Die joernalis en skrywer Joan Kruger kry steeds plekke waar haar talente en entoesiasme ‘n verskil aan mense se lewens maak. Hier vertel sy aan Johannes Froneman hoe haar loopbaan ontvou het.
Jy het op die Puk (nou Noordwes-Universiteit, Potchefstroom) gestudeer as Joan Crafford van die Noord-Kaap. Met die oog op ‘n joernalistieke loopbaan?
Ek wou nooit iets anders as ‘n joernalis word nie. Dit het al begin toe ek so tien jaar oud was. Ons het op Robertson gebly en ek het Saterdagoggende douvoordag die bus wat Die Burger uit die Kaap by kafees kom aflewer het, ingewag. Ter wille van Die Byvoegsel, met Piet Cillié se Trienkie-briewe. Trienkie se slim kommentaar oor die sake van die dag was bo-oor my kop, maar haar snipperigheid het my geval.
Toe ons later op Kakamas in die Noord-Kaap gaan bly, het ek vir ons skoolkoerant geskryf en ‘n stukkie vir Verna Vels se Vrouerubriek. Daarvoor het ek ‘n tjek van, as ek reg onthou, tien rand ontvang. O hoo! Daar’s groot geld in joernalistiek, dag ek. Fout, maar die koeël was deur die kerk. Op ‘n dag vertel prof. Gert Pienaar, ook weer oor Vrouerubriek, van die Potchefstroomse Universiteit se kursus in Perswetenskap. Die saak is beklink.
Terwyl my matriekmaats Stellenbosch toe gaan, klim ek op die trein Potch toe. ‘n Besluit waaroor ek tot vandag toe bly is. Aan die einde van my tweede jaar kry ek vakansiewerk by Die Vaderland en raak saans met ‘n glimlag op my gesig aan die slaap. Terug op die Puk, is Afrikaans en Engels my hoofvakke. Die joernalistiek sou ek verder deur skade en skande moes bemeester.
Joan (voor, tweede van links) en mederedaksielede by die studentekoerant Die Wapad op die PU vir CHO.
Jy het toe in 1970 by Die Vaderland in Johannesburg ingeval en spoedig ‘n rubriekskrywer geword — iets wat jy ook by Die Transvaler gedoen het… Jy kon soms skerp wees!
Ja, in Januarie skuif ek daar agter ‘n tikmasjien in, vertaal Sapa en skryf stoepstories oor verlore honde. Die Vaderland, onder AM van Schoor en later Dirk Richard, het ‘n formidabele span verslaggewers gehad. Marietjie van Rooyen. Paul Kruger. Thys Human. Die subkantoor is beman deur uithalertaalkenners. Ek kon by die bestes leer en het besef hoe min ek weet, maar dit het my natuurlik nie gekeer nie. Ewige wysneus. Oom Hermie Hendriks-hulle gee my toe ‘n rubriek, seker om my besig te hou en ‘n gat op ‘n vroeë blad te vul. Die titel: “Aspris”. In daardie tyd het ek ook ‘n ruk lank ‘n rubriek vir Dagbreek en Landstem geskryf, in die plek van Madeleine van Biljon se “Rissies en rose”. Die rubriek (meestal sonder brieke) was getitel “Die naakte waarheid oor ons jeug”.
Daar is, in enkele gevalle, vanaf die kansel daarna verwys. Nie noodwendig goedkeurend nie. Later sou ook rubrieke vir Rooi Rose onder Martie Snyman en verskeie koerante volg, en uiteindelik ‘n agterbladrubriek vir Sarie. Die Sarie-rubrieke is onder die titel Lappiesgoed gebundel en boekwinkels het dit op die rak langs boeke oor naaldwerk geplaas. Ja, sowaar.
As ek terugdink, was ek as rubriekskrywer soms onnodig skerp en persoonlik, en daaroor skaam ek my. Ander kere was ek glad nie skerp genoeg nie, en daaroor het ek berou.
