GELEENTHEDE EN UITDAGINGS IN DIE AFRIKAANSE MEDIA

Deur Susan Lombaard

Uitvoerende hoof van Maroela Media

In Maroela Media se bestuurspan gesels ons gereeld oor uitdagings en hoe ons dit in geleenthede kan omskep. Digitale media bied talle uitdagings, en soos die digitalemedia- en sosialemedialandskap internasionaal en plaaslik verander, steek nuwe uitdagings deurlopend kop uit. ʼn Paar van die uitdagings wat ten tye van die skrywe van hierdie artikel gereeld op die agenda is, is die volgende:

  1. Die mark is uiters meetbaar

Soos gesien kan word uit beskikbare syfers is digitale lesersyfers uiters meetbaar. Dis moontlik om te weet hoeveel unieke lesers nie net op ons eie platform saamlees nie, maar ook op ander digitale platforms. Ons weet watter tye van die dag ons lesers lees, hoe hul leserspatrone deur die week lyk, op watter dae watter tipe inhoud gewilder is, waar die meeste van ons lesers woon (plaaslik én internasionaal), hoe oud hulle is, ensovoorts. Ons kan maand tot maand dophou hoeveel mense Maroela lees en hoeveel bladsye elke leser lees, sodat ons betyds ʼn rooi vlaggie kan opsteek as iets nie werk nie.

Die uitdaging van hierdie unieke eienskap van digitale media is dat ons maklik in syfers kan begin vaskyk. Hoewel dit vir ons by Maroela verblydend is om te weet dat sowat 2,3 miljoen mense elke maand Maroela lees, mag ons nooit vergeet dat hierdie lesers bestaan uit 2,3 miljoen individue nie – mense met vrese, vreugdes, gesinne, persoonlike uitdagings; kortom, mense met hul eie stories. Juis omdat ons Maroela beskou as ʼn gemeenskapsplatform en nie net as ʼn nuusplatform nie, moet ons seker maak dat ons elkeen van ons meer as 2 miljoen lesers as individue sien en met die nodig agting bejeën.

Hoe doen ons dit?

Dit bly belangrik om te meet, want dis onmoontlik om vooruit te beplan as ons niks het om na terug te verwys nie. In Good to great for the social sector skryf Jim Collins (losweg vertaal): “Dit maak nie regtig saak of jy jou resultate kan kwantifiseer nie. Wat saak maak, is dat jy doelmatig en konsekwent bewyse bymekaar maak – kwantitatief en kwalitatief – om jou vordering te meet. As die bewyse hoofsaaklik kwalitatief is, dink daaraan soos ‘n misdaadondersoeker wat ondersoek instel na ‘n gekombineerde aantal bewysstukke op die tafel. As jou bewysstukke hoofsaaklik kwantitatief is, dink daaraan soos ‘n laboratoriumwetenskaplike wat data versamel en analiseer.”

By Maroela doen ons die volgende om te meet, sonder om te tel:Terugvoer van lesers word op individuele basis hanteer. Enige navrae – hoe onbenullig of irrelevant ook al – word beantwoord. Ons het al lesers se e-posse geantwoord oor die vakke wat hul kinders behoort te neem vir universiteitstoelating, hul huweliksprobleme, emosionele uitdagings en finansiële verknorsings. Op hierdie manier hou ons ons vinger op die pols van hoe dit met ons lesers gaan, op ʼn daaglikse basis.

Susan Lombaard

Maroela is een van die min nuusplatforms wat lesers nog toelaat om kommentaar te lewer. Ons bestuur hierdie kommentaar weliswaar baie streng: Kommentaar word slegs in werksure op weeksdae toegelaat (omdat ons al agtergekom het dat sinnelose kommentaar meestal buite hierdie ure gelewer word), en enige kommentaar wat nie strook met Maroela se kommentaarbeleid nie, word verwyder. Maar buiten hierdie maatreëls beskou ons kommentaar as ʼn manier om te hoor wat ons lesers voel en dink, en die neigings in kommentaar as ʼn algemene barometer van hoe dit met die gemoed van die Afrikaanssprekende gemeenskap gaan.

Daar word maandeliks deur die bestuurspan verslag gedoen oor kwalitatiewe terugvoer wat van lesers ontvang word, sodat algemene neigings en tendense vinnig opgetel kan word.

