DIE VOORBLAAIE: GROOT NUUS DEUR DIE DEKADES

Groot nuus: 1876 tot 1929

In die jare vóór 1930 het koerante tipies net met advertensies op die voorblad verskyn. Die eerste publikasie in Afrikaans, Die Afrikaanse Patriot, was geen koerant in die gewone sin van die woord nie, maar ‘n tydskrif met nuusbrokkies. Die Afrikaanse Patriot was aanvanklik onder die redaksie van ds. S.J. du Toit en het só gelyk.

Stukke in Afrikaans het in die 19e eeu in Nederlandstalige blaaie soos De Zuid-Afrikaan en De Volksvriend verskyn. Koerante soos Land en Volk (waarvan Eugène Marais redakteur was) en De Volksstem was in Nederlands, maar Ons Land het Nederlands en Afrikaans bevat. Hier is ‘n Land en Volk uit 1894.

De Zuid-Afrikaan en Ons Land, produkte van die 19de eeu, het saamgesmelt en tot 1930 as Ons Land voortbestaan. Hul beriggewing oor die parlement is in ‘n stadium in Ons Weekblad saamgevat, wat in hierdie gebinde “boeke” (min of meer A3-formaat) uitgegee is. Hierdie bundel dateer uit 1897.

‘n Voorblad van Ons Weekblad het so gelyk:

Berigte oor die Anglo-Boere-oorlog (1899-1902) is, in die styl van die tyd, in beriggies soos hierdie in die Cape Times van 1900 oorgedra:

Die ontsetting van Mafeking het die Cape Argus beweeg om ‘n spesiale uitgawe te publiseer, maar steeds met net advertensies op die voorblad.

Op ‘n binneblad is die nuus egter met groot prominensie aangekondig.

Die Volkstem se spesiale uitgawe ná die teregstelling van Jopie Fourie, wat aan die Rebellie deelgeneem het terwyl hy nog amptelik ‘n soldaat van die Unie-weermag was.

Die eerste uitgawe van De Burger, wat in 1915 verskyn het, het net advertensies op die voorblad gehad. Afrikaans was as skryftaal nog in sy kinderskoene en het eers in 1925 ‘n amptelike landstaal geword. Die oorgang van Nederlands (ofte wel Hollands) na Afrikaans was geleidelik.

Kyk C.F.J. Muller se Sonop in die suide (Nasionale Boekhandel, 1990).

Met die voorblad in 1925 steeds vol advertensies, is die belangrikste nuus van die dag op binneblaaie aangetref.


Groot nuus: die 1930’s, 1940’s en 1950’s

Die koalisie tussen en samesmelting van die twee belangrikste politieke partye in die parlement het die vroeë 1930’s oorheers. (At van Wyk vat die gebeure saam in sy boek Die Keeromstraat-kliek.)

Die eerste minister, genl. J.B.M. Hertzog, word in 1939 voor die vraag gestel of Suid-Afrika by die oorlog in Europa betrokke moes raak. In ‘n spotprent word sy dilemma só deur Boonzaaier van Die Burger uitgebeeld.

Hertzog kies vir neutraliteit, maar ‘n meerderheid lede van die Volksraad stem ten gunste van deelname aan die oorlog. Hertzog moes gevolglik bedank en genl. Jan Smuts neem by hom oor as premier.

Dié berig en skets kom uit Die Vaderland (‘n groot ondersteuner van Hertzog) en is gepubliseer ná Hertzog se bedanking. Dit verskyn in die gedenkboek Generaal Hertzog in beeld, saamgestel deur Alta Coetzer.

Die oorlogkwessie lei tot ‘n vreugdevolle hereniging tussen Hertzog en Malan by Monumentkoppie waar ‘n groot skare teenwoordig was. Dit het die gebeure van die vorige jaar herhaal toe Afrikaners verenig is by die Groot Trek-herdenking.

Die honderdjarige herdenking van die ossewatrek het ondanks politieke verskille ‘n opwelling van Afrikanernasionalisme meegebring.

Intussen het Brittanje in 1936 ‘n nuwe koning gekry…

… maar hy abdikeer om met ‘n geskeide Amerikaanse vrou te trou.

Adolf Hitler het in 1934 leier van Duitsland geword.

Die oorlog word ‘n werklikheid.

Die Vaderland het, soos alle ander koerante, uitvoerige dekking daagliks aan die Tweede Wêreldoorlog (1939-45) gegee.

