Deur Johannes Froneman
Bal-vir-bal-krieketuitsendings op die radio het byna in die vergetelheid verdwyn, maar sommige van ons onthou hoe die somer van 1966-67 in menige huis gekenmerk is deur die krieketkommentaar wat uur vir uur in Afrikaans op ‘n soms krakerige kortgolfsender aangesweef gekom het.
Die geskiedkundige kriekettoetsreeks van 1966-67 tussen Suid-Afrika en Australië hier in Suid-Afrika het ten einde geloop met die Springbokke, soos die span toe nog geheet het, die wenners met 3-1.
Neil Steyn, sportskrywer van Die Transvaler, het hierdie boek geskryf ná die wonderlike eerste toetsreeks-oorwinning oor die Aussies. Dit het krieket as ‘n sport in Afrikaanse luisteraars se leefwêreld ingebring soos nog nooit nie. En dit danksy die radio.
Dit was Suid-Afrika se eerste reeksoorwinning op die krieketveld oor die Australiërs — ‘n opwindende paar maande waarin die Suid-Afrikaanse paaltjiewagter Denis Lindsay verskeie uitstekende kolfbeurte gespeel het en die hele span, onder leiding van Peter van der Merwe, karakter getoon het. In die span was daar ook legendes soos Graeme Pollock en sy broer, Peter.
Dit was die dae voor TV. As jy nie by die veld kon wees nie, was jy aangewese op radio-uitsendings. In daardie tyd het ons, dalk vir die eerste keer, met bal-vir-bal-uitsendings te doene gekry het.
Hierdie uitsendings is deur aparte Afrikaanse en Engelse uitsaaispanne behartig. Aan Afrikaanse kant was daar name soos Gerhard Viviers, Morkel van Tonder en Werner Barnard. Soos wat die wedstryde van stad na stad plaasgevind het, is plaaslike omroepers van die SAUK ook betrek.
Die wedstryde is inderdaad volledig, van die eerste tot die laaste bal beskryf. Omdat die toetswedstryde oor vyf dae (of ‘n goeie deel daarvan) gestrek het, is derduisende woorde gepraat.
Die uitsaaispanne het nie net oor krieket gesels nie. Die dosyne staaltjies en geselsies wat die omroepers aangebied het, was eintlik ‘n geselsfees soos wat ons tot in daardie stadium nie beleef het nie. Luisteraars het van hulle laat hoor in telegramme (‘n kitsbrief wat tipies deur ‘n briewebesteller per fiets persoonlik afgelewer is).
Hennie Viljoen se storie oor die “goue uur” van SA krieket daardie somer van 1970, as naspel tot die spannende 1966-67-reeks. Graeme Pollock looi die bal grens toe in sy beurt van 274. SA het die reeks met 4-0 gewen. Erkenning aan Die Burger 100, Bun Booyens en Aldi Schoeman se gedenkboek. Die fotograaf se naam word ongelukkig nie aangedui nie.
Krieketuitsendings in Afrikaans was nie splinternuut nie. Selfs die bal-vir-bal-uitsendings was nie nuut nie, maar is reeds vir die laaste twee toetse van die 1964-65-toer deur die MCC (Engeland) gedoen, vertel Gerhard Viviers in sy boek Hallo Charles.
Reeds in die 1950’s het Dana Niehaus saam met die Springbok-krieketspan in Brittanje getoer en van daar in vars geskepte terme die spel beskryf. In die 1960’s is nog terme bygevoeg. En soos die spel telkens ontwikkel het, moes nog terme geskep word. Die skep van terme was altyd ‘n uitdaging vir Afrikaanse sportkommentators.
Vandaar die wonderlike woorde soos kolfkampie, streepbal, hakskeenhoutjie, slagyster, wat in krieketkonteks ‘n bepaalde betekenis gekry het.
Die Springbok-krieketspan van 1966-67 het wel ‘n Van der Merwe as kaptein gehad, maar hy was eintlik Engelssprekend. Jy het vergeefs na ‘n Afrikaanse naam daar gesoek. En omdat dit nog in die apartheidsjare was, was daar ook geen spelers van kleur in die span nie.
