LIZETTE RABE — REDAKTEUR, JOERNALISTIEK-PROFESSOR, KAMPVEGTER, MEDEMENS

Prof. Lizette Rabe was vir twee dekades professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en voorheen redakteur van Sarie. Sy lig enkele aspekte van haar loopbaan hier uit. Deur Johannes Froneman.

Jy was deel van die eerste joernalistiek-honneursklas op Stellenbosch. Was die joernalistiek altyd jou mikpunt?

Ek wou eintlik kuns swot – is steeds ’n gefrustreerde Sondagskilder (soos Piet Cillié) – maar my kunsonderwyser het my afgeraai; gesê Stellenbosch se kunsdepartement is te “kommersieel”. Ek het maar eers later gehoor hy en daardie tyd se US-kunshoof het ʼn uitvalletjie gehad.

Maar ek het altyd ook gehou van “opstel skryf”. Hoewel ek in my Junie-matriekeksamen, in 1974, “opstel skryf” amper gedruip het want ek het, in wat vandag Kaaps genoem word, geskryf. Heeltemal te gewaag vir ʼn Paarlse skool in die jaar voor die Groot Afrikaanse Taalfees in 1975 en waarvoor ons skoolkoor toe al van wie weet wanneer getoonsette Langenhoven-liedjies moes oefen.

Hoewel ons matrieks uiteraard nie deel van die luisterryke gebeurtenis die volgende jaar sou wees nie, maar lekker loslittige eerstejaars wat nie ʼn saak met taalfeeste sou hê nie. (#dankietog)

Jy het daar, in 1978, n groot bewondering vir prof. Piet Cillié ontwikkel … Vertel iets oor daardie leerling-leermeester-verhouding.

PaPiet, soos hy dadelik gedoop is, en ons studente het ʼn sonderlinge verhouding gehad. Hy het maar ʼn stugge persoonlikheid gehad teenoor die juniors in Die Burger se redaksie, het ons gehoor, maar daar in Crozierstraat 26 ontdek hy toe die vreugde om met entoesiastiese en kritiese jongelinge om te gaan.

Wat ekself betref: Die ou Afrikanernasionalis, amper ʼn dinosaurus, en die enetjie met die perskewange, het op ʼn vreemde manier gekliek. Hy het ons almal in boksies gedruk: Ek was kwansuis die deeglike Duitsertjie wat die Afrikaanse jongelinge moes wys hoe deeglik ʼn mens kon wees. Klasmaat Larry was die hardwerkende Joodjie wat die Afrikaanse jongelinge moes wys hoe hard mens éintlik kon werk.

Wel, nie Larry of ek het voldoen aan daardie etikette nie. Larry was ons klas se teksboek-hippie; ek die een wat van natuur dwarserig was. Ek het nie eens gedink ek gaan gekeur word vir die kursus nie, want in daardie tyd was Piet die eenman-keurkomitee, en die keuringsproses het ongeveer so verloop:

1. Wat is jou naam?

2. En wie is jou pappie?

Op Vraag 1 was die antwoord eenvoudig. Op Vraag 2 het ek, nie te onordentlik nie, ek is immers met Germaanse “Sitten” grootgemaak, maar nog altyd reguit, vir hom vertel dit maak nie saak wie my pa is nie, want hy is nie ʼn Afrikaner nie, en dus daarom ook nie ʼn Broeder nie, en buitendien al lankal dood.

Dié “Frechheit” het ek gedink gaan my ʼn plek in die klas kos, en ek wou eintlik in elk geval liewer in Prof Willie (Esterhuyse) se filosofiehonneursklas gewees het. En toe is ek tog een van die 20 uitverkore jongelinge.