Gemoedere het hoog geloop tydens die oorlogsjare en soms uitgeloop op geweld.

Die atoombom het die oorlog die nekslag gegee.

Die dood van die diktator Adolf Hitler in Mei 1945.

Die einde van die oorlog.

Die pro-Duitse Springbokbokser Robey Leibbrandt is weens sy pogings om ‘n staatsgreep aan te wakker ter dood veroordeel, maar die vonnis is tot lewenslange tronkstraf versag. Nadat die Nasionale Party in 1948 aan die bewind gekom het, ontvang hy amnestie.

1948: Die regering van genl. Jan Smuts val en die Nasionale Party van dr. D.F. Malan kom aan die bewind. Dit word as die begin van die apartheidsera beskou, hoewel diskriminerende wette sedert 1910 deur op die wetboek geplaas is. Voor 1910 was segregasiewette en –gebruike ook onder Britse regerings in die Kaapkolonie en Natal van krag, asook sedert 1652 onder die Nederlandse VOC. Die grondwet van 1910, wat uiteraard deur Brittanje goedgekeur moes word, het die meeste swart mense van stemreg uitgesluit.

Die Voortrekkermonument word in 1949 ingewy.

1950: Genl. Jan Smuts sterf. Hy was een van die dominante figure in die Suid-Afrikaanse politiek vir vyftig jaar: ‘n generaal tydens die Anglo-Boere-oorlog (1899-1902), twee keer premier en ‘n veldmaarskalk tydens die Tweede Wêreldoorlog. Smuts was ook kanselier van Cambridge-Universiteit in Engeland en ‘n belangrike figuur in die totstandkoming van die Verenigde Nasies.

Rugby was in 1951 tussen al die politieke erns wel soms op die voorblad — en dit was nie eens ‘n toetswedstryd nie.

Die Britse koning sterf in 1952 en sy dogter, Elizabeth II, kom aan die bewind. Gegewe die staatkundige posisie van destyds word sy daarmee ook die koningin van die Unie van Suid-Afrika met ‘n goewerneur-generaal as haar verteenwoordiger.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is dood-1947-1-1024x600.jpg

Die Nasionale Party wen die 1953-verkiesing.

Dr. D. F. Malan tree in 1954 uit as eerste minister.

Na die uittrede van dr. Malan neem advokaat Hans Strijdom oor as premier.

Die stryd om eie simbole sou in 1961 ‘n hoogtepunt bereik met republiekwording, maar reeds in 1957 het Die Burger berig dat die Britse Union Jack nie meer naas die Unievlag gebruik sou word nie.

Groot nuus: die 1960’s

Die 1960’s het verskeie groot nuusgebeure opgelewer, waarvan sommige elders op mediamense.com weerspieël word. Dit sluit in Suid-Afrika se uittrede uit die Statebond, die referendum onder blankes om te bepaal of ons ‘n republiek moet word, die Johannesburgse stasiebom, die 1965-rugbytoer van die Springbokke na Nieu-Seeland en die Bolandse aardbewing in 1969. Hier is enkele voorblaaie uit daardie dekade.

In Januarie 1960 is polisiemanne in Cato Manor, Durban, oorval en vermoor. Dit het tot groot spanning gelei.

Later in Maart 1960 was daar verskeie voorvalle waarin swart mense deur die polisie doodgeskiet is, onder meer by Sharpeville en Langa.

‘n Aanslag word in April 1960 tydens die Randse Paasskou op die eerste minister se lewe gemaak, maar hy oorleef die aanval.

Uniewording in 1910 is in 1960 vir oulaas gevier. Vir ‘n plattelandse koerant was dit groot nuus, soos hierdie voorblad getuig (al moes die viering meeding met ‘n klag onder die drankwet).

Dr. Verwoerd herstel gou van die aanslag. Vir sy volgelinge was dit ‘n teken dat God hom vir ‘n besondere taak bestem het. Daarna volg ‘n referendum (onder blanke kiesers) oor republiekwording en lei Verwoerd in Maart 1961 Suid-Afrika se afvaardiging na die Britse statebondskonferensie in Londen, waar hy die land se aansoek terugtrek om binne die statebond te bly ná republiekwording. Hy keer triomfantelik terug.

