Petrovna Metelerkamp vertel aan Johannes Froneman hoe sy in 1979 ‘n eksklusiewe onderhoud met die voortvlugtende Eschel en Katie Rhoodie in Frankryk gevoer het.
In 1979 het die land gewag vir dr. Eschel Rhoodie om vasgetrek en uitgelewer te word om verantwoording te doen van die miljoene wat deur die destydse Department van Inligting aan geheime projekte bestee is.
As die waarde van geld in gedagte gehou word, was dit groot bedrae. Dr. Connie Mulder moes as verantwoordelike minister op sy swaard val; John Vorster het as eerste minister uitgetree en moes toe ook as staatspresident bedank.
Intussen het Rhoodie en sy vrou landuit gevlug nadat ’n voorlopige kommissie van ondersoek bevind het hy skuld Suid-Afrika R860 000. Almal het gewonder waar Rhoodie was.
‘n Joernalis van Huisgenoot, Petrovna Metelerkamp, het die Rhoodies se spoor na die Franse Riviera gevat — en ‘n yslike scoop gekry. In ‘n onderhoud in haar huis op Vermont het sy vertel hoe dit gekom het en waarom dit tog nie die groot storie van haar lewe was nie.
Die voorblad wat duisende eksemplare verkoop het. Tog meen Petrovna nie dat dit haar groot storie was nie…
Sy en Katie Rhoodie was vriende. Hulle het in Pretoria gereeld saam muurbal gespeel. Saam geëet en gekuier. “Sy was ‘n lieflike mens.” Petrovna het selfs in beter tye ‘n storie oor die Rhoodies aan huis gedoen, met foto’s van onder meer hul mooi silwerteestel. Maar nou was die Rhoodies iewers voortvlugtend.
Op ‘n dag kry Petrovna ‘n briefie via ‘n gemeenskaplike vriendin waarin Katie sê sy gaan bel. ‘n Klandistiene oproep volg: “Dit is mevrou De Beer wat praat.” Petrovna herken die stem onmiddellik. Sy word genooi om in Frankryk te kom kuier en vir Huisgenoot ‘n storie te doen. Daar word ooreengekom dat Katie ’n bedrag geld hiervoor sal ontvang.
Petrovna het gou reëlings getref om van Johannesburg via Parys na Nice te vlieg. Sy vertel van ‘n man in ‘n bruin pak en reënjas wat haar bra amateuragtig van Johannesburg af gevolg het, maar van wie sy in Parys kon wegkom.
Intussen weet sy nie wie of wat om te glo nie. “Waar op aarde kan jy ‘n mens in beheer sit van eindelose fondse en geen beheer, toesig of rekords hê nie,” verwoord Petrovna vandag die dilemma waarmee sy en die res van die land destyds geworstel het.
Ernstige vrae is gevra oor hoe staatsgeld deur Eschel Rhoodie en ander senior amptenare bestee is aan projekte soos die oprigting van die dagblad The Citizen. Daar was ook bewyse van allerlei luukse vakansies.
Was dit deel van die geheime projekte? Koerante soos die Rand Daily Mail en Sunday Express het met die een onthulling na die ander gekom.
Die Rhoodies was die groot storie van die dag en Petrovna het ‘n onderhoud gekry met dié mense wat selfs deur Interpol gesoek is. Dit was joernalistiek gesproke ‘n massiewe storie.
Eindelik het sy ‘n paar dae by die Rhoodies in ’n kleinerige vakansiewoonstel naby Nice gekuier.
Oor haar aankoms by die villa skryf Petrovna: “Katy sluit die deur oop en lyk heerlik koel in haar modieuse wit langbroekpak, die hare soos altyd netjies gekap. Net agter haar staan Eschel: bruin gebrand, swart hare met heelwat grys wat tot in sy nek krul. Albei sien goed daaruit.”
Petrovna lees in 2023 uit die aantekeningboek wat in 1978 saam met haar Frankryk toe is vir die onderhoude met die Rhoodies. Sy het haar bewegings noukeurig opgeteken.
Foto: Johannes Froneman
Eschel tik bedags verwoed en sy en Katie gesels, doen inkopies, gaan eet uit. Petrovna neem gesprekke op band en maak aantekeninge, wat sy later gebruik vir haar groot storie, waarin sy in fyn detail vertel hoe die Rhoodies in hul “skuilplek” leef. Hulle eet nie meer as een keer per dag uit nie, merk Katie op. Maar eintlik leef hulle heel goed.
Tog was daar ‘n “atmosfeer van geheimsinnigheid”. Katie vertel aan Petrovna: “Toe Eschel met sy geheime projekte begin, het ek hom aanhoudend gewaarsku … Ek het net die gevoel gehad dat hy te veel geld te goeder trou hanteer en dat daar ‘n dag gaan kom wanneer hy vir alles verantwoordelik gehou gaan word.”