Joan op die voorblad van haar alma mater se oudstudente-skakelblad, vermoedelik in die 1990’s.
Hooffoto bo: Rooi Rose spog (met reg) in 2012 oor hul ontdekking (in 1991) van die meisie van Benoni. Joan was redakteur van die tydskrif in die 1990’s.
Jy beland toe in Europa. Vertel asb.
Ek het ná drie jaar by Die Vaderland na Die Transvaler se redaksie oorgeskuif, redakteur van Ritsgids geword en stelselmatig begin werk aan my droom om in een van Perskor se buitelandse kantore te gaan werk. Perskor het groot gedink en het verteenwoordigers in Washington, Londen en Amsterdam gehad. Toe die pos in Amsterdam vakant raak, doen ek geesdriftig aansoek. Ons dogter, Magriet, was net twee jaar oud en my man, Douw, neem onbetaalde verlof om huisman te word. Perskor het dit toe reeds oorweeg om die Amsterdamse kantoor te sluit; ons was gelukkig om vir oulaas die geleentheid te kry. Ons verblyf daar was kort van duur, van 1979 tot 1980, maar dit het my lewe (en ek glo ook my professionele lewe) eindeloos verryk.
Terug in Johannesburg, het ek weer by Die Transvaler gewerk. En dit was ‘n voorreg om Willem de Klerk se deurdagte redakteursleiding te ervaar. Ek was steeds te uitgesproke en Marius Jooste, die grootbaas van Perskor, het meer as een keer gedreig om my af te dank. Hy het darem nooit die dreigement opgevolg het nie en ek het steeds windmeulens bestorm. Die Transvaler het slagoffer van ‘n sirkulasieskandaal geword, en so ook Willem de Klerk. Ek het ‘n nuwe heenkome by Beeld gekry en groot respek vir Willem Wepener as redakteur ontwikkel.
Daarna volg die eerste van verskeie senior poste by tydskrifte, waarvan die eerste by Sarie as assistentredakteur?
Ek het Izak de Villiers via Die Transvaler se boekeblad leer ken en gereeld met hom onderhoude gevoer, ook toe ek by Beeld was. Toe hy in 1983 Sarie se redakteur word (sy toga vir ‘n sari verruil, is goedig gespot), het hy my aangestel as assistentredakteur en hoof van die Johannesburgse kantoor. Hy het ‘n verstommende vermoë gehad om die mark te “lees” en Sarie na groot sirkulasiehoogtes te neem met stories wat net-net gewaagd genoeg was. (‘Kafoefel’ was ‘n gunstelingwoord.)
Izak het ‘n voorslag- redaksionele span om hom vergader, wat jong joernaliste soos Lizette Rabe en Hanlie Retief ingesluit het. Anneke van Niekerk, Rieta Burgers en Esmé Mittner was reeds vroue van formaat in die redaksie.
Sarie se Transvaalse kantoor was in Pritchardstraat, in die Johannesburgse middestad, so skuins oorkant die Hooggeregshof. Bomme wat afgaan en sirenes wat loei, was deel van die straatgedruis.
Ons maak kennis met elektroniese kopieversending (XYWrite en Atex) en Naspers se tydskrifte kry ‘n rekenaarlokaal met, let wel, twee rekenaars wat alle joernaliste moet deel. Aan die kant van Fairlady: Barry Ronge, en in Sarie se redaksie ‘n ewe indrukwekkende spannetjie wat insluit Ruda Landman, voor sy deur televisie opgeraap is, en Elna Rossouw, wat in latere jare dosent in joernalistiek by die Universiteit van Johannesburg geword en haar doktorsgraad in die joernalistiek onder prof. Lizette Rabe (US) behaal het.
In die laat tagtigerjare verskuif Naspers se tydskrifte na ‘n baie moderne gebou in Sandton, en ons het ons wát verbeel toe Sarie die een ongekende sirkulasiesukses na die ander behaal en stof in mededingers se oë skop.
