KOERANTE HET KLANK, KLEUR EN DRAMA NA MIDDESTEDE GEBRING

Deur Johannes Froneman

Ek het in Durban grootgeword waar die Daily News die sterk middagkoerant was. Soos elders is die stadskultuur gekenmerk deur die inspuiting van energie wat die verskyning van die middagkoerant op straat meegebring het. Of so onthou ek dit.

Afrikaanse koerante was hier en daar in Durban te kry, soms ‘n dag laat. Die Vaderland het in die 1960’s seker met die oornagtrein gekom en was altyd op die ou Durbanse stasie (in die middestad) te koop. Dit was ‘n plek met atmosfeer en mense, die reuk van vrugte en ‘n koffiehuis lank voordat koffiewinkels die mode geword het. Ook ‘n stalletjie vol koerante, tydskrifte en slapbandboeke.

Met Beeld se koms in 1974 het Afrikaanse lesers in Durban ‘n nuwe opsie gehad. Die Transvaler was ook nou meer vrylik beskikbaar. Die sirkulasiestryd tussen hierdie twee koerante het hulle genoop om vêr weg van hul sirkulasiehartland teen groot koste verkope na te jaag.

Mense wat in stede grootgeword het waar Afrikaanse koerante vrylik beskikbaar was, verstaan moeilik wat die teenwoordigheid van ‘n Afrikaanse koerant vir Afrikaanssprekendes beteken het. Dit was ‘n bevestiging dat ons ook hier hoort.

Die Daily News, ‘n Arguskoerant, se redaksiekantore was in die Durbanse middestad. Die blad is ook daar, in die middestad, gedruk. Dieselfde geld ander middagkoerante soos The Star (Johannesburg) en (Cape) Argus (Kaapstad). Die Afrikaanse Volksblad (Bloemfontein) , Vaderland (Johannesburg) en Hoofstad (Pretoria) het effe weg van die middestad hul staanplekke gehad. Lank vantevore was daar selfs ‘n Afrikaanse middagkoerant in Kaapstad:

Mense was op pad huis toe ná werk en het destyds nie die groot nuus van die dag via hul selfone ontvang nie, want daar was nie selfone nie. Die radionuus was ook nie altyd toeganklik vir kantoorwerkers nie. Die groot nuus van die dag is dikwels heel eerste op koerantplakkate gesien.

Dan het lesers die hoofberig onder oë geneem wat soms met vet letters aangekondig is. Darem nie té groot opskrifte nie, want veral Arguskoerante was sober en vaal, hoewel hul opposisie teen apartheid en die inperking van persvryheid soms heftig was (kyk voorblad hieronder).

Kleurdrukwerk het eers in die 1970’s posgevat, met die Arguskoerante stadig uit die blokke.

Massiewe plaaslike advertensiesteun (insluitende bladsye en bladsye kleinadvertensies) het gesorg dat veral die Engelse middagkoerante baie redaksionele ruimte gehad het. (Die internet het natuurlik hierdie inkomstebron van alle koerante later verwoes.) By Die Volksblad het dit in die blomjare goed gegaan en moes die stad se oggendkoerant, The Friend, die knie buig.    

Oosterlig (in Port Elizabeth) was Naspers se kleinste en onwinsgewende middagsuster voordat dit later deur Die Burger Oos-Kaap vervang is, wat ook op die ou end as gedrukte koerant gesluit het (maar as digitale oggendkoerant voortleef, soos Volksblad).

Oosterlig se tegniese vermoëns was in 1978 nog so beperk dat drie moontlike hoofopskrifte voor die tyd deur ‘n buitemaatskappy gemaak moes word om die verkiesing van die nuwe eerste minister met die nodige prominensie te kon aankondig. (Daar was drie kandidate en enigeen kon wen; die koerant moes egter vinnig verskyn met die regte naam in groot letters. PW Botha is verkies.) Die volgende jaar is darem met hierdie voorblad na vore gekom, vermoedelik ook met buitehulp.

Dis juis daardie groot stories wat soms in die loop van die oggend of vroegmiddag gebreek het wat middagkoerante in hul goue jare in die binnebaan geplaas het. Al die middagkoerante het by hoë uitsondering inderhaas spesiale uitgawes gepubliseer om werklik uitsonderlike nuus aan lesers oor te dra.

Hennie van Deventer skryf: “In hul droefheid en verslaenheid ná die eerste aanslag op dr. Hendrik Verwoerd se lewe in 1960 en weer in 1966 nadat Demetrio Tsafendas se dolk hom in die Volksraad dodelik deurboor het, het Bloemfonteiners in hul duisende na Voortrekkerstraat gestroom.  Hulle het kom soek na die jongste nuus in spesiale uitgawes, maar ook na geborgenheid.” Só het Die Volksblad die gemoed van sy lesers met dié opskrif geïnterpreteer:

In enkele buitengewone gevalle het Die Volksblad ‘n spesiale uitgawe gepubliseer om ‘n rugbytoetswedstryd te dek. Die koerant se verstommende prestasie om spesiale toetsuitgawes 20 minute na die eindfluitjie op straat te hê, bly noemenswaardig. Onthou, dit was voor televisie en daar was geen kykwere of heruitsendings nie. Die middagkoerant was dié bron van nuus. 

