‘N LANG PAD NA DEMOKRASIE

Die stryd om stemreg vir alle mense, mans en vroue van alle rasse, kom ‘n lang pad. Selfs voor die stigting van die Unie van Suid-Afrika in 1910 was stemreg in die Kaapkolonie en Natal (albei Britse kolonies) en ook in die twee onafhanklike Boererepublieke, die Suid-Afrikaanse Republiek en dié van die Oranje-Vrystaat, deurentyd ‘n twispunt. Maar die unie van vier provinsies was in wese ‘n blanke staat.

So het The South African News uniewording in ‘n bylae gevier.

Rasseskeiding kom voor sedert Jan van Riebeeck hom in 1652 aan die Kaap gevestig het. Dit is deur verskillende regerings op verskillende wyses toegepas. Maar nadat die Nasionale Party in 1948 aan die bewind gekom het, is “apartheid” met veel meer doelgerigtheid toegepas. Meer nog so toe dr. H.F. Verwoerd eerste minister geword het en die gedagte aan aparte state vir die swart etniese groepe van Suid-Afrika gestalte gekry het.

Swart mense het oor die dekades heen op verskillende wyses teen hul eensydige uitsluiting uit Suid-Afrika se parlement kapsie gemaak. In 1960 was daar verskeie gevalle van onluste in swart woongebiede, maar dit het geen effek gehad op die regering se planne om aan swart mense aparte “state” buite die “wit” Suid-Afrikaanse politieke bestel te gee nie. Vernederende diskriminasie het op alledaagse vlak voortgeduur.

In 1961 word Suid-Afrika ‘n republiek.

Ná die dood van Verwoerd in 1966 word adv. John Vorster premier, waarskynlik omdat hy beskou is as ‘n sterk man wat geen wanorde sou duld nie. In 1976 breek onluste egter weer oral in die land uit. ‘n Onderhandelde skikking het nog ver in die toekoms gelê.

In hierdie tyd (1976) skryf Tertius Myburgh, redakteur van die land se grootste koerant, die Sunday Times, ‘n ongewone voorbladmeningstuk waarin hy pleit vir dramatiese veranderinge wat die land sal wegstuur van die afgrond.

Teen 1983 het P.W. Botha beperkte hervorming deurgevoer wat bruin mense en Indiërs beperkte magte oor “eie sake” én sitting in die Parlement gegee het. Maar swart mense is nogmaals uitgesluit. Daar is ook op talle ander maniere wetlik teen mense van kleur gediskrimineer, veral swart mense. Dit en ander griewe lei in 1985 tot landwye onluste, wat weer aanleiding gegee het tot die verklaring van ‘n noodtoestand in 1985.

Die ANC, SA Kommunisteparty, PAC en ander organisasies wat as ondermynend beskou is, was verbode en normale politieke aktiwiteite onmoontlik. Die sogenaamde bevrydingsbewegings het steun gekry van onder andere die USSR en China (beide kommunistiese diktature wat in ‘n magstryd met die Weste gewikkel was, die sogenaamde koue oorlog). Dade van terreur het sporadies voorgekom en gelei tot lewensverlies onder burgerlikes, terwyl swart “meelopers” op gruwelike wyse in townships tereggestel is.

Die meerderheid van die wit bevolking was bang dat stemreg vir die swart meerderheid ‘n kommunistiese diktatuur sou meebring waarin alle vryhede, insluitende godsdiensvryheid, drasties ingeperk sou word.

Afgesien van die swak veiligheidstoestand en die effek van sanksies op die ekonomie, het ‘n paar faktore meegewerk aan die uiteindelike verbreking van die dooiepunt. Dit sluit in: Verteenwoordigers van die regering en leiers van die ANC het in die geheim met mekaar begin praat, PW Botha het siek geword en is vervang deur F.W. de Klerk, die kommunistiese regering in die USSR het tot ‘n val gekom en die simbolies belangrike Berlynse Muur is afgebreek.

Op 2 Februarie 1990 kondig pres. F.W. de Klerk uit die bloute aan die ANC en ander organisasies ontban word en leiers soos Nelson Mandela vrygelaat word. Dit het dan ook ‘n week later plaasgevind. Die nuus is met wisselende prominensie geplaas, maar het die New York Times gehaal.

Die Transvaler se opskrif.

Kort ná pres. De Klerk se dramatiese aankondiging het die regering en die ANC voelers na mekaar uitgesteek en het die twee partye in Kaapstad ontmoet. Nou het ‘n lang onderhandelingspad voorgelê.

‘n Jaar na sy aankondiging op 2 Februarie 1990 het pres. De Klerk aangedui dat alle oorblywende apartheidswetgewing reeds in 1991 geskrap gaan word, wat dan ook gebeur.

Ander opskrifte dui aan hoe stuk vir stuk weg van apartheid na ‘n nuwe bedeling beweeg word. Maar daar was ook dreigemente van geweld.

De Klerk het ook sy mikpunt gestel van ‘n geleidelik oorgang, iets wat nie gebeur het nie.

Die volgende belangrike stap was om die blanke kiesers in ‘n referendum te vra om die onderhandelingsproses te steun. As die nee-stem sou wen, sou die hele proses van die baan wees. Pres. F.W. de Klerk het ‘n mandaat gevra en die land het dus in Maart 1992 asem opgehou.


Die ja-stem het ver gewen en daarmee is die groen lig gegee vir verdere onderhandelinge op pad na ‘n nuwe politieke bedeling vir Suid-Afrika waarin alle burgers stemreg het. Die voorgestelde nuwe grondwet is egter nie weer aan die wit kiesers voorgehou nie.

Enkele regses wat teen die voorgestelde nuwe bedeling gekant was, het in April 1993 teruggeslaan deur ‘n belangrike ANC-leier, Chris Hani, te vermoor. Vrees vir ‘n burgeroorlog vlam op, maar danksy onder andere Nelson Mandela se leierskap is die geweld beperk.

Die Afrikaner-Weerstandsbeweging probeer in 1993 die onderhandelinge ontwrig.

1994: Op die nippertjie het die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) tot deelname aan die verkiesing op 26, 27 en 28 April ingestem. The Star bestempel dit as die finale Rubicon, dus die laaste hindernis wat uit die weg geruim is voor die groot verkiesing kon plaasvind.


City Press (24 April 1994) volg die daaropvolgende Sondag op met hierdie voorblad: Nou is dit tyd om (uiteindelik) te stem.


Op stemdag, 27 April 1994, moedig The Star sy lesers só aan om te gaan stem.

Koerante was vol van mense wat vir die eerste keer kon stem.

Die verkiesing het enorme logistieke probleme opgelewer, maar uiteindelik was daar ‘n uitslag wat as taamlik vry en regverdig aanvaar is.


Die ANC het met ‘n groot meerderheid gewen, Nelson Mandela is in die Parlement tot president verkies en die volgende dag, 11 Mei 1994, word president Mandela voor ‘n skare by die Uniegebou in Pretoria ingehuldig. The Star se opskrif dui op ‘n gelofte wat die reënboognasie met mekaar sluit. Die jare wat volg, vertel sy eie storie.

Kyk ook na die afdeling Die Voorblaaie