Izak is as Sarie-redakteur deur André Rossouw opgevolg. Dit moes daar in 1990 rond gewees het. Ek kry weer lus vir studeer, bedank by Sarie en pak ‘n meestersgraad in taalkunde by die Randse Afrikaanse Universiteit aan. Tussendeur is ek redakteur en hoofskrywer van Saffier, ‘n kwartaalblad in groot druk vir gesigsgestremdes. Hierdie tydskrif is hoofsaaklik deur biblioteke aangeskaf as aanvulling by hul grootdrukboeke. Ek beleef die beste van twee wêrelde en skryf ook ‘n ruk lank ‘n rubriek vir Rapport.
Toe terug na die Perskor-kraal as redakteur van Rooi Rose. (Terloops, is jy die een wat besluit het rooi rose word met kleinletters gespel?) Vertel hoe dit was om nou Sarie se belangrikste mededinger te wees.
Die aanstelling by Rooi Rose (soos dit toe nog geskryf is) het taamlik uit die bloute gekom. Perskor was op soek na ‘n nuwe redakteur vir Rooi Rose en toe ek my weer kom kry, in Augustus 1991, is my “sabbatsjaar” agter die rug, en is ek in die redakteurstoel. Perskor, en veral “Oom Koos” Buitendag, het Rooi Rose op die hart gedra. Vir hulle was dit een van die erfstukke wat mooi opgepas moes word. Ons probeer nietemin om aan die voorpunt van ontwikkeling en denke te bly en toe ons na elektroniese bladontwerp oorskakel, laat ons die tydskrif herontwerp. Die ontwerper, verbonde aan ‘n Londense vrouetydskrif, skep ‘n nuwe mashoof, met rooi rose in onderkas. (Terloops, dekades tevore, was die mashoof ook in onderkas.)
Die oorskakeling na rekenaarbladontwerp bring ‘n geweldige ommeswaai mee. Tevore het dit so gewerk: die bladuitleg is met die hand in Johannesburg gedoen en saam met die getikte artikels en foto’s na die drukkery in Durban gestuur. Daar is dit geset, geplak (inge-strip) en moes die liewe tannie Sjoukje Jordaan proeflees en kopie sny waar nodig. Ons het eers weer ons handewerk gesien as die tydskrif op die rak was. Durf ek sê dat die redaksie soms verras was met wat ons gepleeg het – in een geval het die onderskrif by ‘n slanke vrouefiguur in ‘n artikel oor verslanking gelui: “Hierdie gereg van worsies en kaas …”
Ons maak goed gebruik van die nuwe tegnologie – dikwels met meer moed as oorwoëndheid. So kry ons dit reg om op die Maandag ná die begrafnis van Diana, die prinses van Wallis, met ‘n gedenkbylae oor haar lewe, plus foto’s van die begrafnis, te verskyn. Daarvoor was logistieke reëlings nodig wat amper ondenkbaar dapper was. Op Sondagoggend 31 Augustus 1997 het die nuus ons wakker geskud dat Diana verongeluk het. Ek en Elna Rossouw, toe adjunkredakteur, het dadelik koppe bymekaargesit om ‘n bylae vir 6 September te plan. (Gelukkig het dit mooi met die publikasiedatum van rooi rose saamgeval.) In die enkele dae ná Diana se dood het Elna ‘n borgskap vir die ekstra bladsye gekry en het die redaksie artikels saamgestel, foto’s gekies, die uitleg gedoen en dit alles na die drukkery in Durban gestuur. Daar is enkele plekke op die uitleg ingemerk waar foto’s van die begrafnis later geplaas sou word.