Daar was ook ander spesiale geleenthede. Van Deventer vertel: “Vroeër jare was daardie straat (Voortrekkerweg, nou Nelson Mandelarylaan) die toneel van groot feestelikheid met die bekendmaking van verkiesingsuitslae.” So was dit ook eens by ander Afrikaanse koerante. 

“Vir baie jare was voor die ou [Volksbladgebou] … ‘n opgewonde samedromming van jong mense in afwagting op die koerant met die matriekuitslae, kraakvars van die dreunende rolpers op die grondverdieping af tot in hul gretige hande,” aldus Van Deventer. 

Met die onlangse dood van die Pretoria News wonder mens of daar iewers ‘n oudjoernalis van die koerant is wat iets oor dié koerant se gloriejare in herinnering sal roep. Of van Hoofstad se jare as Afrikaanse middagblad in Pretoria. (Onder: Die destydse eerste minister, John Vorster, met die eerste uitgawe van die koerant in 1968. Foto uit ‘n Volk staan op uit sy as deur L.J. Erasmus.)

Vir Beeld was die Pretoria News vir jare lank ‘n sterk opponent, al was Beeld altyd ‘n oggendkoerant. Behalwe dat Beeld in die hoofstad teen die Afrikaanse mededingers Oggendblad en Hoofstad moes stoei, het die News die lastige gewoonte gehad om Beeld se beste Pretoriastories later die dag met slim plakkate uit te basuin — en so koerante te verkoop. Hulle het onder Tertius Myburgh, Mostert van Schoor en Deon du Plessis die hartklop van (veral wit) Pretoria verstaan.

Beeld se mense in Nieu-Doornfontein (waar Beeld toe gesetel was) het nooit in die middel-1980’s, toe ek in die Beeld-kantoor gewerk het, gesnap wat reg was vir die Pretoriamark nie. Of hul fokus was net elders. Goeie stories is op binneblaaie gebruik, dikwels op die “Pretoriablad”. Eintlik weggesteek. Die plakkate was nie op Pretoriakopers gerig nie. Pretoria News het die gaping by herhaling gevat. Hierdie oorsig is seker later reggestel.

Dit het Beeld jare geneem om in te haal en die Pretoria News verby te steek — ‘n gevolg van Beeld se volgehoue gehalte en die wegkwyn van die middagmark. Daarvan gepraat: Koerante soos die Pretoria News het jare gelede ook in die oggende begin verskyn met latere uitgawes wat die nuwer oggendnuus probeer dek het. So veg susterkoerante soos die Cape Times en Cape Argus nou soggens om dieselfde lesers, maar vir hoe lank? In Port Elizabeth het die Evening Post ook lank reeds die stryd gewonne gegee en het die stad nou net die Herald, in die oggend.

Middagkoerante se pogings het net deels die verwoestende effek van die digitale revolusie, Covid, swak bestuur, twyfelagtige joernalistieke besluite en ‘n veranderende demografie en politieke konteks gekeer nie. Pretoria News het in 2021 tot ‘n skamele sirkulasie van 1 500 betaalde eksemplare per dag gedaal voordat dit in 2022 aan die sirkulasieburo onttrek het. Nou is sy deure gesluit. Dit was ‘n merkwaardige ineenstorting, maar die Daily Sun se val van ‘n hemelhoë 500 000 tot sowat 30 000 is seker die mees dramatiese ineenstorting  van ‘n gevestigde koerant in Suid-Afrika se mediageskiedenis. Maar dit is ‘n storie vir ‘n ander geleentheid.

Vaderland, lank ‘n Afrikaanse baken in die Goudstad, het in die 1980’s gesluit; Transvaler, toe ‘n middagkoerant in Pretoria, het in 1993 gesluit en Beeld as enigste Afrikaanse dagblad in die noorde gelaat.

Wel sal The Star nou die News se plek in die hoofstad inneem, maar die rolpers in Vermeulenstraat is stil. Dit sal net nie dieselfde wees nie. In ander stede het die oorblywende middagkoerante reeds jare gelede fisies uit die middestad padgegee toe elektroniese bladopmaak en kostefaktore drukkerye na industriële gebiede uitgeskuif het.

Die ou loodproses, die reuk van drukkersink en die gerammel van ‘n rolpers kon eens in redaksiekantore ervaar word, maar elektronika het die drukkery van die redaksie geskei en die proses van sy karakter gestroop. Redaksies is ook van hul lesers geskei soos wat besighede en redaksiekantore uit die middestede gevlug het.

Dalk romantiseer ek die hele storie, maar dis ‘n lekker romantiek. Middagkoerante was deel van ‘n stadskultuur wat ek met dank onthou.

Geplaas op 21 Mei 2023