Dit was ʼn interessante jaar. Daar was nie eintlik iets soos ʼn kurrikulum nie. Ons het halfpad deur die jaar besef daardie argaïese shorthand en snelskrif wat ons moes leer, is nêrens eens naby die Jaarboek van daardie tyd se beskrywing van ons kursus nie. Ek was in die afvaardiging wat hom dit meegedeel het: Ons hoef dit nie deur te kom nie, want dit staan nêrens nie. Piet het amper ʼn patologiese ding oor shorthand en snelskrif gehad; asof gepaard met ʼn Afrikaner-minderwaardigheidskompleks teenoor die Engelse joernaliste en hul shorthand. 

Let wel: Shorthand en snelskrif is twee verskillende stelsels – twee verskillende “tale”. Die Engelse joernaliste van sy tyd het hul notas in shorthand geneem, asof dit die waarmerk van hul professionaliteit was; Afrikaanse joernaliste moes op hul langhand staatmaak. Maar ons het toe vir hom mooi verduidelik die tegnologie het mos ontwikkel en daar is darem al bandopnemers.

Maar ja, tussen die stroomop-studente en hul PaPiet het ʼn spesiale verhouding begin. Ons het baie gestry, maar hy was milddadig met wyshede, ook nadat ons Crozierstraat verlaat het en so nou en dan ʼn draai by hom sou maak in sy aftreekantoor in toe se Naspers-Sentrum (nou Media24-Sentrum).

Ek het nog steeds ʼn vergeelde stukkie papier teen my aanplakbord met ʼn aanhaling van die filosoof en wiskundige Alfred North Whitehead (1861-1947), ʼn stukkie wysheid wat Piet my op ’n dag meegedeel het toe ek as juniortjie ʼn draai by hom gemaak het daar op die 19de verdieping: “The major advances in civilization are processes which all but wreck the societies in which they occur.” Waarop hy ’n lang uiteensetting gegee het oor die frase “all but wreck”. Dit lýk dalk of alles vergaan, maar die klem is op all but. Dit lyk so. Én voel so. Maar dis “all but”.

Ek het dit sedertdien al op so baie van toepassing gemaak – al was dit meestal nie “advances” nie. Al die seismiese veranderings in ’n mens se persoonlike lewe, hoe dit “all but wreck”. Of ons land en haar mense: Hopelik “all but wreck”. Of globaal. Ensovoorts.

Jy het by Die Burger begin? En daarna Sarie, waar jy die eerste vroulike redakteur geword het. Vertel iets van jou jare daar.

Die Burger, soos al die ander Naspers-koerante van daardie tyd, het dubbele persoonlikhede gehad. Sommige dele van die redaksie kon liberaal wees, ander moes die tight rope van Afrikanernasionalisme volg.

Ek was gelukkig in die koerant se “onderdorp” waar Wilhelm Grütter ons wonderbaarlike mentor was. (Die bodorp was die Groot Kanonne.) Ook waar ons min of meer maar ons eie gang kon gaan; ons het immers nie Die Volk enige skade aangedoen nie.

Ek wou bitter graag in die politieke redaksie kom, maar twee dinge het teen my getel: My politiek was te pienk, en ek het wel langbroek gedra, maar nie omdat ek nie ʼn rok kon dra nie. Verkeerde politiek, verkeerde geslag. En ek het saam met my vroulike klasmaats ʼn klein revolusie gelei oor gelyke betaling vir gelyke werk. Iets wat nie naastenby ʼn moontlikheid was daardie tyd nie.

En toe ek op trou staan, was DB se bestuurder later desperaat. Ek onthou hy het daar agter sy groot lessenaar sy hande in die lug gegooi: “Maar juffrou Rabe! WIL jy dan nie getroud wees nie?!” Die rede vir sy wanhoop? My standpunt was dat as hy kan bewys dat manlike personeel wat trou, moet bedank, as formaliteit, en dan ʼn nuwe personeelnommer kry, as formaliteit, dan sal ek die “formaliteite” volg. Nou ja, ons weet mos.

