HERINNERINGE VAN ‘N STROOMOP-REDAKTEUR

Harald Pakendorf het op jong leeftyd (vlak in die 30) redakteur van ‘n nuwe Pretoriase koerant, Oggendblad, geword. Hy was toe reeds ‘n ruk lank redakteur van ‘n blad in Rhodesië (nou Zimbabwe), maar Marius Jooste, die Perskorbaas, het dalk gevoel hy kan beter van hierdie talentvolle joernalis gebruik maak. Pakendorf se redakteurskap is deur politiek ingeperk en uiteindelik kortgeknip. Johannes Froneman het hierdie stuk vir Beeld geskryf by die bekendstelling in 2018 van Pakendorf se herinneringsboek. 

Voorlopers moet lof kry vir moed

Een van die ironieë van die joernalistiek is dat joernaliste hul brood verdien met woorde, maar dan besonder traag is om hul lewensverhale te boek te stel. Die gevolg is dat ons alte min insigte kry van wat agter die skerms van groot nuusoomblike gebeur het. Of wat in redakteurs se koppe aangegaan het toe hulle omstrede besluite geneem het. Of hoe politici druk op joernaliste uitgeoefen het.

Die gevolg is dat lesers soms minder ingelig is as wat hulle moet wees. Dalk minder krities as wat wenslik is. En uiteindelik mediagebruikers is met minder begrip van die komplekse politieke, ekonomiese en professionele faktore wat inspeel op individue wat besluit oor wat ons te lese kry (of nie te lese kry nie).

Deur die jare het ons darem outobiografiese werke deur mense soos Schalk Pienaar (Die Beeld en Beeld), Dirk Richard (Dagbreek en Vaderland), Piet Meiring (Die Transvaler), Piet Meyer (SAUK), Max du Preez (Vrye Weekblad en ander koerante) en Hennie van Deventer (Die Volksblad) gehad. Plus stewige biografieë oor Piet Cillié en Rykie van Reenen. Institusionele geskiedenisse oor Nasionale Pers en spesifieke publikasies gee ook onmisbare perspektiewe.

Die (onvolledige) lys hierbo is onlangs aangevul deur ‘n baie leesbare boek deur Harald Pakendorf, gewese redakteur van Oggendbladen Vaderland, maar die afgelope dekades eerder bekend as politieke kommentator. Pakendorf se herinneringe aan sy tyd as koerantman in die apartheidsera, Stroomop(uitgegee deur Penguin), is ‘n nodige toevoeging tot die literatuur oor ons joernalistieke geskiedenis.

Hy praat reguit oor die stryd tussen politici en redakteurs, redakteurs en redakteurs, redakteurs en base en, vanselfsprekend, die oorlog tussen Naspers en Perskor. Dat hierdie stryd, wat hom veral in die noorde van die land afgespeel het en gelei het tot die sluiting van vier Afrikaanse koerante, nog altyd hoofsaaklik uit die oogpunt van Naspers vertel is, was ‘n leemte. Pakendorf stel dit deels reg, maar met balans. Hy is immers as redakteur deur Perskor afgedank en het swaar geleef in ‘n baie konserwatiewe omgewing. Daarom skuld hy Perskor se nagedagtenis niks nie.

Hoe ook al, Pakendorf en ander Perskorjoernaliste se aandeel aan die skepping van ‘n klimaat wat die politieke oorgang van die 1990’s moontlik gemaak het, word belig. Tereg ook. Die stryd om die Afrikaner te oortuig dat ‘n inherent immorele beleid tot mislukking gedoem was, was nie beperk tot die een of ander elitegroepie nie. Dit is onder andere in koerantkantore gevoer, deur redakteurs van verskillende koerantgroepe.

So is versigtige kontak met die toe nog verbode ANC in die laat 1980’s nie net deur enkele akademici, amptenare of onafhanklike nieregeringsorganisasies bevorder nie. Ons weet dat joernaliste ook ‘n rol gespeel het – mense soos Pakendorf. Sy weergawe van Perskorjoernaliste se rol bied nuwe inligting. Genadiglik het hy nie illusies oor sy persoonlike invloed nie.

Maar dit bring nogmaals dié vraag na vore: watter invloed het koerante deur die dekades gespeel om ons te bring waar ons vandag is? Ten goede en ten kwade, moet ‘n mens byvoeg, want meer dikwels het die standpunte van koerante (soos geartikuleer deur hul redakteurs en senior kollegas) bloot die heersende standpunte van die maghebbers gereflekteer. In ‘n outoritêre omgewing word kritiese denke altyd verwerp as “dislojaal”. 

Tog het daar metterwyl verandering gekom, by senior joernaliste en hul lesers. Laasgenoemde was deels te danke aan mense soos Pakendorf. Dit glo ek graag, al kan mens nie presies die vinger daarop lê nie. Vir sy moed verdien hy nietemin eer – saam met ander baanbrekerjoernaliste van Perskor, Naspers en die “Engelse” pers.