Dr. Johann de Jager het ‘n lang loopbaan as joernalis, skakelman en dosent agter die rug. Hy vertel hier meer oor sy loopbaan. Johannes Froneman het die vrae per epos gestel.
Johann, jy het aan die PU vir CHO onder proff. Gert Pienaar en Calvyn Snyman Kommunikasiekunde geswot. Vertel ons iets oor die aanloop en hoe jy die kursus ervaar het.
Ek het in 1964 op Spring by die Hugenote-Seunskool matriek geskryf en in 1965 diensplig gedoen. In die weermag was ek in ʼn ongeluk betrokke en is na die helfte van die 9 maande eervol ontslaan. Ek het toe by Sappi op Springs as ʼn monster-trekker begin werk en later ook in die ontledingslaboratorium.
Van 1966 tot 1968 het ek op die Puk geswot. Prof. Gert Pienaar was departementshoof en mnr. Calvyn Snyman het eers oorsee gestudeer. Pers en leseren Etiek en logika was ons hoof-handboeke. Ons het die kursus baie geniet, maar dit was soms moeilik om Oom Calvyn te verstaan.
Het jy by Wapad, die studentekoerant, ingeskakel? Vakansiewerk?
Ek het al my vakansiewerk by Sappi gedoen en was nie as student by Die Wapad betrokke nie – wel het ek later as dosent studente vir die studentekoerant “afgerig” en hulle soms selfs by wyle prof. Hennie Bingle (die rektor) en prof. Rassie Smit (die registrateur en bekend as die Pers Profeet) verdedig.
Hoe het jou loopbaan toe verloop?
Ná die eindeksamen in 1968 het ek by Die Vaderland aansoek gedoen. Hermie Hendricks het my na Attie de Beer by Hoofstad verwys en ek is dadelik as junior joernalis aangestel. Ek is gou subkantoor toe geskuif onder subs soos wyle Bakkies Rossouw – later redakteur van Sarie – en Anton van Wyk, om Sapa-kopie te vertaal. Ek het kort daarna ook begin sub en later hoofsub geword.
Dit was baie lekker om onder dr. Andries Treurnicht te werk. Hy was ʼn hoogs beskaafde mens wat jou “meneer” genoem het. Hy het nie met die joernaliste ingemeng nie en die inhoud is meesal bepaal deur Attie de Beer, Jan van Vreden en dr. Felix Calitz (PhD in 1949 by US oor Vloek en skel in Afrikaans.)
Dit was duidelik dat dr. Treurnicht redelik konserwatief was. Hy en Piet Cillié van Die Burger het bykans met elke uitgawe teenoorgestelde rigtings ingeslaan — tot groot vreugde van die ander Afrikaanse en Engelse koerante.
Omdat ek intussen – weens na-uurse honneursstudie in sielkunde by UP – by Prisa (die skakelinstituut) aangesluit het, het ek vir Fanie (Patensie) van Rooyen, die skakelhoof van Sasol, ontmoet. Hy het my gevra om te kom help met Sasolnuus. Ons het toe van Prisa afgestig en die SAVBR (Suid-Afrikaanse Vereniging van Bedryfsredakteurs) gestig.
Wanneer is jy toe voltyds na Sasolnuus?
Ek is in April 1972 Sasol toe waar ek redakteur van Sasolnuus was. Toe bel prof. Pienaar my en vra of ek asseblief kan kom praktiese joernalistiek vir die studente gee. Hy het eers vir wyle Arrie de Beer gevra – toe by Die Burger – maar Arrie wou te veel geld hê. Ek is toe in Januarie 1973 Puk toe en het my honneurs onder prof. Gert en Lood Dercksen klaargemaak en dadelik begin met my MA oor die personeelblad.
Later sou jy ‘n doktorstesis oor die plaaslike pers doen. Jou betrokkendheid by die Potchefstroom Herald het seker daartoe aanleiding gegee?
Bykans dadelik na ek by die Puk begin het, het wyle Schalk Hoogenboezem en Richard Ingram my gevra om die koerantuitleg van die Herald te kom doen. Die Heraldgroep was sterk en het uitgawes vir Potchefstroom, Carletonville en selfs Parys gehad. Ek het vir agt jaar deeltyds by die Heraldgroep gewerk, tot ek in omstreeks 1980 as departementshoof aangestel is.
