Die media is van tyd tot tyd self in die nuus, soms weens aanvalle of ander bedreigings, soms weens entoesiasme en ondersteuning vir ‘n koerant of medium. Maar uiteindelik is die media meestal weens slegte nuus in die nuus – dieselfde lot wat ander instellings en openbare figure tref.
Die Volkstem se gebou in Pretoria is in 1915 so beskadig, vermoedelik weens ‘n rubriek wat as pro-Duits ervaar is.
In Die Burger 100, die gedenkboek by die blad se honderdjarige viering, word vertel hoe die koerant aangeval is.
Dieselfde lot tref Die Transvaler en Die Vaderland in die oorlogsjare (1939-1945).
In 1936 berig die Cape Times as volg oor die onderbreking van normale programme op radio weens die dood van koning George van Brittanje.
Die Cape Times se uitgawe oor die dood van koning George was uitverkoop en het winkeliers genoop om van die bladsye in die vensters op te plak.
‘n Laatnaghofbevel het Die Beeld in Januarie 1967 verhinder om ‘n hoofberig oor gays te plaas. Die berig is verwyder en die koerant oorgedruk. Die gebeure het negatief op die redaksie gereflekteer, maar belangstelling in die koerant is nogmaals geprikkel en verkope het aanhou styg.
Later in 1967 skiet ‘n destyds bekende regse aktivis op joernaliste.
‘n Nuwe Afrikaanse dagblad word aangekondig. Vir Die Transvaler was die belangrikste nuushoek dat die koerant (wat Hoofstad genoem is) die Nasionale Party sou ondersteun. Dr. Andries Treurnicht was die blad se eerste redakteur.
In November 1967 kom nuus van die samesmelting van Landstem met Dagbreek. In sy nimlike styl, is redakteur Piet Beukes ene optimisme. Toe Dagbreek en Landstem in 1970 met Die Beeld saamsmelt om Rapport te vorm, het Landstem as afsonderlike Kaapse uitgawe van Dagbreek en Landstem gesneuwel.
Afrikaanse Pers (1962) Bpk en Voortrekkerpers (uitgewer van Die Transvaler) gooi hul kragte bymekaar. Dit sou spoedig ontwikkel tot Perskor, wat al die destydse noordelike Afrikaanse dagblaaie uitgegee het.
Nog ‘n bekende regse aktivis dreig ‘n fotograaf in die 1980’s, maar skiet darem nie regtig nie. Die verkoop van The Citizen was nuus in 1978 omdat dit in die geheim deur die staat befonds is en later aan die Afrikaanse Perskor verkoop is.
In 1976 begin Suid-Afrika se televisiediens. Dit het dagblaaie swaar getref, veral nadat advertensies in 1978 op TV toegelaat is en adverteerders in ‘n groot stroom weggevloei het van koerante.
Veral middagkoerante se leestyd is ernstig ingekort deur TV. Verder het dit so gewild geword dat koerante en tydskrifte hul inhoud al hoe meer moes aanpas om kykers inligting oor TV-sterre en -programme te gee.
Die binnelandse onrus in die 1970’s lei tot streng wetgweging wat ‘n beperking plaas op berigte oor verbode politieke byeenkomste. Die Durbanse Daily News het hierdie wet oortree, waarna hul redakteur by ‘n sosiale byeenkoms in hegtenis geneem is — dit terwyl hy die betrokke dag nie op kantoor was nie. Hy is daarom vrygespreek, maar sy adjunkredakteur is beboet.
Die dagblad World is in 1977 deur die regering verbied. Dit het later as die Sowetan herleef.
Die druk van ‘n verbete sirkulasiestryd tussen Beeld en Die Transvaler noop enkele werknemers van Perskor om met Die Transvaler se syfers te konkel. Dit kom in 1980 aan die lig.
Die Vaderland maak in 1982 die pap dik aan oor sy konkurrent Beeld se foutiewe verspreidingsyfers vir Pretoria. Anders as die vroeëre gekonkel met sirkulasiesyfers by Die Transvaler en The Citizen is die sirkulasiesyfers as sodanig nie kunsmatig verhoog nie — ‘n feit wat die berig duidelik stel. Die schadenfreude was egter van korte duur en daar was geen hofsaak nie. Wel het daar ‘n jaar later ‘n markverdeling gekom wat Beeld wesenlik bevoordeel het. Die Vaderland is in 1988 by Die Tranvaler ingelyf en het van die toneel verdwyn.
Die mark is weens die sirkulasiegeknoei verdeel, maar Die Transvaler moes uit die meer winsgewende middagmark na Pretoria skuif, waar dit in 1993 sluit.
Met sy belangrikste opponent uit die pad, groei Beeld sterk en bars die blad in 1983 deur ‘n belangrike mylpaal.
In die 1980’s is verskeie noodtoestande afgekondig en ‘n beperking op die publikasie van sekere inligting geplaas. Die Engelse pers het meermale ‘n blokkie op hul voorblaaie gedra om aan te dui dat die inhoud van die blad aan sensuur onderhewig was. Die Afrikaanse koerante het nie die regering op hierdie wyse in die verleentheid gestel nie. Die Weekly Mail het sy teenkanting duidelik gemaak deur hierdie uitgawe openlik deur ‘n mediaprokureur te laat sensor — om sodoende aan lesers te wys hoeveel inligting hulle nie mag publiseer nie.
‘n Week na hierdie protes, het die regering koerante verbied om wit spasies oop te laat. Die Mail is ook by geleentheid vir ‘n maand lank verbied, terwyl ‘n koerant soos The World in die ban gedoen is en sy redakteur sonder verhoor vir maande opgesluit is.
Dr. Willem de Klerk is in 1987 afgedank by Rapport – oor sy politiek en/of swak sirkulasiesyfers? Dit hang af wie jy vra.
Die Nasionale Pers noteer in 1994 op die Johannesburgse effektebeurs, die begin van ‘n nuwe era vir die maatskappy waar wins nou die hoogste doelwit is.
Tog is daar donker wolke op die horison en word ‘n ramp vir koerante in 1994 voorspel.
Die geliefde redakteur van die Klerksdorp Rekord, Doret Jansen, sterf skielik op ‘n jong ouderdom.
Die eienaarskap van die uitgewer van die land se grootste koerant, Sunday Times, het verskeie kere gewissel. Hierdie poging in 2007 het nie geslaag nie.
Die druk op joernaliste is soms groot.
Die drukmedia het in 2011 saamgestaan in hul protes teen wetgewing wat die vryheid van spraak sou aantas.
Die opkoms van die digitale media, swak ekonomiese toestande en ander faktore plaas die drukmedia teen 2019 in ‘n al swakker wordende posisie. Boonop tref die Corono-pandemie die mensdom in 2020, wat talle tydskrifte laat sluit en sukkelende dagblaaie se sirkulasies en advertensieinkomste verder swaar tref. Talle lank gevestigde gemeenskapskoerante smelt saam of word gratis koerante, soos hierdie drie.
Volksblad, die oudste Afrikaanse dagblad sluit as papierkoerant en leef voort op Netwerk24.
Geplaas op 17 Nov. 2020