  1. Sosiale media gee ons ʼn platform om mense te bereik waar hulle is

Een van die grootste verskille tussen gedrukte en digitale media is dat lesers nie met digitale media in ʼn motor hoef te klim en winkel toe hoef te ry om ʼn koerant te koop, of selfs voordeur toe hoef te loop om die koerant te gaan haal nie. Met digitale nuus gaan haal mense nie die nuus nie – ons moet dit bring tot waar hulle is. En waar is die gemeenskap? Meestal op sosiale media. Daarom moet ons seker maak dat ons lesers met die regte inhoud bereik op die sosialemediaplatforms waar hulle reeds deel van gemeenskappe is.

Sosiale media is egter nie sonder uitdagings nie – daarvan is almal in die media deeglik bewus. Die grootste uitdaging van sosiale media is waarskynlik die feit dat elke Jan Rap en sy maat dink hy kan ʼn joernalis wees en menings uitspreek op sosiale media. Hierdie kwasi-joernaliste bou dikwels vinnig ʼn groot gevolg op weens hulle sterk, meestal emosionele en dikwels manipulerende standpunte gelaai met verskuilde agendas en persoonlike ego’s. Ongelukkig doen hierdie gepoogde joernalistiek groot afbreek aan die geloofwaardigheid van “regte” media-instansies omdat die gemiddelde leser dikwels nie tussen die twee kan onderskei nie.

Nog ʼn uitdaging is dat sosiale media se algoritmes gereeld verander, wat dit moeilik maak om ʼn “resep” te kry om lesers met goeie inhoud te bedien wat werk — en aanhou werk. Hierdie “resep” moet deurlopend aangepas word wanneer sosialemediaplatforms se algoritmes verander.

Hoe doen ons dit?

Die Maroela-redaksiespan doen baie moeite daarmee om inhoud te beplan vir elke sosialemediaplatform, sodat ons seker maak die regte inhoud bereik die regte deel van ons gehoor op die regte platform, in die regte formaat. Dis ʼn fyn kuns wat ʼn instinktiewe insig in sosialemediaplatforms vereis; iets waarmee veral die jonger lede van die redaksionele span goed is.

Tweedens onderskat ons nie vir ʼn oomblik die waarde van ʼn sterk handelsmerk wat bekend is vir getrouheid aan sy slagspreuk – gebalanseerd en betroubaar – nie. Wat ons ook al doen, ons maak seker dat ons getrou bly aan hierdie handelsmerk, en voortdurend daaraan bou. Ons lesers moet weet hulle kan ons vertrou, sodat hulle eerste op Maroela soek wanneer hulle onseker is oor inligting wat hulle op sosiale media (of langs die braaivleisvuur) teëgekom het. Ons kry dikwels terugvoer van lesers wat sê “As dit nie op Maroela is nie, weet ek dis nie die waarheid nie”. Dis natuurlik nie heeltemal akkuraat nie, aangesien dit nie vir een mediahuis moontlik is om alle nuus te dek nie! Maar dis nietemin waardevolle terugvoer wat aandui dat ons lesers ons vertrou, en dat hulle ons ook vertrou wanneer hulle ons inhoud op sosiale media teëkom.

Derdens doen ons moeite om ʼn mark te bou wat nie toevallig Maroela lees nie, maar wat ʼn doelbewuste keuse maak om Maroela te lees. Hoe dankbaar ons ook al is vir die derduisende lesers wat in Facebook op Maroela-skakels klik en enkele stories kom lees, verkies ons lesers wat ons app aflaai en elke nou en dan deur die dag die app oopmaak om die nuutste nuus en ander stories te lees. Hierdie lesers is vir ons gelykstaande aan die koerantlesers van ouds wat Sondag ná kerk by die winkel stop om die Sondagkoerant te koop, en dan die koerant van hoek tot kant deurlees.

Om ons lesers se lojaliteit te behou, is dit noodsaaklik dat ons konsekwent is in ons aanbod. Die formaat waarin ons inhoud aan ons lesers aanbied, kan verander na gelang van veranderings in die media-omgewing, maar ons handelsmerkbelofte van deurlopende, geloofwaardige, betroubare inhoud van goeie gehalte mag nooit verander nie.