Op 31 Mei 1961 word Suid-Afrika ‘n republiek en kry die land sy eerste staatspresident. Daarmee het Suid-Afrika finaal sy staatkundige band met Groot-Brittanje verbreek. Voorheen het die land ‘n goewerneur-generaal gehad, wat aan die Britse koningin onderdanig was. Die geldstelsel het ook in 1961 verander na desimale rand en sent. Daarmee het die Britse ponde, sjielings en pennies met afbeeldings van Britse vorste op note en muntstukke verdwyn. (Jan van Riebeeck het wel reeds in die 1950’s op banknote verskyn.) Regs: Hierdie Huisgenoot-buiteblad gedenk republiekwording en ‘n republikeinse grondwet.

Nelson Mandela en van sy makkers is in 1964 lewenslank tronk toe gestuur.

Rhodesië (nou Zimbabwe) word in 1965 deur die wit minderheidsregering van Ian Smith eensydig onafhanklik van Brittanje verklaar. (Suid-Rhodesië was ‘n kolonie van Brittanje.) Suid-Afrika se premier, dr. H.F. Verwoerd, se standpunt was belangrike nuus en is as hoofberig aangebied. Die regtig dramatiese storie van die dag was egter die inhegtenisneming van Bram Fischer, ‘n lid van die destyds verbode Kommunisteparty. Hy het die polisie lank ontduik. Die lughawe by Bloemfontein is later na Fischer vernoem.

Ian Smith en die pers was meermale haaks.

Die sluipmoord op dr. Verwoerd in 1966 was wêreldnuus. (Kyk ook aparte afdelings oor dr. Verwoerd asook ander bekendes wat gesterf het.)

Dr. Verwoerd se dood het die nuus dae lank oorheers.

‘n Week na Verwoerd se dood, is adv. John Vorster tot nuwe premier verkies.

In 1967 word die eerste menslike hart suksesvol in Kaapstad deur dr. Christiaan Barnard en sy span oorgeplant. Die gedenkboek 1915-2015 Die Burger 100 (redakteurs: Bun Booyens en Aldi Schoeman, Jonathan Ball, 2015) wys hoe lyk Die Burger se voorblad die volgende dag én vertel die verslaggewer Harry Shaw hoe hy die storie gekry en geskryf het.

Die landing in 1969 op die maan het almal aangegryp en selfs spesiale bylae genoodsaak.

Die Burger berig oor die suksesvolle terugkeer van die maansending.

In Augustus 1969 stort ‘n tydelike pawiljoen by Loftus Versveld inmekaar en beseer honderde toeskouers.

Groot nuus: die 1970’s

Die algemene verkiesing van April 1970 het nie so goed vir die regerende Nasionale Party verloop nie, soos wat hierdie voorblad suggereer. Tog het die NP vêr gewen.

Die regse rebellie van die Herstigte Nasionale Party (HNP) het misluk en die party het ‘n kwaai knou in die verkiesing gekry. Later in die jaar veroorsaak dit ‘n skeuring en berig Die Beeld (in sy laaste uitgawe voor samesmelting met Dagbreek om Rapport te vorm) dat ‘n nuwe party deur sommige verloopte HNP’s gestig gaan word. Dit het egter nie gebeur nie.

1970 het ook opwinding op die rugbyveld opgelewer. Die Springbokke het die All Blacks 3-1 geklop. Hierdie voorblad vertel die storie van die eerste toets.

Mei 1975: Terreurdade dra nie alle swart mense se goedkeuring weg nie.

Op Maandag 5 Januarie 1976 begin Suid-Afrika se televisiediens amptelik. In regeringskringe is vir lank gemeen die diens sal te duur wees en dat die inhoud nie opbouend nie, selfs afbrekend, sal wees. Maar toe Suid-Afrika dit wél kry, was dit tegnies ‘n puik diens en het voornemende kykers nog op die nippertjie na TV-winkels gestroom. Televisie-uitsendings is aanvanklik eksklusief deur die SAUK gedoen. In 1985 kry M-Net ‘n lisensie vir subskripsie-uitsendings en in die 1990’s maak satelliettegnologie dit moontlik om ‘n groot aantal kanale via ‘n skottel op te vang.

In 1976 breek onluste landwyd in talle swart en bruin woongebiede uit – onder meer in Kaapstad.

Die swartbewussynsleier Steve Biko sterf in 1977 in polisie-aanhouding. Die polisie het by die ondersoek na sy dood getuig dat hy beserk geraak het en met geweld in bedwang gebring moes word, vandaar die beserings wat tot sy dood kon gelei het. Maar tydens die Waarheid-en-versoeningskommissie se ondersoek in die 1990’s erken ‘n polisieman dat Biko aangerand is voordat hy agterin ‘n Land Rover van die Oos-Kaap na Johannesburg vervoer is.

