Die sogenaamde Inligtingskandaal (ook genoem Muldergate) het Suid-Afrika in 1978 getref. Koerante soos die Rand Daily Mail, Sunday Express en The Star het reeds geruime tyd berigte gehad oor moontlike wanaanwending van staatsgeld by die Departement van Inligting, waar dr. Eschel Rhoodie die sekretaris en dr. Connie Mulder die minister was.
Die vraag was uiteindelik of die eerste minister, John Vorster, en ministers P.W. Botha en Owen Horwood óók van geheime projekte en die befondsing daarvan geweet het.
In Mei 1978 kon die moontlikheid van ernstige ongerymdhede by die Departement van Inligting nie meer as ‘n smeerveldtog van sekere Engelse koerante beskou word nie.
Die broeiende skandaal noop die eerste minister, John Vorster, om op 20 September 1978 te bedank. Die omvang van die bedrog en Vorster se betrokkenheid daarby was toe nog nie bekend nie.
So het die Rand Daily Mail die twyfelagtige gebruik van belastingbetalers se geld onthul.
Enkele maande na Vorster se bedanking as premier kom van die belangrikste feite op die lappe deurdat regter Anton Mostert ‘n verslag openbaar maak – tot groot ontsteltenis van die skynbaar onbesproke P.W. Botha, wat by Vorster as eerste minister oorneem.
Die grootskeepse gekonkel kon nie meer verdoesel word nie. Ook regeringskoerante het nou prominent daaroor berig.
Intussen krap The Star nuwe ongerymdhede oop.
Kort hierna bedank dr. Connie Mulder uit die kabinet. Die Inligtingdebakel het hom sy kans op die premierskap gekos. Al het hy geen persoonlike voordeel uit die misbruik van staatsgeld getrek nie, het die geknoei die regering in ‘n slegte lig gestel en hom gedwing om uit te tree.
Die feit dat The Citizen met staatsgeld begin is as een van Inligting se geheime projekte, sorg vir groot reaksie.
Die geveg tussen dr. Connie Mulder en president John Vorster word in Maart 1979 in die openbaar gevoer. Dit draai om die vraag of Vorster geweet het van die projekte by Inligting en aan Mulder opdrag gegee het om aan die Parlement te lieg oor die feit dat staatsgeld gebruik is om The Citizen mee te begin.
Intussen is Vorster tot president verkies.
Die Erasmusverslag impliseer John Vorster regstreeks by die gekonkel en die president bedank na minder as ‘n jaar in die amp. Vir die Rand Daily Mail was dit ‘n enorme joernalistieke en politieke oorwinning; vir Beeld, wat polities Vorster ondersteun het, was dit inderdaad ‘n droewe dag.
Die Sunday Times berig dat P.W. Botha vir Vorster gedwing het om te bedank. Vorster onttrek verbitterd uit die openbare lewe en tree af op Oubos. Hy weier steun aan P.W. Botha se hervormingsplanne en versoek later dat die kabinet nie sy begrafnis in 1983 op Kareedouw bywoon nie – met een uitsondering.
Intussen het Eschel Rhoodie landuit gevlug. Rhoodie keer terug na Suid-Afrika en word tot gevangenisstraf gevonnis. Op appèl het hy egter losgekom, Amerika toe verhuis en daar gesterf.
Hierdie hoofberig in 1980 van die Sunday Times was verdoemend. Mulder het sy eie party begin, maar dit het geen indruk gemaak nie. Sy seun, dr. Pieter Mulder, tree egter na vore en lei die Vryheidsfront Plus. Mulder hou vol dat sy pa onskuldig was en dat dit ‘n politiek gemotiveerde heksejag was waarby P.W. Botha baat gevind het en as minister van verdediging ewe aandadig was. Van die geheime fondse is immers via die Verdedigingsbegroting gekanaliseer.
Op die ou end is nie een van die hooffigure in die drama krimineel skuldig bevind nie. Wel het dit die gang van die politiek verander omdat dit aan P.W. Botha die geleentheid gegee het om dr. Connie Mulder uit te knikker. Die leuens en gekonkel het egter gewys hoe desperaat sommige Suid-Afrikaners was om die apartheidsbeleid in mooi terme voor te hou, veral in die buiteland waar ‘n venynige veldtog teen Suid-Afrika gevoer is.
Lees meer …
Verskeie boeke is oor die Inligtingskandaal geskryf, insluitende Secret Information (Tafelberg, 1980) deur ‘n Rhoodie-man, Les de Villiers.