Dit was voor die era dat foto’s met die druk van ‘n knoppie blitsig elektronies gestuur en afgelaai kon word. Die eerste foto’s van die seremonie is per motorfiets na ‘n ateljee in Londen gebring en daarvandaan gestuur na ‘n fotografiese ateljee in Johannesburg wat ons spesiaal daarvoor gehuur het. Stadig, pynlik stadig, sou ‘n foto stukkie vir stukkie op die rekenaarskerm verskyn en net voor dit klaar was eensklaps verdwyn sodat die hele proses van vooraf moes begin. Daarna moes dit ewe moeisaam van Johannesburg na Durban gestuur word. Die drukkery het soos een mens saamgestaan en Maandagoggend het die vragmotors met rooi rose die drukkery verlaat. As ek my nie misgis nie, was ons selfs voor Huisgenoot met die begrafnisfoto’s op straat.
En dan was daar natuurlik ook Charlize Theron … Maar dis ‘n lang storie.
Jy vra oor die sirkulasiestryd. Die besonderhede daaroor het my lankal ontgaan, maar ek onthou wel dat die gaping tussen Sarie en rooi rose (Sarie het in een stadium 100 000 méér as rooi rose verkoop) tog metttertyd aansienlik verklein het. Daar het moeilike tye vir alle tydskrifte voorgelê en ons het later so saam-saam in die hek begin duik.
Ek haal steeds my hoed af vir die toegewyde en talentvolle klein span by rooi rose wat elke veertien dae sulke goeie leesstof geskep het. ‘n Hele paar van hulle het later naam gemaak as skrywers en elders in die tydskrifwêreld (Elzilda Becker by De Kat, Romi Boom by Wild). Onder die skrywers is daar Dirk Jordaan, Charné Kemp en Susan Coetzer. (Corlia Fourie was reeds ‘n gevestigde skrywer toe sy by rooi rose aangesluit het.)
In Julie 1998 het Caxton en Perskor saamgesmelt en het ook rooi rose onder Caxton se sambreel gekom. Ons kantoor het van Orange Grove na Hyde Park verskuif waar ons, ondanks Noel Coburn se vriendelike verwelkoming, ook Terry Moolman se eiesoortige bestuurstyl leer ken het. Geen vaderlike “Oom Koos” meer nie.
Jy het toe ook ‘n kort betrokkenheid by Keur/Vrouekeur gehad. Vertel hoe dit gekom het.
Vrouekeur was deel van die strategie om van rooi rose ‘n maandblad te maak. Dit het gaandeweg duidelik geword dat tweeweeklikse vrouetydskrifte nie meer volhoubaar was nie. Minder lesers. Kleiner advertensie-inkomste. Dit was onafwendbaar dat rooi rose, Sarie en Fairlady, in daardie stadium almal tweeweekliks, na maandeliks sou moes oorskuif. Maar nie een van die twee maatskappye – Caxton of Naspers – wou eerste die sprong waag nie. Gee jy jou tweeweeklikse plek prys, gaan die opposisie dit vul, was bestuur se vrese.
Dis waar Keur, toe nog ‘n algemene weekblad, in die prentjie gekom het. Ek kon Caxton se bestuur oortuig dat as ons Keur in Vrouekeur verander en dit sterk saam met rooi rose bemark, Vrouekeur daardie gaping sou vul. Die nuwe, glansryker rooi rose sou as maandelikse tydskrif met ‘n groter advertensielading finansieel volhoubaar wees en die toon aangee. Die ander tydskrifte sou teen wil en dank moes volg. Caxton het die logika daarvan ingesien en die res is geskiedenis. Liezl de Swardt word in 2000 redakteur van rooi rose en hanteer die oorgang na ‘n maandblad met uitsonderlike sukses. Soos voorspel, word rooi rose die markleier.
Ek was nog ‘n kort rukkie by Vrouekeur betrokke om dit op dreef te kry voor ek die joernalistiek gegroet het om ‘n proefskrif oor vrouetaal (waaraan ek tussendeur gewerk het) te voltooi.
Daarna het jou loopbaan ‘n wending beleef: redaksionele direkteur by New Media Publishing. Hoe het dit gekom en wat het dit alles behels?
