Kerkbode

Die Kerkbode is in 1849 gestig en is dus die oudste bestaande Afrikaanse publikasie. Die blad het eers onder die naam De Gereformeerde Kerkbode verskyn met ds. Abraham Faure as redakteur, en het in 1884 De Kerkbode geword. In 1932 is die naam verafrikaans tot Die Kerkbode. Later het die “die” weggeval. Die blad het reeds in 1852 die “amptelike orgaan” van die Nederduitse Gereformeerde Kerk geword, maar nie daarmee die “stem van die kerk” nie. Hierdie onderskeid was telkens ter sake wanneer redakteurs menings uitgespreek het.

Die eerste uitgawe van die blad.

In 1918 het die blad hierdie Kersuitgawe gepubliseer. Daarna volg verskeie spesiale uitgawes om groot gebeure te herdenk.

Met hierdie uitgawe in 1959 is die eeufees van die Kweekskool op Stellenbosch herdenk.

Die Kerkbode onder ds. Tappies Möller en sy twee onmiddellike voorgangers het jare lank só gelyk. Hierdie uitgawe het in Desember 1971 verskyn.

Hierdie spesiale uitgawe van Die Kerkbode verskyn in 1975, ‘n voorloper van die weeklikse koerant wat in 1981 uitkom, dus ‘n blad met sterk nuusinhoud.

Die eerste gewone weeklikse uitgawe van Die Kerkbode in poniekoerantformaat. Die blad het daarmee ‘n sterker nuuskarakter gekry.

Die Kerkbode se mashoof en tipografie verander van tyd tot tyd só. Die styl en teologiese koers van die blad was altyd konserwatief, dus in pas met die NG Kerk. Maar daar kom geleidelik allerlei klemveranderings en selfs koerswysiginge.

Tydens die redakteurskap van dr. Frits Gaum word die Algemene Kerkbode in die Afrikaanse koerante van Naspers (nou Media24) versprei. Regs: Die blad het onder dr. Frits Gaum se redakteurskap verskeie herdenkingsuitgawes gepubliseer, soos hierdie een.

Die blad word metterwyl ‘n nuustydskrif en verskyn minder gereeld. Maar die blad het nou ook ‘n lewendige teenwoordigheid op die internet: by die webblad https://kerkbode.christians.co.za/ en op Facebook. Intussen word die blad in gedrukte formaat steeds na sowat 400 gemeentes gestuur.

Le Roux Schoeman, redakteur van die Kerkbode, met bladproewe van die gedrukte uitgawe van die blad. Foto: Johannes Froneman

Lees meer…

André Olivier se Bode op spoor van die Woord – 150 jaar met Die Kerkbode (Lux Verbi, 1998)

Frits Gaum se Op pad met God en mense (Ex Animo, 2004)

Jean Oosthuizen se Die opkoms en ondergang van die NG Kerk (Penguin, 2018)

Piet Meiring se boek oor sy pa: Ds. P.G.J. Meiring: die lig op sy pad (PMP-uitgewers, sonder datum). 

Kyk ook: Froneman, J.D. 2015. Die Kerkbode en die viering van Geloftedag, 1910-2010. Stellenbosch Teologiese Joernaal, Vol 1, Nr 1, 125–150.