamense.com wil ‘n lewende museum wees waar begrip gekweek word van die media – hede en verlede. Dit poog om ‘n vinnige blik op ons mediageskiedenis te gee, aangevul met indieptestukke. Telkens word verwys na bestaande bronne sodat navorsers, of mense wat net meer wil weet, verder kan gaan lees.

In ‘n vroeëre gedaante van mediamense (as mediamense.co.za) is ‘n begin gemaak aan die optekening van biosketse van mediamense, aantekeninge oor boeke oor en deur mediamense, en die plasing van allerlei geleentheidstukke, herinneringe en aanhalings. Daar was ook ‘n aantal voorblaaie van Afrikaanse koerante en tydskrifte te sien. Daardie webblad is egter gekaap en is nie meer die tuiste van hierdie mediamuseum nie.

Nou, op,  mediamense.com, herleef ons met ‘n baie groter aanbod koerant- en tydskrifvoorblaaie – meestal van Afrikaanse publikasies, maar ook van Engelse publikasies. Die voorblaaie word in  vier kategorieë aangebied: Groot Nuus, Koerante, Koerante (Engels) en Tydskrifte. In Groot Nuus word voorblaaie geplaas waarop sommige van die belangrike nuusgebeure van die afgelope meer as honderd jaar verskyn het; in Koerante en Koerante (Eng.) kom die (visuele) storie van ons land se koerante oorsigtelik aan die beurt; en in Tydskrifte word gefokus op ons bekendste tydskrifte.

Hierdie aanbod verteenwoordig fase 1. In die maande wat kom beoog ons om heelwat van die plasings wat voorheen op mediamense.co.za verskyn het weer ‘n staanplek te gee. En daarna sal nuwe inskrywings gereeld bygevoeg word, onder meer nuwe navorsingsartikels en aantekeninge oor boeke.

Ons verwelkom bydrae, veral tot ons komende By nabaat-afdeling. Dit sluit aan by sosialemediaplatforms waar mediamense hul stories vertel, maar ons probeer dit nie vervang nie. Ons gee plek vir langer stukke, waar by nabaat vertel en besin word.

Ons maak graag korreksies as ons iewers die bal misslaan. Hierdie is ‘n lewende museum wat gedurig verbeter en aangevul moet word. Daarvoor maak ons op ons lesers se samewerking staat.

Dankie vir jou belangstelling. Skakel gerus met ons.

Johannes Froneman
Kurator
083-2635075
joh.froneman@gmail.com

Mediamense.com word as nie-winsmakende onderneming in openbare belang bedryf. Ons dra nie advertensies nie en vra geen geld van gebruikers nie. Die stigter en kurator is Johannes Froneman, wat deur die jare die steun van kollegas, studente en vriende ontvang het. Die voorblaaie kom hoofsaaklik uit die kurator se eie versameling, hier en daar aangevul deur items op sosiale media of die internet.

Johannes is ‘n emeritus-professor van die Noordwes-Universiteit waar hy vir 25 jaar lank joernalistiek gedoseer het. Voor dit was hy aan verskeie publikasies verbonde. Hy is die skrywer van ‘n vyftigtal akademiese artikels, verskeie hoofstukke in boeke en is ‘n gereelde radiokommentator oor mediasake. Sy boek oor ons mediageskiedenis, Ter wille van oorlewing, ideologie en geld, het in 2023 by Akademia Uitgewers verskyn.

Die bou van die webblad is met die onontbeerlike hulp van Koos Gagiano gedoen (koos@koosgagiano.co.za). Izak Malherbe help met die proeflees.

Rig asb. alle korrespondensie aan joh.froneman@gmail.com, maar lesers is baie welkom om kommentaar oor enige inskrywing op die Faceboekblad Mediamense Bylae te plaas.