Die nuwe millennium bring toe ‘n interessante draaipunt. Kliëntepublikasies. Irna van Zyl, stigterslid van New Media Publishing, vra of ek nie as redaksionele hoof by New Media Publishing wou aansluit nie. Ja, graag! Die wêreld van kliëntepublikasies gaan voor my oop en een van die gelukkigste tye in my loopbaan breek aan. New Media Publishing groei onverskrokke en gee kliëntetydskrifte uit wat die een toekenning na die ander verwerf. Ek leer geweldig baie by Irna en Naomi Herselman se benadering tot hierdie bedryf en by Irna se toewyding tot uitmuntendheid wat ontwerp en inhoudskepping betref.
My man bly nog in Johannesburg; ek woon in die Kaap. Ons pendel heen en weer en ná vyf jaar wil ek ietwat rustiger leef. Met die oog daarop besluit ek en Petro du Toit om saam met Theo Pauw ‘n uitgewery te stig. By New Media Publishing het ek van die begin af baie nou saam met Petro, die maatskappy se weergalose kreatiewe hoof, saamgewerk. Sy was ook by ander tydskrifte groot in aanvraag vir herontwerpe en ons dag ‘n boektiekuitgewery sou ons die beste pas. In 2006 stig ons Tip Africa Publishing en betrek ‘n kantoor in die Old Biscuit Mill in Woodstock. Petro is verantwoordelik vir die herontwerp van onder meer Huisgenoot, Lig, baba & kleuter en selfs Hunter/Jagter. Ek doen wat my hand vind om te doen: help met taalversorging en skryf inhoudstrategieë. Ons publiseer ook vir Media 24 enkele tydskrifte (Pols/Puls enTempo) wat sedertdien in die groot media-uitwissing van die planeet verdwyn het.
En toe pak ons iets aan wat ons lewens soos handomkeer verander. Tip Africa verwerf die kontrak om Wild, die kliëntetydskrif van die Wild-kaart uit te gee. Watter voorreg om Suid-Afrika (en ook Swaziland) se natuurlewe in al sy fasette aan die wêreld te vertoon. Die eerste Wild verskyn in die herfs van 2007 en word gekenmerk deur uitmuntende joernalistiek en briljante fotografie. Die bestes in die bedryf lewer bydraes en Wild ontvang jaarliks gesogte toekennings. Dit is ‘n droomkontrak en die maatskappy ontwikkel nuwe vaardighede (die skep van webwerwe, en elektroniese nuusbriewe en kommunikasie op sosialemediaplatforms) wat Tip Africa Publishing op die voorpunt van kliëntepublikasies hou. Dertien jaar lank behou ons die kontrak vir Wild, totdat SANParke in die somer van 2019/2020 besluit om die tydskrif voorlopig te staak.
In hierdie tyd publiseer Tip Africa reeds verskeie pragboeke: Piet Beyers se hengelherinneringe, Waaraan ek dink as ek terugdink, Scott Ramsay se South Africa’s Wildest Places, en prof. Pieter Kapp se boek oor Jannie Marais: Nalatenskappe sonder einde.
TiP Publishing het ook ander belange…
As entrepreneur moet jy sorg dat daar baie pyle in jou koker is. Tip Africa Publishing doen dit deur ‘n eie tydskrif, Stellenbosch Visio, in 2015 tot stand te bring – ‘n glanspublikasie wat verskeie toekennings verower. Van wildtuine na wynlande! Stellenbosch Visio lei tot ander luukse publikasies: koffietafelboeke vir Kanonkop en Hazendal en ook gedenkboeke vir Capitec en die Stellenbosse Wynroetes. Gedenkboeke vorm, behalwe kliëntetydskrifte, ‘n groot deel van Tip Africa se werk en sluit selfs Mediclinic se jaarverslae in. Die maatskappy se kundigheid gaan gewis nie ongesiens verby nie.
Is jy steeds daarby betrokke?