  1. Inhoud kan in verskillende mediums op een platform verpak word

Digitale media is tegelyk ʼn koerant, ʼn tydskrif, ʼn TV en ʼn radio in een. Hoewel die meeste inhoud op ʼn digitale platform soos Maroela teks is, verpak ons ook stories in video- en klankformaat. Joernaliste besluit vooraf saam met redakteurs in watter mediaformate ʼn sekere storie vertel moet word – dikwels meer as een. Inhoud wat in klankformaat op Maroela Media gepubliseer word, word ook aan Maroela Media se netwerk gemeenskapsradiostasies verskaf vir uitsending.

Omdat een joernalis primêr met een storie werk, moet joernaliste die vermoë hê om in verskeie mediums te werk. Die joernalis wat die storie skryf, moet dit ook in videoformaat kan skiet én redigeer, of dit in klankformaat kan opneem en dit kan verwerk tot ʼn sinvolle klankpakkie. In beide gevalle is kundigheid (ʼn videovervaardiger en klanktegnikus) tot die span se beskikking, maar die storie bly die joernalis sʼn, om te vertel soos net die joernalis dit self die beste kan doen, ongeag die medium.

Hierdie manier van werk is uiteraard uiters arbeidsintensief, veral wanneer joernaliste in die veld is en hardenuusstories dek wat dan in meer as een formaat verpak moet word.

Hoe doen ons dit?

Om suksesvol te wees daarmee om inhoud in ʼn verskeidenheid formate aan te bied, is dit belangrik dat ons van die begin af die regte mense aanstel. Enige joernalis kan sekerlik ʼn nuwe vaardigheid soos videowerk aanleer, maar nie almal wíl noodwendig nie. Wanneer ons onderhoude vir vakante poste doen, maak ons dus seker ons stel mense aan wat hou van onvoorspelbaarheid, verandering en buigbaarheid.

Die meeste tersiêre instansies wat joernalistiek aanbied, doen deesdae tot ʼn mindere of meerdere mate ook opleiding in multimediavaardighede. Wanneer ons met pas gegradueerde joernaliste onderhoude doen vir poste, kyk ons uit vir dié wat tydens hul studentejare reeds bewese ondervinding opgedoen het in ʼn verskeidenheid media, veral vir aanstellings in die sagtenuusspan. Hierdie jong aanstellings word gebalanseer met ouer, meer ervare joernaliste wat bewese joernalistieke ervaring het en as mentors kan optree.

Maroela poog ook om aan joernaliste deurlopende opleiding in multimediavaardighede te gee – of dit nou video-opleiding, stemopleiding of fotografievaardighede is. Só het joernaliste byvoorbeeld onlangs ʼn kursus in selfoonfotografie gedoen, wat hulle in staat stel om in die veld met hul fone uitstekende fotografiese en videowerk te kan doen.

Laastens doen ons moeite om vir Maroela-spanlede ʼn buigbare, kreatiewe omgewing te skep waar dit maklik is om kreatief om te gaan met verskillende mediums, en waar daar voldoende toerusting, ateljees en omgewings in die kantoor is om met kreatiwiteit hul werk te kan doen sonder dat alle inhoud dieselfde begin lyk of klink.

  1. Onbeperkte spasie

ʼn Digitale platform het nie die bladsybeperking van ʼn koerant of tydskrif, of die tydsbeperking van ʼn radio-insetsel of TV-program nie. Inhoud waarvoor daar dus nie plek sou wees in ʼn gedrukte publikasie nie, kan dus maklik op ʼn digitale platform geakkommodeer word.

Die grootste gevaar hiervan is dat die aanbod te veel raak, en goeie inhoud dan verlore raak tussen onbenullige inhoud.

Hoe doen ons dit?

