JOERNALISTE WORD UITEINDELIK STAATSPRESIDENT

Deur Johannes Froneman

Staatspresidente en die joernalistiek loop nogal hand aan hand in Suid-Afrika. Drie kan geïdentifiseer word wat as jong manne as joernaliste gewerk het. En P.W. Botha het eenmalig gevryskut.

Die land se eerste staatspresident, C.R. Swart (hooffoto bo), het ‘n joernalistiekkwalifikasie in 1922 aan die Columbia-universiteit in New York behaal (aldus Wikipedia), kort voor Markus Viljoen, latere Huisgenoot-redakteur, by dieselfde universiteit ‘n BLit-graad verwerf het.

Swart het by sy terugkeer vir ‘n wyle by Die Burger gewerk en moet dus as die eerste formeel opgeleide Afrikaanse joernalis beskou word. Sy loopbaan het spoedig na die regte en politiek gelei, maar hy het ‘n rubriek onder ‘n skuilnaam in Die Volksblad geskryf en ook oor regsake in Landbouweekblad

Kort op sy hakke het dr. T.E. (Eben) Dönges by Die Burger aangesluit. Dönges was rondom 1919 ‘n leidende student op Stellenbosch, studeer verder in die regte in Londen en keer terug na Suid-Afrika waar hy in 1924  redakteur geword het van The South African Nation, ‘n blad wat deur Nasionale Pers (nou Naspers) begin is om die Nasionale Party se boodskap na Engelssprekendes uit te dra.

Die NP se verkiesingsoorwinning in 1924 (saam met die Arbeiders) het beteken Die Burger sit toe sonder ‘n redakteur, want dr. D.F. Malan is in die nuwe, NP-geleide kabinet opgeneem. In sy plek is die historikus dr. A.L. Geyer aangestel en Dönges is as assistentredakteur in Geyer se plek ingebring. Hy het dus twee poste gelyk beklee.  

The South African Nation het egter doodgeloop en Dönges het advokaat en politikus geword en dien later in dr. H.F. Verwoerd se kabinet, onder meer as minister van finansies. Hy sou in 1968 staatspresident word, maar het ‘n beroerte gekry en is nooit in die amp bevestig nie.

Regs: dr. Dönges as minister.

Marais Viljoen het staatspresident geword nadat hy onder John Vorster verskeie kabinetsposte beklee het. Sy effe onverwagse verkiesing het gekom nadat Vorster in 1979 weens die Inligtingdebakel bedank het. Viljoen het in die beginjare van Die Transvaler as joernalis gewerk — met dr. Verwoerd as hoofredakteur!

‘n Jong P.W. Botha het as party-organiseerder ‘n verslag oor ‘n verkiesingsvergadering vir Die Volksblad geskryf. Dit was glo maar baie propagandisties. Hy het organiseerder gebly, later ‘n setel op George gekry en die res is geskiedenis.

Naskrif: Dr. D.F. Malan (Die Burger) en dr. Andries Treurnicht (Kerkbode en Hoofstad) was koerantredakteurs voordat hulle politiek toe is. Maar albei was darem eers predikant en nooit regtig joernaliste nie. Verskeie ander politici was ook joernaliste, soos Theo Gerdener (waaroor elders in hierdie afdeling geskryf word in die stuk oor Natalse Afrikaanse koerante), Blaar Coetzee (sien artikel oor hom ook elders in hierdie afdeling) en Japie Basson (kyk stuk in die afdeling Boeke).

Volgens Hennie van Deventer (in sy versameling koerantstories Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord, in 2023 deur Naledi uitgegee) het C.R. Swart selfs as redakteur by Die Volksblad waargeneem en hoofartikels geskryf.

Erkenning: Soos altyd is C.J.F. Muller se Sonop in die suide ‘n bron van inligting. Dieselfde geld Wikipedia.