GD SCHOLTZ — VERWOERD SE REGTERHAND EN SELF HOOFREDAKTEUR VAN ‘DIE TRANSVALER’

Dr. G.D. Scholtz het in 1960 hoofredakteur van Die Transvaler geword nadat hy ‘n aantal jare die assistent-hoofredakteur was.  Hy het in daardie pos gedien tot 1969, tree af in 1970 en sterf in 1983 op 77-jarige leeftyd.

Gert Daniël Scholtz (1905-1983) kan eerder beskryf word as ʼn historikus wat toevallig by ʼn koerant gewerk het, want hy was geen tipiese joernalis nie. Scholtz het hom nie juis met die gewone werking van sy koerant bemoei nie. Om hom by te staan, is Jan van Rooyen daarom as mede-hoofredakteur aangestel. Dié plan het egter nie gewerk nie, en Scholtz en Van Rooyen het gereeld gebots.

Dr. G.D. Scholtz … verbete Nasionalis, republikein en voorstander van gebiedskeiding, oftewel apartheid. Self het sy gesin hul huis- en tuinwerk gedoen en daarmee selfbeskikking op ‘n manier uitgeleef.

Uiteindelik is Van Rooyen, wat gefrustreerd was omdat Scholtz nie wou padgee nie, meegedeel dat hy nie vir Scholtz sou opvolg nie. Hy het daarom bedank.

As politieke kommentator het Scholtz ʼn breë strategiese blik gehad. In sy rubriek Sake van die Dag, hoofartikels en die boeke wat die een ná die ander uit sy pen gerol het, het hy die voorwaardes vir die sukses van apartheid skerpsinnig uiteengesit.

Hy het ingesien dat die Afrikaners se veiligheid in Suid-Afrika gewaarborg was solank die Weste Afrika oorheers het. Toe die Weste hom in die 1950’s en 1960’s terugtrek, was daardie waarborg daarmee heen. Dus het die Afrikaners se veiligheid afgehang van radikale gebiedskeiding, en daarvoor moes die wittes ophou om van swart arbeid afhanklik te wees en hul gerieflike koloniale lewenstyl prysgee. Scholtz se akkurate diagnose oor die voorwaardes vir die sukses van apartheid het egter op papier gebly.

Hy was ʼn intieme vriend van een van sy voorgangers, dr. H.F. Verwoerd, en het nooit ʼn sweem van kritiek in die koerant se kommentaar of nuusberigte toegelaat nie. Sy tweebandbiografie van Verwoerd is ‘n goeie voorbeeld van ‘n hagiografie, dus ‘n kritieklose goedpraat en ophemeling van Verwoerd.

Ná sy aftrede in 1968 het dit toenemend duidelik geword dat apartheid misluk, maar hy wou hy dit nie aanvaar nie. Hy is in 1983 oorlede as profeet wat nie die konsekwensies van sy eie profesieë kon insien nie. Hy was meer verwoerdiaans as Verwoerd self.

Prof. F.A. van Jaarsveld se artikel oor Scholtz wat in 1975 in die tydskrif Historia 20(2) gepubliseer is, bied verdere feite en insigte oor Scholtz.

Van Jaarsveld skryf dat Scholtz eers ‘n staatsdiensamptenaar was en ‘n BA en MA buitemuurs verwerf het. Daarna is hy Nederland toe vir sy doktorale studie. Hy keer in 1937 terug na Suid-Afrika en aanvaar ‘n betrekking as joernalis by Die Volksblad in Bloemfontein, waar hy ses maande lank gewerk het.

Op 1 Augustus 1937 aanvaar hy ‘n betrekking by die nuutgestigte Johannesburgse koerant  Die Transvaler, wat pas onder die leiding van dr. H.F. Verwoerd gestig is. Scholtz het elf jaar lank onder Verwoerd as hoofredakteur gewerk en hom oor ‘n tydperk van byna 30 jaar intiem leer ken. In sy biografie oor Verwoerd getuig hy dat daar tussen hom en Verwoerd ‘n “sielsverwantskap” bestaan het.

Die Transvaler het die Nasionale Party noord van die Vaalrivier bevorder (met 1948 se verkiesingsoorwinning ‘n hoogtepunt) en die republikeinse gedagte brandend gehou (wat in 1961 in vervulling gegaan het). In die woelige oorlogsjare het Scholtz ook pynlike insidente in Johannesburg belewe, o.a. toe die gebou van Die Transvaler op 1 Februarie 1941 deur soldate aangeval en beskadig is … 

Na die dood van dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966 het M.C. Botha, namens die direksie van Voortrekkerpers, Scholtz versoek om die lewe van Verwoerd te boek te stel. (Dit het uitgeloop op ‘n tweedelige biografie.)