Twintig jaar ná die moorde in 1977 op dr. Robert Smit en sy vrou, Cara, berig Beeld oor “nuwe lig” daarop. Maar die raaisel is nog nie opgelos nie. Altesame 41 jaar ná die moorde skryf die Smit-egpaar se een kind, Liza Smit, ‘n boek oor haar lewe en hou sy vol die moorde is deur staatsagente gepleeg omdat haar pa op die punt was om sensitiewe inligting bekend te maak. Dit sou glo mense in hoë kringe betrek het.

Die Inligtingskandaal tref Suid-Afrika in 1978. (Kyk ook afsonderlike afdeling hieroor.)

In 1978 was die Suidwes-Afrika/Namibië-kwessie nog gereeld op die voorblaaie van koerante. Uiteindelik het Suid-Afrika onder groot internasionale druk bes gegee en het die land in 1990 onafhanklik geword nadat dit sedert 1920 deur Suid-Afrika geadministreer is.

Spioenasie deur die VSA word in April 1979 deur die eerste minister, P. W. Botha, bekend gemaak en besonder prominent deur Die Burger aangebied.

Premier P.W. Botha se besoek in September 1979 aan Soweto verloop baie goed en word as ‘n triomf aangebied. Selfs koerante wat gewoonlik erg krities teenoor die regering gestaan het, het erken dit was ‘n geslaagde besoek. (Kyk ook die afdeling Die pad na 1994.)

Die gewese sekretaris van Inligting word in 1979 tot altesame twaalf jaar tronkstraf gevonnis vir bedrog met geld wat vir geheime projekte van die Departement van Inligting bestem was. Rhoodie het suksesvol teen die skuldigbevinding geappelleer. (Kyk ook afdeling oor die Inligtingskandaal.)


Groot nuus: die 1980’s

Die Cape Times lei vroeg in 1980 met ‘n sterk voorblad oor spioenasie deur die regering teen opponente.

Premier P.W. Botha se hervormingspolitiek kry groot steun van wit kiesers. Dit blyk uit ‘n landwye peiling wat deur die Sunday Tribune aangevra en in Mei 1980 bekend gemaak is. Daaruit lei die koerant af dat Botha volstoom kan voortgaan met hervorming en nie bekommerd hoef te wees oor kritiek van regs nie. Swart mense se mening is nie gevra nie.

Die hervormingsplanne lei tot woelinge in die belangrikste opposisieparty, die Progressiewe Federale Party. ‘n Prominente lid, Japie Basson, kry in 1980 teenspoed omdat hy gemeen het die PFP moet deelneem aan die nuwe presidentsraad, ondanks die feit dat dit nie swart mense sou insluit nie. Basson, ‘n oudjoernalis en bekende individualistiese politikus, het geglo dit is tog ‘n plek waar vir die eerste keer formeel saam met bruin en Indiërlede gekonsulteer sou word en dus ‘n stap weg was van apartheid.

Vroeë uitslae van die algemene verkiesing van April 1981 dui op goeie vordering deur die Progressiewe Federale Party, wat volgens die Cape Times wys op ‘n swaai weg van rassisme en ‘n verwerping van die beloftes deur “verligte” Nasionaliste wat die party “van binne” wou hervorm.

Nog politieke nuus: Die Herstigte Nasionale Party (HNP), wat sedert 1970 geen setel in enige verkiesing kon wen nie, slaag uiteindelik in Julie 1981 in ‘n tussenverkiesing om ‘n setel in die Pretoriase stadsraad te wen.

Die Burger en Die Volksblad se uitasem-hantering in 1981 van die troue van die Britse troonopvolger, prins Charles, en Diana Spencer. Diana was reeds voor die huwelik ‘n mediagunsteling en sou daarna nog vir jare op die voorblaaie van koerante en tydskrifte verskyn – en baie kopers lok.

In 1982 reik ‘n groep van 123 kerklui ‘n ope brief uit via die NG Kerk se amptelike blad, Die Kerkbode. Die brief was groot nuus en het die debatte oor apartheid in die NG Kerk sterk aangewakker. Later in die jaar het verskeie belangrike sinodesittings plaasgevind waar die kerk en apartheid ter sprake sou kom.

Lees meer oor die ope brief in Perspektief op die ope brief (redakteurs: David J. Bosch, Adrio Konig en Willem D. Nicol, Human & Rousseau, 1982). Die omvattende dekking van die NG Kerk se doen en late word bespreek in J.D. Froneman se Die media as medespeler in die kerklike waterskeidingjaar 1982 (Studia Historiae Ecclesiasticae, 2000, XXVI:1).

