In die beginjare van die internet moes webredakteurs dikwels op ongebaande weë reis om bestemmings te bereik. Jan Bezuidenhout was 14 jaar lank redakteur van Landbou.com, Landbouweekblad se webwerf. Hy vertel oor dié pad.
Pas nadat Landbou.com in 1998 in die Naspers-stal geskep is het die dotcom-borrel wêreldwyd gebars. Talle webwerwe het daarna omstreeks 2000 ʼn sluimer-modus binnegegaan.
Einde 2003 het Jean du Preez, redakteur van Landbouweekblad, (LBW) my ʼn opdrag gegee: “Vat Landbou.com en maak dit werk, anders moet ons dit sluit.” Bou gebruikergetalle uit en toon ʼn inkomste, was die versoek.
Die skrywer van hierdie artikel en gewese redakteur van Landbou.com, Jan Bezuidenhout.
Nou ja: Internet-toegang op die platteland was destyds beroerd. Sommige boere moes deur handsentrales poog om die wêreldwye web te besoek; webwerwe se aanbiedinge was beperk — gebruikers kon nie kommentaar lewer nie; min statistieke oor webbesoeke was beskikbaar en sosiale media het nog nie bestaan om verkeer te dryf nie.
Anton Schutte, ʼn melk-en-mielieboer van Senekal, moet die eer kry vir ʼn vars briesie op Landbou.com: Hy bel een oggend vroeg en bekla die swak internet-toegang op sy plaas. Hy kon e-pos benut, maar aikona webwerwe besoek. Toe gooi ons diesel in die bestaande e-pos-Gespreksforum se tenk, waar lede met mekaar kon gesels, raad vra of kennis uitruil. Sakkie Larney, ʼn afgetrede IT-ghoeroe, het die forum voltyds begin hanteer en dit het baie gewild geword. Van die besprekings is as artikels in LBW gepubliseer.
Een voorbeeld was ʼn boer se kommer oor ʼn duur bul wat hy gekoop het, maar wat hy nooit sien werk nie. Forumlede het daaroor bespiegel totdat iemand met dié antwoord vorendag gekom het: “Skaam bulle werk net snags”. ʼn Veearts het dit beaam.
Die fokus op Landbou.com is mettertyd na vars landbounuus verskuif en verskeie projekte is aangepak om nuttige bykomende inligting te vind en vir gebruikers te publiseer, soos ons leuse wat later uitgedink is: “Boer op ons werf.”
ʼn Webredakteur moes destyds die internet-kodetaal HTML onder die knie kry en deur net ʼn foutiewe kode iewers in te tik het jy die webwerf “gebreek”. Dan moes jy skarrel, tot groot vermaak van die IT-ontwikkelaars. “Search engine optimisation” (SEO) was ʼn gonswoord – dit was uiters nuttig. Jy moes onder meer leer om sleutelwoorde in ʼn storie slim in opskrifte en intro’s in te span sodat soekenjins dit kon optel.
Die groot suksesstorie op Landbou.com is ongetwyfeld Vra vir Faffa, ʼn vraag-en-antwoord-platform, wat op 7 Januarie 2005 die lig gesien het. Deur boere se vrae oor veegesondheid te beantwoord, het dr. Faffa Malan (foto links) Suid-Afrika se eerste digitale veearts geword. Nou, met meer as 4 000 artikels in sy kraal is Vra vir Faffa die mees omvattende databasis vir veegesondheid in Suid-Afrika en dr. Faffa is ʼn huishoudelike naam in die landbou.
Op aandrang van kollega Liezl Vercueil, wat in 2008 by die redaksie aangesluit het, is ʼn handboek in 2010 saamgestel uit ʼn keur van Vra vir Faffa-artikels.Vra die veearts: Wat beesboere moet weet (1), was ʼn topverkoper en is minstens vyf keer herdruk. Soortgelyke boeke het later gevolg.
Die eerste advertensie op Landbou.com is eers in 2006 verkoop toe ʼn forumlid, Pierre van Niekerk, een van sy veeprodukte geadverteer het. Hy het ʼn volle R350 vir die advertensie betaal!
Sowat 11 jaar ná Pierre se produk geadverteer is, was die advertensie-inkomste op Landbou.com R3,5 miljoen vir die boekjaar tot 30 April 2017. (Dié inkomste het teen einde 2021 waarskynlik al verdubbel.) Meer as 800 000 bladlese is in April 2017 aangeteken en 11 000 nuusbriewe is weekliks uitgestuur.