Met die oog op hierdie taak is Scholtz vanaf 1 Januarie 1969 losgemaak van die hoofartikelbladsy waaraan hy ‘n sterk historiese en didaktiese inslag verleen het, asook van sy verantwoordelikheid as hoofredakteur.

Hy sou egter voortgaan met die skrywe van die rubriek “Sake van die Dag” en het op 15 Augustus 1970 op 65-jarige ouderdom afgetree na 33 jaar diens as joernalis. Hy het voortgegaan met die skrywe van “Sake van die Dag” tot die begin van 1974. (Later het sy seun Leopold ‘n soortgelyke rubriek vir lank in Die Burger geskryf.)

Scholtz het hom in ‘n groot mate aan die eise van die samelewing onttrek, veral wat betref die sosiale lewe en toesprake. As hoofredakteur het hy nie partytjies bygewoon nie, maar hom aan die studie van die geskiedenis gewy. Toesprake voor die publiek oor aktuele temas waarin hy vermaan, gewaarsku maar ook geprofeteer het, het hy slegs by wyse van uitsondering gelewer.

Hy was egter altyd gewillig om voor akademiese gehore op te tree oor temas waarvan hy ‘n diepgaande studie gemaak het. Ook het hy hom die lidmaatskap van sekere verenigings en kommissies laat welgeval, soos die Argiefkommissie, die Historiese Kommissie van die Suid-Transvaalse Sinode van die N.G. Kerk, en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (1944) van wie hy drie pryse ontvang bet (in 1952 die Stalsprys vir Geskiedskrywing, in 1958 vir Staatswetenskappe en in 1960 ‘n prys vir sy boek oor die Tweede Vryheidsoorlog).

In 1963 is Scholtz aangestel as buitengewone professor in perswetenskap aan die Potchefstroomse Universiteit vir C.H.O. en in 1970 as ere-professor in geskiedenis aan die Randse Afrikaanse Universiteit, waar hy sedert 1968 ‘n kursus op honneursvlak oor die Oosterse geskiedenis aanbied het.

Terwyl hy joemalis by Die Transvaler was, het hy gesorg dat hy soggens tussen 7 en 8 een uur lank op kantoor aan sy boeke skrywe. Die res van die dag is in beslag geneem deur sy dagtaak. Smiddae het hy tot op ‘n sekere punt met die bus huis toe gery en dan afgestap en verder geloop vir sy daaglikse oefening. Hy het nooit (voor sy aftrede) tuis aan sy boeke geskryf nie, maar gelees tot ongeveer 9 uur. Dan moes hy rus, want hy het net een bruikbare oog gehad. 

As ‘n mens by hom aanklop, sal jy hom in ‘n sagte regop leunstoel met koerante en boeke op die tafeltjie langs hom gevind het. Hy het altyd ‘n pet gedra om hom van die lig uit ‘n staanlamp te beskerm. Saterdagoggende het hy in die Johannesburgse naslaanbiblioteek navorsing uit koerante en boeke sit en doen; Saterdagmiddae was dit tuinwerk en Sondae was dit lees en kerk toe as ouderling. Vandat hy in 1970 afgetree het en sy skryfwerk tuis verrig het, het sy roetine ietwat anders verloop.

Scholtz het nooit ‘n motor leer bestuur nie en het nooit een besit nie. Vakansietye het hy en sy gesin in ‘n stad by ‘n argief deurgebring. Voormiddae doen hy dan navorsing en teen drieuur was hy terug by sy gesin waarna rondgegaan kan word.

Scholtz het ‘n uitgebreide biblioteek agter glasdeure gehad. Die boeke het die hele huis volgestaan. Hy het presies geweet waar elke boek is en hy had geen dokumentasiestelsel nie . Daarby het hy duisende uitknipsels uit koerante in ‘n koevertleggerstelsel gehad. Argiefaantekeninge is op spiraalrugboekies gedoen. Hy het nie aantekeninge uit boeke gemaak nie, maar presies onthou waar om iets na te slaan.

Mevrou Scholtz vertel hieroor: “Dit het al gebeur dat hy my van die kantoor af bel om te sê ek moet iets vir hom opsoek in ‘n boek wat op ‘n besondere rak staan. Hy voeg dan ook sommer by dis die derde ry van bo, 20e boek van links en die passasie staan op bl. 801. Daarna moet ek dan net weer die boek terugsit waar ek dit gekry het, want hy is natuurlik verskriklik netjies.”

Geplaas Desember 2023

Kyk ook die onderhoud met GD Scholtz se een seun, dr. Leopold Scholtz, in die afdeling Verbatim.