Iewers in 2013 besluit ek om “af te tree” en op Paternoster te gaan woon waar ons in 2003 ‘n huisie gebou het. Ek bly steeds op verskeie maniere betrokke by die gedenkboeke (van Ackermans tot Sanlam, van skole tot by USB, die Universiteit Stellenbosch se sakeskool) wat Tip Africa publiseer. Waarskynlik omdat ek oud genoeg is om die geskiedenisse self te belewe het! Dit is sekerlik die heel bevredigendste werk waarom enige oudjoernalis kan droom. Jy skryf nou nie meer “the first rough draft of history” nie, maar kan die geskiedenis soos dit reeds ontvou het, weergee.
Daar is nou tyd vir my eie skryfwerk ook. Die eerste boek is On Top of Table Mountain waarvan ek skrywer-uitgewer was. Om dit te kon doen, moes ek nuwe vaardighede aanleer. Onderhandelinge met drukkers. Bemarking. Smous met boeke. Ná On Top of Table Mountain kon ek begin skryf aan Wieg, die verhaal van Marie Buisset, later bekend as Maria du Plessis, ‘n Hugenootvroedvrou aan die Kaap. Dié boek het onlangs by Litera onder die baie bekwame Theresa Papenfus verskyn.
Joan met haar roman Wieg in die hand.
Intussen het jy ‘n doktorsgraad in Afrikaans verwerf. Wat het dit behels? En waarom?
Die akademiese belangstelling was miskien iets van ‘n teenvoeter teen die vervlietende aard van die joernalistiek waar mens so gou moontlik van die een storie na die volgende moet aanbeweeg. Maar ook omdat ek so lief is vir woorde. Ek wou graag die lig laat val op die termskepping wat by vrouetydskrifte plaasvind. Redaksies kry deurlopend met allerlei uitlandse modes en dinge te doen, en moet baie vinnig met Afrikaanse vertalings of nuutskeppings vorendag kom. Een van die mooiste skeppings wat my oor die jare bygebly het, is die term “sjoebroekie” vir hot pants wat Kittie Vermaak as vroueredaktrise by Die Vaderland geskep het.
Jy en jou man woon nou op Paternoster, waar jy skryf en gemeenskapswerk doen …
Ek en Douw woon inderdaad net so duskant die hemel. Uit dankbaarheid daarvoor en uit liefde vir boeke het ek toe hier kom bly, begin om by die plaaslike laerskool leeslus by die dorp se kinders te help aanwakker. So raak ek mettertyd betrokke by ‘n Duitse stigting, wat as die Paternoster Project NPO middagprogramme vir laerskoolkinders aanbied. Tydens Covid-grendeltyd, toe die kinders nie elke dag kon skoolgaan nie, kon hulle soggens by ons Hoopsig-sentrum ontbyt eet en hulp met hul skoolwerk ontvang.
Joan en twee van die kinders wie se liefde vir lees op Paternoster aangewakker word.
Die program gaan van krag tot krag. Smiddae is daar ‘n warm ete vir sowat 60 kinders, gevolg deur allerlei aktiwiteite. Jong vrywilligers, meestal onderwys- en maatskaplikewerkstudente uit Duitsland en van Stellenbosch, lei werksessies wat strek van robotika en kodering tot by dans en kunsvlyt. Ten slotte draai alles om leesbevordering en as dit tyd is vir Storiehoek/Story Hook, lees groot en klein. Ons het mettertyd, met behulp van boekwinkels, uitgewers en persoonlike skenkings, ‘n stewige klein biblioteek opgebou. En dit vervul mens met hoop as jy sien daar is kinders wat tydens vrye speeltyd met ‘n boek gaan sit, eerder as om ‘n bal rond te skop of op die swaaie te baljaar (waarmee daar ook nie fout is nie). Die skrywers en lesers van die toekoms? Nee, meer. Die Toekoms self.
Geplaas 19 Maart 2023
Aangepas op 21 Maart 2023