Maar ek het in elk geval nie ʼn toekoms by DB gehad nie, en ʼn tydskrif se vaarwater was baie meer apolities. Ek was gelukkig om onder Fritz Joubert aangestel te word. Maar ook eers nadat hy my twee keer gevra het. Nie omdat ek hard to get gespeel het nie, maar omdat ek toe pas ʼn nuwe beat by DB begin het, en dit darem nie net so wou los nie.

Ek het gedog Fritz vra my nooit weer nie. En toe sowaar, my beurt het gekom. By SARIE het ek as artikelskrywer tuisgevoel. Intussen het Izak de Villiers vir Fritz opgevolg. Izak en ek het ons verskille gehad, maar ons het ook goed gekliek, al het hy gedink feminisme is ʼn vloekwoord.

Van die Sarie-voorblaaie wat onder Lizette se redakteurskap gepubliseer is.

Die tydskrif-omgewing het my ook gepas toe ek met ʼn gesin begin het. Rekenaars het pas hul verskyning gemaak, en ek kon as vryskut werk soos dit my pas. Toe Izak weg is na Rapport wou hy hê ek moet hom opvolg. Ek het nooit ambisies as redakteur gehad nie. My kinders was nog klein; ek het gesê Naspers gaan my nooit bedank as ek my gesin opoffer vir die maatskappy nie.

Ek het toe wéér gemeen die maatskappy sal my seker nooit weer vra nie: Hulle bied haar die lekkerste job in tydskrifjoernalistiek aan, en sy trek haar neus op! En sy kon nogal die eerste vrou – uiteindelik! – gewees het om die job te doen! Maar ek het seker genoeg gesondig dat alles toe tog na my teruggekom het.

Daar word ek waaragtig op ʼn dag weer gevra of ek dit nie sal oorweeg om redakteur te word nie. Izak se opvolger was André – Bakkies – Rossouw. Hy is met kanker gediagnoseer, en ek het met die maatskappy ooreengekom dat as Bakkies nie meer verder kan nie, tree ek met grasie in sy skoene.

My tweeling het toe pas hul graad 1 begin, en ek het ewe gesê op my voorwaardes. Maar die maatskappy het natuurlik geweet hulle kry veel meer as hul pond vleis uit my. Vroue het nog/moes nog altyd oorpresteer om te wys ons kan. En gelukkig: SARIE het, en het steeds, die wonderlikste span kreatiewe mense. Ons was ʼn groep vroue en mans met wie jy oorlog toe sou gaan. 

Jou aanstelling as professor op Stellenbosch was n keerpunt. Of draaipunt. Nou was jy die leermeester. Maar die akademie het sy eie uitdagings — veral rakende tyd. Jou ervaring hiervan?

Dit was veel (véél) erger as wat ek gedink het. Met apologie, waardering, en grasie, teenoor akademiese kollegas. Joernaliste is gewoond daaraan om as span te werk. En 24/7 aan diens te wees. Akademici is in baie gevalle individue wat hul eie ding doen. Ek het gelukkig my akademiese “papiere” al vir ʼn hele klompie jare gehad – my D het ek in 1994 klaargemaak. Let wel, sonder dat daar iets soos studieverlof was.

Lizette is ‘n boekemens. Benewens koerant- en akademiese artikels het sy verskeie boeke geskryf, waaronder Rykie — ‘n lewe met woorde en A Luta Continua — a history of media freedom in South Africa.

En ja, in Januarie 2001 het ek daardie sprong oor die afgrond gewaag en is ek by die US aangestel. Maar ek was nie ʼn beroepsakademikus nie. Het nie my spore in die Heiligen Hallen van die akademie verdien nie. Die Ivoortoring – en stewig staan hy steeds – was vir my ʼn labirint. Ek was op my eie. Maar gelukkig was die inkommer ʼn joernalis. En, darem – en ons hou dit kort: She survived. And lived to tell the tale. Eintlik etlike “tales”, maar dis te lank vir hier en nou.