Adverteerders wou destyds nie maklik aan digitale advertensies byt nie en die eerste advertensiebestuurder is in 2007 aangestel om dié sendingwerk te doen. Selfs in-huis het enkele LBW-kollegas die webwerf as ʼn bedreiging vir hul eie maandelikse teikens beskou. Dié ys is mettertyd gebreek. Samewerking het later tot sogenaamde 360-advertensies gelei wat op Landbou.com, in Landbouweekblad, op ons sosiale mediaplatforms en YouTube geadverteer is.
Uit nuuskierigheid oor wat ons web-eweknieë oorsee doen, het ek in 2007 per e-pos uitgereik na John Walter, webredakteur van SuccessfulFarming in Amerika, Robert Bodde van Boerderij.nl in Nederland en Peter Austin, redakteur van The Land in Australië. Nes boere doen, was dié drie bereid om raad te gee en het vertel wat vir hulle werk en wat nie. Veral Robert se terugvoering was van nut omdat hy ons Afrikaanse webwerf kon verstaan. Boerderij.nl was egter so vyf jaar vóór ons, juis vanweë hul goeie internet-toegang. Al drie oorsese platforms het reeds in 2007 goed geld gemaak!
Ander projekte
Deur Sakkie Larney se bedrywigheid met die Gespreksforum is drie byeenkomste vir lede gereël: Twee in die Wes-Kaap en selfs ʼn boeredag in Pretoria.
ʼn Platform vir Blogs is geskep. Die ywerigste blogger was Danie Coetzee, ʼn Vrystaatse boer wat in Paraguay gaan boer het.
Ander projekte was ʼn wen-ʼn-stoetram-kompetisie; die reël van verskeie oorsese landboutoere na Argentinië, waarvan een in 2010 uitgeloop het op die stigting van Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK); die skep van aanlyn geklassifiseerde advertensies en die publikasie van grondpryse in Suid-Afrika, en nog meer.
In 2010 is ʼn petisie oor plaasmoorde op Landbou.com aangebied. Die lys van handtekeninge is aan die voorsitter van die Parlement se staande komitee oor Polisie oorhandig. Die komitee het dit binne ʼn maand bespreek, gepaard met wye mediadekking.
Omdat die weer vir boere van groot belang is, is ʼn ooreenkoms met dr. Kobus Botha en sy uitgebreide weerwebwerf aangegaan en dit is op Landbou.com vertoon. Die vermaarde prof. Peet Pienaar se jaarlikse weerwaarnemings is op die webwerf gepubliseer en dit was telkens van die gewildste artikels.
In Januarie 2015 was Landbou.com die stigter van ʼn jaarlikse verskansingkompetisie. Deelnemers moes 6 000 ton fiktiewe mielies op die Johannesburgse Sekuriteitebeurs (JSE) verhandel. Dié tegniese kompetisie is op ʼn platform naas die graanhandelaar BVG se werklike verhandelingsplatform saam met borge bedryf.
Verskeie lekkerlese is op Landbou.com gepubliseer, soos toe die borrel in die wildbedryf gebars het oor redelik opspraakwekkende en peperduur kleurvariante. Maarten Kruger van Potchefstroom het só deurgeloop met sy aankoop van ʼn skaars geel blesbok teen R400 000. Op sy plaas het dié duur bok se kleur binne weke na ʼn gewone swart blesbok van R2 000 verander. Op April-gekkedag is heerlik die spot gedryf oor wild wat hul kleur “verloor” en Victor Matfield, wat toe ook met skaars wild geboer het, is geteiken.
Die koms van Facebook
In my beginjare by Die Volksblad het ek in die laat 1970’s ʼn berig geskryf oor Duncan Mattushek, ʼn besondere student aan die Landboukollege Cedara. Hy was die slagoffer van ʼn landmynontploffing in die grensoorlog en het al twee sy hande verloor.
Ek het hom op Cedara opgespoor en kon via die studente se tiekieboks-foon met hom gesels. Die destydse berig was oor sy aanpassing op Cedara met sy hand-kloue en sy studies. Duncan se naam het dekades lank in my kop bly vassteek en ek het hom uiteindelik in 2011 in Nieu-Seeland opgespoor — danksy Facebook — waar hy boer. Die artikel oor hom wat daarop gevolg het, heet: “Boer sonder hande”. Dit was nogal sy voorstel!
Met die koms van Facebook teen 2010 het die Gespreksforum in onbruik geraak en boere het op dié nuwe platform gesels. Ons redaksie moes soms bontstaan met kommentare op FB en ons ander sosialemediaplatforms, veral oor geloof, politiek en ras.