Dissipline is die sleutelwoord vir hierdie uitdaging. Hoewel daar oënskynlik nie ʼn beperking op spasie is nie, herinner die redaksionele span hulle deurlopend daaraan dat Maroela – of dit nou die app of die webwerf is – steeds ʼn versameling inhoud is wat vir lesers verpak word, en wat ʼn interessante, sinvolle geheel moet vorm. Stories kan nie aangepak word om iemand ʼn guns te doen, net omdat daar plek is daarvoor nie. Redakteurs bepaal die aantal stories wat in ʼn dag of week aangepak word, na gelang van die kapasiteit wat in hul redaksionele spanne beskikbaar is, en kyk ook na die samestelling sodat ons seker maak ons aanbod aan ons lesers is gebalanseerd. Inhoud wat reeds gepubliseer is, word van tyd tot tyd reaktief geëvalueer om te kyk waar ons in ons aanbod vorentoe verbeterings in samestelling kan aanbring en watter stories ons eintlik nié moet publiseer nie.

Leserspatrone speel ook hier ʼn belangrike rol. Hoewel spasie op digitale platforms onbeperk is, kan ons uit data tot ons beskikking waardevolle afleidings maak oor hoe lank die ideale storie in geskrewe formaat moet wees, of hoe lank ʼn video of podsending moet wees voor mense ophou kyk of luister.  

  1. Die besigheidsmodel van digitale media

Dis geen geheim nie dat die meeste media-instansies tans met hul besigheidsmodel spook – nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal. Gedrukte media het die uitdaging van dalende sirkulasie- en verkoopsyfers wat ʼn krimpende inkomste tot gevolg het. Uitsaaimedia neem af in gewildheid en advertensie-inkomste. Digitale media het (skynbaar) een van twee keuses: ʼn betaalmuur waarmee ʼn inkomste gegenereer word, maar wat beslis ʼn beperking het in terme van die hoeveelheid lesers wat bereid is om te betaal; of ʼn gratis aanbod, wat beteken dat ʼn inkomste op ander maniere gegenereer moet word.

Van Maroela se ontstaan af was ons gemeenskapsaanslag fundamenteel in ons aanbod. Vir ons by Maroela is dit belangrik dat die Afrikaanse gemeenskap toegang moet hê tot goeie, gebalanseerde en betroubare inligting – inligting wat hulle in staat stel om in moeilike omstandighede belangrike besluite te neem. ʼn Betaalmuur is nie vir Maroela ʼn opsie nie, en sal nooit wees nie, omdat dit indruis teen die wese van wie Maroela is.

Hoe doen ons dit?

Danksy Maroela se handelsmerk van geloofwaardigheid en betroubaarheid, is sy lesers uiters lojaal – ons sien dit aan faktore soos die aantal bladsye wat Maroela-lesers per besoek lees, die hoeveelheid tyd wat lesers op die webwerf deurbring en die mate waartoe Maroela se inhoud op sosiale media gedeel word. Adverteerders sien hierdie lojaliteit van die Maroela-lesersmark raak, en is daarom geneë om hul beperkte bemarkingsbegrotings by Maroela te bestee. Adverteerders is ook grootliks tevrede met die resultate wat hulle uit hul besteding op Maroela kry, omdat die Maroela-lesersmark ʼn mark is met redelike koopkrag en besteebare inkomste. Baie eenmalige adverteerders word dus herhalende adverteerders.

Maroela gee ook aan lesers die geleentheid om die platform met ʼn eenmalige of maandelikse bydrae te ondersteun. Dis dikwels interessant om te sien hoeveel lesers bereid is om Maroela te ondersteun met ʼn vrywillige maandelikse bydrae van R100 of R200, net omdat hulle nie bereid is om ʼn voorgeskrewe intekenfooi te betaal nie. Baie lesers maak ook eenmalige bydraes. Ondersteunersinkomste maak ʼn beduidende deel van Maroela se maandelikse inkomste uit.

Derdens is dit op hierdie terrein ook noodsaaklik dat Maroela onkonvensioneel dink oor die genereer van ʼn inkomste. Hoewel ons nie kan afwyk van ons kernbesigheid nie, is dit noodsaaklik dat Maroela se besigheidspan deurlopend dink aan kreatiewe maniere waarop besigheidsinisiatiewe aangepak kan word wat vir Maroela ʼn inkomste genereer, en wat terselfdertyd nie te ver afwyk van ons kernbeginsel van Afrikaanse inhoud vir die Afrikaanse gemeenskap nie. Daar word gereeld nuwe besigheidsgeleenthede ondersoek en van stapel gestuur, en bestaande besigheidsinisiatiewe word gereeld onder die loep geneem sodat die besluit geneem kan word om so ʼn inisiatief tot ʼn einde te bring indien die inkomste wat dit genereer nie meer geregverdig kan word deur die kapasiteit wat dit vereis nie.