Intussen het die grensoorlog teen insypelaars in Suidwes-Afrika (nou Namibië) voortgegaan. Hierdie uitgawes van Beeld en die Republikein dateer uit Junie 1980 en Maart 1983.

Die Kerkstraatbom ontplof in Mei 1983 in Pretoria met groot lewensverlies. Talle mense is ook beseer en lewenslank vermink. Die ANC het verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.

Zola Budd, ‘n jong wonderatleet van Bloemfontein, neem in 1984 onder die Britse vlag aan die Olimpiese Spele deel omdat haar geboorteland weens apartheid uitgesluit is. In die eindrondte van die 3 000 meter het sy en Mary Decker kontak gemaak en die Amerikaner het geval. Budd is gediskwalifiseer – ‘n droewe einde aan maande van spanning en afwagting wat deurentyd groot nuus in Suid-Afrika was.

In 1985 beland ‘n bus vol skoolkinders in die Westdenedam in Johannesburg. Die ramp kos talle kinders hul lewens en gryp die land aan. Dit lei tot ‘n week se voorbladhoofberigte in Beeld.

Na die begrafnis publiseer Beeld hierdie treffende hoofopskrif.

Die hervormingsgesinde prof. Johan Heyns word in Oktober 1986 tot moderator van die algemene sinode van die NG Kerk verkies. Dié kerk is die grootste onder wit Afrikaanssprekendes en is as ‘n sleutel tot ‘n oplossing van die land se politieke probleme beskou. Heyns is in 1994 in Pretoria aan huis deur ‘n sluipmoordenaar doodgeskiet. Die moordenaar is nooit vasgetrek nie.

Wynand Malan het in 1986 uit die Nasionale Party bedank weens menseregteskendings en ‘n klimaat van vrees waarvoor P.W. Botha en sy regering, volgens hom, verantwoordelik was.

Die algemene verkiesing van 1987 het aan die regering ‘n “mandaat vir ordelike hervorming” gegee, aldus premier P.W. Botha. In “politieke kringe” is gesê die regering moet sy toekomsplanne so gou moontlik uitstippel, het Beeld berig. Die PFP het tydens die verkiesing swak gevaar en is deur die Konserwatiewe Party as die amptelike opposisie in die wit Volksraad vervang.

Wynand Malan klop egter sy vriend en NP-kandidaat Olaus van Zyl tydens die verkiesing in die kiesafdeling Randburg. Malan stig sy eie party, wat deel word van die nuwe Demokratiese Party (vandag Demokratiese Alliansie), maar hy bedank in 1990 uit die parlement. In 1995 het hy ‘n kommissaris van die Waarheid-en-versoeningskommissie geword. (Lees Chris Louw se perspektief op die “verligtes”, Boetman en die swanesang van die verligtes (Human & Rousseau, 2009).)

Die Helderberg stort in 1987 in die see — onder verdagte omstandighede.

P.W. Botha het volgens berigte ‘n beroerte gekry wat meegebring het dat F.W. de Klerk as leier van die NP aangewys is, maar Botha het vir eers as president aangebly. Dit het konflik meegebring en uitgeloop op hierdie “dag van beslissing” (14 Augustus 1989). Botha het bedank en De Klerk word staatspresident.


Groot nuus: die 1990’s

Die dekade het begin met die ontbanning van die ANC en ander politieke partye en die vrylating van Nelson Mandela deur pres. F.W. de Klerk. Lees De Klerk se volledige toespraak hier: http://perskor.blogspot.com/2016/02/wie-onthou-vandag-26-jaar-gelede.html#more

Die kerkleier Allan Boesak bedank uit sy posisies weens aanklagte van egbreuk. Hy is later tronk toe weens sy hantering van skenkings.

Oktober 1990. Nog onluste versprei na die Kaap.

Die politiek is gekenmerk deur sporadiese geweld. Hierdie dramatiese voorblad uit Augustus 1991 vang die botsing tussen die verregse Afrikaner-Weerstandbeweging (AWB) en die polisie vas.

‘n Uitsonderlike voorblad. Beeld se redaksie het in Augustus 1991 gekies om twee ewe-groot hoofopskrifte te gebruik – die een ‘n storie wat alle lesers se sakke raak; die ander ‘n belangrike internasionale storie.

