MURRAY LA VITA — SKUGTER PROFIELSKRYWER VAN FORMAAT

Murray la Vita het die afgelope jare naam gemaak as profielskrywer vir Netwerk24 en die drie Afrikaanse susterkoerante Die Burger, Beeld en Volksblad. Hy het Johannes Froneman van sy joernalistieke pad vertel.

Iewers het ek gesien jy het as misdaadverslaggewer begin. Vertel hoe jy in die joernalistiek beland het — veral ook jou eerste opdragte en ervarings. 

Ek het in 1987 by Die Transvaler in Pretoria begin werk nadat ek die honneurskursus in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het. Ek het nie lank daaroor gedroom om ’n  joernalis te word nie. Die joernalistiekdepartement is in ’n  Victoriaanse huis in Crozierstraat waarby ek daagliks op pad huis toe verbygestap het; aan die einde van my derde jaar (BA met filosofie en sosiologie) het ek op die ingewing van die oomblik daar ingestap omdat ek nog nie geweet het ek wat die volgende jaar gaan doen nie. ’n  Kort gesprek (onderhoud) met prof. Johannes Grosskopf het gevolg en só het ek in die joernalistiek beland.

Murray in gesprek met Garry Kasparof.

Foto: Jaco Marais

Hooffoto bo deur Philip de Vos

My eerste opdragte as dagbladjoernalis was toe ek in Desember 1986 as student by Beeld in Pretoria vakansiewerk gedoen het. Wat ek onthou, is dat ek Naas Botha moes bel oor sy hond (poedel?) wat weggeraak het en met ’n  atleet Myrtle Bothma moes praat oor die eersteling wat sy verwag het. By Die Transvaler onthou ek hoofsaaklik een moord ná die ander waaroor ek moes skryf.

Wie het saam met jou gewerk en wie was die base. En die omstandighede waarin julle in Mitchellstraat gewerk het.

Ek is nie seker of die gebou te Mitchellstraat 161 oorspronklik as koerantkantore ontwerp is nie; dit het vir my die gevoel gehad van ’n  industriële ruimte wat later tot kantore omvorm is. Die hele gebou sou vibreer wanneer die rolpers begin draai. Iets soortgelyks het op ’n  keer gebeur toe ’n  woedende nuusredakteur (’n  baie groot man – lank én rotund) ’n  fotograaf in die gang van die redaksiekantore afgejaag het.

Die redakteurs onder wie ek gewerk het, was Blaar Grobbelaar en Jan van Vreden. Die mense wat ’n  vormende invloed op my as mens en as joernalis gehad het, was Foeta Krige, Jean Oosthuizen, Amanda Visser en Eugéne Yssel (politieke joernaliste) en Michael Green en Jan van Tonder. Later, toe ek ná die samesmelting van Die Transvaler en Vaderland nuusredakteur geword het van die nuwe Die Transvaler, was die mens wat die grootste invloed op my gehad het Jeanne Goosen. Ons het lewenslange vriende geword. Gerhard Burger was redakteur van daardie Transvaler en ook hý het ’n  belangrike invloed op my as joernalis gehad. Ek sou later ook by Keur en Personality onder hom werk. Hy is een van die hardwerkendste joernaliste wat ek ooit teëgekom het en is daarby enorm taalvaardig en in alle opsigte ’n mensch.

Jy het jou mettertyd as profielskrywer gevestig. Hoe het dit gebeur? Vermoedelik nie oornag nie…

Ek het in die loop van my loopbaan, ook later as “Transvaalse redakteur” van die tydskrifte Keur en Personality, artikels en langer onderhoude geskryf. Wat my skielik byval, is die onderhoud wat ek met wyle Jimmy Abbott (stoeier, bokser, pastoor) gedoen het. Hy het Keur gebel om te sê hy is getoor (hy kan nie gewig verloor nie) en hy het ’n  sangoma laat kom om hom te help. Hy wou weet of ons daaroor wou skryf. Ek en ’n  fotograaf het toe ’n  dag by hom, sy vrou (ek dink haar naam was Carrie) en dié se kleindogter deurgebring. Dit was een van die vreemdste ervarings van my lewe. ’n  Wit pastoor in ’n  wit safaripak met ’n  bruin kunsleer-aktetas byderhand het in ’n  pienk Kombi uit Lindley in die Vrystaat daar opgedaag.

Toe die pos as profielskrywer in 2006 by Die Burger (waar ek sedert 2002 nagredakteur was) oopgaan, het ek met huiwering daarvoor aansoek gedoen. Om onderhoude te doen was (en is soms steeds) vir my as introvert ’n  redelike uitdaging, maar ek het dit mettertyd min of meer baasgeraak en toenemend begin geniet. Wat my veral daarvan bekoor, is die geleentheid wat ’n  mens kry om vir ’n  uur of drie ’n ander mens se leefwêreld te betree. Ek vind dit ook baie kosbaar dat iemand ’n  mens genoeg vertrou om met jou oor hul lewe te praat.

In hierdie gesogte rol het jy seker al honderde mense onderhoude mee gevoer. Lig ‘n paar van die interessantste of flambojantste mense uit.

Naas die reeds vermelde pastoor en sportman het iemand soos aartsbiskop Desmond Tutu ’n  groot indruk op my gemaak: sy weerloosheid; dat dit vir hom belangrik was dat mense van hom moet hou; hoe seer sy uitbeelding (ook letterlik in groteske karikatuuragtige spotprente) as van die bose, in die Afrikaanse media hom gemaak het.

Ook Garry Kasparof, wie se vinnige en driftige bewegings aan dié van ’n  bokser herinner het. Sharleen Surtie-Richards: snaaks, wys, hartverskeurend. Peter Veldsman: bon vivant en manjifieke storieverteller. Dit was insgelyks ’n  groot belewenis om onderhoude te voer met mense soos Hennie Aucamp, Breyten Breytenbach, Adam Small, Madeleine van Biljon en Antjie Krog. 

Menige jong joernaliste wil seker profiele skryf. Watter raad het jy aan hulle?

Betoon respek aan alle mense. Luister aandagtig. Vermy dit teen elke prys om mense seer te maak of hul waardigheid aan te tas. Hou jouself uit die onderhoud. Lees onophoudelik sodat jy ingelig kan wees en derhalwe daartoe in staat is om ’n  sinvolle gesprek te voer. In dieselfde asem: wees nuuskierig oor ander mense en oor dit wat in die wêreld om jou aangaan.