  1. Spertyd en saktyd bestaan nie

In ʼn digitale omgewing is daar nie iets soos spertyd of saktyd nie. Teen die tyd dat die span wat in die aand aan diens is hul rekenaars afsit, is daar reeds ʼn rits stories wat gereed lê vir die oggendspan om aan te pak voor lesers se wekkers afgaan. Indien daar ʼn besonder tydsensitiewe storie is, soos toe die hele land asem opgehou het voor oudpresident Nelson Mandela se afsterwe, is daar ook nie sprake van rekenaars afskakel en selfone se klank aansit nie – die joernaliste wat aan diens is, bly aan diens, omdat die storie dadelik gepubliseer moet word wanneer dit gebeur. Die gevolg hiervan is dat joernaliste nooit die bevrediging het om aan die einde van ʼn dag, ʼn week of  ʼn maand, ʼn eindproduk in die hand vas te hou wat die resultaat van hul werk is nie. Die effek daarvan op joernaliste se gemoed om nooit te voel dat hulle ʼn taak voltooi het of ʼn einddoel bereik het nie, moet nie onderskat word nie.

Dit kan ook maklik gebeur dat daar reaktief in plaas van proaktief gewerk word; met ander woorde, dat stories geskryf word soos dit oor die redaksionele span se pad kom, sonder dat dit noodwendig noukeurig vooruit beplan word.

Hoe doen ons dit?

Ons kan nie die voordeel daarvan ontken dat ons vinnig ʼn storie kan aanpak wanneer dit gebeur en dit kort daarna kan publiseer nie. Daarom moet ʼn gedeelde van die redaksionele kapasiteit altyd beskikbaar wees vir hierdie onmiddellike, reaktiewe stories. Maar terselfdertyd moet daar ook redaksionele kapasiteit eenkant gesit word vir proaktiewe inhoud – ondersoekende en indiepte-verslaggewing, langer formaat-artikels wat vir naweke aangepak word, opvolgstories ensovoorts. Die hooftrekke van die dag se nuusaanbod word steeds vooraf deur die redakteurs bepaal, maar terselfdertyd is daar dan genoeg buigbaarheid in die werkswyse van die span dat daar onmiddellik wysigings aan hierdie beplanning aangebring kan word. Die regte aanstellings – mense wat hou van verandering en onvoorspelbaarheid – is ook om hierdie rede belangrik.

Daar word ook moeite gedoen om klein oorwinnings en mylpale te vier. Verslaggewing wat besonder goed hanteer is (soos uitgebreide mediadekking oor ʼn verkiesing of  ʼn ramp), stories wat ʼn spesifieke, duidelike positiewe gevolg gehad het, of stories wat besonderse terugvoer van die publiek of betrokkenes by die verslaggewing ontvang, kry erkenning, al is dit net ʼn WhatsApp-boodskap of  ʼn e-pos aan die hele span waarin erkenning gegee word. Jaarlikse interne toekennings vir uitnemende werk word ook gedoen. Hierdeur word daar gepoog om oomblikke te skep wat die redaksionele span kan stilstaan en die eindresultaat van hul harde werk in oënskou kan neem.  

Ten slotte

Digitale media is ʼn opwindende, kreatiewe omgewing, propvol uitdagings, onbekendes en verrassings. In Afrikaanse digitale media is die verdere uitdaging dat die potensiële lesersmark beperk is tot die sowat 8 miljoen Afrikaanssprekendes daar buite, en dat enige platform se mark net sóveel kan groei voor dit versadig word. Maar terselfdertyd is hierdie mark baie duidelik gedefinieer, en dis ʼn mark wat uiters lojaal is wanneer hulle ingekoop is in ʼn handelsmerk, wat kardinaal is vir die sukses van ʼn digitale mediahuis soos Maroela Media.

Hierdie artikel is gegrond op ‘n voordrag wat Susan op 13 April 2023 op ‘n joernalistiek-simposium in Centurion gelewer het. Dit is gereël deur Akademia.

Geplaas op 19 April 2023