Die Suid-Afrikaanse krieketspan sorg in Februarie 1992 vir ‘n stukkie welkome en nuus toe hy die wêreldkampioen Australië in ‘n Wêreldbekerwedstryd met nege paaltjies klop.

Die Sunday Star berig in Mei 1992 oor ‘n agent van die staat wat na bewering erken het dat hy die akademikus en anti-apartheidsaktivis dr. David Webster vermoor het.

Die president, F.W. de Klerk, moes in Junie 1992 vinnig uit ‘n township aan die Rand padgee nadat ‘n paar duisend inwoners om sy motor saamgedrom en hom verjaag het.

Die destydse nasionale lied, Die Stem, is in Augustus 1992 deur ‘n rugbyskare op Ellispark in Johannesburg gesing – tot groot ontsteltenis van die ANC, wat gedreig het om die volgende toets en rugbytoere te laat afgelas. Die destydse landsvlag is boonop deur toeskouers geswaai. Die vlag is in 1994 vervang en ‘n deel van Die Stem opgeneem is in die nuwe nasionale lied, Nkosi Sikelel’ iAfrika, opgeneem.

Naas Botha is reeds dekades deel van die sporttoneel. As speler was hy omstrede, onder meer toe hy vóór die beroepsera probeer het om vir geld Amerikaanse voetbal te gaan speel. Hy is egter in 1985 toegelaat om weer “amateur”-rugby te kom speel. Hy het in November 1992 finaal uitgetree, dus voordat rugby volledig ‘n beroepsport geword het.

Die huwelik van Diana, prinses van Wallis, en prins Charles is laat in 1992 beëindig en was ook groot nuus in Suid-Afrika – vanweë Suid-Afrika se vorige verbintenis met die Britse koningshuis en Diana se bekendheid as glanspersoonlikheid.

Onluste het in April 1993 landwyd op verskeie plekke plaasgevind waar ANC-ondersteuners met die polisie gebots het. Verskeie mense is dood. Hierdie oënskynlik vreedsame skare (op hooffoto) het na die Jabulani-stadion in Soweto gekom om na Nelson Mandela te luister, maar het hom verskeie kere uitgejou omdat hy mense gevra het om vrede te bewaar. Daarna het ‘n groot deel van die skare die Protea-polisiekantoor omsingel en met klippe bestook. Die polisie het minstens drie mense doodgeskiet en heelwat gewond.

Swart polisiemanne betoog  in Augustus 1993 en skreeu slagspreuke saam met amptenare van Korrektiewe Dienste.

In November 1993 kom die NP-regering en die ANC ooreen om elf landstale te erken waardeur Afrikaans sy status as amptelike taal sou behou. In die praktyk het Engels egter die hooftaal beword en het die ANC-regering weinig gedoen om ander tale, insluitende Afrikaans, gelykwaardig met Engels te behandel.

Raadpleeg Verset en opbou deur J.C. Steyn (Kraal, 2019) en W.A.M Carstens en E.H. Raith se Die storie van Afrikaans (Deel 2)(Protea, 2011).

Die blanke Volksraad vergader op 22 Desember 1993 die laaste keer nadat dit vir 83 jaar (sedert 1910) mag oor Suid-Afrika uitgeoefen het. Die Groot Saal, waar bruin en Indiërlede van onderskeidelik die Huis van Verteenwoordigers en Raad van Afgevaardigdes later saam met die lede van die wit Volksraad teenwoordig was, het in wanorde verval. Lede van die Konserwatiewe Party het uit protes teen die nuwe grondwet Die Stem begin sing en bruin lede het met “Amandla!” geantwoord.

‘n Lid van Bophuthatswana se veiligheidsmagte het drie gewonde AWB-lede in Maart 1994 koelbloedig doodgeskiet. AWB-lede wou glo pres. Lucas Mangope help en die nuwe demokratiese bedeling keer.

Kort voor April 1994 se eerste nierassige verkiesing is ‘n nuwe vlag vir Suid-Afrika aanvaar.

Dae voor die verkiesing op 26, 27 en 28 April ontplof tien bomme landwyd. Die Blanke Bevrydingsbeweging het verantwoordelikheid vir die bomontploffing in Germiston aanvaar. Dit het bygedra tot ‘n spanningsvolle atmosfeer landwyd.

Deelname deur prins Mangosutho Buthelezi en sy Inkatha-Vryheidsparty was tot op die nippertjie in die weegskaal, maar ‘n boikot is afgeweer.