Maar jy het heelwat gepubliseer. Talle akademiese artikels, boeke … Ook nou en dan iets in die koerant. Waaroor het jy (meestal) geskryf?

My navorsingsbelangstelling is die geskiedenis. Daardie ding van joernaliste is “historians in a hurry”; joernalistiek is “history in a hurry”. My fokusareas was mediageskiedenis en kultuurgeskiedenis, die onderwerpe van my M en my D. En as joernalis is ʼn mens mos in elk geval in alles geïnteresseerd – die joernalistiek is ʼn lisensie vir nuuskierigheid. 

Piet Cillié het altyd gesê joernaliste weet minder en minder van meer en meer, en akademici meer en meer van minder en minder. My navorsingsareas was eintlik daardie “meer en meer”, want daar is so baie interessante, stimulerende, fassinerende velde. Buiten die geskiedenis, ook media en gender, vanselfsprekend. Maar ook media en opleiding, en die vinnig veranderende tegnologie. Joernaliste moet kan knoppies druk. Maar belangriker: Eers moet hulle dínk voordat hulle daardie knoppies druk. En maar net weer: Die geskiedenis, o die geskiedenis. Hoe baie leer ʼn mens net nie uit die geskiedenis nie. En hoe baie word verdoesel? Steeds verdoesel? Hoeveel méér moet mediabase sélf oor selfsensuur besin?

En dan was daar die fisiese uitbouing van jul fasiliteite in Crozierstraat

Ons het op mekaar se skote gesit. Die departement was “ontwerp” in daardie pragtige Edwardiaanse gebou vir 20 honneursstudente, ʼn professor, ʼn sekretaresse, ʼn assistent. En toe raak ons jaar op jaar meer, met M-programme, en PhD-programme. Ek het elke jaar, wanneer dit op die burokratiese kalender weer tyd was om ʼn “strategiese plan” voor te lê, my plan voorgelê dat ons geboue oorkant mekaar ruil: Ons gebou vir die twee regsprofessore en hul assistente in die lieflike neo-klassieke CL Marais Bibliothek-gebou oorkant die pad. Dit was die US se eerste bilbioteek, danksy die broer van Jannie Marais, wat baie van sy baie ponde aan die US en vir die stigting van Nasionale Pers gegee het. Daardie twee regsprofessore en al hul kollegas kon in ons gebou pas; ons sou ons allerheerliks in daardie gebou kon inrig.

Maar ʼn mens moet weet, teen ʼn regsfakulteit wen jy nooit. So ons het toe maar eers die een helfte van Crozierstraat se solder laat inrig. Toe die tweede helfte. Maar nog steeds het ons op mekaar se skote gesit. En toe word Russel Botman rektor, en onder sy Hoop-projek, hóóp ek toe ons kry ʼn paar miljoen vir ʼn anneks. Dis danksy hom dat ons ons pragtige state of the art-anneks kon bou en uiteindelik genoeg ruimte gehad het vir ʼn departement in die 21ste eeu, met alles wat kan oop- en toemaak in hierdie digitale era van ons. 

Jy het ook die samestelling van die klas heelwat gediversifiseer…

Ek dink dit het sistemies gebeur. En moes eintlik baie (soos in baie) vinniger gebeur het.

Hoe kyk jy terug op jou jare op Stellenbosch? Dis tog lekker om jou oudstudente te sien hul plek volstaan as joernaliste…

Die gevoel is dankbaar eerder as trots wat ons studente betref. Ons kon immers met die crème de la crème van jonk en jukkerige joernaliste werk. Ons land se top-beginners wou op Stellenbosch kom studeer, en ek glo dit sal so bly. Ook wat nagraadse navorsing betref. Die departement is gefokus op sy praktiese én navorsingswerk, en onder die nuwe leiding en ʼn nuwe era gaan dit vir seker inspirerend blom.