Ons het die skêr ingelê as dit nodig was. Dit het konflik en soms afstigting veroorsaak, maar ons het voet by stuk gehou en ál die inhoud op ons platforms is gesif. Ons het ongelukkig ook eerstehands ervaar hoe die sosiale media ʼn loopbaan kan ontspoor toe ʼn senior kollega se vinnige vingers ʼn ondeurdagte teksboodskap die kuber ingestuur het.
Foute is ook met Landbou.com begaan, soos om nie in te koop by internet-diensverskaffers wat op die platteland opgeskiet het om WiFi-dienste aan kliënte te bied nie. Dit kon ook voordelig gewees het om by ʼn digitale agri-winkel aan te haak. ʼn Webwerf vir trekkerverkope is geskep maar dit was nie suksesvol nie, nes ʼn AgriWiki-platform.
Oor my 14 jaar by Landbou.com het vier redakteurs die leisels van Landbouweekblad styf gehou. Landbou.com het redaksioneel aan hulle verslag gedoen.
Daarteenoor moes Landbou.com oor dié tydperk ook onder 10 LBW-uitgewers en digitale bestuurders werk. Dié bestuurders wat nie die landbou-omgewing geken het nie, kon gewoonlik soomloos by die LBW-opset inskakel.
Twee het egter landbou-verward by die LBW-span aangekom en is later ewe verward daar weg. Soms het harde woorde geval, soos dié keer toe ʼn banieradvertensie van ʼn Nataniël-konsert (wat deur ons susterpublikasie Huisgenoot gereël is) in sy volle glorie op Landbou.com vertoon is. Ek het gewonder wat de hel dink boere as hulle dít sien. Ná ʼn bekgeveg is die advertensie verwyder.
Van 1998 tot 2017 is Landbou.com vyf keer oorgebou, beginnende op die Vignette-platform, toe Drupal, DotNet en WordPress en weer terug na DotNet. Landbou.com is eers inhuis as deel van 24.com gehuisves, daarna is dit uitgeskuif, toe weer terug, en tussen afdelings in Media24 rondgeskuif.
Dié skuiwery was soms tot voordeel van die platform, maar ons werk het soms deurgeloop. Ons het saam met Property24 ʼn unieke afdeling vir plaaspryse gebou wat in Mei 2006 by Nampo bekend gestel is.
Dit het die aktekantore se data oor plaasverkope ingetrek en boere kon inligting oor die verkoop van ʼn spesifieke plaas aanvra of gemiddelde grondpryse vir ʼn distrik kry. Dié platform is ongelukkig gestaak toe Property24 na buite die groep verskuif is. Omdat grondpryse so belangrik is, is dié projek nooit laat rus nie en op ander maniere aangebied.
Sedert 1999 het Naspers en later Media24 drie groot projekte naas Landbou.com geskep om die landbou van nut te probeer wees. Agri24, ʼn ambisieuse virtuele koöperasie, is in 2002 gesluit, eintlik omdat dit 10 jaar voor sy tyd was en die gebrek aan internet-toegang ʼn handrem was.
Media24 het in 2011 sy eerste groot toepassing gebou: ʼn landbou-toep, wat slegs op Apple se iPad beskikbaar was. Dit was gewild en het tot 6 000 gebruikers gegroei. Die inkomstestroom kon nie aan die gang kom nie en dit is gesluit.
In 2013 is nóg ʼn Naspers-poging aangewend om ʼn landbou-platform te skep. ʼn Projekspan van 11 mense is byeengebring om nuwe tegnologie en toepassings vir die landbou te ontwerp en op die Android- en IOS-platforms te bou. Dié afdeling is einde 2013 gesluit.
In dié tyd het ʼn landbou-ekonoom verskeie bruikbare berekenaars vir boerdery ontwerp en aangebied, wat die lewe vir produsente in vele opsigte makliker sou maak. Dit was onder meer ʼn welvaartindeks vir die landbou waarmee jy jou boerdery teen soortgelyke ander boerderye in jou distrik, provinsie of nasionaal sou kon meet, asook ʼn model om die individuele produksiekoste van 122 verskillende gewasse te bereken: Van mielies en suurlemoene deur tot by geelwortels – die hele boksemdaais. Dié praktiese modelle lê egter iewers en stof vergaar.
Ten slotte: Iets wat ek oor 38 jaar in die landboujoernalistiek geleer het en steeds in gedagte hou, is: Moet ʼn boer nóóit onderskat nie. Dis ʼn feit soos ʼn koei. Of ʼn bul – dis waar!
* Jan Bezuidenhout was 38 jaar lank ʼn landboujoernalis, tot met sy aftrede in 2017. Hy woon in Kaapstad.