LISE BEYERS — FOTOGRAAF-REDAKTEUR MET INK IN DIE ARE

Lise Beyers is die streekredakteur van die Paarl Post en die Standard en Breederivier Gazette, van die oudste gemeenskapskoerante in die land. Maar eintlik wou sy net fotograaf word. 

Lise vertel: “Ek het in ‘n joernalistieke huis grootgeword en is van jongs af blootgestel aan die nuus, koerante en interessante mense. Ons moes ook lees – boeke, koerante, tydskrifte. Hierdie het beslis my NUUSkierigheid geprikkel.” Haar pa en ma, Fritz en Maureen Joubert, was op hul dag bekende joernaliste.

Toe gaan swot sy om ‘n fotograaf te word.  Sy vertel: “My idee was om ‘n oorlogsfotograaf te wees. Ek het vroeg in 1987 in Johannesburg by Beeld as persfotograaf begin werk en is aan die diep kant ingegooi. Ek het baie tyd in Soweto spandeer tydens onluste, so ek was byna in ‘n oorlogsone.” 

Sy wou ook skryf, maar by Beeld is vir haar gesê: Jy is of ‘n joernalis of ‘n fotograaf.

Lise Beyers … ouskool-joernalis wat elke kop en foto tot by die pers bekyk … en dan met volgende week se koerante begin.

Hooffoto bo: Altyd aan’t kyk wat in die nuus is.

“Eendag kom ek terug kantoor toe vanaf Ellispark ná ek foto’s by ‘n Curriebeker-rugbywedstryd geneem het (ons kantoor was stapafstand). Ek het 10 minute voor die eindfluitjie geloop omdat ek nog die aand foto’s in die stad moes gaan neem.

“Net buite die stadion hoor ek ‘n helse slag, toe doodse stilte. Skielik daal stukke metaal om my neer. Gelukkig was daar ‘n beskutte bushalte naby en ek het daar gaan skuiling soek. Die ontploffing het van anderkant die stadion gekom. Toe die stukke ophou val, het ek soontoe gehardloop – ek het geweet dit was ‘n bom … Twee mans is dood toe hulle motor ontplof het weens ‘n motorbom.

“Ek het die toneel stap-vir-stap beleef en die volgende dag op kantoor, toe skryf ek uit my eie uit ‘n storie daaroor – oor die ervaring van midde-in die situasie wees. Dit was my eerste skryfstuk.”

Intussen was haar voltydse werk dié van fotograaf. “Dit was verskriklike jare in die 80’s en vroeë 90’s met geweld, bomontploffings, politieke onsekerheid ….  Vir iemand wat oorlogsfotograaf wou wees, het die adrenalien pal hoog geloop.

“As fotograaf was dit ‘n besliste hoogtepunt om Kaap toe te vlieg vir Nelson Mandela se vrylating, en Amnesty International se konsert in Harare waar al my top musiek-helde opgetree het. Ek was voor die verhoog en agter die skerms om foto’s te neem van Bruce Springsteen, Sting, Peter Gabriel en Tracy Chapman.

“Ook het ek saam met FW de Klerk en Pik Botha na die Kongo gevlieg vir hulle vergadering met Mabuto Sese Seko (destyds president). Dit was ‘n voorreg om persoonlike tyd tydens onderhoude met mense soos Beyers Naudé, Desmond Tutu, Moeder Teresa en soveel ander te bestee. Die geleenthede is nog daar – joernaliste moet dit egter self aangryp.”

Na ‘n weg van die joernalistiek en ’n tyd as ‘n korrespondent in KwaZulu-Natal trek, sy in die vroeë 2000’s Paarl toe waar sy op hoër skool was.

“Eendag sien ek die pos as joernalis in die Paarl Post en ek dog: Dit kan mos ‘n lekker rustig jobbie wees vir so ‘n weekskoerantjie. Ek was baie verkeerd met hierdie gedagte…”

So verander die beskikbaarheid van water van jaar tot jaar … met plakkate wat skalks knipoog.

Paarl Post dek ‘n baie groot gebied met baie interessante mense en  nuusgebeurtenisse. As joernalis het sy die Paarl Print-brand in 2009 gedek waarin 13 mense oorlede is.  “Ek was die eerste joernalis op die toneel en het vir vier dae lank pal hieraan gewerk om al die oorledenes se families op te spoor.”

Vandag kan sy met reg sê: “Ek is ‘n hardenuusjoernalis”, maar by ‘n gemeenskapkoerant is jy ook die arm man se prokureur en hulle klop pal aan jou deur – so ek moet ook sê dat dit ‘n hoogtepunt is wanneer iemand vanaf die straat na jou toe kom met ‘n ernstige probleem waarmee niemand kan help nie. Jy kan hulle wel help met ‘n skrywe hieroor in die koerant en dan skrik die owerhede wakker …”

Maar ook onthou sy Nelson Mandela by een van sy laaste openbare verskynings toe sy standbeeld voor die Victor Verster-gevangenis in die Paarl onthul is.

“Op ‘n stortreëndag het hy onder ‘n tent gesit en uitstaar na die pad wat hy in 1990 na vryheid geloop het. Ek sou wat gee om sy gedagtes toe te lees.

“My storie het herinneringe ingesluit aan sy vrylatingsdag in 1990 waar ons ure in die bloedige Paarlse Februarieson moes staan en wag en al die chaos wat daarna plaasgevind het – tot daardie reëndag waar ‘n heelwat verswakte Madiba gesit het, maar steeds met ‘n sprankel in sy oog.” — Johannes Froneman