‘N AFRIKANER WAT DIE ‘SUNDAY TIMES’ MET EER GELEI HET

Deur Johannes Froneman

Tertius Myburgh was een van die briljantste redakteurs wat Suid-Afrika nog gehad het. As hoofredakteur van die Sunday Times het hy ‘n reeds belangrike blad van 1975 tot 1990 tot verdere hoogtes gevoer en ons joernalistiek verlewendig in ‘n politiek dorre tyd.

As Afrikaner het hy die besondere taak gehad om sy koerant se diverse leserskorps week ná week te boei en dalk selfs te oorreed tot beter insigte. Sy gehoor was destyds dalk nog oorwegend wit, maar ondersteuners van die Nasionale Party-regering het die koerant ook in groot getalle gelees. Hier het hulle soms die stories gekry wat die Afrikaanse koerante nie kon of wou plaas nie. En in talle gevalle het juis die NP-ministers vir (taktiese redes) scoops aan die Sunday Times gelek…

Tertius Myburgh met sy kenmerkende pyp. Hy het ewe gemaklik in hoë Britse kringe beweeg as tussen mede-Afrikaners en swart Suid-Afrikaners.

Hooffoto bo: Myburgh pleit in 1976 in ‘n ongewone meningsartikel op die voorblad vir hervorming.

Myburgh was eers redakteur van die Pretoria News, maar sy groot opdrag was om die Times by die gedugte Joel Mervis oor te neem. Die flambojante, welsprekende en besonder tweetalige Myburgh was soos ‘n vis in water. Een van sy kenmerkende opmerkings was dat die Sunday Times soos die ousus was wat haar lyf moes verkoop sodat die jonger sibbe universiteit toe kon gaan. Bedoelende: die Sunday Times het soms erg populisties geraak (ter wille van sirkulasie en baie goeie winste) sodat ander publikasies, soos die Rand Daily Mail, kon oorleef. (Wel, nie vir altyd nie, maar vir veel langer as wat die RDM se eie syfers dit eintlik toegelaat het.)

Dit sê nogal iets van dié pragmatiese redakteur. So het hy die ja-stem in die 1983-referendum ondersteun, tot groot ontsteltenis van wit liberale. Maar hy het gemeen dit sou ‘n krakie in die muur meebring (mense van kleur in die Parlement). Waarin hy wel korrek was, hoewel dit ook swart woede ontlok het.

Sy destydse assistent-redakteur en politieke skrywer, Fleur de Villiers, het in ‘n gedenkblad aangevoer dat Myburgh redakteur was toe Afrikaners se sekerhede oor apartheid begin wankel het. Dié het hy aangemoedig sonder om die regering heeltemal te vervreem. Pik Botha en ander wou self hervorming hê en het in Myburgh ‘n bondgenoot gehad.

Daarom was dit nie vreemd toe Myburgh as ambassadeur in Washington aangewys is nie. Tragies genoeg is hy skielik oorlede nog voordat hy die pos kon opneem. Hy sou ‘n uitnemende diplomaat gewees het. Sy aanstelling het sommige se wantroue nietemin in hom bevestig. Maar kort daarna het onderhandelinge bevestig dat hy die tekens reg gelees het. Dit was tyd vir onderhandelinge, versoening en ‘n nuwe begin.

Later is beskuldigings gemaak dat hy ‘n agent van die Nasionale Intelligensiediens sou gewees het. Wie sal ooit weet? Ek glo dit nie, maar dat hy goeie bronne gehad het, is seker so. Dit het nie van hom ‘n betaalde agent gemaak nie.

Watter goed ingeligte joernalis het nie bronne in die intelligensiediens nie? Watter van die bekende Afrikaanse politieke joernaliste, soos Freek Swart, Alf Ries en Jack Viviers (wat later vir PW Botha in die presidensie gaan werk het), het nie bronne gehad wat hulle nooit sou erken het nie?

Wat egter nie van Myburgh gesê kan word nie, is dat hy met die regering geheul het. Hy het apartheid en die apartheidsregering deurgaans konsekwent geopponeer. Daarin het die geskiedenis hom reg bewys. Ook in sy pragmatiese soeke na vrede en versoening tussen groepe wat lynreg teenoor mekaar gestaan het.

Dat Myburgh in die Engelstalige pers gewerk het, het hom in my oë nie ‘n Engelse joernalis gemaak nie. Net so min soos sy kollegas Hans Strydom en Hennie Serfontein. Myburgh was ‘n Afrikaner met ‘n gesofistikeerde politieke uitkyk wat hom in die apartheidsera net mooi nêrens in die Afrikaanse pers sou gebring het nie. Die verlies was die Afrikaanse pers s’n, maar ons het hom en sy kollegas by die Sunday Times waardeer.