Die opkoms van knap Afrikaanse spelers soos Hansie Cronjé, AB de Villiers en Faf du Plessis het nog in die verskiet gelê. Intussen het die Afrikaanse krieketkommentaar die spel onder Afrikaanse luisteraars bevorder.
Het die krieketuitsendings van 1966-67 iewers jong spelers en onderwysers geïnspireer om hul mikpunte hoër te stel? Om tegnies te verbeter en uiteindelik wêreldklasspelers op te lewer? Dit sal ons nie met stelligheid kan sê nie, maar wel vermoed.
Dat Suid-Afrika die opwindende reeks gewen het, het sekerlik ook ‘n rol gespeel — veral ná die pynlik negatiewe spel van die Engelse in 1964-65.
In 1963-64 was daar ‘n goeie reeks in Australië waar Trevor Goddard se span baie goed gespeel het, maar daar is net ‘n Engelse kommentator, Charles Fortune, saam met die span gestuur.
Gerhard Viviers vertel dat die taak aan hom opgedra is om Fortune se kommentaar op kopstukke te volg en dan in Afrikaans aan luisteraars die laaste tien minute van die toetse te “beskryf”. Probleem was net dat Fortune die gewoonte gehad het om oor alles behalwe die spel te gesels. Viviers moes toe maar improviseer en ‘n leë boulbeurt beskryf — wat toe inderdaad vyf lopies opgelewer het!
Die bal-vir-bal-kommentaar is in 1970 voortgesit toe die Aussies onder Bill Lawrie hier kom toer het en die Springbokke onder Ali Bacher die reeks met 4-0 gewen het. Dit was in vele opsigte ‘n hoogtepunt.
Later, in 1986, is die destydse Springbokradio-frekwensie — op voorstel van Heinrich Marnitz, toe sportorganiseerder by die Afrikaanse Diens — ingespan vir die bal-vir-bal-kommentaar. Maar omdat daar net een frekwensie beskikbaar was, is die kommentaar afwisselend in Afrikaans en Engels gedoen.
Die rol van radio het egter weens die koms van televisie in 1976 afgeneem. Kommentaar oor toetskrieket het verder vanweë die opkoms van professionele sport, betaal-TV en die transformasie van die SAUK belangrike veranderings ondergaan — tot nadeel van Afrikaans en die gewone Afrikaanse krieketliefhebber.
Die SAUK het nie die geld om met SuperSport mee te ding nie, maar het wel die reg om plaaslike internasionale sport op televisie uit te saai. Die TV-kommentaar is nou oorwegend in Engels, met bietjies Zoeloe, Xhosa en Afrikaans. Op Supersport het Afrikaanse kykers steeds die voorreg om na Afrikaanse kommentaar te luister, maar dit kom teen die prys van ‘n premiumpakket.
Die gesellige agtergrondgeruis van kortgolfuitsendings wat heeldag duur (tot frustrasie van diegene in die huis wat nié in die krieket belangstel nie) was inderdaad die klank van krieketliefhebbers se lewens.
Radio doen vandag hier en daar verslag oor die krieket, maar langer oorskakelings het skaars geword en bal-vir-bal-kommentaar word nog net deur enkele krieketentoesiaste onthou.
TV-kommentators sit soms nie meer by die wedstryde nie, maar kyk by die SAUK in Johannesburg op ‘n groot skerm en gesels na aanleiding van wat hulle dáár sien — nie wat hulle met hul eie oë sien en beleef nie.
Die herhaalde kykweers wat TV-krieketuitsendings kenmerk, was heeltemal vreemd aan krieket op die radio. Daar was geen TV-kameras en monitors waarop elke raampie oor en oor gekyk en geanaliseer kon word nie. Desondanks onthou ons radio se “krieketprentjies”; hulle was die beste.
Die kommentators moes wakker wees, fyn kyk en dan vir minute op ‘n slag intelligent gesels oor wat hulle dink hulle gesien het. Die skeidsregter se beslissings was finaal, maar krieket is ‘n sport van baie nabetragtings. Dit kon nêrens beter as op radio gedoen word nie.
Meer oor Gerhard Viviers by https://afrikanergeskiedenis.co.za/gerhard-viviers-1926-1998/
Kyk ook na rugby saam met Gerhard se stem by https://www.youtube.com/watch?v=bvibPilFM-o