Die verkiesing het vreedsaam verloop. Tog was daar groot administratiewe probleme met die tellery, vandaar hierdie opskrif.

Die algemene sinode van die NG Kerk kom in Oktober 1994 byeen en erken dat profete in eie geledere te na gekom is. Die volgende dag is een van daardie kritici van apartheid, dr. Beyers Naudé, en sy vrou, Ilse, staande applous gegee. Daarmee het die NG Kerk ‘n finale streep getrek deur sy teologiese ondersteuning van apartheid, hoewel nie alle afgevaardigdes by die sinode daarmee saamgestem het nie.

Lees meer hieroor in Die NG Kerk en apartheid (Redakteur: Johann Kinghorn [Macmillan, 1986]); Beyers Naudé se My land van hoop (Human & Rousseau, 1995); en Johannes Froneman se Die Kerkbode en die viering van Geloftedag, 1910-2010 (Stellenbosch Teologiese Joernaal, 2015:1). Daar is ook talle ander publikasies oor apartheid en dr. Beyers Naudé.

Einde 1994 is die NG kerkleier prof. Johan Heyns vermoor. Beeld het die begrafnis só aangebied.

In 1995 neem die Springbokke die eerste keer aan die Wêreldbeker-rugbytoernooi deel en klop Nieu-Seeland in die eindstryd op Ellispark, Johannesburg. Dit was  ‘n groot geleentheid en het Suid-Afrikaners dalk vir die eerste keer laat saamjuig oor ‘n sportoorwinning.

Die Amerikaanse voetbalster O.J. Simpson is van moord aangekla en ná ‘n opspraakwekkende verhoor in Oktober 1995 vrygespreek. (Hy is wel later in ‘n siviele geding skuldig bevind en nog later tronk toe gestuur vir ‘n ander misdaad.)

Die Suid-Afrikaanse nasionale manssokkerspan, Bafana Bafana, het in 1996 groot vreugde verskaf deur die Afrika-kampioenspan te word – ná suksesse deur die nasionale rugby- en krieketspanne.

‘n Verhouding tussen voormalige president F.W. de Klerk en die vrou van ‘n Griekse skeepsmagnaat, het in Februarie 1998 aan die lig gekom. De Klerk en Elita Georgiadis skei later van hul eggenote en trou met mekaar. De Klerk se eerste vrou, Marike, is later vermoor.


Groot nuus: die 2000’s

Verskeie faktore, insluitende sosiale media, het koerante se funksie as draer van groot nuus toenemend begin knou. Koerante het steeds die groot nuus verwoord, maar laat nuus, soos hier gedra in Rapport, het in die vergetelheid verdwyn.

Die nuus dat die Protea-krieketkaptein Hansie Cronjé omkoopgeld aanvaar het, het die land soos ‘n bom getref. Voor ‘n kommissie van ondersoek (Junie 2000) kom die waarheid stuk-stuk aan die lig.

Die Sunday Times het in Oktober 2000 met hierdie voorbladhoofopskrif die oog van kopers probeer vang. (Hierdie is ‘n fotokopie van die oorspronklike koerant wat in volkleur gedruk is.)

Die 9/11-terreuraanvalle op teikens in die VSA ruk die wêreld (September 2001) en verander Amerikaners se siening oor hul eie onaantasbaarheid.

Suid-Afrikaners gaan weer stembus toe – vreedsaam (April 2004).

Sokker se Wêreldbeker-eindtoernooi vir 2010 is in Mei 2004 aan Suid-Afrika toegeken – tot groot vreugde van almal, insluitende oudpresident Nelson Mandela, wat sy steun aktief aan die bod toegesê het.


Groot nuus: die 2010’s

Op hierdie 2012-voorblad van die Kaapse dagblad Daily Voice is die slegte nuus ondertoe geskuif en is gefokus op ‘n storie wat nie in ander koerante hierdie tipe prominensie sal kry nie. Dit is die dié tipe fokus op “gewone mense” se vreugdes (en probleme) wat aan populistiese koerante soos Daily Voice ‘n staanplek gee en van die Daily Sun en Son die grootste Engelse en Afrikaanse dagblaaie gemaak het.

Stakende mynwerkers word by Marikana deur die polisie afgemaai.

Rugby is nie vreemd op Rapport se voorblad nie; dit trek lesers, veral as die Springbokke die vorige dag gewen het. Die Springbokafrigter se dilemma met slotte, wat in 2013 as hoofberig aangebied is, is egter ‘n voorbeeld van hoe ‘n koerant soos Rapport soms by gebrek aan ‘n sterk alternatief die populistiese roete kies.

