Die oorlog teen insypelaars uit Angola na die destydse Suidwes-Afrika het telkens in die 1970’s en 1980’s die koerante se voorblaaie gehaal. Keer op keer het koerante berig oor jong wit Suid-Afrikaanse soldate (sommige eintlik maar seuns) wat die hoogste prys moes betaal. Aan die ander kant is suksesse teen die Swapo-soldate (wat terroriste genoem is) graag vertel — en soms met foto’s beklemtoon. Suid-Afrika het ingevolge ‘n ou mandaat die land geadministreer; die Verenigde Nasies het gemeen Suid-Afrika se teenwoordigheid was onwettig. Die politieke onderhandelinge om ‘n oplossing vir die kwessie te kry, was ook gereeld op die voorblaaie van koerante. Uiteindelik is ‘n demokratiese verkiesing onder toesig van die Verenigde Nasies gehou en het Suidwes-Afrika die onafhanklike Namibië geword — onder ‘n Swapo-regering.
Van die voorblaaie uit die tyd:
Gepaste eer is aan gevalle soldate gebring. Maar die letsels op dié wat die oorlog oorleef het, het gebly.
Die onderhandelinge het jare lank gesloer. Suid-Afrika was bang dat ‘n kommunistiese Namibië ‘n wesenlike risiko was en dat die oorlog bloot na die grens tussen Namibië en Suid-Afrika sou verskuif, waar vegters van die bevrydingsbewegings soos die ANC dan die land sou probeer binnekom en terreurdade pleeg om die wit minderheidsregering tot ‘n val te bring.
Tog is stadig vordering gemaak in Suidwes. ‘n Ministersraad is verkies en Suid-Afrika het sy troepe onttrek. Dit was egter nie genoeg nie. Swapo wou ‘n demokratiese verkiesing hê en die mag oorneem.
Die Grensoorlog het die lewens van 1 791 Suid-Afrikaanse soldate geëis en sowat 11 400 Swapo-vegters is gedood. Talle burgerlikes het ook gesterf. Op 9 November 1989 het die Berlynse Muur geval en is die einde van die Soviet-Unie se mag simbolies bevestig. Op 21 Maart 1990 het Namibië onafhanklik geword. Sewe weke vantevore het pres. F.W. de Klerk aangekondig dat die apartheidbeleid laat vaar word. Die verband tussen hierdie gebeure is ‘n bron van voortgaande diskussie.