Daaroor het sy en haar man kwaai gestry, maar die Katie wat hier geskilder word, is dié van ‘n absoluut lojale vrou.
Nadat Petrovna terug in Pretoria haar storie geskryf en aan Huisgenoot in Kaapstad geteleks het, bel die redakteur, Niel Hammann, haar met vrae oor die Rhoodies se lewenstyl: “Is dit nie baie duur daar nie? Wat kos ‘n appel … Wat kos ‘n ete?” Petrovna vlieg Kaap toe om die volle inhoud van haar artikel met die redakteur te bespreek.
Dit was ’n moeilike situasie vir ’n joernalis om in te wees: Die mense oor wie sy skryf, is haar vriende – en hulle is diep in die moeilikheid. Sy wil hulle nie sonder meer swart skilder nie, maar haar redakteur voel verplig om sekere inligting aan die lesers oor te dra.
Uiteindelik verskyn die artikel met allerlei besonderhede van die prys van kos en drank en eiendom in Europa wat na bewering aan Eschel Rhoodie behoort.
Daar word verwys na ‘n koppie koffie wat Petrovna op die lughawe in Nice byna ‘n rand gekos het! Ook ander pryse word genoem, soos gebakte tongvis waarvoor Katie R13 in ‘n restourant moes opdok. Die bedrae is vandag belaglik min, maar nie toe nie. Inteendeel.
“Hy (Hammann) wou aan die lesers wys hoeveel geld die Rhoodies het. En ek wou nie. Ek het nie rede gehad om dit te doen nie.” Hammann het net sy werk gedoen, meen Petrovna vandag.
Wat niemand kon beplan nie, was die inhegtenisname van Eschel Rhoodie in die suide van Frankryk terwyl Huisgenoot gereed gemaak het om die scoop te publiseer. Die voorblad kon toe stel: “Rhoodies se laaste dae van vryheid”. Petrovna se besoek was net betyds.
Die Rhoodies was reeds op elke koerantvoorblad toe Petrovna se storie (plus mooi foto’s deur ‘n Franse fotograaf) oor 13 van Huisgenoot se bladsye geloop het met die mooie Katie op die voorblad.
Toe Petrovna einde Augustus verneem dat Rhoodie in die Sentrale Gevangenis in Pretoria aangehou word, het sy vir hom ‘n groot mandjie vol vrugte en leesstof by die tronk afgelaai. In ‘n briefie daarby noem sy dat sy nie gelukkig is met die artikel soos dit verskyn het nie en dat daar “speserye” bygevoeg is.
Rhoodie het toe reeds die artikel in Huisgenoot gesien. “Toe skryf hy vir my ‘n brief en sê hy verwag dat ek in Huisgenoot ‘n verklaring doen en sê ek distansieer my van die artikel en ek bedank,” vertel Petrovna.
“Ek kon dit glad nie doen nie. Dan sit ek sonder werk — en ek het drie kinders. Dit was die end van ons vriendskap.”
Eschel Rhoodie is dieselfde jaar skuldig bevind aan bedrog en tot ses jaar tronkstraf gevonnis. Op appèl is hy egter vrygespreek.
Eschel en Katie het in Atlanta, VSA, gaan woon. Katie het ‘n boek oor haar ervarings geskryf en genoem hoe Petrovna hulle “verraai” het. Sy het Petrovna wel later uit Amerika vir die foto’s gevra wat die Franse fotograaf vir Huisgenoot geneem het. Maar die vriendskap was daarmee heen.
Niemand is uiteindelik tronk toe weens die Inligtingskandaal nie. Rhoodie se boek oor die sage, The Real Information Scandal, is in 1983 uitgegee, Daarin maak hy allerlei bewerings wat hooggeplaaste politici geïmpliseer het.
Hoe hy as gewese staatsamptenaar in die VSA kon oorleef, is onduidelik, maar die sjarmante Rhoodie het glo geld verdien deur mense raad te gee oor hoe om na die VSA te emigreer. Hy is in 1993 op 60-jarige ouderdom oorlede ná ‘n hartaanval op die tennisbaan.
Die oproep uit Frankryk wat Petrovna se storie moontlik gemaak het, was uitsonderlik, maar nie sonder ‘n aanloop of gevolge nie. Sy het daarna voortgegaan by Huisgenoot en later lank vir Insig artikels geskryf.
Dit is juis in Insig waar sy onthullings oor die digter Ingrid Jonker gedoen het — stories wat sy, by nabaat, belangriker ag as dié oor die Rhoodies in Nice. Ná intense navorsing het dié stories gelei tot die publikasie van meer as een biografiese boek deur Petrovna oor Jonker. Die Huisgenoot-storie bly egter ‘n scoop soos min — met of sonder die “speserye”.
Geplaas Januarie 2024