By sy dood het koerante wêreldwyd hul voorblaaie aan Nelson Mandela gewy.

Duisende mense het só in 2013 getou om oudpresident Nelson Mandela te groet waar hy in Pretoria in staatsie gelê het. Die geliefde Madiba het Beeld graag gelees en die koerant het ‘n besondere band van toegeneentheid met hom gehad.

Hierdie opskrif en foto’s van studente van die Noordwes-Universiteit het in 2014 tot ‘n vloedgolf van protes gelei en Beeld by ‘n deel van sy leserskorps baie ongewild gemaak. Hulle het gemeen die aanbieding was kwaadwillig en foutief. Beeld se redakteur is nie lank daarna nie vervang.

Koerante berig oor oor haai-aanvalle. Dié collage word in die Kaapstadse akwarium vertoon.

Mej. Wêreld 2014, Rolene Strauss, se tuiskoms op Volksrust en die omhelsing wat sy van hul huiswerker, Maria Mashinini, gekry het, is een van die mooiste goeienuus-voorblaaie wat Beeld tot nou toe gepubliseer het.

Onrus breek in 2015 op universiteitskampusse uit oor klasgelde en ander griewe.

In reaksie op die onluste en sonder konsultasie met die universiteite self gee President Zuma in 2016 opdrag dat klasgelde by universiteite nie die volgende jaar verhoog mag word nie.

Die Suid-Afrikaner Wayde van Niekerk hardloop in 2016 ‘n goue medalje en wêreldrekord los in die 400 meters by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro.

Die stryd rondom Jacob Zuma lei tot hierdie opskrif in 2016.

‘n Ongewone bittersoet voorblad: Die sakeman Jannie Mouton praat in 2018 openlik oor die demensie wat by hom gediagnoseer is.

Henri van Breda is in 2018 ná ‘n opspraakwekkende verhoor skuldig bevind aan die moord op sy ouers en broer in hul huis buite Stellenbosch.

Die Wimbledon-eindstryd vir mans het nie in 2018 ‘n Suid-Afrikaanse wenner opgelewer nie, maar Kevin Anderson was ‘n nuwe held nadat hy verskeie buitengewoon lang wedstryde moes speel om in die eindstryd te kom.

Rugbytoetse wat deur die Springbokke gewen word, is deur sommige redakteurs outomaties as hoofstories gebruik. In die jongste jare (voor 2020 se Covid-pandemie) is soveel gespeel dat dit nie meer die geval is nie. Maar hier is twee voorbeelde waar rugby tog alle ander nuus getroef het: Suid-Afrika wen die Wêreldbeker in 2019 en die Blou Bulle wen die Super14-eindstryd in 2007. Hierdie foto het dalk die knoop deurgehaak vanweë die een speler se onderhemp.


Groot nuus: die 2020’s

Beurtkrag ontwrig reeds geruime tyd Suid-Afrikaners se lewens – en dit gaan nog vir jare die geval wees. So het dit aan die begin van hierdie dekade gelyk.

Die impak van die Covid-19-virus was veel erger as dié van beurtkrag. In 2020 is die nuus vir maande deur hierdie pandemie oorheers omdat dit die hele land getref het en mense se lewens oornag verander het.

Bedrog is nogmaals die groot nuus.

‘n Brand het in April 2021 teen die hange van Tafelberg in Kaapstad uitgebreek en heelwat skade aangerig, veral by die Universiteit van Kaapstad.

Oudpresident Zuma uiteindelik in hegtenis en agter tralies. Die Sunday Times het die storie vertel van die polisieoffisier wie se taak dit was.

Oudpresident F.W. de Klerk sterf in 2021.

Die dood van emeritus aardsbiskop Desmond Tutu was wêredlwyd voorbladnuus. Die Burger se voorblad was besonders.

KwaZulu-Natal is in April 2022 deur erge oorstromings getref.

Te midde van ‘n oorlog in Oekraïne, beurtkrag en ander uitdagings, haal programveranderings op RSG die voorblad van Rapport.

Die dood van koningin Elizabeth was wêreldwyd op voorblaaie…

Nogmaals wêreldkampioene.

Die verkiesing van 2024 bring ‘n draaipunt.

Die verkiesingsuitslag van 2024 lei tot ‘n dramatiese herrangskikking van die regering met DA-lede wat nou belangrike kabinetsposte inneem.