Jy voel sterk oor joernalistiekopleiding en die noodsaak daarvan. n Enkele opmerking of twee daaroor?

Ons lewe in so ʼn komplekse tyd, vir joernaliste om verslag te kan doen oor gewone, alledaagse dinge, het jy reeds denkende doeners nodig. As dit kom by die kompleksiteite van ons samelewing, in ons land, maar ook globaal, het jy denkende doeners op ʼn volgende vlak nodig: Mense wat weet hoe om die regte digitale knoppies te druk, maar wat eers dink voordat daardie knoppies gedruk word. Hulle is professionele mense, wat ʼn professie beoefen met ʼn etiese kode waaraan elke oomblik voldoen moet word. En dat ons gehore – luisteraars, lesers, kykers – asseblief hul nuus by betroubare hoofstroommedia sal kry. Dis soos die onlangse advertensie van die Daily Maverick: As jy jou hare wil laat sny, sal jy tog nie ʼn tuinskêr gebruik nie. Nou hoekom sou jy sosiale media vertrou met inligting waarop jy jou besluite moet neem?

Jy is nou tegnies afgetree, maar is steeds met allerlei besig.

Ek beskou myself eintlik nie as ʼn akademikus nie, maar as ʼn joernalis wat so bietjie oor die afgrond gespring het – en joernaliste gaan mos maar net aan met hul werk. Dus gaan alle skryfwerk nog voort, ook navorsing oor allerlei. Daar is nog ʼn paar projekte wat ek graag sal wil afhandel, buiten die nagraadse studente wat ʼn emeritus-professor mos in elk geval end-uit moet begelei. En wat ʼn mens nie moet vergeet nie: Wyl die dinkertjie hou. Buiten dat my vyfjarige kleinkind vir my vra wat bedoel ek met “dinkertjie” – bedoel ek ʼn brein? Ja, my kind. En wat ek met bostaande bedoel: Hulle sê mos “academics don’t retire, they just lose their faculties”. Daarom hoop ek maar ek kan nog so ʼn wyle my dinkertjie/brein/denkvermoë behou om darem ʼn paar van my projekte te kan afhandel.

Ek het altyd gesê ek gaan ʼn verskriklike nuuskierige vlieg teen die muur wees as my aardse bestaan ophou: Daar is so baie goed wat gebeur. Wat die media betref: As ek kyk na die sensasie-sonder-brieke. Néé. Dit kan nie. Hoofstroommedia moet die “ware lewensdramas” los vir die “ware lewensdrama”-media. Daar is natuurlik ook ʼn plek daarvoor. Maar nie op ons hoofstroommedia-webwerwe en koerantvoorblaaie nie (solank as wat koerante nog met ons is).

En ek wonder waarheen met kunsmatige intelligensie. Soveel geleenthede. Soveel gevare. Die vlieg teen die muur gaan nie ʼn oomblik se verveling hê nie.

Laaste woord dalk aan een van die groot name uit die mediageskiedenis (en wat die geld gegee het vir die befaamde Columbia School of Journalism, die model waarop ons klein departementjie destyds geskoei is), Joseph Pulitzer (1847-1911). Ja, ook die ou wat sy geld uit die geelpers/sensasie gemaak het, maar hy het dit immers nie voorgehou as sake van die dag nie, en het as een van Amerika se eerste mediabaronne darem sy deel gedoen vir die staanmaak van professionele joernalistiek.

Terug na sy woorde, wat nou meer as ooit geldig is: “It’s my duty to see that they get the truth; but that’s not enough, I’ve got to put it before them briefly so that they will read it, clearly so that they will understand it, forcibly so that they will appreciate it, picturesquely so that they will remember it, and, above all, accurately so that they may be wisely guided by its light.”

Laat ons hoop dit bly die Poolster vir ons professionele nuuskantore.

Erkenning: Die foto’s is afkomstig uit die gedenkboek Stories van hoop en onthou (saamgestel deur Marenet Jordaan).