Hul grootste storie ooit … so het die Herald dit in hul eeufeesbylae beskryf. En Johann was deel van die tweemanspan wat hierdie spesiale uitgawe van die Potchefstroom Herald in 1974 uitgegee het ná ‘n bomontploffing by die hofgebou op die dorp.
Die setters is vir hul grootste letter gevra, en die produk was hierdie voorblad. Nie “mooi” nie, maar besonder effektief. Die spesiale uitgawe het spoedig uitverkoop.
Nadat prof. Gert afgetree het, het die toe rektor, prof. Tjaart van der Walt, my eers as senior lektor en toe as “kortbroek-professor” (sy woorde vir ʼn mede-professor) aangestel.
Jy is daarna na die korporatiewekommunikasiewêreld…
In 1984 het dr. Martin Bekker – hoof van die RGN (Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing) se skakelafdeling – my as publisiteitshoof aangestel. Ek en prof. Johan Garbers (hoof van die RGN) het nie reggekom nie en ek is na Vleissentraal. Ná net sowat agt maande het dr. Willie Conradie van die ou ABKS (Adviesburo vir Kleinsake) op die Puk my gevra om die Volkskaslogo (met slagspreuk Arbeidsaamheid) te kom verander … So is ek Volkskas toe, wat later (saam met ander banke en bougenootskappe) Absa geword het.
Jy het met vervroegde pensioen by Absa afgetree…
My projek met die vestiging van Absa se korporatiewe identiteit was klaar en ek is met volle pensioen 10 maande vroeg daar weg. Gelukkig het die Noordwes-Universiteit my gevra om weer te kom klasgee. Ek en my vrou, Lien, het besluit om Mafikeng toe te gaan. Dit was ‘n nuwe uitdaging. Ons het vier jaar en ses maande daar gebly, maar moes ongelukkig bedank omdat my vrou ‘n baie groot rugoperasie moes kry.
Mafikeng was vir ons baie goed. Die studente het my Oom Jabu genoem omdat ek ook ‘n Zoeloebynaam van Jabulane (Blydskap) het. My kollegas het my Jabu genoem. Selfs die rektor, prof. Dan Kgwadi, het my prof. Jabu genoem. Ek en die studente het ongelooflik goed oor die weg gekom.
Hoe beleef jy vandag die wêreld van joernalistiek — ook die bedryfsjoernalistiek.
Vir my het die koerantjoernalistiek nie veel verander nie. Bykans alles is wel nou ook elektronies beskikbaar. Dink maar aan die Volksblad. Bykans geen personeelblaaie word meer gedruk nie, dis alles elektronies.
Jy kry steeds “goeie” en minder goeie joernaliste. Ek is bykans heeltemal op die TV-nuus en op Facebook aangewese, want ek koop nie juis meer koerante nie – net by uitsondering, soos ná ‘n staatsrede. My rede is dat ek as pensioenaris nie meer elke dag ‘n koerant kan bekostig nie!
‘n Uitnemende studieleier
Die Noordwes-Universiteit se skakelblad, NWU & U, het onder meer as volg oor Johann en ‘n swart student se vriendskap geskryf:
Mix one white Afrikaner academic who speaks Potchefstroom English with one black postgraduate student known for his political activism… It sounds like a recipe for disaster, doesn’t it?
Not necessarily – especially not if their names are Dr Johann de Jager and Raymond Hlungwani.
In two inspiring letters recently published on Network24, these two men tell the story of how the persistent goodwill of a culture-sensitive white man turned the heartfelt distrust of a black man into respect and even love.
At first, Johann, alumnus and former lecturer of the Potchefstroom Campus – and more recently Mafikeng Campus lecturer too – was definitely not the study leader that Raymond wanted for his master’s studies in journalism.
In his letter Raymond says he could not understand why the university assigned a white study leader to him, knowing that he was the most controversial student on campus.
“And then this man came and changed my attitude in so many ways.”
He discovered qualities such as honesty, kindness and genuine concern in Johann, who became much more than a study leader to him.
“My whole life I distrusted white people… I was wrong. Just as there were black people who supported apartheid, there were white people who did not support it.”
The name that Raymond gave him is even more special. At the end of his letter, Raymond writes: “I call him Honourable Jabu, my best study leader ever.”
Geplaas op 25 April 2023